fbpx

Vraag

Ons het al gewoond geraak daaraan dat bo en onder omgekeer geword het. Wat vroeër hoofstroom was, is nou ekstremisties, wat vroeër vreemde randverskynsels was, is nou “hip” en “cool”. Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie, dit geld vir die hele Westerse wêreld.

Een gebied waar dit veral opvallend is, is by die sogenaamde “intelligentsia” of “elite”, by name onder Afrikaners, oftewel Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Die elite van ‘n volk is veronderstel om die beste van die volk te verteenwoordig, om die “avant garde” te wees wat wyer kyk as die gewone mense, dieper insigte het en leiding kan gee tot voordeel van die volk.

In die vorige bedeling tot so om en by die 1970’s, was die Afrikaner-elite amper sinoniem met die Afrikaner Broederbond. Hier was mense met invloed, uit die kringe van die kerk, onderwys, akademie en sakegemeenskap en met onbesproke rekords saamgetrek, tot diens van die volk, aldus hulle eie aanspraak. Vir talle van hulle het dit wel gegeld, soos die stigter van die Broederbond, Henning Klopper, of prominente voorsitters soos prof Carel Boshoff, prof HB Thom, dr Piet Meyer, ea. Later het die Broederbond egter ‘n klomp opportuniste getrek en mense soos Roelf Meyer, Pik Botha, FW de Klerk en Leon Wessels opgelewer, wat nie meer hulle volk gedien het nie en wat geen vaste beginsels gehad het nie. Die groot rol wat die Broederbond by die mislukte hervormingsproses gespeel het, het gemaak dat dit vandag vir seker die meeste Afrikaners ‘n negatiewe konnotasie het en dat die ou elite heeltemal afgeskryf is. Sonder ‘n rigtinggewende elite het Afrikaners sinies geraak en besluit om eerder individualisties op te tree en hulle eie heil uit te werk, wat natuurlik ook meegebring het dat ‘n samehangende plan vir die volk as geheel ontbreek het.

Omdat die regering, media of buitelandse meningsvormers egter nie met elke spreekwoordelike Jan Rap en sy maat kan praat nie, moes daar ‘n nuwe, kunsmatige Afrikaner-elite geskep word. Anders as die ou elite, wat hulle in die meeste gevalle bewys het en ‘n langdurige en skoon rekord gehad het, het veral die media nou ‘n nuwe elite geskep wat niks met die volk of die vorige elite gemeen het nie, behalwe dat hulle ook Afrikaans praat (of ‘n vorm daarvan, gewoonlik deurspek met “hip” Engelse woorde). Mense wat die volk verag en alles doen om juis nie Afrikaners te wil wees nie, soos Max du Preez, Deon Maas, Adriaan Basson, dr. Piet Croucamp en linkse skrywers, akteurs of dosente wat gewoonlik niemand nie behalwe hulleself verteenwoordig, het nou skielik na vore gekom as selfaangestelde of deur die media aangewysde spreekbuis vir Afrikaners. Diegene wat werklik die sentimente van die meerderheid Afrikaners verteenwoordig, word geïgnoreer en tot ‘n karikatuur gereduseer en word hoogstens na debatte genooi sodat die aanbieders en die nuwe elite ‘n teiken het.

Die selfaangestelde elite leef op heeltemal ‘n ander planeet as die gemiddelde Afrikaner en hulle uitsprake is gewoonlik anti-Afrikaner. Terwyl die meerderheid Afrikaners lief is vir hulle taal en dit ook graag tot op tersiêre vlak in gebruik wil sien, is die selfaangestelde elite se houding dikwels dat Afrikaanse universiteite versoening en nasiebou benadeel en dat die “wonderlike internasionale taal Engels” vir Afrikaners vlerke gee om van hulle selfgesentreerdheid en slegte verlede te ontsnap. Insgelyks moet Afrikanerkultuurskatte soos “die Stem van Suid-Afrika” en ander volksliedere, museums en monumente, ens volgens die elite liewers opgeoffer word om nie aanstoot te gee aan die meerderheid van die bevolking nie, al voel vele Afrikaners sterk daaroor. Die meeste Afrikaners is Christene en steun goeie gesinswaardes (al pas almal dit nie toe nie), maar die elite sal dit afkraak en eerder “alternatiewe leefstyle” verdedig.

Omdat die media feitlik uitsluitlik met die elite wat hulle self geskep het praat, kry hulle ‘n skeefgetrekte beeld van die Afrikaner. As dan iewers ‘n werklike groep Afrikaners saamgetrek is, soos onlangs op die kunstefees “Innibos” en opgewonde “Die Stem” saamsing, dan weet die media nie wat aangaan nie en probeer duisende gewone mense soos ek en jy afmaak as ‘n paar verlooptes wat in die verlede leef.

Die selfaangestelde elite sal nie tot ander insigte kom nie en hulle sal ook nie hulle goedbetaalde poste as meningsvormers vrywillig ontruim nie. Op die gewone Afrikaner wat vervreem voel van so ‘n elite, lê die verantwoordelikheid om die politieke korrektheid hok te slaan, deur dit te doen wat hy of sy weet reg is en wat nog altyd deel was van Afrikaner wees, en om dit onbeskaamd te verkondig, soos wat sekere prominente figure, wat afsydig van die elite staan, dit reeds doen.

10 Comments

  1. G.P. Botha

    Die ineenstorting van die Afrikaner-elite het amptelik plaasgevind toe P.W. Botha na vore gekom het met die nuwe beleid van sogenaamde gesonde magsdeling.Enigiemand met net n klein bietjie politieke insig sou besef dat soiets absolute onsin is in Afrika.Daardeur is die rug gedraai op die vryheidsideaal van die Afrikaner en het die stryd net n agterhoedegeveg geword.Die grootste gedeelte van die destydse Afrikaner-elite het hom gevolg en die logiese gevolg was swart meerderheidsregering in n eenheidstaat.Die rol wat hierdie nuwe kunsmatige Naspers elite speel kan moeilik in welvoeglike taal beskryf word en daarom sal ek my daarvan weerhou.

    Reply
  2. Mike

    “Wat vroeër hoofstroom was, is nou ekstremisties” dit is so jammer hierdie groep wil nie saamstaan nie want getalle mag is al wat die linkses verstaan so ook hulle nuwe swart broeders. Die onlangse sing van die stem deur 45000 afrikaners het hierdie linkses laat regop sit wat bewys dat hulle dit nooit verwag het nie.

    Reply
  3. Faan

    Hierdie artikel is nie relevant tot bogenoemde skrywe nie, maar em sou graag die inhoud onder die aandag van die lesers bring. Is dit dalk ‘n blik op die Afrikaner se toekoms as ons in gebreke gaan bly om iewers tot ‘n meerderheid te groei? Kan ons ons in die toekoms dalk in dieselfde posisie as die Roma (Sigeuners) van Europa bevind? http://euobserver.com/opinion/124999.

    Reply
  4. Hannodb

    Orania is die nuwe Afrikaner elite, die Afrikaner intelligentsia. Die geskiedenis sal dit bewys. Oor 100 jaar sal Prof Carel Boshoff se bronsstandbeeld lewensgroot op die stad Orania se plein staan, terwyl name soos “Dana Snyman” nie eers in die foetnotas van geskiedenisboeke opgeskryf sal staan nie. Die wiel draai stadig, maar hy draai.

    Reply
  5. Hans van Wyk

    Die dag gaan kom wat hierdie “elite groep” verslag sal moet doen hoekom hulle die Afrikaner Volk verraai het!

    Reply
  6. Revo

    Sebastiaan, jy slaan weereens die spyker op die kop. As lid van die ouer geslag (70+) moet julle asb verduur wat ek nou gaan se^:

    Het die Siener dan nie die volgende gese^ nie:

    1. Ja, DIE ALMAGTIGE sal ons nog help, MAAR DAN SOEK HY SY DEEL! Vraag: Wat behels SY DEEL in ons dag en tyd?

    2. Hy het uitdruklik gese^ dat dit nie die ‘geleerdes’ is wat ons saak gaan bevorder nie! Vraag: As dit dan nie die geleerdes is nie, is dit nie die denkendes* onder ons nie?
    * Mag die ‘denkendes’ onder ons dan waaragtig ook die doeners word!

    3. In PROFEET VIR SY VOLK beweer Adriaan Snyman die Siener het ook verklaar dat ons (a) ‘n nuwe (hernieude/gesuiwerde?) taal, (b) ‘n nuwe (hernieude/gesuiwerde) geloof en (c) ‘n nuwe (hernieude/gesuiwerde?)regering gaan kry! Vraag: Het ons ‘n idee wat dit alles behels? Want, as ons hom reg verstaan, gaan daar so ‘n kennelike vernuwing/suiwering onder ons plaasvind dat die res van die we^reld daardeur aangegryp sal word.

    Wanneer kyk ons weg van ons eie behoeftes en soek weer die aangesig van DIE EWIG-LEWENDE (SY HEERSKAPPY)om Sy wil aan ons te openbaar?

    Innige groete

    Oom Ref.

    Reply
    • André van Vuuren

      More Revo,
      Ai man jy praat darem so reg. Ek wil volmondig hier met jou saamstem.
      Ons Hemelse Vader vra sy deel en ek glo dit is net bloot dat ons, ons sal moet verootmoedig, die knie moet buig in nederigheid en afhanklike erkentlikheid.
      Orania is verseker die “David” in hierdie verhaal van ons volk.
      Hulle moet net aanhou om te doen wat hulle nou doen. Die Here gaan en sal dit seën.
      VREDE
      Oom André.

      Reply
  7. Awie

    Met verwysing na bg. kommentare oor Siener, was daar ook ander interpretasies soos boeke van Prof. Andries Raath wat volgens my meer geloofwaardig is. In elk geval is dit duidelik dat Afrikaners deur ‘n smeltkroes gaan en dat dit nie voltooid is-die tekens blyk dat dit vandag en vorentoe is-ongekende geweld teenoor witmense, Afrikaners wat baie moedeloos, sonder leier/s is, al die agteruitgang in die ruwe SA, baie verdeeldheid onder Afrikaners en sogenaamde Afrikaners- eintlik wit Afrikane. Al hierdie gebeure tans en die verraad van die ou NP wat die meeste Afrikaners so blindelings nagevolg het is alles in Siener se visioene. Wie die leier gaan wees, wat ook in die visioene gesien is, blyk nog nie duidelik te wees nie, maar dat die aanslag teen die Afrikaner-selfs binne eie geledere nog ver van klaar is, is baie duidelik.

    Reply
    • REVO

      Middag Awie,

      Ek verheug my oor elkeen wie hierdie dinge ter harte neem. Jy is reg, daar is ander interpretasies, maar wat staan ons te doen? Oom Andre glo ek, roer die regte snaar: VEROOTMOEDIGING VOOR DIE EWIG-LEWENDE, DIE SKEPPER EN ONDERHOUER VAN ALLE LEWENDE DINGE HIER OP AARDE EN IN DIE HEMEL!

      Ek weet dit is ‘n mond vol, maar as ons kyk na wat jy tereg aanspreek as die smeltkroes waardeur ons volk tans gaan, dan is die eindresultaat sekerlik GESUIWERDE DIENSKNEGTE VAN DIE ALLERHOOGSTE!

      Awie, die verraad moes kom, want hoe sou ons anders tot ons sinne gebring word. Die profeet stel dit so: WAAR MOET EK JOU NOG SLAAN SODAT JY KAN LUISTER! Ek glo nie ons moet nou na ‘n leier soek nie, DIE ALLERHOOGSTE is tans besig om hom vir sy taak voor te berei. Maar ek stem saam dat daar nog verraad teenoor ons deur ons eie mense gepleeg gaan word.

      Ek het as bemoediging iets kosbaars in DIE EERSTE BOEK VAN HENOG opgetel. Wanneer ons tot die ontdekking van ons oortreding teenoor die ALMAGTIGE gekom het, en dat al die vloeke wat ons tref, regverdiglik deur HOM oor ons uitgegiet word, ek se^, daardie dag wanneer ons met geween na HOM terugkeer, dan sal HY ons terugneem. Alhoewel ons geen eer teenoor HOM sal he^ weens die oortreding wat ons teenoor HOM AS DIE EWIG-LEWENDE begaan het*, DAN SAL HY HOM OOR ONS ONTFERM, WANT SY ONTFERMING IS GROOT!

      * In Deutronomium 27 & 28 word SY SE-EN en SY VLOEKE aan ons voorgehou. Salig is diegene aan wie hierdie verborgenheid geopenbaar word! Dit is hulle wat bymekaar gaan staan en in die waaragtige Naam van ons Meester die goeie tyding van herstel vir ons gaan bring. Ha-le-lu-JAH!

      Ook innige groete aan jou,

      Oom Ref.

      Reply
  8. Christo

    Goeiemore almal,
    Soos Sebastiaan tereg hierbo noem,-langs die gesiglose kop- (= die menings vormende leiding) die liberale hoofstroom media het hulleself die reg toege-eien om onder die dekmantel van persvryheid, dit hulle plig te ag om soos die spreekwoordelike stert die hond te swaai, kiesers in ‘n demokratiese stelsel te probeer ortuig weg van hulle eie oortuigings na die oortuigings va die selfaangesteldemenings vormers.
    Dit is destyds tydens Dr Appie Treurnicht se wegbreek vanaf die verloopte Nasionale regering genoem deur ‘n Redakteur van ‘n belangrike Wes Kaapse Afrikaanse koerant wat toe nog ‘n mate van geloofwaardigheid onder Afrikaners gehad het – “Van nou af gaan ons Leeus jag”(in die politieke arena) en hulle karikaturisering en afbreking hierna van Dr Treurnicht en die KP in hulle koerante. Hierdie media en die ANC regering se propaganda masjien noem hulleself graag meningsvormers asof in ‘n demokratiese stelsel kiesers nie self behoort te besluit oor hulle eie menings sonder om voorgeskryf of ge-intimideer te word deur liberale hoofstroom media en dit op allerhande bedenklike en bedrieglike maniere soos wat Sebastiaan hierbo noem. Laasgenoemde sluit in die selektiewe omgaan met nuus; die opblaas en skeeftrek van nuus wat hulle ideologiee pas en die verswyging of afgradering van nuus wat hulle nie pas nie, (soos die plaasmoorde). Ook om hulle regte Afrikaner opponente te demoniseer, te reduseer tot karikature en teikens van hulle propaganda kanonne. Verder die verrotting van binne af deur die insypeling in Afrikaner organisasies; soos die spreekwoord se, “if you cannot win them join them” – soos met die Broederbond of van ons hoofstroom Afrikaner kerke van destyds. En dan ook soos Sebastiaan noem gebruik te maak van selfaangestelde of deur die media aangewysde spreekbuise vir Afrikaners van mense wat eintlik uitgesproke vyande van die Afrikaners is. Woord begrip stelery kom ook hier ter sprake , nl om ‘n woord met ‘n positiewe begrips inhoud vir die Afrikaner- soos die terme “Afrikaner” “naasteliefde en baie ander te vul en vervang met ‘n valse/bedrieglike negatiewe vyandige begrips inhoud.. Ek dink iemand het al voorheen hierop uitgebrei in hierdie gesprekke.
    Nog ‘n manier om aan die kontroles van die meningsvorming masjien te kom, is om deur die Universiteite te werk met die aanstelling van ideolo-gies “regte” professore en dosente om studente se eie oortuigings vir hulleself te misgun en om die aangestelde Universiteits bestuur te laat besluit en met mag af te dwing wat hulle oortuigings behoort te wees. Die Vrystaat Universiteit is maar een goeie voorbeeld daarvan. En agter die aanstelling van die rektore en personeel trek die minister van Hoer onderwys Blade Nzimande wat ook op die bestuur is van die SAKP met sy ideologiese oortuigings sy toutjies. Hierdie strategie is al destyds in Dr Verwoerd se tyd ook gevolg soos met die Cottlesloe beraad se uitsprake wat kerklik gerepudieer is en deur Dr Verwoerd verwerp is. Die Liberale drywers van hierdie beraad het toe die betekenisvolle uitspraak gemaak. Dis nie die end van die saak nie; ons gaan nou by die begin begin.
    Die selektiewe plasing van professore/lektore met die “regte” ideologiese oortuigings – dikwels verkry vanaf liberale universiteite in die VSA het hierna gevolg. Hulle het hulle stempel afgedruk op die toekomstige predi-kante en die het die weer oorgedra na die hoofstroom Afrikaners.
    Ten laaste, wat openbare onderwys en voorgeskrewe kurrikulums betref, word die toekomstige geslag van huidige Afrikaners op’n baie sensitiewe en oortuigbare ouderdom geteiken deur ‘n vyandige regering wat in handboeke en kurrikulums voorskrywe wat hulle oortuigings moet wees tov van hulle eie volk en voorgeslag behoort te wees; eintlik om hulle te skaam vir hulle herkoms sodat hulle nie Afrikaners wil wees nie maar ideologiese handperde van die staat, usefull idiots”.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

1 × one =