Dit bly vir my uiters interessant hoe daar talle Afrikaners is wat nie bloot neutraal teenoor Orania staan nie, maar die dorp en sy ideaal aktief teenstaan.

In hierdie skrywe wil ek graag aandui waarom ek glo dat elke Afrikaner Orania behoort te steun.

Orania verryk ons wêreld

As Afrikaners beskik ons oor geen publieke ruimte waaraan ons deur ons besluitneming en vaardighede beslag kan gee nie. Dit is Orania se strewe om hierdie leemte vir ons te vul.

Orania poog om ʼn gebied daar te stel waar ons kan besluit hoe dorpe en stede uitgelê moet word, watter publieke infrastruktuur opgerig moet word en hoe dit moet lyk. ʼn Gebied waar ons kan bepaal watter misdade as prioriteitsmisdade beveg behoort te word, waar ons die voertaal en leerplanne van ons skole, tegniese kolleges en universiteite bepaal, waar ons beheer oor die aanwending van ons belastinggeld het en waar ons die regering van die dag tot verantwoording kan roep, of selfs by die stembus kan vervang.

Orania stel vir ons ʼn plek in die vooruitsig waar ons nie verskoning hoef te vra om onsself te wees nie.

Orania neem nie by ons weg nie

Wanneer ʼn nuwe pigment aan die skilderkuns beskikbaar gestel word, doen dit nie afbreek aan bestaande pigmente nie. Dit verminder nie die verskeidenheid van skilderye wat geskilder kan word nie.

Dieselfde geld vir Orania. Afrikaners wat graag iets anders wil doen, wat deel van ʼn multikulturele samelewing wil wees hoef nie hul drome op te gee en na Orania te trek nie. Orania staan nie in Afrikaners se pad wat graag eendag op hul familieplaas wil boer of in hul ouers se besighede wil staan nie. Orania skryf nie eens voor in watter land Afrikaners moet bly nie.

Die groei en ontwikkeling van Orania kan nie Afrikaners se geldige drome en aansprake elders verwater nie.

Orania bied wel vir ons ʼn alternatief indien ons drome nie uitwerk nie, want ongeag wat in die wêreld met ons en ons drome mag gebeur, Orania sal ons altyd verwelkom.

Orania doen nie afbreek aan ander nie

Baie mense wat krities teenoor Afrikaners se verlede staan, dink dalk dat Orania poog om ʼn voortsetting van apartheid te wees; ʼn futiele verlange na ʼn vergane era.

Selfs die toevallige besoeker sal egter baie gou oplet dat daar reuse verskille tussen Orania en die ou Suid-Afrika is. “Blankes” word nie as ʼn groep in Orania erken of beskerm nie. Hier is nie afsonderlike ingange by die winkels of Dorpskantoor vir “blankes” en “nie-blankes” nie. Geen groep word tot permanente onderhorigheid of arbeidersklas gedwing op grond van hul velkleur nie. Elke besoeker word as gelyke ontvang en gerespekteer.

Dat Afrikaners se velkleur wit voorkom, is netsoveel buite ons beheer as dat Xhosas swart voorkom. Ons beweeg verby hierdie sake wat buite ons beheer val en oordeel nie mense op grond van hul velkleur nie maar op grond van hul begeerte om met ons te assosieer, ons kultuur in beskerming te neem en Orania se doelstelling te ondersteun. Orania stel Afrikaners eerste. Ons is baie eerlik daaroor en ons is nie skaam daaroor nie, want ons gun dit ook vir Mnyameni om Xhosas eerste te stel en vir Ulundi om Zoeloes eerste te stel. Ons ondersteun hulle ook in hul strewes waar ons kan en waar ons genooi word.

Orania se strewe en sy aktiwiteite is in lyn met die gees van selfverantwoordelikheid wat selfbeskikking onderlê, ʼn gees wat vandag meer aktueel (en deel van die internasionale hoofstroom) as ooit is, want daar was nog nooit ‘n groter aantal onafhanklike state in die wêreld as juis nou nie.

Om Afrikanerselfbeskikking volgens die doelstellings van Orania te steun is nie in stryd met Suid-Afrika of Suid-Afrikaners nie. Om Suid-Afrika tweede te stel is om aan die moontlikheid van ʼn alternatiewe Suid-Afrika te bou, een wat ruimte bied vir volhoubare verskeidenheid. Verskeidenheid met wedersydse respek en erkenning. Verskeidenheid met die innerlike vermoë om te leef, te groei en te gedy.

Orania is in ons hande om te vorm

Die vraag is nie hoe Orania vandag lyk nie. Dit is nie of ons bereid is om te word soos Orania vandag voorkom nie.

Die vraag is eerder watter impak ons betrokkenheid kan maak op hoe Orania in die toekoms mag lyk.

Dit is waar dat Orania van ʼn baie lae basis moes ontwikkel. Dat Orania nie esteties vergelyk met Sandton, Melrose Arch, Woodhill of Stellenbosch nie. Die dorp en sy infrastruktuur was vervalle toe dit oorgeneem is, terwyl dit vir baie lank onderbenut was en slegs gedeeltelik herstel en onderhou kon word terwyl sy burgery min was.

Tog is Orania se estetiese voorkoms besig om daagliks te verbeter namate al meer ondersteuners betrokke raak. Orania is reeds besig om bo sy onmiddellike bure uit te troon en dit sal net tyd en betrokkenheid verg voordat Orania die juweel van die bo-karoo, ja selfs van die hele Afrikanerwêreld, word.

Orania is ons kind en verdien ons beskerming en versorging. Rome, London en New York is nie in een dag gebou nie. Nie dat hierde stede noodwendig ons rolmodelle is nie.

Hoe weeg dit op?

Orania is vindingryk en verskil drasties van enige alternatief wat deur advokate of politici aan ons gebied word. Orania het die ou Suid-Afrika oorleef. Dit het die Madiba-euforie oorleef. Orania het die NP oorleef. Orania het die AWB en die KP oorleef. Orania is die volhoubare keuse.

Kan ons op jou steun staatmaak? Besoek Orania, gee vrye teuels aan jou verbeelding en besluit self.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel