fbpx

Saltire and union flagDie referendum oor Skotse onafhanklikheid vind plaas op 18 September. In die laaste groot televisiedebat voor die referendum tussen die leier van die Skotse nasionaliste, Alex Salmond en die Britse Parlementslid vir ‘n Skotse kiesafdeling, Alistair Darling het die twee teenstanders mekaar gepak en die argumente vir en teen afskeiding weer met mening herhaal. Alistair Darling lei die veldtog “Better together” vir die behoud van die huidige Britanje. Volgens ‘n peiling ná die tyd het Salmond baie beter gevaar as Darling. Die aanhangers van Salmond en van afskeiding was geesdriftig en emosioneel. Onafhanklikheid van ‘n land is iets wat diepe emosies wakker maak, terwyl die behoud van die status quo eerder tot die rede appelleer. Nogtans was die argumente van altwee kante veral op feite en syfers gebaseer en nie op emosies nie.

Die basiese argument vir onafhanklikheid van Skotland geld ook vir ons eie strewe na vryheid, maar ook vir enige vryheidstrewe. Die mense wat aan dieselfde volk behoort kan op grondvlak beter vir hulleself besluit as mense wat aan ‘n ander volk behoort en wat elders is. Niemand hou daarvan as ander mense oor hulle besluite neem nie. Hoe nader die besluitneming aan jouself, hoe beter.

Lede van die Skotse Nasionale Party (SNP) is van mening dat Skotse onafhanklikheid die mense op grondvlak direk bevoordeel omdat Skotland se inkomste direk bestee word aan sy mense en nie eers ‘n ompad na Londen maak en dan van daaraf herverdeel word nie.

Alistair Darling en die ondersteuners van die “Better Together” veldtog wys egter daarop dat Skotland ekonomies nie sterk is nie en in werklikheid meer van die sentrale regering ontvang as wat hulle bydra. Salmond het die stelling natuurlik betwis en praat oor die talle ekonomiese moontlikhede wat ‘n onafhanklike Skotland kan ontsluit as hy sy eie politieke beheer het.

Alhoewel die kwessie van onafhanklikheid nie in regs of links ingedeel kan word nie is die voorstaander van Skotse onafhanklikheid, die SNP, in talle opsigte ‘n linkse party. Dit geld veral vir sy ekonomiese beleid wat sterk klem plaas op staatsinmenging en welsyn, byna soos in Skandinawiese lande. Die Konserwatiewe Party regeer tans oor Groot-Britanje en is die party wat die mees uitgesproke is oor die behoud van die status quo. Mnr Salmond verwys ook gereeld na die voorbeeld van Noorweë wat ‘n land is wat nes Skotland oor olie beskik, ‘n welsynstaat is en in elke opsig welvarend en vooruitstrewend is. Skotse olie sal eendag uitgeput raak, aldus die argument van Darling, en dan sal dit goed wees dat Skotland deel is van ‘n sterk staat wat reeds internasionale bande en ‘n gediversifiseerde ekonomie het.

Die meeste Skotte ondersteun onafhanklikheid van harte maar logiese denke veronderstel dat dit gepaard gaan met talle risikos en veranderinge. Talle kwessies wat vir Skotland belangrik is moet onderhandel word indien die ja-stem wen. Een voorbeeld is die vraag of Skotland outomaties deel van die EU word, of die Britse pond behoue bly (wat die Britse regering nie as gegewe beskou nie),  of Skotland ‘n republiek word en of die Britse koningin as staatshoof behou word. Om die vrees vir die onbekende pad van onafhanklikheid te versag sou die SNP verkies dat die EU-lidmaatskap, die Britse Pond en die koningshuis ten minste aanvanklik behoue bly, maar die “Better together” veldtog wil juis die onsekerheid daaroor gebruik om mense te laat besluit om teen onafhanklikheid te stem.

Dit is ook nie die geval dat die Skotte in die onlangse verlede wreed onderdruk is soos in Eritreë of Suid-Soedan en daarom smag na vryheid nie. As die Skotse afskeiding, indien dit dan wel gebeur, met ‘n ander land s’n vergelyk kan word, dan is ‘n beter voorbeeld die stille en vreedsame skeiding tussen Tsjeggië en Slowakye in 1993. In dié geval was dit egter ‘n parlementsbesluit en geen burgerlike referendum nie.

Tans is die mening nog meerendeels vír die behoud van die status quo, maar die skaal is besig om te  swaai in die guns van die pro-onafhanklikheidskamp. Vir die “beter saam”-veldtog gaan dit daaroor om die meerderheid wat sonder veel emosie die redebesluit vir “nee” gemaak het by die stembus te kry. Die “ja vir onafhanklikheid”-kamp kan staatmaak op geesdriftige ondersteuners wat nie stembus toe gedryf hoef te word nie.Hulle uitdaging is om die onbeslisdes oor te haal, want tans het hulle nog net ‘n minderheid aan hulle kant. Die Britse tydskrif “Economist” beskryf die “Nee”-veldtog as masjien, en die “Ja”-veldtog as karnaval. Eersgenoemde word amptelik  deur die Britse regering gedryf. Interessant is ook die verskeie veldtogte se metodes: die “Better together”-veldtog steun op huis tot huis-werwing, telefoonwerwing, uitdeel van pamflette en tree op soos ‘n politieke party tydens ‘n verkiesing. Die “Ja vir Skotland”-veldtog gebruik huis tot huis-werwing, straatfeeste, stalletjies, konserte, debatvergaderings en het veral ‘n direkte, mens-tot-mens aanslag.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

 

0 Comments

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

three × 3 =