Min swartmense wil boer. In elk geval min swartmense wil kommersiële boere wees. Ry jy vandag deur die ou tuislande en veral deur die Transkei en Ciskei in die Oos-Kaap kry jy bevestiging daarvan dat die meeste swartmense in Suid-Afrika nie wil boer nie. Orals in hierdie gebiede lê ryk landbougrond onbenut. Huise staan leeg. Die mense is Kaapstad of Johannesburg toe en daar woon hulle eerder in ‘n plakkershut in die hoop op ‘n werk en ‘n lewe in die stad.
Die vorige grondeiseproses het hierdie argument ook bewys. Toe het 93% van grondeiesers verkies dat die waarde van die grond wat hulle geëis het aan hulle uitbetaal word, eerder as wat die grond aan hulle teruggegee word. Verskeie studies het ook al bewys dat swartmense eerder in die stede wil woon as om landbouers op die platteland te wees. Die wyse waarop talle suksesvolle kommersiële plase wat weens grondeise aan swartmense oorgedra is, van hul bates gestroop is ten einde kontant vir die eienaars wat verkies om in dorps- en stadsgebiede te woon, beskikbaar te stel, is nog ‘n bewys.
Tog slaag die ANC en EFF meesterlik daarin om die persepsie te skep dat miljoene swartmense na landbougrond smag en dat grondhervorming een van die belangrikste prioriteite in Suid-Afrika moet wees. Die onlangse heropening van grondeise is volgens die ANC juis ‘n stap om hierdie kamma-regverdige drang na landbougrond te beantwoord.
Tog vertel gewone, arm swartmense ‘n ander storie. Hulle behoeftes is dié van goeie skole, beter behuising, effektiewe munisipale en mediese dienste, naskoolse opleidingsgeleenthede en ekonomiese groei wat volhoubare werksgeleenthede in stede en dorpe, waar hulle graag wil woon, kan bied.
Die ANC slaag klaaglik in letterlik elkeen van hierdie behoeftes. Onderwys in swart gebiede is vandag in baie gevalle swakker as voor 1994. Baie van die huisies wat deur die staat gebou word verkrummel en lewer byna geen bydrae tot ‘n menswaardige bestaan. Munisipale dienslewering regoor Suid-Afrika is so swak dat swartmense voortdurend in dorpe en stede opruk om hul misnoeë daarmee te toon. Staatshospitale het ‘n tekort aan dokters, verpleegsters, medisyne en selfs elektrisiteit. Die groot aantal swart babas wat gedurig in staatshospitale sterf is ‘n aanduiding van hoe sleg dit in staatshospitale gaan. Wat die ekonomie aanbetref bly werkloosheid styg en groei die Suid-Afrikaanse ekonomie so stadig dat dit nie eers voorsiening maak vir die gewone bevolkingsgroei nie. Die kans vir ‘n jong swart persoon om ‘n werk te kry is baie skraal.
Tog is al hierdie klaaglike mislukkings van die ANC die afgelope tyd oorheers deur die groot gronddebat. Die persepsie word deur die ANC en EFF, net soos deur Mugabe 14 jaar gelede, geskep dat die antwoord op al die probleme wat swartmense beleef in die herverdeling van grond lê. Ons weet dat dit nie die geval is nie, maar sê ons dit genoeg? Die uitdaging vir die landbousektor en Afrikanerorganisasies is om beter en meer gekoördineerd ‘n teenveldtog te loods sodat swartmense op grondvlak hul slegte omstandighede aan ‘n swak regering eerder as die feit dat die meeste landbougrond aan witmense behoort, kan toeskryf.