Vraag

Ons het al gewoond geraak daaraan dat bo en onder omgekeer geword het. Wat vroeër hoofstroom was, is nou ekstremisties, wat vroeër vreemde randverskynsels was, is nou “hip” en “cool”. Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie, dit geld vir die hele Westerse wêreld.

Een gebied waar dit veral opvallend is, is by die sogenaamde “intelligentsia” of “elite”, by name onder Afrikaners, oftewel Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Die elite van ‘n volk is veronderstel om die beste van die volk te verteenwoordig, om die “avant garde” te wees wat wyer kyk as die gewone mense, dieper insigte het en leiding kan gee tot voordeel van die volk.

In die vorige bedeling tot so om en by die 1970’s, was die Afrikaner-elite amper sinoniem met die Afrikaner Broederbond. Hier was mense met invloed, uit die kringe van die kerk, onderwys, akademie en sakegemeenskap en met onbesproke rekords saamgetrek, tot diens van die volk, aldus hulle eie aanspraak. Vir talle van hulle het dit wel gegeld, soos die stigter van die Broederbond, Henning Klopper, of prominente voorsitters soos prof Carel Boshoff, prof HB Thom, dr Piet Meyer, ea. Later het die Broederbond egter ‘n klomp opportuniste getrek en mense soos Roelf Meyer, Pik Botha, FW de Klerk en Leon Wessels opgelewer, wat nie meer hulle volk gedien het nie en wat geen vaste beginsels gehad het nie. Die groot rol wat die Broederbond by die mislukte hervormingsproses gespeel het, het gemaak dat dit vandag vir seker die meeste Afrikaners ‘n negatiewe konnotasie het en dat die ou elite heeltemal afgeskryf is. Sonder ‘n rigtinggewende elite het Afrikaners sinies geraak en besluit om eerder individualisties op te tree en hulle eie heil uit te werk, wat natuurlik ook meegebring het dat ‘n samehangende plan vir die volk as geheel ontbreek het.

Omdat die regering, media of buitelandse meningsvormers egter nie met elke spreekwoordelike Jan Rap en sy maat kan praat nie, moes daar ‘n nuwe, kunsmatige Afrikaner-elite geskep word. Anders as die ou elite, wat hulle in die meeste gevalle bewys het en ‘n langdurige en skoon rekord gehad het, het veral die media nou ‘n nuwe elite geskep wat niks met die volk of die vorige elite gemeen het nie, behalwe dat hulle ook Afrikaans praat (of ‘n vorm daarvan, gewoonlik deurspek met “hip” Engelse woorde). Mense wat die volk verag en alles doen om juis nie Afrikaners te wil wees nie, soos Max du Preez, Deon Maas, Adriaan Basson, dr. Piet Croucamp en linkse skrywers, akteurs of dosente wat gewoonlik niemand nie behalwe hulleself verteenwoordig, het nou skielik na vore gekom as selfaangestelde of deur die media aangewysde spreekbuis vir Afrikaners. Diegene wat werklik die sentimente van die meerderheid Afrikaners verteenwoordig, word geïgnoreer en tot ‘n karikatuur gereduseer en word hoogstens na debatte genooi sodat die aanbieders en die nuwe elite ‘n teiken het.

Die selfaangestelde elite leef op heeltemal ‘n ander planeet as die gemiddelde Afrikaner en hulle uitsprake is gewoonlik anti-Afrikaner. Terwyl die meerderheid Afrikaners lief is vir hulle taal en dit ook graag tot op tersiêre vlak in gebruik wil sien, is die selfaangestelde elite se houding dikwels dat Afrikaanse universiteite versoening en nasiebou benadeel en dat die “wonderlike internasionale taal Engels” vir Afrikaners vlerke gee om van hulle selfgesentreerdheid en slegte verlede te ontsnap. Insgelyks moet Afrikanerkultuurskatte soos “die Stem van Suid-Afrika” en ander volksliedere, museums en monumente, ens volgens die elite liewers opgeoffer word om nie aanstoot te gee aan die meerderheid van die bevolking nie, al voel vele Afrikaners sterk daaroor. Die meeste Afrikaners is Christene en steun goeie gesinswaardes (al pas almal dit nie toe nie), maar die elite sal dit afkraak en eerder “alternatiewe leefstyle” verdedig.

Omdat die media feitlik uitsluitlik met die elite wat hulle self geskep het praat, kry hulle ‘n skeefgetrekte beeld van die Afrikaner. As dan iewers ‘n werklike groep Afrikaners saamgetrek is, soos onlangs op die kunstefees “Innibos” en opgewonde “Die Stem” saamsing, dan weet die media nie wat aangaan nie en probeer duisende gewone mense soos ek en jy afmaak as ‘n paar verlooptes wat in die verlede leef.

Die selfaangestelde elite sal nie tot ander insigte kom nie en hulle sal ook nie hulle goedbetaalde poste as meningsvormers vrywillig ontruim nie. Op die gewone Afrikaner wat vervreem voel van so ‘n elite, lê die verantwoordelikheid om die politieke korrektheid hok te slaan, deur dit te doen wat hy of sy weet reg is en wat nog altyd deel was van Afrikaner wees, en om dit onbeskaamd te verkondig, soos wat sekere prominente figure, wat afsydig van die elite staan, dit reeds doen.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel