“At the present time we are suspended, so to speak, between two worlds of allegiance and association. On the one hand, and partly behind us, is the historic world in which loyalties to family, church, profession, local community, and interest association exert, however ineffectively, persuasion and guidance. On the other is the world of values identical with the absolute political community – the community in which all symbolism, allegiance, responsibility, and sense of purpose have become indistinguishable from the operation of centralized political power.” – Robert Nisbet, The Quest for Community
Nisbet se beskrywing van ‘n tyd wat so te sê by ons verby is, verwys natuurlik na die grootskaalse verskuiwing in magsverhoudings en politieke stelsels wat met die Era van Verligting na vore getree het en veral na die Tweede Wêreldoorlog in ‘n versnelde tempo in Westerse lande ‘n houvas gekry het. Die tradisie van hegte gemeenskapsverbintenisse, samewerking en assosiasie is vervang met ‘n fokus op individuele regte, die moderne regstaat en die verligting. Wat die liberale Westerse individu van die negentiende eeu egter nie besef het nie, is dat individuele regte die rol van tusseninstellings wat ‘n belangrike rol in die verhouding tussen burger en staat behoort te speel, verswak het. Die regstaat plaas dalk die klem op regte, maar vereis ook inmenging in mense se lewens deur regulasie en sentralisering van nie net mag nie, maar ook beginsels en praktiese reëls wat voorheen onderling deur assosiasie bepaal is.
In Westerse lande sien ons vandag die massa magtelose burgers wat in ‘n afstandelike verhouding met die politieke elite staan. Die verhouding is hoofsaaklik gebou op die persoonlike vryheid wat met die verligting saamgekom het en wat in samehang met die materialisme en persoonlike drang na meer van alles, lande bestaande uit goed georganiseerde gemeenskappe in ‘n massa individue omskep het. Die Westerling van voor die verligting het vervulling gekry uit omgang met sy medemens in ‘n gemeenskapsverband en gereël binne tusseninstellings soos kerke, skole, markte, koöperasies, sport- en kultuurverenigings. Vandag se Westerling vind vervulling uit die veronderstelde absolute vryheid wat die moderne individualisme moontlik gemaak het en die voortdurende verkryging van materiële dinge wat korttermyngeluk moontlik maak.
Die probleem hiermee is egter dat materiële middele nooit langtermyngeluk kan bring nie. Die mens streef altyd na iets meer as net materiële geluk. Die oormatige wyse waarop die Westerse wêreld die individualisme omhels het, het tot ‘n verswakking en in baie gevalle vernietiging van die middelinstellings aanleiding gegee. Die individu staan vandag in baie gevalle in ‘n afstandige verhouding met ‘n sentrale mag wat in ‘n poging om individuele regte te onderhou juis die individu die reg tot talle persoonlike vryhede ontneem. Want soos die ou gesegde lui: My vryheid begin baie keer waar joune ophou.
In die VSA en Europa is daar ‘n groot breuk tussen die burgery en regerings, oftewel die politieke elite. Wie ookal regeer, staan op ‘n afstand van die burgery. In Europa word meer en meer wette deur ‘n Europese regering wat nog nooit verkies is nie, maar wat aangewys word, gemaak. Geen Europese burger beskik oor die vermoë om hierdie besluite te beïnvloed nie. Die politieke elite wil ‘n orde in stand hou en doen dit deur die regulering van individue wat soos marionette rondgelei word. In Suid-Afrika het die ANC op ‘n baie slim manier sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die land se bevolking totaal afhanklik van die sentrale staat te maak. Gemeenskappe en tusseninstellings is doelbewus verswak en gewone burgers staan magteloos in verhouding tot die magtige sentrale regering. So magteloos soos wat Afrikaners toenemend voel, so magteloos voel meer en meer swart mense regoor Suid-Afrika. Die regering bied oorlewing, maar nie geluk nie.
Orania kan nie anders as om saam met ander gemeenskappe en volkere van regoor die wêreld teen hierdie tendens in te gaan nie. Orania moet vir die volgende staan:
1. ‘n Gesonde verhouding tussen die gemeenskap en die individu
Orania is nie ‘n kibboets nie en die Afrikaner nie ‘n nomadiese volk nie. Afrikaners hang ook verskeie individuele regte aan, maar dit beteken nie dat ons nie ‘n volk met ‘n sterk gemeenskapsbesef is en moet wees nie. In Orania handhaaf ons ‘n gesonde balans tussen die regte van die individu en die beginsels van die gemeenskap. Dit lei eerder tot die versterking as die verswakking van gemeenskapsinstellings.
2. Desentralisering eerder as sentralisering
In Orania word magte eerder afgewentel as opgewentel. Die vraag is dus nie wat kan die regering vir my doen nie, maar wat kan ek vir die regering doen. Elke burger het ‘n groter plig eerder as ‘n regering wat baie belangrik voel.
3. ‘n Veelheid van leierskap eerder as ‘n klem op sentrale figure
Orania het nie een groot leier nie. Ons het ‘n voorsitter van die Dorpsraad, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, ‘n president van die Orania Beweging, voorsitter van die Orania Sakekamer en verskeie ander leiers wat almal verskillende persone is en almal leiersfigure eerder as heersers is. Hoe meer leiers hoe beter.
4. ‘n Regering moet doen wat hy moet doen en nie wat hy kan doen nie
Dit is in die mens se wese om van ‘n regering te verwag om oplossings te bied. Moet die Orania Dorpsraad personeel aanstel om rommel op te tel? Wat van permanente veiligheidwagte wat saans patrollies kan doen? Moet ons nie ‘n verkeerdsbeampte kry nie? In hierdie gevalle en talle ander is die antwoord: Nee. Die gemeenskap sorg self dat die dorp skoon is, doen self patrollies in die aand en spreek mekaar aan oor verkeersoortredings. Die regering hoef nie vir elke probleem die een te wees wat die antwoord moet bied nie.
5. Konsultasie skep eensgesindheid eerder as verdeeldheid
Regerings is meestal bang vir die burgery en vermy graag konsultasie. In Orania word burgers in die meeste belangrike besluite geken en dit skep eerder samewerking en eensgesindheid as in verdeeldheid en negatiewe reaksies.
6. Volhoubaarheid moet ‘n leefwyse wees
‘n Gonswoord deesdae is volhoubaarheid. Min mense leef egter op volhoubare maniere. In Orania wil ons volhoubaarheid ‘n leefwyse maak. Volhoubaarheid lê nie net op die terreine van omgewingsbewaring en energiebesparing nie, maar ook in ons vermoë om sterk instellings te skep wat ‘n gemeenskap daarstel wat vir volgende generasies ‘n tuiste kan wees.
7. Daar is niks fout daarmee om trots op jou kultuur te wees nie
Afrikaners leef daagliks in vrees dat ‘n openbare trots vir hul kultuur tot benadeling aanleiding kan gee. In Orania word ‘n trots op jou eie kultuur en ‘n volwaardige uitlewing daarvan as ‘n goeie karaktereienskap beskou wat vir jou groot voordele kan inhou.
8. Regulering hoort by verskillende instellings eerder as een sentrale mag
In Orania het ons sterk instellings soos die Orania Dorpsraad, Orania Beweging, skole en kerke. Daar is egter nie net een instelling wat die mag het om regulasies toe te pas nie. Elke instelling het sy rol. Die Dorpsraad as ‘n soort regering reguleer nie waardes nie. Dit hoort by die kerke. Kinders leer van dissipline in die gesinsverband, die skool en die kerk. So het elke instelling sy gedesentraliseerde rol in gemeenskapsregulering.
9. Lewensgehalte is belangriker as lewenstyl
Regoor Suid-Afrika leef Afrikaners in luukse huise, ry in duur motors en verdien groot salarisse terwyl hulle uiters ongelukkig is. Nie alle welgestelde mense is ongelukkig nie, maar net ‘n hoë lewenstyl kan nie geluk bring nie. ‘n Goeie lewensgehalte word verkry deur toegang tot die nodig lewensmiddele, ‘n goeie selfbeeld, ‘n kultuurtrots, ‘n sterk gemeenskapsband en inskakeling by instellings. In Orania woon baie mense wat op lewenstyl moes inboet, maar wie se lewensgehalte hier toegeneem het.
10. Samewerking eerder as konflik
Partykeer lyk dit asof Afrikaners meer baklei hoe slegter dit gaan. In Orania glo ons in samewerking eerder as om op ons verskille te fokus. Ons werk saam met verskeie organisasies en individue, sommiges naby aan ons, andere meer verwyderd. Die doelwit is altyd die bevordering van Afrikanervryheid in ‘n eie grondgebied. Ons glo in groeiende selfbeskikking en glo dit kan net vermag word deur ons mense saam met ons te vat as om meer en meer van ons te vervreem.
Mag ons toenemend die Orania-model as ‘n werklike oplossing vir ons mense aanbied en mag ons daarin slaag om saam met ander gemeenskappe en volkere die gemeenskapsidee, waar ons self oor ons eie waardes, verhoudinge, verantwoordelikhede en behoud beheer kan neem en suksesvol op ‘n groter skaal implementeer.
Dagse^ Jaco, soos gewoonlik slaan jy die spyker op die kop. Hierdie is vir my strategiese riglyne wat, indien dit deur elke ernstige soeker na ‘n sinvolle bestaan voor die vurige aangesig van die EWIG-LEWENDE, gemaklik as waardevolle riglyne aangewend kan word.
Ek vir een gaan dit so prakties moontlik in die projekte wat ek beplan, inbou sodat ons ‘n gesamentlike vertrekpunt het wanneer hulle van stapel gestuur gaan word.
‘Doet zo voort, ou seun’
Oom Ref