by Wynand Boshoff | Aug 12, 2013 | Nuus |
Dat Orania ’n interessante, selfs relevante verskynsel is, is duidelik aan die aandag wat hierdie klein nedersetting ontvang. Nie alle aandag is goedgesind nie en sommige probeer juis irrelevansie bewys. Hoe sleg die herhaling van negatiewe opvattings oor Orania ook al is, stilswye sou erger wees. Nogtans moet ons vra hoe ons méér relevant kan wees.
Orania is hoogstens so relevant wees as die ideaal waarvoor ons staan. Dit is selfbeskikking, herwinning van Afrikanervryheid, die volkstaat, watter omskrywing ook al. Orania is nie in die eerste plek ’n ekonomiese projek, ’n karoodorp of ’n model van goeie plaaslike bestuur nie. Dit is die embrio van groeiende Afrikanervryheid. As Afrikaners geen belang daarby het nie, is Orania irrelevant. Die noodsaak van vryheid moet dus sentraal staan.
Orania staan ook nie vir enige soort vryheid nie. Tevore het Afrikaners geïntegreerd met ander mense geleef, maar die politieke en sosiale gevolge daarvan probeer omseil. Twee maal het dit skouspelagtig misluk: In 1902 en in 1994. Herwonne vryheid mag nie weer ander se burgerregte ontken nie. Of Afrikaners daarvan oortuig kan word, bepaal Orania se relevansie verder.
Selfbeskikking klink abstrak, maar kry in konkrete gestalte sy volle betekenis. Dit is die bestaansrede vir Orania. Daardie gestalte moet so wees dat dit oortuig. Hoe makliker dit vir Afrikaners is om in Orania te hervestig, hoe meer relevant raak ons. Tans is die ekonomiese skaal so beperk, dat Engeland, Kanada, Australië of Nieu-Seeland vir honderdduisende Afrikaners meer relevant as Orania is. Dit moet stelselmatig omgekeer word.
Vir Orania is dit belangrik dat ander Afrikanerinstansies ook suksesvol sal wees. Burgerlike organisasies wat hulle vir Afrikanerbelange beywer, deel nie noodwendig Orania se toewyding aan selfbeskikking nie. Tog verseker party byvoorbeeld die voortgang van kuns, onderwys of wetenskap in Afrikaans. Ander gebruik die howe en ander instrumente om onwettige benadeling te voorkom. Daarsonder boer Afrikanerskap steeds agteruit en word Orania minder relevant.
Dieselfde geld vir politieke partye wat selfbeskikking steun. Suid-Afrika is ’n regstaat wat amptelik slegs uit indiwidue bestaan. Die regerende party probeer swart Suid-Afrikaners aktief bevoordeel, terwyl die sterkste opposisiepartye slegs op konsekwente uitvoering van die regstaat aandring. Slegs een geregistreerde politieke party beywer hom vir Afrikaners se selfbeskikking. Waarnemers meet die steun vir selfbeskikking aan die aantal stemme wat dié party trek. Hoe groter die steun, hoe groter die relevansie van Orania as beliggaming van selfbeskikking – selfs al steun elke ondersteuner van die party nie ook vir Orania nie.
Orania se relevansie word deur die sekondêre dinge waarmee ons besig is, beïnvloed. Ons onderwys, boerdery, bouprojekte, ontspanning, georganiseerde kultuurlewe, interne regering, of watter aspek ook al, is in diens van die sentrale ideaal. Tog dui dit op gehalte – of gebrek daaraan. En gehalte verhoog altyd relevansie.
Kortweg: Orania se relevansie kan verhoog word deur aan te toon dat Afrikaners Orania nodig het en dat Orania Afrikaners trots kan maak.
* Dr Wynand Boshoff is ‘n plaaslike navorser en entrepreneur.
by Ebert Terblanche | Aug 12, 2013 | Nuus |
Die boekie “The richest man in Babylon” is ‘n stukkie klassieke literatuur wat reeds in 1926 gepubliseer is. Dit maak gebruik van vergelykings en ‘n verhalende trant om belangrike finansiële lesse te verduidelik en vas te lê waarsonder volhoubare welvaart sekerlik nie moontlik is nie.
Die aard daarvan maak dit ook baie nuttig om aan kinders die beginsels van gesonde finansiële bestuur oor te dra en behoort myns insiens as voorgeskrewe werk deur elke tiener op skool of tuisskool behandel en beredeneer te word. Verder het die outeursregte op die boekie verstryk en kan dit sonder enige koste versprei en gedupliseer word.
