fbpx

winter3Die metafoor van die winter in ‘n mense se lewe verwys na die nabye einde. Anders as in die geval van mense wat almal moét sterf en selde ouer as 90 jaar word, is daar in die geskiedenis van ‘n volk of ‘n beskawing die moontlikheid van ‘n lente oftewel ‘n herlewing na die winter opgesluit.

Party beskawings vergaan en is net nog ‘n vae herinnering, ander herleef weer, dikwels in ‘n ander gedaante. Die Grieks-Romeinse beskawing, wat telkens as die grondslag van die Westerse beskawing gesien word, het meer as ‘n duisend jaar bestaan en het ‘n eenvoudige begin, opbloei, ‘n lang hoogbloei en geleidelike verval tot uiteindelike ineenstorting beleef. Dit geld vir feitlik alle groot beskawings, veral die wat ‘n sterk onderbou gehad het en nie net ‘n strooivuur was nie.

‘n Beskawing moet natuurlik ‘n sterk militêre been hê, soos die Romeinse beskawing, om homself te kan handhaaf teen sy talle vyande, maar militêre mag alleen is nie genoeg nie. Alexander die Grote (356-323 voor Christus) het in ‘n kwessie van ‘n paar jaar feitlik die hele destydse bekende wêreld verower, maar omdat sy ryk rondom hom as persoon gebou was, het dit na sy vroeë dood verkrummel en is sonder enige blywende nalatenskap. Alexander se generaals het sy reusagtige, multi-etniese ryk onder mekaar verdeel en teen mekaar geveg.

Die Mongole onder Dsjingis Khan en sy opvolgers het in die 13de eeu selfs ‘n nog groter grondgebied verower, van Sjina tot Oos-Europa, die grootste ryk, oppervlakgewys, wat ooit bestaan het. Hulle het egter geen  beskawing gestig nie, maar net ander hoogstaande beskawings vernietig of bedreig. Omdat hulle net met uiterste brutaliteit verower het en self geen hoogstaande kultuur gehad het nie, het daar ook van hulle ryk niks oorgebly nie. ‘n Ryk wat net op geweld en verowering gebou is, het voete van klei en sal verkrummel sodra die militêre mag verswak.

In die geval van die Grieks-Romeinse beskawing, wat in die 4de eeu na Christus deur barbaarse Noord- en Oos-Europese volke soos Hunne en Germane vernietig is, was daar wel ‘n baie sterk kulturele fondasie wat nie afgebreek kon word nie. Selfs in die “donker” vroeë Middel-eeue, wat op die val van die Romeinse beskawing gevolg het (omtrent 400 tot 600 na Christus) kon elemente van die beskawing bewaar word. Nadat die barbare hulle uitgewoed en sonder enige kulturele nalatenskap verdwyn het, kon weer ‘n nuwe beskawing gebou word wat aangeknoop het aan die Grieks-Romeinse erfenis.

Die plekke waar elemente van die Grieks-Romeinse beskawing bewaar is (die kloosters) was die plekke waar die Christendom gebesig is. Klooster beteken direk vertaal plek van afsondering.  Stede was die plekke waar die beskawing (en dikwels ook die dekadensie) sy hoogbloei beleef het, maar in die vroeë Middel-eeue was die stede grootliks vernietig deur die barbare. In die kloosters kon beskawing en kennis egter tot ‘n beperkte mate bewaar word. Die hoofdoel van die kloosters was natuurlik die uitbou van die Christelike geloof, maar daar was sekondêr ook ‘n beskawingstaak. Dit was feitlik net in kloosters waar die vaardigheid van lees en skryf (in Latyn) nog bestaan het en waar dit oorgedra is. Monnike het biblioteke in die kloosters ingerig en boeke gekopieër (‘n tydsame proses omdat alles per hand oorgeskryf moes word) en kennis sodoende help bewaar. Ook ambagte en landbou is vanuit die kloosters beoefen en verder ontwikkel. Die kloosters moes selfvoorsienend wees en het daarom ook landerye en tuine gehad vir die verbouing van voedsel. Die verbetering van landboutegnieke het daarmee gepaard gegaan.

In die kloosters is die saad van die beskawing, naamlik kennis en kundigheid, bewaar terwyl barbaarse hordes buite omtrent alle oorblyfsels van die beskawing vernietig het. Die kloosters was gewoonlik in afgeleë plekke en ver van die aanvalsroetes van die barbare geleë. Terwyl afsondering dikwels gelykgestel word aan agterlikheid, het in die geval van die kloosters afsondering juis gemaak dat kennis en vaardighede, en daarmee saam die beskawing, bewaar kon word. As die omgewing rondom jou vyandig is, is afsondering ‘n oorlewingsmeganisme.

Namate die barbare hulle uitgewoed het, het sekere volkstamme begin om state en selfs ryke te stig ( die Merowinger en later die Karolinger). Die Christendom het die saambindende godsdiens geword en dansky die sendingaktiwiteite van die kloosters kon kennis weer wyer oorgedra word. Daar was ook beskerming deur die owerheid en bevordering van beskawing. Die Frankiese Ryk, waarvan Karel die Groote (768-814 aan bewind) die bekendste heerser was, het elemente van die Romeinse beskawing oorgeneem en gekoester en het homself gesien as die opvolgryk van die Romeinse Ryk. Dit was egter net moontlik omdat die saad van die beskawing in die kloosters oorleef het. Daarsonder sou geen Westerse beskawing kon herleef nie en sou die gewoontes van die barbaarse veroweraarsvolke die “donker Middel-eeue” laat voortbestaan het. Dat verowering sonder die koestering van kultuur geen beskawing kan voortbring nie, sien ons ook vandag in die lande wat deur Islamitiese vegters soos IS (die hedendagse weergawe van die Mongole van destyds) oorrompel word. Veg, nie beskaaf nie, is die enigste doel en sodra die vegters weer deur ‘n ander mag oorwin word, bly daar niks van die veroweraars oor nie.

Sonder om die huidige toestand in Suid-Afrika aan die donker Middel-eeue en die tyd van algehele chaos te wil gelykstel, is dit sonder twyfel so dat die huidige bewind nie gunstig vir die Afrikaner se kultuur en beskawing is nie. Afrikaans word uitgewerk, veral as akademiese taal, museums en monumente gaan tot niet, Afrikaanse dorpe en woonbuurte word demografies oorrompel en verloor enige band met die mense wat die plekke gestig en onderhou het.

In tye soos hierdie is dit daarom nodig om plekke te hê, en nog meer te stig, wat soos kloosters van ouds funksioneer, waar die Christelike geloof bewaar en gekoester word saam met die elemente van beskawing en kultuur: kennis, vaardighede en gewoontes. In Orania word Afrikaans gepraat, in Afrikaans skoolgehou en kennis en vaardighede oorgedra. Die Afrikaner-erfenis word in museums, biblioteke en argiewe bewaar. Volksfeeste laat die kultuur voortleef. Kuns word bevorder.

Hoe die toekoms lyk en of die Afrikanervolk ‘n langtermyn toekoms het, weet ons nie. Maar as die politieke omstandighede vir Afrikaners eendag weer gunstig is, kan die skatte van die beskawing in plekke soos Orania help om weer ‘n nuwe beskawing op ‘n ou fondament te bou.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.