“The hills are bare now
And autumn leaves lie thick and still
O’er land that is lost now
Which those so dearly held
And stood against him
Proud Edward’s army
And sent him homeward
Tae think again”
Ek identifiseer maklik met die nie-amptelike Skotse volkslied (hulle amptelike volkslied is natuurlik God Save the Queen), waarskynlik omdat dit praat van ‘n eens magtige, eens trotse volk wat nou moet veg om oorlewing.
Dit het my laat wonder waarom ons nie nouer met die Skotte saamwerk in ons eie soeke na vryheid nie. Ek begryp dat die Europese volke waarmee ons nóú saamwerk, soos die Vlaminge en die Suid-Tirolers, meer tot ons harte spreek en soos “ons mense” voel. Mnr. Jaco Kleynhans het egter ‘n tydjie terug op ‘n Afriforum-jeugtoer waarop ek was, genoem dat die Afrikaner se grootste bedreiging nie lê in onderdrukking of oorlog nie, maar in apatie en daardeur assimilasie in die reënboognasie.
Volgens my beskeie mening kan ons van die Skotte baie leer oor hoe om assimilasie teë te werk. Dat die Skotte volledig geïntegreer is in die Britse bevolking is daar min oor te twyfel: tussen 15% en 20% van mense wat in Skotland gebore is, woon tans in Engeland. As ‘n Skot gedefinieer kan word as ‘n persoon wat volgens internasionale reëls vir Skotland op die sportveld mag uitdraf, woon daar meer Skotte in London as in Skotland. Verder is Engels die huistaal van die meeste Skotte.
Alhoewel Groot-Brittanje eers in 1707 amptelik ontstaan het, is die koning van Engeland outomaties ook die koning van Skotland sedert 1603. Alhoewel die eerste koning om op albei trone te sit ‘n Stuart (en dus ‘n Skot) was, was die suidelike Skotse adel lank reeds tot ‘n groot mate verengels. Die feit dat ‘n Skot die Engelse troon bestyg het, het wel tot groter ekonomiese geleenthede vir baie Skotte gelei, maar dit het net gegeld vir “verbritste” Skotte en het ‘n geleidelike wegkalwing van die Skotse identiteit tot gevolg gehad.
Na die sogenaamde “bonnie Prince Charlie” se opstand van 1745 om die Skotse Stuarts weer op die troon van Groot-Brittanje te kry, is daar hard neergekom op die Skotse identiteit en is die dra van kilts en die speel van doedelsakke buite die weermag totaal en al verbied. Die sesde vers van “God save the Queen” bid krag op ene veldmaarskalk Wade toe om “rebellious Scots to crush”. Alhoewel dit nooit amptelike beleid geword het nie, bestaan staaltjies van diskriminasie teen mense met ‘n Skotse aksent in die openbare sektor tot laat in die 20ste eeu en in die private sektor in Engeland tot vandag toe.
As hierdie niegewelddadige miskenning van Skotse kultuur en subtiele opstoking van Engelse teen Skotte nie ‘n klokkie lui vir Afrikaners nie, woon hulle moontlik in ‘n ander Suid-Afrika. Net soos die Skotte van die 18de eeu is daar ongelooflike ekonomiese geleenthede vir die Afrikaner wat bereid is om sy Afrikaneridentiteit op te gee in ruil vir ‘n Suid-Afrikaanse identiteit. Soos die Skotte (en anders as bv. die Vlaminge en Suid-Tirolers) het ons geen groter Afrikaner- of Afrikaanssprekende gemeenskap om na te verlang of kragte mee saam te span nie. Soos die Skotte moet ons tot ‘n mate óf assimileer óf gemarginaliseer word.
Tog, ten spyte van diskriminasie, is Skotse nasionalisme sterker as ooit in die moderne tyd. Die voormalige Vlaamse wêreld nommer een tennisspeler, Kim Clijsters, se tuisblad is wel in Nederlands, maar vra enige tenniskyker wat haar nasionaliteit is en hulle sal onmiddellik antwoord: “Belgies”. Andy Murray, daarenteen, praat Engels en neem deel onder die Union Jack, maar selfs mense wat tennis nie so deeglik volg nie, sal hom as ‘n Skot, eerder as ‘n Engelsman of Brit, eien. David Coulthard het in sy tyd as F1-bestuurder sy valhelm in die St. Andrew’s-kruis laat verf. Sir Sean Connery is een van die grootste donateurs tot die Skotse onafhanklikheidspoging. Hy het onderneem om persoonlik ‘n bedankingsbrief te onderteken vir mense wat ‘n sekere bedrag skenk tot hierdie doel. Terloops, hierdie optrede is deur ‘n lid van die Britse parlement as “nauseating” beskryf.
Verbeel u ‘n Springbokrugbyspeler wat ‘n kopskerm dra met die Vierkleur op gedruk, of ‘n Protea met ‘n Klein Reus op sy kolf geplak! Alhoewel daar geen reël is wat so iets verbied nie, sal so ‘n speler waarskynlik nooit weer in ‘n nasionale span toegelaat word nie.
Op 18 September 2014, byna presies ‘n jaar van nou af, gaan daar ‘n referendum in Skotland gehou word oor of hulle moet afstig van Groot-Brittanje. Engelse media lag die referendum af en voorspel ‘n groot nederlaag vir die nasionaliste, terwyl Skotse media oor die algemeen saamstem dat dit ‘n taai stryd gaan wees, maar dat die sesessiestem uiteindelik sal seëvier. Of die nasionalistiese party daarin slaag of nie, om volgende jaar die steun van die bevolking te kry is dit die naaste wat een van ons “vennote” in die soeke na vryheid kom om hul eie staat te bewerkstellig. Dalk moet ons meer aandag skenk aan hoe hulle tot op hierdie punt gevorder het.
Die een strategiese voordeel wat die Skotte (en inderdaad ook die Suid-Tirolers en Vlaminge) bo die Afrikaners van vandag het, is eie grondgebied, al is dit nie amptelik nie, wel de facto. Die enigste manier om ‘n volk heeltemal te beskerm teen assimilasie en die daaropvolgende vernietiging van die volk as ‘n aparte entiteit, is om altyd ‘n “huis” te hê. Daar is ‘n gesegde in Skotland wat sê dat die Skotse nasate in Amerika en Australasië “more Scottish than the Scots” is. Dit kan net gebeur omdat hulle altyd met ‘n geromantiseerde blik kan terugkyk na hulle “tuisland”. Daarom is dit só belangrik dat Orania suksesvol is.
Selfs met ‘n eie grondgebied het dit die Skotte 400 jaar geneem om weer tot op ‘n punt te kom waar staatkundige vryheid ‘n realiteit is. Ek vind raad en hoop vir Afrikaners in die laaste vers van Flower of Scotland:
“Those days are passed now
And in the past they must remain
But we can still rise now
And be the nation again
That stood against him:
Proud Edward’s army
And sent him homewards
Tae think again”

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel