electricityBehuising is seker die grootste onmiddellike behoefte vir Orania, en dit al vir ‘n geruime tyd. Die algemene sentiment onder talle inwoners en ondersteuners is dat meer huise gebou moet word en dit word verwag dat die Orania Dorpsraad en Orania Beweging dit moet doen. Wat egter dikwels vergeet word is dat ons nie net sommer links en regs huise kan bou nie, selfs al was ons fondse van so ‘n aard, sonder die nodige grondwerk nie. Voor ‘n huis gebou kan word moet die infrastruktuur eers daar wees. Daar is goeie konsepte soos die aardskip wat sy eie water, krag en riolering voorsien, of Sonpark met sy sonkraggedrewe vraghouerhuise, maar die meerderheid mense soek standaardhuise met munisipale dienste.

Orania Dorpsraad is tans besig om die hele kragnetwerk van Orania op te gradeer en na ‘n volgende fase te neem. Die huidige harde infrastruktuur (met ander woorde die kragnetwerk, rioolplase, waterpypleidings) dateer grootliks nog uit die 1960’s en het hulle leeftyd bereik. Die kragbehoefte vir Orania word ook al hoe meer weens nuwe uitbreidings. Daarom is daar met `n opgradering van die kragnetwerk begin wat nuwe kapasiteit beskikbaar stel. Die opgraderings van die kragnetwerk is 90% afgehandel en die uiteindelike koste beloop tien miljoen Rand wat vir ‘n klein gemeenskap soos Orania nogal ‘n taamlike bedrag is. Dit is egter ‘n noodsaaklike uitgawe wat nodig is om die grondslag vir die volgende fase van groei te lê.

Die opgraderings behels dat ‘n nuwe substasie as toevoerpunt gebou word en nuwe kraglyne, wat hoofsaaklik ondergronds gelê sal word. Tans het Orania twee lyne, ‘n landboulyn en ‘n dorpslyn. Hulle sal met mekaar verbind word en in die toekoms een lyn vorm. Die omskakeling van hoogspanning vanaf Eskom (22 000 volt) geskied tans in twee stappe: deur middel van transformators, eers na 3300 volt en dan na 220 volt op huishoudelike vlak. Met die opgradering word die tussenstap na 3300 volt uitgeskakel en die krag direk na 220 volt omgesit. Dit alles bring besparings en groter doeltreffendheid mee.

Vir die dorp en sy inwoners het die opgradering direkte voordele. Dit sal besparings meebring (na beraming sowat 5%), die moontlikheid van onderbrekings word verlaag deur die daarstel van `n meer betroubare kragtoevoer en deur die verhoogde kapasiteit is groter uitbreidings in die toekoms moontlik. Daar is reeds 18 nuwe erwe in Kleingeluk uitgesit wat tans gediens word, en naby die Dorpskantoor is nog erwe  in beplanning.

Verder word Orania se ideaal van groter selfstandigheid deur die opgraderings moontlik gemaak. Alhoewel dit nog steeds Eskom se aansluiting bly, bestaan die moontlikheid nou dat Orania sy eie krag, ten minste gedeeltelik, kan opwek en in die stelsel vir sy eie behoefte kan insit. Tans is daar reeds ‘n eksperimentele sonkragafdak wat aan die stelsel gekoppel is. Indien dit suksesvol is bestaan die moontlikheid van ‘n groter sonkragaanleg vir Orania. Dit sal egter deur private inisiatief gedoen word deur mense in Orania of met ‘n Orania-verbintenis.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel