Die bekende Afrikaanse filosoof, skrywer en akademikus prof Danie Goosen lewer onlangs in ‘n toespraak ‘n pleidooi vir Afrikaners om meer land-gerig te wees. Land-gerig word in dié konteks as ‘n metafoor vir begrensing gebruik, terwyl see-gerig as metafoor vir onbegrensdheid dien. Mense wat land-gerig is wil die begrensing waaroor hul beskik in beskerming neem. Volgens Goosen is grense vir landkulture ‘n redding. Grense maak ‘n woning, ‘n egte tuiste, moontlik.
Grense bring sekerheid en geborgenheid, terwyl grensloosheid onsekerheid en tuisteloosheid meebring. Volgens Goosen is mense wat seegerig is, gefokus daarop om vry VAN iets te wees terwyl landgerigte mense daarop gefokus is om VIR iets vry te wees.
In die Westerse wêreld, en ook onder Afrikaners, is daar toenemend ‘n seegerigtheid eerder as ‘n landsgerigtheid. Mense wil bevry word van dinge wat beperkinge op hul plaas, maar hulle streef nie regtig daarna om vry vir iets te wees nie. Dit bring mee dat mense vry voel sonder om werklik ‘n sterk fondament te hê waarop hulle hul strewes kan bou.
Goosen noem vier dinge waarvoor mense vry kan en moet wees. Eerstens moet jy vry wees om grense om jou te trek en jou veiligheid daarbinne na te jaag. Tweedens moet jy vry wees om binne daardie grense gemeenskap te stig. Derdens moet jy vry wees om geregtigheid na te jaag en te sorg dat almal toekom wat hulle verdien en laastens moet jy vry kan wees om die hoogste na te streef.
Hierdie landgerigte ingesteldheid word gereeld in die Westerse wêreld as verstok en verouderd beskou. Dit word verbind met nasionalisme en in sommige gevalle selfs fascisme en liberale denkers doen groot werk om mense te oortuig om eerder ‘n see-gerigte ingesteldheid te volg en uit die begrensing van identiteit los te breek.
Tog het elke mens ‘n ingeboude sin vir plek. Die praktyk wys vir ons dat ‘n suiwer see-gerigte ingesteldheid nie volhoubaar is nie. Mense sonder grense is ook mense wat nêrens het om in ontstuimige tye na terug te keer nie. Jy word vrygestel van die gesag van jou kultuur, volk, gemeenskap en die tradisionele gesin. Wat is jy dan as jy aan niks behoort nie?
Die seegerigte mens raak toenemend weerloos as individu. Die landgerigte mens daarteenoor weet wie hy is, waarheen hy oppad is en het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk van mense en instellings wat vir hom intree, hom onderskraag en hom help betekenis aan die lewe gee.
Volgens Goosen is nog ‘n onderskeid tussen die seegerigte en landgerigte mens die onderskeid tussen ruimte en plek. Die moderne wêreld word geregeer deur die gedagte van ruimte. Tog moet ruimte beheer word en indien die individue en sy verbintenisse dit nie beheer nie dan doen ‘n sterkerwordende staat dit. Vir die landgerigte mens kom beheer vanuit die orde van gesin, gemeenskap en volk.
Die Skotte se huidige strewe na onafhanklikheid is ‘n voorbeeld van landgerigtheid. So ook die strewe van die meeste minderheidsgroepe na selfbeskikking. Ook Afrikaners kan gerus meer landgerig wees en dus gefokus daarop om vry te wees vir onsself eerder as van onsself.
Filosofies nogal ‘n moeilike begrip om jou kop om te kry. Baie van die see gerigte beskawings van ouds was ook van die mees ontwikkelde en beskaafdes van hul tyd b.v. die Nederlanders, Portugese, Feniciërs ens.
Kan land gerigtheid dalk vereenselwig word met behoudendheid en see gerigtheid met vooruitgang?
Nie ‘n vraag wat so maklik beantwoord kan word nie. Sowel land- asook kusgebiede het groot beskawings voortgebring.
Kom ons kyk na enkele seebeskawings: Groot-Britanje, Nederland, die Hansa, die Fenisieers, meeste Griekse stadstate, Portugal.
Landbeskawing was byvoorbeeld die Romeine (ten minste aanvanklik), die Persiers, die Russe, Sjina,die Duitse Ryk, Frankryk, die Habsburg Ryk.
Die seebeskawings wou veral ‘n handelsnetwerk opbou en buiteposte stig. Die landbeskawings wou veral grond beset en beheer oor grondstowwe kry. Inherent is landbeskawings meer konserwatief omdat grondgebied iets is wat verdedig moet word en wat ‘n soort “heiligheid” kry nadat dit verower is, teenoor die see wat vir almal is en seebeskwings dus meer oop vir invloede van buite maak. As seebskawings iewers ‘n handelspos moet afstaan, dan stig hulle ‘n nuwe een of vat een af van ‘n ander land, maar as ‘n landbeskawing grondgebied verloor is dit dikwels ‘n nasionale vernedering wat nie aanvaar word nie. Dit beteken egter nie dat seebeskawings meer vreedsaam was nie. Hulle motief was dikwels veral geld en ons weet hoe bloedig kan mense oor geld baklei.