Die gemeenskapsbeskouing

Agtergrond

Om te verstaan waarop ek my filosofie baseer, is daar een boek wat heel voor in die ry staan The Myth of Religious Neutrality van Roy Clouser. Die boek definieer geloof as dit wat ons as onvoorwaardelik en onafhanklik beskou.

Een oorhoofse tema in die boek is dat Materialisme ‘n soort geloof is. Materialisme verwys in hierdie sin nie na ‘n grypsugtigheid in verband met geld nie, maar eerder ‘n oortuiging dat daar ‘n fisiese heelal om ons is en dat daar energieë en kragte op hierdie materie inwerk. Buiten hierdie eienskappe van realiteit  maak materialiste so min moontlik verdere aannames en regverdig dit gewoonlik met Occam se reël*.
(*Occam se reël : http://math.ucr.edu/home/baez/physics/General/occam.html)

As materialisme dan ‘n geloof is, moet daar sekere gevolge wees wat hierdie wêreldbeeld bloot aanvaar. Dis immers die kritiek van diegene wat hierdie geloof aanhang en hulleself ateïste noem. Hulle sê: “Julle aanvaar dinge sommer sonder om dit aan die realiteit te toets”. Die probleem met materialisme lê veral daarin dat die materialis glo dat alles wat nie tot massa en energie gereduseer kan word nie, nie bestaan nie. Enige gebeure wat buite hierdie veld val, is gebeure waarvoor geen wetenskaplike maatstaf bestaan nie, as hulle enigsins werklik is. Verder, raak beskrywings al meer wetenskaplik as hulle al meer afgebreek is tot hulle onderliggende realiteit. Dit is ‘n proses wat reduksie genoem word.
Hierdie stelsel werk nogal goed vir die Natuurwetenskappe. ‘n Voorbeeld: deur alle voorwerpe bloot in terme van hulle massa en beweging te beskou, kan ons voorspel wat gebeur as daar botsings tussen die voorwerpe is. As ‘n voorwerp wat ‘n sekere massa besit teen ‘n sekere snelheid in ‘n sekere rigting beweeg en met ‘n ander voorwerp bots, reageer die tweede voorwerp op ‘n sekere manier, ongeag of daardie voorwerp ‘n mens of ‘n duiksak is. Dit maak nie vir die botsing se doeleindes saak of die voorwerp lewend is of nie, tensy daardie lewe tot ander rigting of snelheid aanleiding gee. Duiksakke probeer tipies nie rondom jou hardloop as jy hulle wil duik nie!

In elke model  probeer ons soveel van die realiteit vasvang as moontlik. As ons egter ‘n aspek van realiteit as die basiese realiteit beskou, lei dit daartoe dat alle ander aspekte slegs waarde het wanneer hulle tot daardie basiese aspek bydra.

Daar is egter iets soos vals reduksie. Dit is as jy iets probeer verklaar aan die hand van ‘n ander aspek as waartoe dit behoort. ‘n Voorbeeld is wanneer Marx alle sosiale interaksie probeer reduseer tot sosiale klasse. Alle mense van ‘n sekere welvaartsgroep moet dieselfde gedrag toon. In die proses verloor hy ‘n klomp inligting oor die individue wat tot elkeen van daardie groepe behoort. Die geskiedenis is egter gepeper met leiers wat deur magsvertoon, oorredingsvermoë, beloftes, of blote sjarme mense oortuig het om hulle te volg. Hoewel die gedrag wat hulle voorgestaan het, teenoorgesteld was van wat Marx vir jou groep voorskryf.

Materialisme het egter tot die oortuiging gelei dat alles behoort gereduseer te word. En alle afwykings wat steeds bestaan, word verklaar met “maar ‘n mens verloor altyd van die detail as jy die patroon beskryf”. Ek wys egter in die stuk op die mislukking van beide weergawes op die reduksie, wat die indruk wek dat ‘n skadelike reduksie opgespoor is.

Hier volg my uiteensetting van die Clouser se blik op die staat, gesien deur die bril van ‘n gesprek met Carel Boshoff (iv) op die Afriforum-toer van Desember 2012.

Doel
Bepaal die beste wêreldbeeld waaruit die samelewing ingerig kan word.

Bestaande oplossings
Hierdie doelwit is allermins nuut. Daar is immers al samelewings van voor die geskrewe geskiedenis af en hulle moes hulleself op die  een of ander manier  inrig. Toe ontwikkel daar twee kontrasterende denkskole om die doel te bereik: Die Individualisme en die Kollektivisme. Dit was die onderliggende verskil in die ideologieë van Amerika en die ou USSR. Die VSA was die individualistiese land, Rusland die kollektivistiese staat.

Individualisme
Individualisme neem as sy basiese aspek dat menslike samelewings uit individue bestaan. Uiteindelik is die staat die som van die individue in die staat. ‘n Groepering soos ‘n gesin, ‘n skool, ‘n besigheid, ‘n klub, is dan basies ‘n klomp individue wat die een of ander belang deel. In wese is hierdie groeperings eintlik tydelik: so lank as wat die samewerking vir elke individu in die groep tot voordeel is, sal die samewerkingsooreenkoms voortbestaan. As dit nie meer die geval is nie, behoort die eenheid ontbind te word.

‘n Skool is onder hierdie beskouing iets wat bestaan omdat ‘n klomp individuele ouers hulle eie voordeel soek. Hulle beleef voordeel vir hulleself daarin dat opvoeding vir hulle kinders goed sal wees. Daarom hou hulle aan hulle kinders inskryf, wat die bestuur van die skool in staat stel om onderwysers te onderhou, terreine te ontwikkel en so aan. As die skool nie meer vir individue tot voordeel is nie, sal hy ontbind word en die terrein anders aangewend word.

Wanneer ‘n mens die impak van beleid, natuurrampe of wat ookal op die mensdom wil bepaal, is die maatstaf die individu. Ons wil sien wat met elke mens afsonderlik gebeur en dan is die samelewing die totaal van die individue daarbinne.

Kollektivisme
Kollektivisme verskil radikaal hiervan. Dit reken dat die individu tydelik is. Mense word gebore en gaan dood in ‘n relatief kort periode, amper almal onder 100 jaar. Verenigings kan egter onbeperk voortbestaan. Daarom is die logiese manier om te redeneer oor die mensdom om ons as verenigings te beskou.

‘n Skool, byvoorbeeld, bestaan veel langer as die tyd wat enige spesifieke kinders in die skool is. Daarom is die karakter van die skool iets wat ons onafhanklik van enige kind in die skool kan beskou. Die voordeel van die skool word dan ook op ‘n hoër vlak gereken as die voordeel van enige kind. “Hoeveel kinders moet daar in ‘n klas wees?” word beantwoord op grond van die beste belang van die skool, voor die belang van individuele leerlinge bygereken word.

Hoe groter die eenheid hoe meer permanent is die vereniging geneig om te wees. ‘n Boekklub met vyf lede is meer geneig om te verval as ‘n maatskappy wat 5 000 mense in diens neem. Die grootste eenheid is dan die staat, wat verwys na die regering, wetgewende gesag, howe en almal waaroor hierdie entiteite seggenskap het.

Wanneer die impak van beleid, omgewingsgebeure en so aan bepaal word, is die maatstaf die staat as geheel. Ons wil sien of die beleid tot voordeel van die geheel is. As iets tot voordeel van die geheel is, sal dit deursyfer tot by alle individue wat onder daardie staat val.

Vergelyking
Ter verduideliking van die verskil tussen die denkraamwerke beskou ons byvoorbeeld China se een-kind-beleid, gesinsbeplanning, soos hulle dit noem.

Onder kollektivisme is dit duidelik dat, as jou land oorbevolk is, dit tot die voordeel van die staat sal wees as mense minder kinders kry. Dus is enige maatstaf wat die doel bereik, aanvaarbaar. Of ‘n spesifieke persoon meer as een kind wil hê, is nie van belang nie. As ‘n paartjie weer swanger word en dis vir hulle moreel moeilik is om ‘n tweede kind te aborteer, is dit nie ter sake nie –  hulle moes beter beplan het. Die geheel se voordeel, is al wat tel.
Individualisme reken egter slegs die individu se voordeel. Om dus ‘n persoon se vryheid in te perk kan slegs geregverdig word as dit onweerlegbaar tot sy eie voordeel strek. ‘n Baie oopkop individualis sou kon reken dat die uiteindelike ekonomiese voordeel van ‘n kleiner bevolking, dus meer hulpbronne vir elkeen, tog tot individuele voordeel strek. Die meeste reken egter dat die skade wat aangerig word in die implementering van die beleid dit onhoudbaar maak.

Die twee ideologieë kan dus verskillende gevolgtrekkings maak, wat beteken daar word gekies, die een of die ander.

Die belangrikste ooreenkoms tussen die twee ideologieë  is waarskynlik die feit dat hulle gebruik word om die voordeel vir  die mens te bereken. Daar is baie gevalle waar die voordeel vir die individu en die voordeel vir die geheel sinoniem is. ‘n Toename in ekonomiese aktiwiteit en welvaart wat redelik gelykop verdeel word, sal gesamentlik vir beide individue en die geheel goed wees.

‘n Meer subtiele ooreenkoms is die idee dat ’n  mens deur die bank voor- of nadele behoort te beskou met net een van individue of kollektiewe as maatskaf. Dit beteken dat die ander slegs van belang is in sover dit tot die een waarin jy belangstel, gesien kan word. Nie een van die twee ideologieë vat alles in die samelewing raak nie, juis omdat elkeen ‘n deel van realiteit as ondergeskik aan die ander beskou. Solank beide ideologieë aanhangers het, vul hulle mekaar aan tot ‘n gebalanseerde wêreldbeeld. Dis egter deesdae al minder die geval.
Histories is die twee ideologieë teen mekaar opgeweeg. Die VSA was individualisties, kapitalisties en demokraties. Die USSR was kollektivisties, sosialisties en kommunisties ingestel. Uiteindelik het die USSR die koue oorlog verloor en as staat misluk en toe ontbind. Dus bestaan die oortuiging dat kollektivisme verkeerd is en individualisme die beter wêreldsbeskouing is.

Probleem
Daar is ‘n klomp swakplekke in individualisme. Hierdie swakplekke word nie aangespreek nie want hulle volg direk uit die aanname van individualisme, nl. dat die individu die maatstaf vir voordeel behoort te wees. Ons ontwikkel dus ‘n blindheid vir die swakplekke in die denkraamwerk.
Onder hierdie swakplekke tel:
–    korttermynfokus
–    selfsug
–    isolasie
–
Korttermynfokus.
Soos reeds genoem, leef ‘n mens nou eenmaal net só lank. Dus praat ons van langtermynbeleggings as ons na 15 jaar kyk. Ons sien dat finansiële bestuur aansienlik beter werk as ons doelwit verder in die toekoms gestel word. Maar langer voel onrealisties. In my M-projek, waar ek drywers vir kliënte se wangedrag moet opspoor, hou die bank die meeste datastelle nie langer as 15 jaar nie want daardie ou inligting kan tog sekerlik nie waarde inhou nie.

In die geskiedenis is 15 jaar egter ‘n oogwink – daar het 300 jaar verloop sedert Alexander die Grote geleef het en tot die mees betroubare weergawe van sy lewensverhaal opgeteken is. Die mensdom is dus in staat om idees vir veel langer te bewaar as wat ons op die oomblik dink nuttig is. Om hierdie waarde te ontken, is om die foute van die geskiedenis met eentonige reëlmaat te herhaal.

Die oorbesteding deur die regerings van die PIIGS-lande (Portugal, Ierland, Italië, Griekeland, Spanje) is ‘n simptoom hiervan. Ons spandeer solank geld, wat nou lei tot lekker gemaklike lewens en gewilde politici. As daardie geld eendag terugbetaal moet word, sal daar al iemand anders aan bewind wees, so dis nie my probleem nie. Die volgende ou leen dan bloot meer geld, is minder volhoubaar om dieselfde voordele te onderhou, wat hulle dan weens die groeiende rente nóg minder kan bekostig.

Die publiek het hierdie partye ingestem, bloot omdat hulle op die korttermynvoordeel gefokus het. Die langtermynprobleme, tref toe vroeër as wat hulle gedink het en nou is hulle kwaad vir die regering oor hulle die voordele stop. Dat hulle nooit daardie voordele kon bekostig het nie en dus nooit die lekker moes gehad het waaroor hulle nou oproerig is oor dit weg is nie, word in die geheel ignoreer. Hulle eis dat regerings verantwoordelik moet omgaan met hulle geld, maar dié regerings met die grootste beloftes, wat die onverantwoordelikste beleide het, word ingestem!

Selfsug
Die verskoning wat selfsug nodig het, is dat my eie voordeel die doelwit van die samelewing is. As dit is hoe ons die sukses van ‘n staat bereken, is die een wat ander vertrap tot eie voordeel nie net iets wat ons aanvaar nie, maar selfs die doel wat nagestreef moet word.
Hierdie samelewing is egter een wat die natuurlike vertroue wat nodig is vir samewerking, ondermyn. Om ons kragte saam te span is egter die grondslag waarop verbeterings van ons samelewings gebou word. Een voorbeeld wat tradisioneel gebruik word, is dié van ‘n wa wat baie swaar gelaai is. As die wa só swaar is dat ‘n perd hom vir een kilometer  kan trek voordat hy uitgeput is, dan kan twee perde vir 17 kilometer trek voor altwee moeg is. Deur saam te werk het hulle dus meer as agt keer soveel bereik as wat elkeen op sy eie sou.

Isolasie
Die gesamentlike impak van ‘n korttermyningesteldheid en onbegrensde selfsug is sosiale isolasie. Ons leef in die era waar dit die maklikste is om te kommunikeer. Facebook, MySpace, Twitter, Twoo, Pintrest, LinkedIn, Picassa en nog ‘n horde name beloof dat jy maklik, gemaklik, vinnig en moeitevry verbind kan wees. Jy kan soveel vriende hê dat jy die meeste van hulle nie eers ken nie. En ons val daarvoor. Elke keer.

Ons word om die bos gelei want die aard van die verhoudings wat ons wil hê, is in wese anders as wat die sosiale media bied. Ons wil juis hê dat iemand moeite sal doen, om ons te leer ken. Maar die netwerke beloof dis moeiteloos.

Ons wil nie net geken word aan die blinkste kant wat ons graag vir die wêreld wys nie. Iemand wat sag daarmee sal omgaan, iemand wat ons kan vertrou, moet ook die kante van jou ken wat jy nie met die wye wêreld deel nie.

Ons wil langdurige verhoudings hê, nie vinnig vriende maak nie.

Die lewensingesteldheid van ‘n verbruikersamelewing ondermyn ons lewensvreugde.

Gemeenskapsbeskouing
Die voordeel van ‘n staat kan nie gereduseer word tot óf die individu óf die geheel soos wat momentum gereduseer kan word tot ‘n produk van spoed en massa nie. Hoewel ons dinge van die rugbyspeler kan verstaan d.m.v. die duiksak, IS hy nie die duiksak nie. Dié verskil is ‘n belangrike een om na op te let.

As ons ‘n stap vroeër ophou reduseer, dan kan ons begin samelewings opstel wat gemeenskaplik ingerig is.

‘n Gemeenskap is nie bloot ‘n kollektief nie. Dis ook nie bloot ‘n samekoms van los entiteite nie. Dis albei. Slegs wanneer ons ophou om die een tot ‘n funksie van die ander af te breek, kan ons die beste gemeenskappe bou. Ons moet beide die individuele voordeel én die kollektiewe voordeel meet en in ag neem vir besluite.

Onder die gemeenskapsmodel het ons ‘n samelewing waar die gemene belang voorop staan, vergeleke met die individualistiese wêreld. Aan die ander kant is dit ook ‘n samelewing waar jou individuele bydrae geken en waardeer word, vergeleke met kollektivisme.

‘n Skool is beide ‘n vaste instelling met ‘n eie karakter, wat sal bestaan, al word daar ‘n lid bygevoeg of weggeneem, én die leerlinge en gesinne wat hulle tot daardie skool verbind afsonderlik. Om die een of die ander weg te laat is om ‘n deel van wat die skool is te ontken. Daar moet dus ‘n dubbele maatstaf in elke beredenering oor die skool se beleid wees. Aan die een kant moet die voordeel van die leerlinge tans aan die skool verbind, bereik word. Aan die ander kant moet die skool uitgebou word ter wille van toekomstige leerlinge wat daar opgelei moet word. Dit is tog die mees natuurlike manier om ‘n instelling se besluite te neem.

Nou moet die beginsel net op ‘n groter speelveld ook toegepas word. Uiteindelik gaan ons nie bereik wat ons nie nastreef nie. Daarom het kollektivisme gefaal, daarom is individualisme besig  om te faal. Dit is moontlik dat die gemeenskapsbeskouing steeds iets miskyk, maar sy blinde kolle is veel kleiner as die bestaande twee. Die rede dat dit hier moontlik is om sowel die kollektiewe as die individuele beswil te bereik, is omdat jy albei erken.

Inleiding tot die Orania Beweging Burgervergadering van 2013

Carel Boshoff, President van die Orania Beweging, lewer die inleiding tydens vanjaar se Burgervergadering.

Carel Boshoff, President van die Orania Beweging, lewer die inleiding tydens vanjaar se Burgervergadering.

21 September 2013

Geagte Burgers van die Vrystaat Orania

(Ek spreek u só aan in die gees van verlede jaar se inleiding tot die Burgervergadering, nie omdat ons dink dat Orania nou die volkstaat geword het nie, maar omdat die strewe wat in Orania vergestalt is, daarin die tasbare begin van sy verwesenliking vind. Dit stel ons in die gunstige posisie om nie net met ’n soortnaam na ons te herstelde vrystaat/republiek te verwys nie, maar met die vooruitsig van ’n eienaam.)

Tydens hierdie 175ste herdenkingsjaar van die Groot Trek, waaruit ons volk se staatkundige vryheid die eerste keer gebore is, pas dit om erkenning aan dié epogmakende gebeure te gee en vir ’n oomblik by die waarde daarvan vir ons poging vandag stil te staan. Dit sluit aan by ’n deel van die FAK se herdenking van die geleentheid op ’n heel eietydse manier met ’n 4×4 avontuurrit wat vir uitsending op KykNet verfilm en verpak word en waarby verskillende Afrikanerorganisasies inhoudelike bydraes gelewer het. Een sou uitbrei oor veiligheid op die Groot Trek, ’n ander oor kos en die voorbereiding daarvan, nog een oor die voertuie en tegnologie van daardie tyd en die Orania Beweging oor … , nouja, wat anders as die ordening van die nuwe samelewing en die stigting van ’n nuwe staat.

Wat in my nalees vir die geleentheid opgeval het, was, naas die algemene toepaslikheid van daardie geskiedenis op Orania se strewe vandag, ’n stelling van prof Gert Duvenage in sy studie wat gedurende 1988 se Groot Trek 150 (met die tema Op trek an ons eie) gepubliseer is. Dit is dat die staatkundige geskiedenis wat in Desember 1836 by Thana Nchu met die Volksvergadering onder Gerrit Maritz se leiding begin het, in ’n eenheid deurgeloop het tot met die beëindiging daarvan in 1902. Hoe elementêr daardie eerste aanwysing van 5 of 7 “regters” (of eintlik “rigters”) ookal was, en hoe ongeskei die magte van die staat nog was, dit was die begin van ’n volksregering of demokrasie wat sou uitloop op ’n bedeling wat, in die vorm van die Oranje Vrystaat tot vandag toe as ’n modelrepubliek beskryf word.

Waar die Vryheidstigting in die gees van ’n staatkundige strewe opgerig is en sy strukture daaraan uitdrukking wil gee, is dit van betekenis om te sê dat ons die afgelope jaar met ’n beter funksionerende Uitvoerende Raad en met nuwe inisiatiewe binne die Burgerraad ’n beter omlyning van dié liggame se funksionering begin kry en dat hulle, saam met die Federale Forum wat besig is om tot stand te kom en waarby instansies wat oor grond onder eie beheer mekaar ontmoet, die grondslag vir meer as net plaaslike of private selfstandigheid gelê word. Wat reeds in Orania, in besonder deur VAB vermag word, kan op hierdie wyse uitgebrei en versterk word en ’n beweging word wat hoe langer hoe meer uitdrukking aan ons grootse vryheidstrewe gee. Ontvang die verslag van ons Uitvoerende Hoof vandag ook in dié gees.

In die tweede plek wil ek verwys na ’n punt wat dr Jooste, wat danksy gereelde verwysings vir ons jonger en nuwer lede seker al die gestalte van ’n soort mistieke figuur aanneem, aan die begin van Orania se vestiging gemaak het. Hy het in sy boek oor die ’n Afrikanervolkstaat en lesse uit die Joodse vestiging in Pallistina verwys na die spannin wat tussen die nedersetters in die nuwe land en die Jode wat nog elders in die wêreld gewoon het, ingetree het. Sonder om op sy voorbeeld te kan uitbrei, beleef ons dieselfde op verskillende maniere sedert die vestiging van Orania en nog steeds. Daar is ’n verskil tussen binne en buite Orania wat aan die een kant juis gehandhaaf moet word, maar aan die ander kant altyd weer oorbrug moet word.

Aanvanklik is Orania eenvoudig deur Afrikaners elders van die hand gewys en bespot en tot vandag toe moet ons die aanhang wat ons gedagte geniet, nie oorskat nie. En selfs waar Orania en ons vryheidstrewe aanhang geniet, heers daar dikwels verskil van mening oor wat gedoen moet word en hoe. Sulke spanning kan soms verlammend wees omdat inisiatief en ywer maar brose plantjies is wat maklik deur ’n vroeë ryp geknou kan word. Aan die ander kant kan niemand wat ten behoewe van ’n gemeenskap of ’n volk wil optree, bekostig om oorgevoelig vir kritiek te wees nie en moet elkeen wat inisiatief neem, gereed wees om dit nie net altyd weer te kan verduidelik en verklaar nie, maar ook aan die hand van welmenende kritiek aan te pas en te verbeter. Daarom mag ons nie van “robuuste debat” soos die mode=frase dit beskryf, terugdeins nie.

Dit is dan ook die gees waarin ek in die derde plek wil aanknoop by die kritiek van ’n eietydse Nederlandse denker, Hans Achterhuis, op beide sosialistiese en liberale tendense in die moderne samelewing. Dit kom in kort daarop neer dat beide denkrigtings, veral in hulle ekstreme of fundamentalistiese gestaltes, deur utopiese denkbeelde onderlê word. Of dit die Marxistiese utopie van gelyke besit en sentrale beplanning is of dié van Ayn Rand wat vrye teuels aan die hebsugtige individu gee en “letterlik” in die teken van die dollar staan, beide gaan uit van die rewolusionêre impuls om die slegte verlede uit te wis sodat ’n goeie toekoms op ’n skoon begin gebou kan word – baie soos moderne eiendomsontwikkelaars met boupersele omgaan.

’n Element hiervan was ook al deel van die volkstaatdenke soos dit veral aanvanklik beoefen is toe ons by wyse van spreke voor ’n leë lei – of letterlik ’n skoon blaaibord – gestaan het en oor afbakening, bevolking, ontwikkeling, regering, ens. gefantaseer het. Dat daardie vrye vlugte van die verbeelding ’n belangrike deel van ’n nuwe begin soos Orania uitmaak, kan niemand betwyfel nie, maar dat ons uiteindelik met harde en trae werklikhede te make het, soms ook in ons eie gemoed, staan netso vas. Om dit kort te stel: visionêre denke hoef nie utopies van aard te wees om hoegenaamd te bestaan nie. Inteendeel, “ons sin vir werklikheid én ons vermoë om te droom sal toenemend as inspirasie dien vir ons groeiende inisiatief” – om die slot van verlede jaar se inleiding aan te haal. Ek verwys weer daarna omdat daar gevare skuil in wat na onskuldige utopisme kan lyk omdat dit by die gegewe werklikheid verby kan stuur en aan die wortel van geweld kan lê.

Maar ten slotte en op ’n positiewe noot juis ’n verwysing na een van daardie werklikhede wat ons in die Orania Beweging al so lank voorsien het en wat op sy eie tyd en manier besig is om in vervulling te gaan. Ek wil met u die waarneming deel dat Afrikaners oor ’n breë front besig is om afskeid te neem van daardie betekenisgewende frase wat so lank tussen ons idealisme en hulle werklikheidsbesef gestaan het, naamlik “Suid-Afrika eerste”. In die negatief gestel, beleef Afrikaners oor ’n breë front ’n omvattende en diepgaande vervreemding van Suid-Afrika; positief gestel word die vraag na selfstandige ruimtes waarin Afrikaners aan hulle kultuur-politieke bestaan uitdrukking kan gee, toenemend gestel. Ek sou u van heelwat voorbeelde kon voorsien om die punt te illustreer, maar ek vermoed dat u elkeen dié lys sou kon uitbrei sodat ek nou net by die stelling volstaan.

Dit hou vir ons nuwe moontlikhede in wat met oorleg en ywer ontgin moet word terwyl die rig van ons appél tot nuwe gehore ons aanpasbaarheid sal toets. Aangesien ons ’n “volkstaat” in die oog het en die Vryheidstigting nog nooit sektaries was in sy beskouing van “die volk” nie, is die fondamente gereed vir ’n gebou wat groter is as enigiets wat die afgelope 25 jaar ons laat verwag. Kom, laat ons werk.

Spanje in Noord-Afrika: die enklawes Ceuta en Melilla

Ceuta, 'n Spaanse stad in Noord-Afrika.

Ceuta, ‘n Spaanse stad in Noord-Afrika.

Die Herkulesbeeld in Ceuta.

Die Herkulesbeeld in Ceuta.

In ‘n vorige blog-artikel is genoem dat Spanje tans weer in ’n woordeoorlog oor die Britse besitting Gibraltar betrokke is. Die Britte wys byvoorbeeld daarop dat Spanje nie konsekwent is as Gibraltar weens “territoriale integriteit” teruggeëis word nie en dat geografie die alles bepalende faktor is.
Spanje, wat met klippe gooi, sit self in die spreekwoordelike glashuis, want in Noord-Afrika, omring deur Marokkaanse grondgebied, besit die land twee enklawes, Ceuta en Melilla, en wys enige eise van Marokko oor teruggawe van die hand. Daarby is dit ook interessant dat die Verenigde Nasies Gibraltar as kolonie lys wat gedekoloniseer moet word, maar nie Ceuta en Melilla nie.

Net soos in die geval van Gibraltar is die twee stede kultureel en polities eilande wat duidelik van hulle omgewing verskil. As jy van Algeciras per boot in minder as ’n uur oor die seestraat van Gibraltar na Ceuta vaar, of vanaf Almeria binne sowat ses uur na Melilla, is jy nog steeds in Spanje, geen paspoortkontrole vind plaas nie en geboue en mense lyk soos in ’n Spaanse stad op die vasteland. Dit val wel op dat Marokkane met hulle kopdoeke en gewade meer algemeen voorkom, so ook hulle buurte met moskees waar jy eerder voel soos in Marokko.

Ceuta het sowat 80 000 inwoners en ’n geografiese opset wat met Gibraltar vergelyk. Dit is ook op ’n dun skiereiland geleë, wat in die middel deur ’n kanaal geskei word en waar die stad se sterk fortifikasies in die 17e eeu gebou is en later volgens die nuutste vestingsargitektuur uitgebrei is. Die geografie maak dat Ceuta lank uitstrek en jy sommer binne vyf  minute van die noordelike kant teen die Straat van Gibraltar na die suidelike kant met die Middellandse See kan stap. Aan die noordekant het die stad ’n lang hawefront, met pronkgeboue uit die vroeë 20ste eeu, natuurlik ’n hele paar pleine soos elke Spaanse stad en ’n pragtige hoofplein, Plaza Africa (nomen est omen) met die katedraal en stadsaal. Op die nouste gedeelte van die skiereiland lê die magtige fort wat vrylik besigtig kan word. Die fort is netjies met fondse van die Europese Unie gerestoureer. Daar is ook twee gratis museums wat oor die geskiedenis van die stad handel.

Melilla is verder oos geleë, teenaan die Marokkaanse stad Nador en het sowat 70 000 inwoners. Dit is ’n besonder mooi stad, met ’n sterk gevestigde ou stad op ’n klein skiereiland en omring deur ’n magtige stadsmuur en fortifikasies uit die 16e eeu. Die “nuwe” stad (oud in Suid-Afrikaanse terme) is in die laat 19de eeu op ’n nabye vlakte aangelê en bevat die ronde groot Plaza Espana met sy indrukwekkende en monumentale administratiewe geboue, asook ’n groot en lang park met fonteine en palmbome in die middel van die nuwe stad. Talle geboue is in die Historiese en Art Deco-styl van die vroeër 20ste eeu gebou en Melilla het ’n argitektoniese voorkoms soos Swakopmund.

Ceuta en Melilla se kwesbare geografiese opset bring mee dat in altwee stede ’n kontingent van die Spaanse Vreemdelingelegioen gestasioneer is, ’n interessante onderwerp op sy eie. Die Franse Vreemdelingelegioen is wêreldbekend en was, en is,  vir menige romanties voelende jongman wat sy benouende omstandighede in klein Europa wou ontsnap, ’n bekorende aantrekkingskrag. Die Spaanse Vreemdelingelegioen is in 1923 na die voorbeeld van die Franse legioen gestig, met die doel om Spanje se koloniale besittings in Marokko, wat die hele noordelike derde van die huidige Marokko ingesluit het, te beskerm en te vergroot. Na die einde van Spanje se koloniale ryk  aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Vreemdelingelegioen wel nog die taak om die twee buiteposte te verdedig en neem hulle ook deel aan missies van die Verenigde Nasies. Die Spaanse Vreemdelingelegioen is gestig deur die einste Francisco Franco wat later beroemd en berug sou word as oorwinnaar in die burgeroorlog en 0ok as outoritêre, regsgesinde leier van Spanje. Alhoewel hy vandag, en veral onder die sosialistiese bewind van Luis Rodrigues Zapatero van 2002 tot 2010, meesal skamerig verswyg word en geen monumente of straatname meer aan hom herinner nie, word hy wel nog deur die Vreemdelingelegioen vereer. In Ceuta is ’n interessante museum oor die geskiedenis van die Spaanse Vreemdelingelegioen en Franco kry die eer wat hom toekom in die konteks van die legioen. In Melilla staan die laaste oorblywende standbeeld van Franco, waar hy as jong offisier nadenkend en beskeie met stok, hoed en verkyker teen die stadsmuur staan. Die sosialistiese regering wou in hulle beeldestormingsywer dit ook verwyder, maar die konserwatiewe stadsregering van Melilla was daarteen en het geargumenteer dat die standbeeld nie die diktator Franco vereer nie, maar die offisier van die Vreemdelingelegioen en eertydse stadskommandant van Melilla. Na ’n juridise toutrekkery het die sosialiste eers besgegee en later, in 2010, in elk geval die verkiesing verloor. Die huidige konserwatiewe regering van Mariano Rajoy het dringender probleme om op te los as ’n standbeeld in een van sy buiteposte en Franco sal seker nog lank bly staan.

