fbpx
Die wêreld herdenk vandeesmaand die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog 100 jaar gelede. Meer as nege miljoen mense het, in wat as een van die bloedigste oorloë tot nog toe beskou kan word, hul lewens verloor. Die Eerste Wêreldoorlog behoort onthou te word, nie vir die kortstondige vrede wat na die Verdrag van Versailles gevolg het nie, maar eerder vir die mate waartoe die afloop van die oorlog en sy verskeie vredesverdrae tot langtermyn onstabiliteit, veral in Oos-Europa en die Midde-Ooste gelei het en hoe dit die weg gebaan het vir die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Dit is juis die groot verlies aan grondgebied en die totale vernedering van onder andere die Duitsers en Russe wat aanleiding gegee het tot nasionalisme, fascisme, haat en uiteindelik revolusie. Sou die oorwinnaars eerder vredemakers as oorwinnaars wou wees, sou die Tweede Wêreldoorlog verhoed kon word.
Behalwe hiervoor het die uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog meegebring dat talle minderhede skielik onder die beheer van vreemde regerings geval het. Miljoene Hongare was skielik ‘n minderheid in Roemenië, Joego-Slawië en Tsjeggo-Slowakye. Honderde duisende Tirolers moes skielik Italianers word. Ook in die Midde-Ooste is volkere wat nie bymekaar hoort nie in een land saamgeflans omdat dit die oorwinnaars se imperialistiese motiewe gepas het. Die val van die Ottomaanse Ryk het tot grootskaalse konflik in die Midde-Ooste gelei. Vir lank het die Ottomaanse Ryk daarin geslaag om redelike stabiliteit in die Midde-Ooste te verseker. Na die Eerste Wêreldoorlog het ‘n magsvakuum in die Midde-Ooste ontstaan.
Dit was veral die Britte onderleiding van hul minister van kolonies, Winston Churchill wat na die oorlog verantwoordelik was vir die opstel van nuwe landsgrense in die Midde-Ooste. Churchill se fokus was nie die bevordering van demokrasie, die regte van minderheidsvolkere of selfs net die bevordering van vrede en stabiliteit nie, maar eerder die versekering dat nuwe landsgrense vir die Britte maklik bestuurbaar was sodat hulle beheer oor oliebronne kon neem. Was die uitkomste van die Eerste Wêreld-Oorlog dus werklik ‘n strewe na ‘n meer stabiele en vreedsame samelewing? Sonder twyfel nie. Die uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog was eerder ‘n vernedering van eens trotste volkere soos die Hongare, Duitsers en Russe. Dit was die teken van landsgrense wat oorwinnaars gepas het, maar vir dekades daarna nog tot onderdrukking, revolusies en politieke konflik sou lei. En helaas was die belangrikste uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog dat die fondament vir die bloedigste konflik wat die wêreld nog gesien het, naamlik die Tweede Wêreldoorlog, gelê is.
Die les hieruit is dat oorlog altyd vermy moet word en dat dit meestal vermy kan word. Die Eerste Wêreldoorlog, net soos die Tweede Wêreldoorlog was onnodig. In beide oorloë het onder andere Brittanje en die VSA betrokke geraak in oorloë waarvan hulle eintlik nie deel moes wees nie. Sou hierdie magtige lande in 1914 hulself eerder vir vrede as konflik beywer het, sou die twintigste eeu dalk meer vreedsaam kon wees en sou ons vandag ‘n meer stabiele Midde-Ooste en meer sinvolle landsgrense daar en in Oos-Europa gesien het. Ongelukkig is die negatiewe nalatenskap van die Eerste Wêreldoorlog vandag nog op verskeie plekke sigbaar.