fbpx

Buiten vir die Orania Beweging se reaksie op oud-President Mandela se toestand die afgelope tyd, het Afrikaners op twee, dalk drie maniere daarop gereageer. Aan die een kant was daar diegene wat van hom as’t ware ’n eietydse heilige wou maak, aan die ander kant was daar diegene vir wie hy tot vandag toe niks anders as ’n terroris is nie, en tussenin was daar ’n groot klomp swygsames wat hulle eenvoudig nie daarmee bemoei het nie.

Orania se reaksie, wat veral deur my, maar ook deur ander verwoord is, het beide ondersteuning én kritiek uitgelok. Dit het goeie wense en sterkte aan die familie en vriende behels, maar het ook ’n bepaalde politieke inhoud gehad, naamlik dat sy nalatenskap van versoening slegs van betekenis kan wees as dit op erkenning berus – en dat erkenning die sluitsteen van ons politieke aanspraak uitmaak.

’n Deel van die ondersteuning en die meeste van die kritiek het van mense gekom wat gedink het dat ons saamsing in die huldigingskoor, hoewel die meeste van ons lede en inwoners verstaan het dat ons as’t ware ’n derde, alternatiewe standpunt ingeneem het. Ons het hom naamlik nie bewierook óf verdoem nie, maar ons eie saak bevorder deur die soort erkenning te gee wat ons ook van ander verwag. Dit het ons op ’n waardige wyse probeer doen, terwyl ons die onderliggende spanning tussen dit wat hy verteenwoordig het en dit wat ons verteenwoordig, juis aangeroer het.

Omdat ons reaksie slegs in verpakte stukkies en brokkies deur die media gedra is, het ons van ons eie kanale gebruik gemaak om ’n meer volledige weergawe daarvan die wêreld in te stuur. Ongelukkig is dit steeds deur sommige gekritiseer sonder dat ‘n mens kan agterkom dat hulle behoorlike oorweging aan ons argumente gegee het. Ons het ’n politieke, historiese en geloofsperspektief op die hele saak gestel, wat naastenby op die volgende neergekom het:

Histories gesproke kan niemand ontken dat mnr Mandela by die gewapende stryd teen die blanke bedeling in Suid-Afrika betrokke was en aan terrorisme deelgeneem het nie. Dit is egter ontoereikend om te ignoreer dat hy daarbenewens ’n lang politieke loopbaan gehad het, wat ook uit ander dinge as terrorisme bestaan het en dat, selfs as ‘n mens die ANC-propaganda buite rekening laat, daar ook verdere perspektiewe op sy lewe is. As ons die heersende, enkelvoudige veroordeling van ons eie geskiedenis verwerp, behoort ons seker nie dieselfde fout met ander se geskiedenis te maak nie.

Die politieke perspektief sluit hierby aan want dit verwys na die manier waarop mnr Mandela se politieke nalatenskap aangebied word. Hy is naamlik wêreldberoemd vir sy politieke versoening eerder as wraak. Ons sê: goed en wel, maar versoening sonder erkenning is leë woorde, en erkenning kan iets so sentraal soos iemand se vryheidsin nie uitsluit nie. Dit is waarop ons ingevolge sy politieke testament aanspraak maak. Daarmee opponeer ons nie die wêreldwye pogings om die goeie in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis raak te sien nie, maar wil ons ander se uitsig verbreed om ons plek daarin ook raak te sien.

Ten slotte is ons geloofsperspektief eenvoudig: waar iemand, selfs ons aardse vyand, voor die ewige reg te staan kom, kom die oordeel ons nie toe nie. Mnr Mandela se familie, vriende en volgelinge word met die feit van menslike sterflikheid gekonfronteer soos ons elkeen ook al daarmee gekonfronteer is. Ons bid hulle Gods genade daarvoor toe, soos ander dit al vir ons toegebid het. Só verstaan ons die liefdesgebod.

Iemand vra my egter: Waarom het julle nie liewer hoegenaamd niks gesê nie? Daarop kan ek net antwoord dat Orania nie op wag-en-sien gebou is nie. Ons leierskap was nog altyd “van voor af” en op oortuiging gebou, nie om iemand se guns te wen of populêr te wees nie. Daarmee het ons die toets van die tyd deurstaan. Ons reaksie op mnr Mandela se toestand is eenvoudig ’n voortsetting daarvan en niks om oor te swyg nie.

 

*Carel Boshoff is president van die Orania Beweging. Hierdie artikel het oorspronklik in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.