In die Bybel leer ons dat ons nie God en Mammon tegelykertyd kan dien nie. Die boekie voed egter nie die verbruikersmentaliteit wat die begeerte na groot rykdom onderlê nie, maar stel juis ‘n gesonde verhouding met geld voor; een waarin geld nie jou meester is nie, waar finansiële sekuriteit moontlik word deur spaarsamigheid, dissipline en ‘n gesonde, produktiewe lewe (wat insluit om tyd en geld aan God, liefdadigheid en familie af te staan).
Die verhaal in die boekie speel af in antieke Babilonië. Dat daardie stad en beskawing vandag nie meer bestaan nie, is self ook ‘n les wat as deel van die lees van die boekie ondersoek behoort te word. (Moenie die voorwoord oorslaan nie.)
Wat is die betrekking hiervan op Orania? Wel, ‘n voorspoedige stad of land is slegs moontlik indien die grootste deel van sy inwoners voorspoedig is. Natuurlik is daardie voorspoed nie alleen finansiëel van aard nie, maar sonder middele is dit ook maar ‘n opdraende stryd.
Die skakel na die boekie is as volg (en kan maklik in ‘n agtermiddag kafgedraf word): http://thediamondsmine.com/files/Ebooks/Clason-RichestManInBabylon.pdf
Lekker lees en laat weet gerus wat julle daarvan dink.
by Sebastiaan Biehl | Aug 8, 2013 | Nuus |
Die opskrif sê van meet af dat ek nie meer kan doen as waarneem nie, en wel hier en daar ´n bietjie subjektiewe inligting van mense wat hier woon en werk kan gebruik. Daar is seker doktorsgrade op die internet beskikbaar vir diegene wat in diepte op die onderwerp wil ingaan.
Die meerderheid Spanjaarde behoort tot die Katolieke Kerk, seker naastenby 90%. Die oorgrote meerderheid van hulle is egter nominale Katolieke wat selde kerk toe gaan. Die Katolieke Kerk was van lankal af ‘n groot magsfaktor in Spanje en alhoewel dit geleidelik sy invloed begin verloor, is dit nog steeds ‘n magtige instelling. Trouens, die Katolieke Kerk en Spanje was amper sinoniem. Die Katolieke Kerk in Spanje was aan die voorpunt van die Inkwisisie, die Spaanse konings was die groot verdedigers van die Katolieke godsdiens en diegene wat Protestantisme beveg het. In die meer onlangse Franco-era (1939-1975) was die Katolieke Kerk een van die steunpilare van die bewind en ‘n behoudende mag.
Spanje is vandag egter redelik ewe gelyk verdeel tussen die konserwatiewe element (wat tans regeer met die Partido Popular of Volksparty) en die linkse, anti-kerklike element (polities verteenwoordig deur die Partido Socialista de Orbreros, PSOE, asook kleiner vêrlinkse partye en die vakbonde). Die Katolieke Kerk se vereenselwiging met die regse deel van Spanje het gemaak dat die PSOE-regerings (die mees onlangse een van 2004 tot 2012 onder Jose Luis Zapatero) die Katolieke Kerk se vlerke geknip het en wetgewing ingevoer het wat lynreg in stryd met Bybelse sienings is (vergemakliking van egskeiding en aborsie, aanvaarding van gay-huwelike, ens). Spanje het in die laaste 30 jaar meer en meer sekulêr geraak, ‘n tendens wat orals in Europa voortduur en die Katolieke Kerk se invloed het daarmee saam gekwyn. Die talle pragtige kerke in elke Spaanse stad en dorp wys egter die geweldige mag wat die Katolieke Kerk gehad het en nog steeds gedeeltelik het. Nog is dit nie so ver soos in Nederland nie, waar kerke as stoorplekke gebruik word.
Ek het ‘n paar kere ‘n Katolieke mis bygewoon, in die week (elke aand behalwe Maandag is daar ‘n mis) en ook op ‘n Sondag, selfs met die biskop van Almeria wat gepreek het en in volle ornaat sy opwagting gemaak het, met die mitra op sy kop en die silwer herderstaf in sy hand en voorafgegaan deur wierrookswaaiende misdienaars. Die bywoning van die mis is egter maar net effens, dit is hoofsaaklik vroue bo 50 jaar en selde meer as sowat 50 mense. Die verrigtinge is formeel en dit verskil in wese nie veel van die gereformeerde, formele dienste nie wat die liturgie betref, met Bybellesing, geloofsbelydenis, preek en seën. Natuurlik het die Katolieke Kerk allerhande byvoegings en tradisies wat onbybels is en maak dat ek my afstand handhaaf, al beïndruk hulle pragtige kerke en hulle geordendheid en waardigheid my wel.
Spanje het die hervorming in die kiem gesmoor en daar is nie iets soos ‘n “amptelike” Protestantse Kerk nie. Die mense wat tot die Protestante in die wyer sin behoort is slegs om en by 1%, dit is dus ‘n amper weglaatbare minderheid as dit bloot gaan oor getalle. Meer nog, hulle is verdeel in talle klein kerke wat almal op die oog af Charismaties of Pinkster is. Blykbaar is daar egter wesenlike verskille tussen hulle, wat maak dat selfs so ‘n klein groep mense nie een kerk kan vorm nie. Dit was, so sleg soos wat die situasie is, in ‘n sekere troos vir my om te besef dat die kerkverdeling geen Afrikaner-eienskap is nie, maar blykbaar iets wat saamgaan met die Protestantisme. Mense uit Finland het dieselfde tendens by hulle bevestig: ‘n Groot “amptelike” maar dooie en polities-korrekte Lutherse Kerk en talle klein evangeliese kerke.
Ek het verskeie van die evangeliese dienste bygewoon, met bywoningsyfers van so min as 10 tot so baie as 100, maar met groot entoesiasme en meelewing, en gewoonlik meer as twee ure lank. Dit begin gewoonlik met sang met orkesbegeleiding wat ‘n uur kan aanhou en meer en meer tot ‘n hoogtepunt kom wat dan direk oorgaan in algemene bid wat hier en daar in geskreeu ontaard. Dan volg gewoonlik ‘n goeie, suiwer preek en dan weer saamsing en daarna nog saamkuier en saameet in die kerk. Al verkies ek die formeel-gereformeerde opset, het ek vrede gemaak met hoe dit hier gedoen word, dit pas immers by die Spaanse, meer emosionele geaardheid.
Die Protestantse kerke hier is feitlik almal nog kerke in wording, of pionierkerke en die lidmate is meesal arm, anders as in Suid-Afrika se voorstede, waar die charismatiese kerke intussen by uitstek die kerke vir die welvarende middelklas is. Dienste word gehou in gehuurde store of sale wat die sjarme van ‘n fabrieksgebou het, in totale teenstelling van die Katolieke Kerke met hulle prag en praal van eeue gelede. Wat egter tel is die Gees wat teenwoordig is. Verder is dit opvallend dat die lidmate baie divers is, met aansienlike getalle mense uit die immigrantegemeenskap (mense uit Afrika en Latyns-Amerika). Evangeliese Spanjaarde is werklik iets wat nogal skaars is, seker nie verbasend as ‘n mens die algemene tendense in Europa in ag neem. Dit wil voorkom asof die godsdiens in Europa net meer en meer verval en geen omdraai in uitsig is nie, terwyl buite Europa meer en meer herlewing plaasvind.
by Quintin Diederichs | Jul 31, 2013 | Nuus |
Orania Beweging-president, mnr Carel Boshoff, het op 2 Julie ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy genoem het dat die organisasie “met spyt en meelewing” kennis neem van mnr Mandela se toestand en sy simpatie met dié oudpresident van Suid-Afrika se familie en bewonderaars uitgespreek.
Mnr Boshoff se woorde was nog nie koud nie, toe begin die kritiek soos Agincourt se pyle toesak op hom en die Orania Beweging. Vuurwarm debatte is dieselfde dag nog ontketen op blogs en Facebookblaaie. Verkramptes en verligtes kon nie hul kontrasterende standpunte hard genoeg in mekaar se kele afwurg nie.
Ons weet darem nou ten minste dat die Orania Beweging se mediaverklarings deur heelwat mense gelees word. Ek weet nie van julle nie, maar daar is nogal baie ongerepte mediaverklarings van tientalle een-man-een-faksmasjien-organisasies in my Outlook se asblik. Orania Beweging is in my boekie een van ’n handjievol organisasies wat darem leeswaardige nuusbriewe en verklarings uitreik.
Terug na die punt. ’n Paar dae voordat die mediaverklaring uitgereik is, het Orania ’n groot toestroming van joernaliste beleef. Spanne van onder andere Nederland, Frankryk en ja, selfs die SAUK, het hul kameras en mikrofone in Oraniërs se gesigte kom druk om te hoor wat ons van hul sterwende held dink.
Ek het nog half grappenderwys vir die Franse nuusman gevra of hy en sy kameraman verveeld geraak het om dag in dag uit tussen al die blomme by die hospitaal te sit en wag vir ’n storie en toe maar besluit het om ’n scoop te kom soek in Orania. “Oui, monsieur” was sy reguit antwoord. Nou ja, daar het julle dit uit die perd se bek uit.
Sien, hulle base soek ’n nuwe sensasionele storie want daar is duidelik nog nie genoeg stokke om die Afrikaner mee te slaan nie. Is ons in hul oë dan regtig niks meer as ’n klomp verkrampte rassiste nie?
Hulle wil hoor hoe ons vir Mandela haat. Hoe min simpatie ons met sy toestand het en presies hoe graag ons van hom ontslae wil raak. Hulle kan dit dan netjies verpak in hul 3 minute-nuusbulletins en vir miljoene kykers oor die wêreld heen gaan wys hoe die agterlike Mandela-hatermuishonde lyk en waar hulle wegkruip vir alles wat swart en mooi is.
Toe vang ons hulle met ’n slap riem.
Ons haat nie vir Mandela nie. Ons het simpatie met sy toestand en wil nie van hom ontslae raak nie. Ons weet waar hy vandaan kom en dat hy standpunt ingeneem het vir sy mense se vryheid. Ons verstaan dit, want ons wil ook vryheid vir ons mense hê.
So min as wat Mandela geneë was om te aanvaar dat die Afrikaner oor hom en sy mense regeer, so min wil ons deur die Xhosa of die Zulu regeer word. Nie omdat ons mekaar haat nie, eerder omdat ons ons eie beter verstaan as wat die ander doen, en ons onsself binne konteks van ons onderskeie kulture meer doeltreffend kan bestuur as wat ander kan.
Orania gebruik toe die geleentheid wat die wêreld se media ons bied om ons strewe opnuut te bevestig. Insgelyks plaas ons hul internasionale gehoor voor ’n baie belangrike vraagstuk: as die mense van Orania besig is om iets vir hul mense te bewerkstellig dieselfde as wat Mandela vir sy mense bewerkstellig het, hoe kan hulle dan verkeerd wees? Dit was ’n meesterskuif deur Carel Boshoff en sy gepaardgaande verduideliking het ook bietjie nugterheid gebring aan weerskante van die politieke spektrum.
So, tree ons kritici regverdig op deur ons nou joiners te noem?
Allermins. Dit is so onbenullig om Nelson Mandela as niks anders as ’n terroris te beskou nie as wat dit sou wees om vir Jan Smuts uitsluitlik as ’n dapper vryheidsvegter van die Boerevolk te vereer. Ja, Mandela was ’n terroris en ja, Smuts was ’n bittereinder-Boeregeneraal. Dit kan sekerlik nie die enigste etikette wees wat ons om hulle nekke kan hang nie.
Ek onthou nog die dag toe Mandela vrygelaat is. Ons hele gesin het in Ouma-hulle se sitkamer gesit en die spektakel op TV1 aanskou. Een van my ooms, ’n ware heethoof, het aangegaan oor hoe ons nóú moet voorberei vir oorlog. My wyle oupa, ’n afgetrede brigadier, het as jongman ’n Spitfire by El Alamein gevlieg. Hy het baie oorloë in sy tyd gesien. Met ’n paar ferm woorde het hy my oom stilgemaak.
As 9-jarige seun kon ek nie verstaan waarom my oupa dan nie ook bang is vir die terroris-monster op die skerm nie. Mandela is dan ’n kommunis en kommuniste gaan die wêreld verwoes!
22 jaar later weet ek dat my oupa reg was. Mandela het toe nie probeer om ons volk uit te wis nie. Alles behalwe. Terwyl derduisende Afrikaners nog met spense vol 1993-gedateerde blikkieskos opgeskeep sit, het hy en tannie Betsie Verwoerd tee gedrink in Orania. Vergelyk tog net appels met appels.
Hy het op ’n slag sy opinie oor die Afrikaner uitgespreek. Volgens Mandela is “Afrikaners goeie mense wat deur hul leiers verraai is”. Dis nou wel oop vir interpretasie, maar ek glo dat selfs die mees vêrregse volksgenoot onder ons met hierdie stelling sal saamstem.
