by Orania Beweging | Jan 20, 2015 | Nuus |
Dit is vanjaar presies 100 jaar sedert die Armeense volksmoord deur die Ottomaanse ryk in die gebied wat vandag as Turkye bekend staan. Daar word beraam dat tot soveel as 1,5 miljoen Armene vanaf 1915 tot 1918 deur die Ottomane uitgemoor is.
Verlede jaar het ons regoor Europa herdenkings van die Eerste Wêreldoorlog gesien. Ons sien ook dat die Duitse volk verantwoordelikheid aanvaar vir die Tweede Wêreldoorlog en die volksmoord op die Jode. Australiërs het onlangs sover gekom om verskoning te vra vir die behandeling van inheemse volkere tydens Westerse vestiging daar. Regoor die wêreld sien ons hoe Westerse volkere verantwoordelikheid neem vir die foute wat hulle in die verlede gemaak het.
Dieselfde geld egter nie vir volksmoorde en misdade in Moslemlande, die Verre-Ooste en veral die Derde Wêreld nie. Moenie verwag dat daar vanjaar in Turkye ‘n groot herdenking van die volksmoord 100 jaar gelede sal plaasvind nie. Die Turkse regering weier steeds om die moorde op Armeniërs as ‘n volksmoord te erken en daar word selfs druk geplaas op ander lande om ook nie die volksmoord te erken nie.
Die Armeniërs is een van die oudste volkere van Wes-Asië en woon reeds vir meer as 4000 jaar op die Armeense hoogland. Voor die Armeense volksmoord in 1915 was daar groot Armeense gemeenskappe sover wes as Konstantinopel. Die Armeniërs is vir lank deur die Ottomaanse Ryk regeer. Met die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die Turke weens die suidelike beweging van Russiese magte agterdogtig oor die Armeense minderheid geraak. Omdat die Armeniërs Christene was het die Turke beweer dat die Armeniërs met die Russe sou saamwerk en is daar met ‘n stelselmatige wrede uitwissingsproses begin.
Vandag woon daar bykans drie miljoen Armeniërs in die Republiek van Armenië, maar is nog sowat 2 miljoen Armeniërs verstrooi oor dele van Asië, Europa en tot sover as die VSA. Hierdie verstrooing is direk die resultaat van die volksmoord in 1915.
Ten spyte van al die pogings deur die Armeniërs om erkenning van die volksmoord 100 jaar gelede te kry word dit steeds dood geswyg. Die vraag is waarom? Die Turke ontken dit weens die klad wat dit op hul identiteit plaas. Die meeste ander lande wat nie openlik die Armeense volksmoord wil erken nie, doen dit omdat hulle nie verhoudinge met Turkye wil versuur nie. Die Westerse wêreld het sedert die twee wêreldoorloë so polities korrek geraak dat daar voortdurend gevrees word om deur die erkenning van misdade wat nie deur hulle gepleeg is nie, nuwe spanningslyne te skep. Hoewel die meeste Westerse lande wel die Armeense volksmoord erken probeer hulle versigtig daarmee handel ten einde nie spanning met Turkye en die Moslemwêreld te ontlont nie.
Die Armeense volksmoord en die wêreld se reaksie daarop is relevant vir die Afrikaner. Ons staan ook vandag as ‘n verspreide minderheid onder vreemde beheer. Afrikaners en blankes in die algemeen word toenemend as vyande gebrandmerk. Ons is so weerloos soos wat die Armeniërs in 1915 was. Laat die geskiedenis homself nie herhaal nie en laat ons vanjaar saam met die Armeniërs 1915 onthou.
by Orania Beweging | Jan 15, 2015 | Nuus |
’n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers
Geagte mede-Afrikaner,
Soos verlede jaar hierdie tyd wens ons vanuit Orania dat hierdie skrywe u gereed vir die eise van die jaar wat voorlê, bereik. Almal wat op ‘n manier daarvan deel was, sal weet dat Orania ‘n besonder bedrywige vakansieseisoen beleef het en dat meer besoekers as ooit tevore tussen Geloftedag en Nuwejaar op begeleide toere deur Orania geneem is. Boonop het minstens twee familiegroepe wat uit tientalle mense bestaan het, Orania vanjaar met hulle saamtrekke, wat van dae tot weke geduur het, vereer. Op dié manier het Orania, selfs vir Afrikaners en hulle kinders wat in die buiteland woon, ‘n lewende werklikheid geword. Daardeur voel ons van die Orania Beweging versterk en geïnspireer.
Soos verlede jaar vra ons u aandag vir die gedagtes wat volg omdat ons nie net as individuele Afrikaners nie, maar as lede van ’n volk oor die eise wat 2015 aan ons gaan stel, moet besin. Dit gaan weer eens nie soseer oor die besonderhede van politieke verwikkelinge nie, as oor algemene tendense wat ons lewensruimte nou en in die toekoms bepalend gaan beïnvloed. Besondere besluite wat gedurende die jaar geneem sal word, moet dit eerder in aanmerking neem as ignoreer.
Verduideliking
Die gedagte van ‘n “volk-staat betoog”, iets tussen ‘n “State of the Nation-address” soos deur huidige staatshoofde in Suid-Afrika en ‘n nuwejaarsboodskap soos uit vervloë dae onder ‘n Afrikanerregering, het verlede jaar die eerste keer konkrete beslag gekry en ‘n oorweldigend positiewe reaksie uitgelok. Nie die “staat van die nasie nie”, maar die “stand van die volk”, die “volk-staat” in ‘n ander sin as wat die woord dikwels gebruik word, kom ter sprake.
Dat ons nie meer oor ‘n eie parlement of regering beskik nie, beteken immers nie dat ons nie meer sake het om na om te sien nie of dat ons die strewe na die bevoegdheid om self oor ons eie toekoms te beskik, prysgee nie; inteendeel, dié strewe is besig om onder ons mense veld te wen. Soms weet mens nie wat jy gehad het voordat jy dit nie verloor nie – en Afrikaners se vryheid is ‘n voorbeeld daarvan.
In Orania bou ons stelselmatig en van die grond af ‘n nuwe gemeenskap en gemeenskapsorde op, een waarbinne ons na gelang van ons vermoë en getalle en met behulp van ons eie instellings reeds en toenemend besig is om oor baie van ons eie sake te beslis. Dit is egter nie bedoel om net ‘n plaaslike poging van ‘n klein getal Afrikaners te wees of te bly nie, maar om ten behoewe van die groter Afrikanervolk ‘n nuwe tuistelike ruimte te skep waarbinne selfbeskikking op ‘n eg demokratiese wyse beoefen kan word.
As president van die Orania Beweging rig ek my gevolglik nie net tot die leiers van Orania en ampsdraers van die Orania Beweging nie, maar tot alle Afrikaners wat hulle in die suksesse van ons vryheidsbeweging interesseer en na die eise wat dit stel, wil opleef. Daarmee word nie voorgegee om die plek van ‘n staatshoof in te neem nie, maar wel om ‘n gewigtige verantwoordelikheid jeens ons mense na te kom, naamlik om die koers van vryheid aan te dui.
Agtergrond: 2014
Vooruitsigte op 2014 het die nasionale en provinsiale verkiesings in die kollig geplaas, nie omdat die uitslag in die weegskaal was nie, maar omdat dit die politieke toon vir die volgende termyn sou aangee. Dit het inderdaad gebeur, hoewel dit van betekenis is dat die verkiesings onder ons mense meestal reeds so goed as vergete is. Dit is asof niks verander het nie – buiten vir die vervreemdende tendens van groter populisme en radikalisering wat deur die EFF se ontwrigting van die Parlement versinnebeeld is. Die speelveld het inderdaad na links geskuif en versoenende gebare wat nog in 2009 by regeringsvorming wenslik gelyk het, is duidelik in 2014 nie meer as die moeite werd beskou nie.
