fbpx

9780307455772_custom-fba7ccb0ce7b42867a246fcac57023e059ab570d-s6-c30Die liberale Amerikaanse skrywer Jonathan Haidt, skryf in sy boek, The Righteous Mind, dat die morele geheue van liberale mense op twee beginsels geskoei word. Eerstens kyk liberaliste na benadeling en tweedens na regverdigheid. Alle benadeling in die wêreld soos armoede, inkomste-ongelykhede en onderdrukking moet reggestel word en ‘n bedeling geskoei op absolute regverdigheid moet geskep word.

Vir liberaliste lê die oplossing vir benadeling in aktiewe planne om ongelykhede uit te wis en om te verseker dat nuwe ongelykhede nie geskep kan word nie. Sulke aktiewe planne vereis meestal ‘n effektiewe regering wat deur regulasie, belasting en die penalisering van individue of instellings wat ongelykhede veroorsaak, die speelveld voortdurend gelyk maak. Liberaliste is meestal skepties oor privaat en gemeenskapsinisiatiewe wat streef om ongelykhede reg te stel en voel dat slegs ‘n regering wie met ‘n spesifieke mandaat om ongelykhede reg te tel verkies word, wel daarin kan slaag.

Volgens Haidt is die beginsels van benadeling en regverdigheid ook belangrik vir konserwatiewe mense, maar hulle voeg egter nog drie verdere morele beginsels by, naamlik lojaliteit, gesag en suiwerheid. Konserwatiewe mense baseer hul morele beginsels baie meer op geloof en die rol van die kerk en gemeenskapsinstellings in hul lewens. Probleme van benadeling en die skep van ‘n regverdige bedeling word deur konserwatiewe mense vanuit die oogpunt van naasteliefde en gemeenskapsdiens beskou.

Vir liberale mense is dit moeilik om te dink dat ‘n beter wêreld vanuit die gemeenskap geskep kan word, terwyl konserwatiewe mense juis dink dat ‘n beter wêreld slegs moontlik is wanneer die kerk, skool, kultuurvereniging maatskaplike inisiatiewe en ander gemeenskapsinstellings verantwoordelikheid vir die hantering van ongelykhede in die gemeenskap neem.

Een goeie voorbeeld waar hierdie konflik afspeel is in die onderwys. Konserwatiewe ouers voel dat dit juis die ouergemeenskap moet wees wat moet bepaal op watter beginsels hul kinders se skool bedryf moet word. Ouers, die kerk en kultuurorganisasies moet saamwerk met privaat individue en ondernemings om ‘n suksesvolle skool daar te stel. Liberaliste daarteenoor voel sterk oor universele beginsels en sentrale beheer. Die betrokkenheid van die kerk en kultuurorganisasies in onderwys word verwerp.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat liberale mense die wêreld uiters eenvoudig beskou en so ook die skep van oplossings vir benadeling as ‘n eenvoudige proses sien. Tog het hierdie eenvoudige uitkyk op probleme van benadeling homself keer op keer in die wêreld verkeerd bewys. Min mense het waardering vir oplossings wat nie uit hulself en die instellings waarmee hulle assosieer kom nie. So het min mense waardering vir die oplossings van ‘n regering en word hierdie oplossings meestal as te min te laat beskou. Hoeveel mense wat welsynsgeld kry voel dit is voldoende? Hoeveel ouers in staatskole voel dat die regering genoeg befondsing vir onderwys bied?

Oplossings wat vanuit eie inisiatief kom word egter sterk gewaardeer en is veel meer volhoubaar omdat mense besef watter insette nodig was om hierdie inisiatiewe te laat slaag. Die toenemende liberale neiging in Suid-Afrika om die hantering van benadeling as ‘n eksterne proses te sien, is onvolhoubaar. Konserwatiewe beginsels soos gesag, lojaliteit en suiwer Bybelse waardes is dalk net wat nodig is om ‘n beter, volhoubare bedeling te skep.