Albei stede was na mekaar in Kartahgiese, Romeinse, Bisantynse, Vandaliese, Arabiese, Portugese (slegs Ceuta) en Spaanse besit. Melilla is sedert 1497 en Ceuta sedert 1668 deel van Spanje. Marokko as moderne staat bestaan eers sedert 1956 en die geskiedkundige aanspraak van Marokko op Ceuta en Melilla is ten beste wankelrig. Daar is stede in Spanje self, soos Granada en Sevilla, wat ook eens onder Moslembeheer was, en met die logika van “dit het eens op ’n tyd in die geskiedenis aan ons behoort en moet dus terug gegee word”,  is geen land op aarde vry van gebiedseise nie. Wat egter oral en daarvan is ons in Suid-Afrika wel bewus, meer tel as historiese aansprake is effektiewe besetting. Albei stede het nog ’n Spaanse meerderheid, maar slegs ’n rapsie bo 50%, en amper ewe veel mense wat Moslems is. Dit is wel so dat beslis nie alle Moslems van Marokkaanse herkoms in Ceuta of Melilla noodwendig deel van Marokko wil word nie. Talle geniet die vry lewe en die relatiewe ekonomiese voorspoed en kan in elk geval hulle godsdiens en kultuur onbelemmerd uitleef. Sowel Ceuta as Melilla bemark hulleself as multikulturele stede vol godsdienstige en etniese harmonie met vier geloofsgemeenskappe, Christene, Moslems, Hindoes en Jode en stel hulle in brosjures en museums bekend asof dit vier godsdienste van gelyke sterkte is. Die feit is dat Hindoes en Jode saam nie eens 1% van die bevolking uitmaak nie. Die ruggraat van die stede in elke opsig is die Spanjaarde. Hulle beheer politiek, kultuur en ekonomie en die Moslems kom meer voor as gasarbeiders, al woon hulle al lank in die stede.

Albei stede het die status van outonome stede binne Spanje en hulle status as deel van Spanje word glad nie as onderhandelbaar beskou nie. Dis ook stede wat sterk konserwatief is en waar die Volksparty (Partido Popular PP) baie meer steun geniet as die Sosialiste (PSOE). Alhoewel die verhoudinge tussen die groepe tans rustig is, tik ook hier ’n demografiese tydbom en is die Trojaanse perd in die vorm van ’n groot en groter wordende Moslembevolking reeds binne die mure. Tans word immigrasie vanuit Noord-Afrika met versperrings wat aan die ystergordyn laat dink afgeweer, maar ten spyte daarvan glip daar altyd ’n paar deur en benut die twee enklawes as ‘n afspringplek na die Spaanse vasteland. Die Spanjaarde se geboortekoers daal, soos orals in Europa, en die beeld van ’n  middeljarige, drawwende Spaanse vrou, ooglopend sonder kinders, langs ’n jong Marokaanse vrou met ’n kinderwa met twee babas, wat ek  in Melilla gesien het, sê alles oor die toekoms van hierdie twee stede.

Gibraltar, ‘n doring in die Spaanse vlees

Aan die suidpunt van Spanje, by die Seestraat van Gibraltar, raak Afrika en Europa amper aan mekaar. Hier, waar die twee vastelande slegs sowat 60 kilometer van mekaar af is, is ook waar desperate mense uit Afrika daagliks per boot probeer om die paradys, Europa, te bereik en dikwels met hulle lewe daarvoor betaal deur te verdrink.

Gibraltar hoofstraat

Volgens ‘n Griekse mite was dit die sterkman Heracles (beter bekend onder die Romeinse naam Herkules) wat die twee vastelande, wat eens aanmekaar vas was en van die Middellandse See ‘n meer gemaak het, uitmekaar gedruk het, waarvan nou twee berge aan weerskante getuig. Een is die bekende rots van Gibraltar en die ander ‘n minder bekende rots in die stad Ceuta, ‘n Spaanse enklawe in Noord-Afrika. Die twee berge vorm die sogenaamde “Suile van Herkules” en het in die antieke tydperk die grense van die bekende wêreld afgemerk. As jy verder wes seil, dan val jy die een of ander tyd van die aardbol af.

Die Britse enklawe, Gibraltar, aan die Europese kant, trek talle toeriste met sy unieke ligging en die rots wat uittroon uit die andersins plat omgewing rondom die stad Algeciras met sy baai. Gibraltar is natuurlik ook ‘n kulturele en politieke aardigheid, ‘n stuk Groot-Brittanje op ‘n smal skiereiland omring deur Spanje. Dié toedrag van sake maak reeds dat ek as Oraniër simpatie met Gibraltar het en nie met sy veel groter buurland Spanje nie, ongeag die feit dat ek dalk meer hou van die Spanjaarde en hulle kultuur as van die Britte. Gibraltar is wel reeds vir 300 jaar, sedert die Verdrag van Utrecht in 1713, deel van Groot-Brittanje. Destyds het Groot-Brittanje in ‘n oorlog tussen verskillende Spaanse koningshuise die kant ondersteun wat sou wen en as prys die strategiese hawestad Gibraltar gekry en daarmee saam die eiland Menorca, wat wel later weer Spaans geword het. Die toegang na die Middellandse See sou daarvandaan beheer kon word en een van die belangrikste seeroetes ter wêreld wees, veral sedert die opening van die Suez-kanaal.

 

Gibraltar in die aandlig.

Vir Spanje is Gibraltar ‘n doring in die vlees en die pogings om Gibraltar terug te wen duur al baie jare. Dit is soms minder en soms meer intens, maar geen Spaanse regering het dit nog ooit oorweeg om af te sien van die rots op sy voorstoep nie. In die 18de eeu is Gibraltar ook verskeie kere onsuksesvol beleër. Dit is tot vandag toe ‘n twisappel tussen die twee lande en is vergelykbaar met die gedurige konflik oor die Falklandeilande tussen Groot-Brittanje en Argentinië. In altwee gevalle laat die bevolking van die omstrede gebiede egter geen twyfel waar hulle lojaliteite lê nie. Gibraltar het in 2002 ‘n referendum oor sy status gehou en 99% van die kiesers (met ‘n 90%-deelname) het gestem vir die inlywing by Groot-Brittanje. Britse vlae, asook die vlag van Gibraltar met die veelseggende leuse “nulli expugnabilis hosti” (deur geen vyand verower nie) word orals vertoon om geen twyfel te laat waar die lojaliteit van Gibraltar se mense lê nie. Die beginsel van territoriale integriteit waarop Spanje aanspraak maak, staan teenoor die beginsel van selfbeskikking, waarop Gibraltar steun.

Die politieke toutrekkery oor Gibraltar is tans weer op ‘n mespunt nadat die regering van Gibraltar in Julie vanjaar sementblokke in die see gegooi het om ‘n kunsmatige rif te skep. Spanje het dit dadelik as ‘n aanval op sy territoriale waters en op sy vissermanne gesien, wie se bedryf dan beperk sou word. Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, sit sedertdien ‘n verbale oorlog op tou en dring by Groot-Brittanje aan om oor die status van Gibraltar te onderhandel, en dit sonder om Gibraltar se regering daarby te betrek. Die status van Gibraltar as tolvrye sone (wat altyd ‘n mate van smokkelary meebring) is verder ook ‘n ergernis vir Spanje.

Spanje het tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘n realistiese kans gehad om Gibraltar te herower. Die Duitse diktator Hitler het die Spaanse diktator Francisco Franco Gibraltar as prys aangebied indien Franco aan die kant van Duitsland en Italië tot die Tweede Wereldoorlog sou toetree. Die besit van Gibraltar was strategies uiters belangrik vir seeverkeer en sou in besit van die magte van die As (Duitsland en sy bondgenote) ‘n gevoelige slag vir Brittanje wees. Dit sou wel nie maklik verowerbaar wees nie want die hele rots van Gibraltar was vol verskansings, kanonne, ondergrondse skuilings, ens, maar beslis vir die magtige Duitse Ryk voordelig.  Hulle het pas oor Frankryk geloop en was vol selfvertroue. Franco was egter slim genoeg om te besef dat sy land, na ‘n duur burgeroorlog, beëindig in 1939, nie nog deelname aan die Tweede Wêreldoorlog kon bekostig nie en dat die prys van Gibraltar, en ‘n groter deel van Marokko as kolonie, dit nie sou regverdig nie. Die plan van ‘n verowering is dus laat vaar. Hitler se aandag was in elke geval kort daarna op Rusland gevestig en Gibraltar eers vergete. Later, in 1968, met Franco nog steeds aan bewind, het Spanje wel Gibraltar se enigste toegang tot die land gesluit en die skiereiland beleër. Dit is eers in 1985, onder ‘n demokratiese bewind, opgehef, wat Gibraltar se wil tot weerstand en inlywing by Brittanje net versterk het.

Alhoewel Spanje luidkeels kla oor “die laaste kolonie in Europa”, ‘n anachronisme wat nie meer in die tyd pas nie, is Gibraltar intussen eerder ‘n eie entiteit wat van die reg van assosiasie met Groot-Brittanje gebruik maak eerder as van ‘n Britse kolonie. Die gebied het reeds ‘n groot mate van selfbestuur en het ‘n eie parlement. Groot-Brittanje hanteer slegs die interne veiligheid, verdediging en internasionale verteenwoordiging van Gibraltar. Die Britse regering se houding is dat Gibraltar self oor sy toekoms kan besluit en natuurlik ook kan kies om deel van Spanje te word. Dit is hoogs onwaarskynlik soos die referendum van 2002 bewys. Spanje se gekerm oor Gibraltar se territoriale integriteit is natuurlik ook skynheilig, aangesien Spanje self twee stede, oftewel “kolonies”, in Noord-Afrika besit, Ceuta en Melilla, wat geografies deel van Marokko is en deur die land opgeëis word.

Dit is ook interessant dat die bevolking van Gibraltar geen oorgeplante Engelse is nie, maar reeds ‘n eie volk wat ontstaan het uit mense van Britse, Spaanse, Maltese, Portugese en Italiaanse herkoms. Dit word ook in vanne soos Picardo, Caruana en Bossano weerspieël. Die oorgrote meerderheid is Katolieke soos die Spanjaarde en nie Anglikane soos die meeste Britte nie. Ook hier kan ‘n parallel met die Afrikaners getrek word, wat uit verskeie Europese volke saamgestel is en hulle eie identiteit gevorm het. Kultureel is die Gibraltese wel Brits, soos ‘n mens aan die argitektuur in die ou deel van Gibraltar, aan die “pubs” en natuurlik ook aan die Engelse taal sien, al lyk hulle meesal Meditereens en is die rooikoppe met sproete gewoonlik besoekende toeriste uit Engeland.

Afgesien van die kulturele en geskiedkundige bande bied die inlywing by Groot-Brittanje ook ekonomies groter voordele vir Gibraltar as vir die toevoeging tot Spanje. As ‘n mens van die Spaanse kant by die dorp La Linea na Gibraltar oor die grens stap, dan val dit dadelik op dat alles skoner, meer georden en meer voorspoedig lyk. Jy stap in ‘n sekere sin van ‘n arm Suid-Europa na ‘n welvarende Noordwes-Europa, met die weer wat gelukkig dieselfde bly. Gibraltar se ekonomie is verder veral gebou op toerisme. Toeriste word ook deur die feit gelok dat Gibraltar ‘n geopolitieke en kulturele aardigheid is, iets wat Gibraltar behoorlik benut. Die stad is nogal duur en alle besienswaardighede, soos die rots van die ape met sy grotte en ondergrondse skuilings, jaag ‘n aansienlike klomp geld uit jou sak uit. Slegs die tolvrye produkte soos drank, sigarette en elektronika kan goedkoper verkry word. Die geldeenheid is natuurlik die Britse Pond, waarby ook in Euro (teen ‘n slegte wisselkoers) betaal kan word. Verder is die ekonomie van Gibraltar op hawe en finansiële dienste aangewese. Die eenvoudige werk, soos skoonmaak, bouwerk ens., word wel meestal deur Spaanse gasarbeiders verrig, wat in die oggend oor die grens stap en Gibraltar weer in die aand verlaat. Die regering van Gibraltar waak met ‘n eie identiteitskaart daaroor dat geen stille besetting deur Spanjaarde plaasvind nie. Wat ook in sy guns tel, is dat die skiereiland reeds so dig bevolk is dat daar eintlik nêrens meer plek is vir mense om nog huise te bou nie en dat die pryse vir eiendom besonder hoog en vir Spaanse gasarbeiders moeilik bekostigbaar is. So het daar amper ‘n scenario net soos  in die ou Suid-Afrika in die kleine ontstaan, met die “township” La Linea net anderkant Gibraltar se grens en mense wat elke dag heen en weer pendel tussen werkplek en woonplek.

Gibraltar is slegs 6.5 km2 in omvang en het ‘n bevolking van meer as 28 000 mense, wat ‘n digtheid van 4 400 mense per vierkante kilometer beteken. Voeg daarby dat meer as die helfte van die grondgebied wat uit die rots bestaan, onbewoonbaar is vir mense en die habitat van die beroemde ape is, die enigste vrylewende ape in Europa.

Hier eindig die parallelle met Orania beslis, want ons het waarlik nie ‘n tekort aan plek nie en ons verrig ons arbeid self! Dit is selfbeskikking waarna ons streef en wat klaarblyklik goed vorder op Gibraltar.

Afrikaners moet tot intellektuele verset oorgaan

Prof. Koos Malan het onlangs ‘n studie gedoen oor onderskeidelik die Baske en die Katalane se oorlewingstryd teen Spaanse oorheersing (veral tydens die Franco-diktatorskap van 1939 tot 1975) en hulle onderskeie strategieë bekyk.

Kortliks is sy bevinding die volgende: Die Baske, ‘n klein volk met ‘n unieke taal wat aan geen ander taal verwant is nie, het die onderdrukking met gewelddadige verset beantwoord. Nasionalistiese groepe soos ETA het met bomontploffings, ontvoerings en sluipmoorde op Spaanse gesagsdraers teen die oorheersing geveg. ‘n Bloedspoor loop deur die Baskiese versetpoging en is natuurlik hardhandig deur Spanje beantwoord en het simpatie en steun vir die Baske buite hulle gebied beperk.

Nie almal het die gewelddadige opsie gekies nie en daar was nasionalistiese partye ook wat die politieke pad gevolg het. Maar hulle was almal op die een of ander manier aan ETA gekoppel en het geweld as opsie verdedig. Die Baskiese taal het blykbaar net ‘n ondergeskikte rol gespeel en is nooit ontwikkel tot die vlak van ‘n volwaardige akademiese taal nie. Die Baske het toe uiteindelik teen die einde van die Franco-era en geleidelike toegewings van die Spaanse regering ‘n mate van outonomie bereik.

Die Katalane het ‘n ander benadering gevolg. Hulle het die kulturele en taalonderdrukking beantwoord met ‘n koestering en uitbou van hulle taal. In die tyd van onderdrukking was die ruimte vir politieke verset beperk en daarom het die Katalane ‘n soort intellektuele verset gevolg. ‘n Magdom publikasies in Katalaans het in dié tyd die lig gesien, daar is toneelstukke opgevoer en daar was kultuurfeeste.

Alhoewel die Franco-diktatorskap dit beslis nie aangemoedig het nie, het hulle dit ook nie kon verhinder nie want dit was nie onwettig nie. Alhoewel Spaans die amptelike taal ook in Katalonië was, het niks die Katalaanse skrywers verhoed om in hulle eie taal vir hulle eie mense te skryf nie. Teen die einde van die Franco-era het die Katalane ook, soos die Baske, geleidelik outonomie bereik en staan vandag polities sterk, met hulle eie deelstaat en eie regering. Daar is selfs sprake van afskeiding.

Afrikaners leef eweneens onder ‘n bewind wat onsimpatiek is teenoor hulle strewe en kultuur en wat graag een ideologie, een taal en een identeit op die land wil afdwing.

Die huidige onderdrukking van Afrikaners is nie so erg dat geen ander uitweg behalwe gewelddadige verset oorbly nie. Gewelddadige verset, so wil dit voorkom, is ook nie deel van die Afrikaner se kultuur nie (anders as by die Baske, aldus prof. Malan) en die paar pogings tot geweldpleging was almal onsuksesvol, as ‘n mens dink aan die AWB se Bophuthatswana-inval of die bestorming van die Kempton Park Konferensiesentrum of meer onlangs die Boeremag se optrede. Die militante Afrikaner-organisasies is deurspek met spioene en agents provocateurs en anders as die Baskiese ETA het die Afrikaners nie die hart om verraaiers te vermoor nie.
Boonop is Afrikaners versprei en het geen etniese basis soos die Baske vanwaar  hulle kan opereer nie en leef die meerderheid ‘n gemaklike middelklasbestaan wat nie bevorderlik is vir terrorisme nie.

Die Katalaanse opsie van intellektuele verset is wel ‘n pad wat gangbaar is en wat reeds gedeeltelik deur die Afrikaner gevolg word. Anders as die politieke oorheersing van die ANC, wat dikwels met geweld en aggressie onderskraag word (as ons dink aan die onverdraagsaamheid teenoor ander politieke partye en die uitskakeling van teenstanders), is die kulturele oorheersing nie iets wat afgeforseer kan word nie.

Natuurlik word ons gebombardeer met reënboognasiesepies in Engels of in gemengde “Englikaans” en propagandafilms oor die euwels van die wit beskawing, maar dit is iets waaroor Afrikaners ‘n keuse kan uitoefen of hulle daaraan blootgestel wil word. Die politieke oorheersing deur die ANC word deur meeste Afrikaners tans as onvermydelik aanvaar (al is dit met klagtes en tandekners), maar die pogings tot die swart “nasiebou-ideologie” word deur die oorgrote meerderheid Afrikaners verwerp en hulle inneem van Engelse ligte vermaak het meer te doen met ‘n gebrek aan verskeidenheid as ‘n bewustelike keuse.

Die veld vir intellektuele verset lê wyd oop en word toenemend deur Afrikaners betree. Die begin is gewoonlik in die kategorie “ligte vermaak”, wat ons in die geval van die Afrikaner al vir ‘n geruime tyd beleef deur die kunstefeeste, musiekblyspele en films. Toenemend ontstaan daar egter dieper kulturele werke, soos sangers wat onomwonde die bewind aanvat en hulle volk se haglike toestand bekla, films wat Afrikanertemas simpatiek en met begrip behandel en wegbeweeg van die “wit skuld” en apartheidtema en skrywers wat nie meer ontvlugtingsprosa skryf nie, maar versetliteratuur.

Die terrein van gewelddadige verset is nie iets waarop Afrikaners hulle in aansienlike getalle en nog minder met sukses begeef nie. Die terrein van die partypolitiek bied min ruimte met die gesegmenteerde de facto-tweepartystelsel (altans in die algemene persepsie waar daar net tussen ANC of nie-ANC gekies word) en die Afrikaner se ekonomiese onmisbaarheid is ook reeds as ‘n drogbeeld bewys. Verder is al die genoemde pogings dié van reaksie, om iets te behou eerder as om iets nuuts te verwerf, naamlik kulturele selfgelding wat uiteindelik in vryheid moet uitmond.

Die terrein van intellektuele en kulturele verset is nog nie behoorlik ontgin nie. Nog steeds lees Afrikaners hoofsaaklik Engelse boeke en kyk Engelse televisieprogramme en films. Op die musiekterrein is Afrikaans taamlik prominent, maar ‘n mens hoop vir meer uitgesproke en gelyktydig kwaliteitmusiek. Die terrein van skryf is seker nog die minste ontgin en voer ‘n randverskynselbestaan.

Laat ons die ruimte vir intellektuele verset dus beset terwyl ons kan. Latere politieke selfbeskikkingspogings kan in elk geval nie slaag as daar nie ‘n ryk kultuur is wat tot sy reg moet kom en waarvoor die stryd die moeite werd is nie. Om maar net ‘n blanke Westerling in Afrika te wees is niks spesiaal nie, maar om ‘n Afrikaner met ‘n ryk geskiedenis, literatuur- en kultuurskat te wees is wel besonders en is iets wat nie verlore mag gaan nie.

*Hierdie artikel het vroeër vanjaar in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.

Laat linkse leuens ons nie onderkry

Die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan, het die frustrasie van konserwatiewe bewegings regoor die wêreld goed opgesom toe hy gesê het: “Wel, die probleem met ons linkse vriende is nie dat hulle niks weet nie, maar dat hulle so baie dinge weet wat nie waar is nie.” Die realiteit wat ons en baie andere vandag nog beleef, is dat linkses alle waardes, of minstens die bietjie waardes wat hulle nog mag hê, oorboord sal gooi in hul stryd om ideologiese meerderwaardigheid.

Vroeër vanjaar tydens ‘n besoek van die Nederlandse politikus, Martin Bosma aan Orania, bespreek ons juis hierdie ooreenkoms tussen ons en Bosma se party, die Partij voor de Vrijheid (PVV). Nederland is reeds sedert die 1960’s besig om dramaties te transformeer met die twee grootste stede, Amsterdam en Rotterdam waar Nederlanders binne die volgende paar jaar ‘n minderheid sal wees. In Rotterdam is byna 40% van die bevolking Moslems en die stad het reeds ‘n Moslemburgemeester van Marokkaanse afkoms. Minder as 80% van die inwoners van Nederland is nog van Nederlandse afkoms en met ‘n klein bevolkingsaanwas onder Nederlanders en ‘n veel groter bevolkingsaanwas onder immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste is die syfer besig om skerp te daal.

Sedert die 1960’s toe die probleem van massa-immigrasie uit Moslemlande in Nederland begin posvat het, was daar gereeld politieke leiers wat hulself daarteen uitgespreek het. Keer op keer is hierdie individue deur die politieke elite verguis en as ekstremiste en rassiste afgemaak. Die media-elite het alles in hul vermoë gedoen om hierdie persone te diskrediteer terwyl gevestigde organisasies soos politieke partye, regeringsdepartemente en vakbonde dit byna onmoontlik vir hulle gemaak het om polities te organiseer. Twee bekende Nederlanders wat hulself teen massa-immigrasie uitgespreek het, die politikus en parlementslid Pim Fortuyn en die filmregisseur en skrywer Theo van Gogh is sedert 2000 weens hul standpunt oor immigrasie koelbloedig in die openbaar vermoor.

Na hierdie moorde het die politikus Geert Wilders as die belangrikste stem teen massa-immigrasie en die totale verval van die Nederlandse identiteit na vore getree. Toe hy in 2004 as parlementslid vir die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) sy kommer oor die insluiting van die Moslemland Turkye by die Europese Unie uitspreek en voorspel dat so ’n insluiting tot grootskaalse immigrasie van armes uit Turkye aanleiding sal gee, word hy uit die party geskop. Regoor Nederland probeer politici, die media, vakbonde en ander linkse organisasies om Wilders te verguis. Maar  ten spyte daarvan bly Wilders aan as onafhanklike parlementslid en in 2006 wen sy nuutgestigde party, die PVV nege setels in die Huis van Verteenwoordigers. Sedertdien het die PVV se steun skerp toegeneem en peilings toon dat die PVV tans die gewildste party in Nederland is. Dit alles ten spyte daarvan dat daar ’n totale aanslag teen die party en sy lede is, met politici, joernaliste, vakbonde, staatsdienswerkers en selfs onderwyses wat waar hulle gaan die PVV as ekstremiste en rassiste uitmaak. Wilders kry gereeld dreigemente van mense wat hom eerder dood as lewendig sal wil sien en hy word beskou as die Nederlandse politikus wie se veiligheid die meeste bedreig word.

‘n Meerderheid van Nederlandse burgers was nog altyd teen massa-immigrasie, veral uit nie-Westerse lande, gekant. Tog gaan die linkse politieke elite konstant voort met hul pro-immigrasiebeleid. Hul beste metode om hul beleid te beskerm is om dit slegs as ‘n voortsetting van die waardes van verdraagsaamheid en medemenslikheid waarvoor Nederland nog altyd bekend was, aan te bied. Dit veroorsaak dat soveel as 40 000 mense uit Derdewêreldlande jaarliks asiel in Nederland kry. Indien iemand homself hierteen uitspreek, dan word beweer dat hy teen die goeie ou Nederlandse waardes is. Linkses skroom nie om deur leuens, ondemokratiese aksies en karaktermoord enigiemand wat anders as hul dink te probeer vernietig nie. Natuurlik is die immigrasie van armes uit die Derde Wêreld deel van die behoud van linkse politieke partye en organisasies.

Bosma beskryf die linkse aanslag op anti-immigrasiepartye en -individue uitstekend in sy boek, De schijn-élite van die valse munters. Volgens Bosma is Nederlanders so moeg vir die gevolge van massa-immigrasie dat die voortdurende linkse aanslag op die PVV nie meer genoeg is om kiesers teen die party te laat draai soos wat keer op keer sedert die 1960’s met anti-immigrasiepartye in Nederland gebeur het nie.

Die toestroming na Nederland sedert die 1960’s lei vandag tot ‘n toename in Moslem-ekstremisme. Van Gogh se moordenaar was byvoorbeeld ‘n immigrant met Nederlandse en Marokkaanse burgerskap wat haatlike Islamitiese uitsprake teen Van Gogh gemaak het. Voorts veroorsaak die toestroming probleme met ‘n toename in misdaad, werkloosheid en ander maatskaplike probleme. Dele van Amsterdam en Rotterdam is vandag bykans no-go-areas met Slotervaart in die weste van Amsterdam waar polisielede sedert 2006 in gewone kleredrag die strate patrolleer om volgens die politici nie die Marokkaanse en Turkse inwoners uit te lok nie.

Regoor Nederland skiet Moskees tans op met minstens ses Moskee-geboue in Amsterdam alleen. In skole ontstaan probleme weens die groot aantal Moslemleerlinge wat nie Nederlandstalig is nie en ook nie die Nederlanders se kultuur deel nie. Nederlanders is moeg vir die massa-immigrasie uit Moslemlande, maar weens politieke korrektheid en die stryd om die voortbestaan van die sosialisme gaan die linkse elite in Nederland voort om te maak asof daar nie ‘n probleem is nie. Erkenning van jou eie identiteit is boos, behalwe natuurlik as jy nie wit is nie.

Daar is sterk parallelle tussen die linkse aanslag op die voorbestaan van die Nederlandse identiteit en dit wat vandag in Suid-Afrika met die Afrikaner gebeur. Natuurlik is die aanslag op die voortbestaan van die Afrikaner se identiteit reeds heelwat verder gevorder as wat in Nederland die geval is, maar die aanslag van links op enige poging om die behoud van ons identiteit, is duidelik. Veral Orania loop voortdurend deur onder die volslae aanslag van die linkse elite. Die Demokratiese Alliansie spreek homself gereeld teen die beskerming van die Afrikaneridentiteit uit. Die DA predik eerder integrasie en die skep van ‘n identiteitlose nuwe Suid-Afrikaner. Die media se aanslag op Afrikanerselfbeskikking is self meer verstommend. ‘n Onlangse artikel oor Orania in MyTyd in Rapport was deurspek van leuens en onwaarhede. Dit is alles deel van die linkse joernalis (haar linkse waardes kan maklik op die internet uit haar geskrifte opgespoor word) se poging om ten koste van enige joernalistieke waardes Orania te probeer vernietig. Verlede jaar verskyn ‘n tesis van ‘n bekende professor waarin na die manier waarop Orania homself isoleer deur “die groot heining met lemmetjiesdraad wat die dorp omring”, verwys word. Daar is natuurlik glad nie ‘n heining om Orania nie, maar ‘n leuen was maar net dié professortjie se manier om Orania ook in akademiese kringe te diskrediteer.

Tog is Afrikaners sat vir wat in Suid-Afrika aangaan en is daar daagliks ‘n styging in die steun wat Orania geniet. Dit is sigbaar in die styging in die Orania Beweging se ledetal, die styging in die aantal besoekers aan Orania en die styging in algemene navrae vanaf mede-Afrikaners. Net soos wat die PVV se boodskap in Nederland ten spyte van die linkse aanslag groter steun begin kry, slaag ons ook daarin om meer en meer Afrikaners van ons saak te oortuig.

Na die lees van Bosma se boek besef jy hoe onmoontlik sy en Wilders se poging in 2004 om ‘n nuwe politieke beweging te skep, moes lyk. Tog is die PVV vandag ‘n gewilde party en geniet sy boodskap oor immigrasie en die behoud van die Nederlande identiteit toenemend steun. Ons stryd om die behoud van die Afrikaner se identiteit deur die skep van ‘n Afrikanergebied in die Noordwes-Kaap lyk dalk ook nog vir ons ‘n onmoontlike taak. Soms maak die aanslag van links ‘n mens moeg, veral as die linkse elite bestaande uit politici, akademici en joernaliste alles in hul vermoë doen om ons te diskrediteer. Moed verloor kan ons egter nie, want ons mense soek ‘n oplossing en ons weet dat ons aan die regte oplossing werk.

Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging. Hierdie artikel het oorspronklik in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel