fbpx

??????????????????Een van die bekende kenmerke van die ANC voor 1994 was die party se sterk internasionale steunwerwingsprogram. Die party het regoor die wêreld verteenwoordigers en kantore gehad. Dit het dit vir die party moontlik gemaak om voltyds regerings, nie-regeringsorganisasies en die gewone burgers van verskeie lande oor dinge in Suid-Afrika in te lig en om steun vir die party en sy programme te werf.

Ons weet vandag dat die ANC se internasionale strategie uiters suksesvol was en waarskynlik een van die hoofredes is waarom die Nasionale Party-regering laat in die 1980’s onder druk begin swig het. Terwyl die NP sy hande vol gehad het om dinge in Suid-Afrika bymekaar te hou het die ANC met ‘n byna vryhand sy propaganda in oorsese land versprei. Veral die ANC se sterk fokus op Westerse lande het dié lande, organisasies en persone wat moontlik nog bondgenote van die blanke bevolking in Suid-Afrika kon wees, ook teen hulle laat draai. Die ANC se veldtog in die buiteland is goed beplan, goed gekoördineer en meesterlik uitgevoer.

Vandag sien ons dat die res van die wêreld heelwat minder op Suid-Afrika fokus. Die demokratiseringsprojek wat die buiteland in die 1980’s met sanksies en ander vorme van druk op die blanke regering, geloods het, is volgens hulle in 1994 suksesvol afgehandel. Sedertdien word Suid-Afrika as ‘n toonbeeld van ‘n land wat van sogenaamde onderdrukking na Westerse demokrasie oorgegaan het, voorgehou.

Ons weet egter dat die situasie in die land vandag iets totaal anders is. Suid-Afrika verkeer in die magsgreep van die ANC. Die party sentraliseer alle magte en uitvoerende vermoë en het sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die bevolking aan hom getrou en gedienstig te maak, deur  gemeenskappe te ontmagtig, plaaslike ekonomieë te vernietig en meer as 16 miljoen mense se lewens van welsynstoelaes afhanklik te maak.

Die Afrikaner verkeer vandag onder groot druk. Sogenaamde regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, regeringskorrupsie, misdaad en die verval van ons geldeenheid gekoppel aan voortdurende inflasie het ons in ‘n moeilike posisie geplaas. Meer as ‘n kwart van Afrikaners het waarskynlik reeds na die buiteland vertrek. Duisende Afrikaners is sedert 1994 vermoor en soveel meer van ons mense moes die trauma van motorkapings, huisinbrake en ander misdade deurmaak. Verder is ons taal en kultuur verswak, subsidies aan alles van ons museums tot ouetehuise en kinderhuise is onttrek, terwyl vreemde leerplanne vol propaganda teen die Afrikaner op ons skole en kinders afgedwing is.

Die buitewêreld weet egter maar min hieroor. Verlede week is daar ‘n televisieprogram oor die situasie van Afrikaners in Nederland uitgesaai en baie Nederlanders wat dit gekyk het was skoon verbaas. Hoe het dit alles gebeur sonder dat ons daarvan weet? Dit is hulle vraag. Afrikanerorganisasies sal hul internasionale skakeling moet verskerp. Strategieë om steun te werf moet beter bedink word. Ou, verregse retoriek sal agtergelaat moet word en nuwe moderne boodskappe geskep word. Indien die Afrikaner ‘n toekoms in Suid-Afrika wil hê sal ons, ons internasionale skakeling en steunwerwing dramaties moet verbeter.