‘n Mens kan natuurlik argumenteer dat Mandela na sy vrylating goeie bedoelings gehad het, maar in die proses Pandora se boks onwillekeurig oopgemaak het. Hy het dan self erken dat hy nooit kon dink dat soveel van sy mense hul vryheid só gruwelik gaan misbruik nadat hulle dit uiteindelik bekom het nie.
Miskien ’n waardevolle les vir ons nuwe geslag Afrikaners wat vandag besig is om ons vryheid te herstel.
by Ebert Terblanche | Jul 27, 2013 | Nuus |
“South Africa have use a butter (sic) trading on buying a crude oil, to avoid often raises on Petrol price.
We mean; we have to use our own mineral resources like Gold and Platinum to buy a crude oil, rather than using our currency.
Viva EFF for this, Vivaaaaassaaa!!!”
Aan die woord is Julius Malema, wat klaarblyklik die handelsbeleid van sy te stigte party, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) toelig. Die eerste reaksie op hierdie Facebook inskrywing is: “Dis is what we cal a fresh mind of young learders”. Verwys gerus na die foto van die plasing hierlangs.
Om ruilhandel (“barter”, nie “butter” nie) voor te stel as alternatief vir die norm van internasionale handel is nie alleen naïef nie, maar bied ook geen bykomende voordeel nie, want die Rand se waarde word reeds ten nouste gekoppel aan die wêreld se vraag na Suid-Afrika se minerale. Al wat sal gebeur is dat ‘n effektiewe handelsmeganisme vir ‘n oneffektiewe een verruil sal word, wat kostes sal verhoog en presies die teenoorgestelde sal regkry as wat hy beloof.
Tog blyk dit duidelik dat daar ‘n groot vraag na sy retoriek is, soos wat die ondersteuner se reaksie aandui.
In ‘n onlangse rubriek in Beeld skryf Jan-Jan Joubert “Die EFF is sekerlik tot dusver die interessantste en gevaarlikste nuwe rolspeler op die politieke verhoog in die aanloop tot volgende jaar se algemene verkiesing.”
Jan-Jan beaam Eugene Brink van Solidariteit se vroeëre mening dat befondsing vir die EFF ‘n baie groot struikelblok is.
Die voorlopige indruk wat ek kry is dat die EFF besig is om aansienlike steun te monster. In die eerste paar weke nadat hulle hul amptelike Facebookblad opgestel het, het hulle ongeveer 1,000 volgers per week bymekaargemaak, maar na ‘n paar weke het hul blad sowat 1,000 nuwe volgers per dag gekry, en het hulle na 6 weke die 30,000 kerf verbygesteek.
Om hierdie getal in perspektief te stel, word dit in die grafiek hieronder vergelyk (ten tye van skrywe) met die aantal volgers van organisasies wat langer reeds ‘n profiel op Facebook handhaaf en meer bemarkingsfondse het:
Teen middel Augustus behoort die EFF die ANC verbygesteek het met Facebookvolgers indien hulle die huidige astronomiese groei volhou. Indien elke volger R10 per maand aan die EFF bewillig, behoort verkiesingsbefondsing nie so ‘n groot kopseer vir hulle te wees nie.
Facebook verteenwoordig wel nie ‘n stembus nie, maar die tendens word verder bevestig deur ‘n meningspeiling wat in die Sowetan gepubliseer is. Daarvolgens beplan een uit vier jong Suid-Afrikaners om vir die EFF te stem. Die steekproef in die peiling is verteenwoordigend van alle rasse, met 30% van die swart jeug wat beplan om vir die EFF te stem. Dit vergelyk met 35% van die steekproef wat beplan om vir die ANC te stem, terwyl slegs 15% beplan om vir die DA te stem.
Die EFF se stelling dat hulle van plan is om die DA as amptelike opposisie te vervang lyk, ten minste wat die jeug jonger as 35 betref, nie te vergesog nie.
Frans Cronje van die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) beskou die EFF as ‘n simptoom van die armoede, werkloosheid, uitsigloosheid en ontevredenheid wat hoogty vier onder Suid-Afrika se jeug. Dit is te verstane, want 40% van Suid-Afrikaners onder 40 is werkloos, terwyl hulle elke dag sien (in winkels en in die media) hoe ander in weelde leef. Hy waarsku dat ons onsself maar moet voorberei op iemand wat hierdie boodskap bring, want as dit nie Malema is nie, sal iemand anders gereed staan om dit te doen.
Wat is die EFF se boodskap? Dit is maklik om Malema by die agterdeur uit te gooi op grond van sy houtwerkpunt en wanbegrip van handelsbeleid. My oorsigtelike ondersoek na die EFF dui egter aan dat Floyd Shivambu, Malema se grootste politieke bondgenoot in die ANC jeugliga, die breinkrag van die beweging is.
Shivambu is ‘n gegradueerde in Politieke Wetenskap aan Wits en was ook studenteraadsvoorsitter tydens sy studies daar. Hy is ‘n groot aanhanger van die omstrede (maar tog aangeskrewe) Cambridge ekonomie-professor Ha-joon Chang, veral sy boek “Rethinking development economics”, wat Shivambu graag aanbeveel.
Chang argumenteer dat staatsinmenging in die ekonomie nodig is vir ‘n suksesvolle ontwikkelingsekonomie of ontwikkelende staat. Hierdie teorie is nie uit die lug gegryp nie, maar is gegrond op sy ervarings as jong Suid-Korean. Suid-Korea se ekonomie is een van die sogenaamde Asiatiese Tiere en daarmee een van die ekonomiese wonders van die afgelope halfeeu wat ontwikkeling betref. Chang het self ook ‘n artikel neergepen met raad vir die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika, waarin hy die nasionalisering van die banke aanmoedig.
Chang se gedagtelyn (hoewel nie kommunisties nie, maar uiters proteksionisties of ekonomies-nasionalisties), word soos manna uit die hemel opgeraap deur die EFF wat die nasionalisering van banke, myne en grond sonder vergoeding as hul ekonomiese panaseë najaag. Die kulturele verskille tussen Suid-Afrika en Korea, asook die vermenging met Marxisme, laat egter groot vrae of die EFF se beleid op enige iets anders as hongersnood en algehele armlastigheid kan uitloop.
Die EFF se groot aantrekkingskrag is myns insiens nie soseer hul beleid, as hul akkurate beskrywing van die ANC se mislukkings nie. Van onderwys, werkloosheid tot mediese dienste, druk die EFF die vinger op die ANC se seerplekke en dráái hulle. So, byvoorbeeld, het hulle die retoriese vraag gevra waarom pres. Mandela in ‘n privaat hospitaal behandel word en nie in die Chris Hani Baragwanath (soos arm swartes) nie. ‘n Tweede voorbeeld is waar Shivambu skryf dat die ANC nie eenvoudig kan voortgaan om Apartheid te blameer vir sy eie mislukkings nie. Daardeur kan hulle moontlik elkeen met ‘n grief teen die ANC, wittes of groot maatskappye in hulle ondersteunerskorps bymekaarmaak.
Floyd Shivambu se verdediging van pres. Mandela as leier van die struggle en uiteensetting van die EFF se plan van aksie wat onlangs in Politicsweb gepubliseer is, bied ‘n boeiende blik op Shivambu en die linkse swart nasionaliste se persepsie van die geskiedenis. Dit is ook die moeite werd om in ag te neem dat Shivambu, anders as Malema, nie kriminele klagte in die gesig staar nie. Hy gaan dus nie maklik van die toneel verdwyn nie.
Wat beteken dit als vir Afrikaners en vir Orania?
Dit is duidelik dat Afrikaners, as vernaamste teiken vir onteiening, die meeste op die spel het om te verloor. Afrikaners het tot op hede hul toevlug by die liberale waardes van die DA gesoek, maar aan die een kant kan die EFF ‘n groter kans hê om die ANC uit die kussings te lig as die DA en aan die ander kant is daar volgens die SAIRV geen beduidende beleidsverskille tussen die DA en die ANC meer oor nie. Daarmee word die politieke toneel al vyandiger.
Dit beteken dat Afrikaners diep sal moet delf op soek na innerlike krag om die veerkragtigheid te ontwikkel om die komende uitdagings die hoof te bied. Voorbereiding is immers altyd beter as voorspelling.
Orania is daarteenoor besig om prakties te demonstreer hoe ‘n ontwikkelingsekonomie gedóén word: met eie instellings, trots op eie werk en die absolute afwesigheid van ‘n afhanklikheidskultuur.
In my volgende bloginskrywing sal ek die soeklig werp op hoe Orania se eie instellings suksesvol verminderde risiko en groter ekonomiese groei bewerkstellig.
by Sebastiaan Biehl | Jul 24, 2013 | Nuus |
Almeria, die stad waar ek sedert die begin van Junie woon, is in die provinsie Andalusië in die suide van Spanje geleë. Dit is ‘n belangrike hawestad met talle veerbote na Marokko en Algerië.
Die naam Almeria is van Arabiese oorsprong (Al-Mariyah) en beteken “spieël” wat verwys na die see wat meesal soos ‘n spieël lyk, sonder golwe. Dit was vir eeue ‘n Arabiese stad (die Arabiere oftewel Moore het die grootste deel van Spanje in die Middeleeue beset) tot dit in die 15de eeu in die proses van die Reconquista (herowering) deur die Christelike Spanjaarde verower is. Daar is nog geboue uit die tyd van die Moore, soos die Alcazaba (n enorme kasteel uit die 10de eeu wat bo die stad uittroon), en die moskee, wat later ‘n kerk geword het. Daar is natuurlik ook ‘n hele paar pragtige Katolieke kerke uit die laat Middeleeue en daarna. Ten spyte van die besienswaardighede is toeriste hier redelik skaars wat daarmee te doen dat Spanje eenvoudig te veel besienswaardige stede het, en toeriste na Andalusië se reisplanne sluit gewoonlik die hoogtepunte Sevilla, Granada, Cordoba, Malaga en Ronda in, en vir Almeria bly dan nie nog tyd nie. Dit maak dat die stad ‘n Spaanse karakter behou het en nie net leef vir toerisme nie en daarmee saam sy karakter prysgee om buitelandse geld te verkry nie. Dit bring ook mee dat feitlik nêrens Engels gepraat word nie (anders as byvoorbeeld by die Costa do Sol rondom Malaga, waar omtrent alle aanwysings en advertensies al tweetalig Spaans en Engels is ter wille van die groot getalle Britse sonsoekers). Sonder ‘n bietjie Spaans om ten minste iets in ‘n restourant te bestel of inkopies te kan doen en jou pad te vra sal jy sukkel.
Die stad het sowat 170 000 inwoners, waarvan ‘n deel mense van Marokko is, wat meesal in die armer dele woon en hulle eie groep vorm en min met die Spanjaarde meng. Ooglopende konflik tussen die groepe is daar baie min, maar die Spanjaarde het oor die algemeen nie veel ooghare vir die Marokkane nie, wat ‘n ander godsdiens (Islam) en gewoontes het en ook die grootste deel van die arm bevolking uitmaak. In die deel waar Marokkane gekonsentreer is, is dwelmmisbruik en misdaad, maatskaplike probleme en algemene verval nogal ooglopend. Dit gesê, het ek egter met heelwat Marokkane te doen gekry wat vriendelik, gasvry en ordentlik is en goeie morele waardes (in die konteks van Islam) aanhang en trots is op hulle kultuur.
Die klimaat is nogal baie soos Orania s’n, altans in die somer: baie warm, altyd son, en droog. Die omgewing is barre rotswoestyn, maar ten spyte daarvan is die stad groen, met talle palm-, sitrus en ander bome wat die groot strate begrens en ‘n aangename voorkoms aan die stad gee.
As ‘n mens vanaf die netjiese en geordende Middel-Europa na Spanje kom, is dit eers ‘n aanpassing. Dit is ooglopend dat Afrika geografies al taamlik naby is: die strate is vuil, talle geboue onversorg en half vervalle. Die ekonomiese krisis wat Spanje tans beleef (en Almeria het ‘n werkloosheid van 45%) speel daarby ook ‘n rol. Op die oog af gaan die lewe aan, mense is meesal netjies geklee, gaan eet en doen inkopies. Maar as ‘n mens van nader kyk val die talle mense op wat snags in asblikke na bruikbare goed krap, en elke tweede gebou staan leeg en is te koop of te huur, veral in die ou stad.
Die reuke wat jy dikwels aantref is riool, rommel, hondemis of vis, en af en toe ‘n daggawalm. Alhoewel die munisipaliteit gereeld die vullisdromme leegmaak en strate skoonmaak en mense probeer aanmoedig om hulle hondemis op te tel en weg te gooi, gee mense nie veel daarvoor om nie. Vergelyk dit met Weenen, ‘n veel groter stad wat silwerskoon is. Hier word ook meer gerook as in Middel-Europa, en nogal heelwat sigare. Wat die kleredrag betref is die ouer mense (veral die ou vroue) meesal elegant geklee, die jong vroue stylvol en nogal verleidelik, die jong mans en tieners taamlik informeel. Tatoeëermerke is ook opvallend volop by die jeug.
Die lewe vind plaas op straat, nie in mense se privaathuise nie. In die huise word gebad, sekere etes geëet en geslaap, maar al die ander dinge gebeur op straat. Die oorgrote meerderheid mense woon in woonstelle, private huise met groot tuine is amper ongehoord, selfs in die voorstede. Dit is in sterk teenstelling met die Britse (en ook Afrikaanse) leefwyse van “My home is my castle” en die openbare ruimte wat veral, om verstaanbare redes, onder wit Suid-Afrikaners as ‘n amper vyandige plek beleef word. Hier is orals pleine, straatkafees en kroeë en restourante.
Die ritme van die tipiese Spaanse stad is so: mense slaap redelik laat, tot 8 uur, eet dan ‘n vinnige ontbyt (desayuno) bestaande uit sterk koffie met baie melk (wat hier uit glase, nie bekers of koppies nie, gedrink word) en ‘n roosterbrood met konfyt of ‘n joghurt. Die idée om spek en gebakte eiers vir ontbyt te eet is hier absurd, en toe ek dit een keer wou maak, het my “landlady” dit baie vreemd gevind. Eers na 9 uur begin besighede open en is mense op straat tot so om en by 12 uur, wanneer mense vir die klein honger gewoonlik by ‘n “bar” (n soort eetkroeg) ‘n koffie, of ‘n bier sal drink, saam met ‘n tapa, ‘n ligte verversing soos n broodjie met vis of vleis, ‘n stuk gebraaide vis, ‘n paar olywe en ham of kaas. Tapas kan ‘n mens natuurlik ook later in die vroeë aand kry, as oorbrugging tot by die aandete (cena).
Die brandende son maak dat in die warmste tyd van die middag, tussen 2 en 5:30, alles sluit en dit soos ‘n Sondagmiddag in Orania lyk, elke dag. Dit is die bekende siësta, wat in hierdie klimaat sin maak. Dan gaan mense van die werk af huis toe, eet middagete (almuerzo) en knip ‘n uiltjie. In die laat middag gaan mense egter weer terug werk toe en winkels maak weer oop en bly oop tot laat, en mense bevolk die strate. So om en by 6 uur sal mense by ‘n koffieplek weer ‘n koffie drink met ietsie soet. Dan, as die temperature so na 7 meer draaglik is, word rondgeloop, op pleine gesit en gesels en by restourante bier, wyn en tapas genuttig. Ook na 10 uur gaan die lewe nog aan, dan eet mense in restourante of kuier op pleine waarvan daar nie ‘n tekort is nie. Nou, in die somer, is ook gereeld musiekvertonings op pleine wat nog tot die lekker kuieratmosfeer toevoeg. Die Spanjaarde het ‘n mooi manier van kuier, daar word uitbundig gesels as families of vriendekringe, maar ek het nooit swak gedrag en dronkenskap in die openbaar beleef nie.
Kultuur is nogal belangrik vir die Spanjaarde en word selfs in tye van ekonomiese benoudheid gesubsidieer. Veral in die somer het elke stad en dorp sy feestye (fiësta) wanneer daar orals musiek- en dansvertonings is, dikwels gratis of betreklik goedkoop. Ook museums is gratis. Die Spanjaarde het ‘n ou en ryk kultuur en geskiedenis en is trots daarop. Dit vind ook sy neerslag in die houding teenoor buitelanders: Hulle is vriendelik en hulpvaardig, maar val nie oor hulle voete om ‘n uitlander se wense te vervul nie en stel ook nie juis belang in ander volke se mense nie. Anders as in Suid-Afrika, ten minste buite die sentrums, waar mense altyd buitelanders nuuskierig sal uitvra oor waar hulle vandaan kom, is dit hier nie die geval nie. Spanje is natuurlik ook een van die top toerismebestemmings en uitlanders is dus niks snaaks nie. Die buitelanders wat langtermyn hier leef berig dat hulle nie sommer vriende maak met die Spanjaarde nie. Dit is in teenstelling met die Afrikaanse kultuur, wat nogal besonder gasvry en oop teenoor buitelanders is, seker ook maar omdat dit ‘n volk is wat uit ‘n mengelmoes volke ontstaan het, en nogal betreklik onlangs.
*Sebastiaan Biehl keer weer later vanjaar na Orania terug. Hy doen tans sendingwerk onder die Marokkane in Spanje.
Nuutste Opmerkings