Die Orania Beweging se klem op uitwaartse aksie, op konsentrasie-politiek en op versnelde groei het deur die gebeure net noodsaakliker geword. Daarom sal dit steeds ‘n integrale deel van ons werksaamhede bly, hoewel drie ander punte met die oog op 2015 uitgelig sal word. Van die vorige drie is dit die maklikste om op ons geslaagde binne- en buitelandse skakelaksies gedurende 2014 te wys, terwyl die vestiging van ‘n nuwe begrip soos “konsentrasie-politiek” in ons mense se politieke woordeskat moeiliker meetbaar is en die bevordering van versnelde groei ironies genoeg met veel geduld aangepak moet word. Maar ook op dié twee terreine is daar inderdaad vordering gemaak.
Soos die jaar 2013 het Orania die jaar 2014 weer met belangwekkende publisiteit afgesluit. Terwyl ons nie aan die media se herdenking van oud-president Mandela se dood en begrafnis deelgeneem het nie, het dit so gebeur dat ‘n Afrika-wye nuuskanaal Orania besoek het op die dag toe ‘n afvaardignig van ons af oppad was na Mnyameni om voortgang aan ons onderlinge ondersteuningspoging te gee. Die joernalis wat Orania teen die agtergrond van ‘n skerp daling van Suid-Afrika se versoeningsindeks besoek het, was uiters verras met die voorgenome besoek en het dit op kort kennisgewing meegemaak.
Haar gevolgtrekking aan die einde van ‘n twaalf minutelange dokumentêre program was hoopvol, maar realisties. (Sien dit by http://youtu.be/csrfAY4Obo8) Sy het aangevoer dat betekenisvolle versoening nie hoef te beteken dat Suid-Afrikaners in gemaakte liefde in mekaar se arms val nie, maar om daar te wees vir mekaar as die ander ons nodig het. Daarvan is Orania en Mnyameni vir haar ‘n voorbeeld. Buiten dat dit goeie dekking vir Orania se selfstandige gemeenskapsbenadering is, wys dit ook dat ons ‘n bydrae het om tot die Suid-Afrikaanse politieke diskoers te lewer. Iemand soos die radikale ANC politikus/sakeman Jimmy Manye se reaksie op die program getuig daarvan. Hy het gesê dat die verbintenis van die Afrikaners van Orania `n les vir die hele Suid-Afrika inhou – dat selfbeskikking nie dieselfde as rassisme is nie.
Teen dié agtergrond kyk ons op ‘n veeleisende, maar suksesvolle jaar terug en bou ons voort op ‘n toenemend belangrike rol vir Orania onder Afrikaners en in Suid-Afrika.
Vooruitsigte vir 2015
As ons na 2015 en die era wat daarmee ingelui word, kyk, is daar ekonomiese, kulturele en omgewingsvraagstukke wat ons aandag verdien. Die eerste word beskryf as Suid-Afrika se naderende “fiskale afgrond”, die tweede is die verwerping al dan nie deur die grootste kerkgenootskap onder Afrikaners, die NG Kerk, van die “Belharbelydenis” en die derde is die toelating al dan nie van hidro-breking in die Karoo.
1.
“Suid-Afrika se fiskale afgrond: ‘n blik op die aanwending van owerheidshulpbronne” is ‘n artikel van Jannie Rossouw, Fanie Joubert en Adèle Breytenbach in die Maart 2014-uitgawe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Die goed gedokumenteerde argument kom kortliks op die volgende neer: dat die besteding aan sosiale bystand (verskillende toelae) plus die regering se besteding aan salarisse die afgelope vier jaar soveel vinniger as die regering se belastinginkomste gestyg het, dat ‘n tydstip geprojekteer kan word waarop die totale owerheidsinkome deur hierdie twee koste-items in beslag geneem sou word. Dit word dan as die fiskale afgrond beskryf.
Nou moet dadelik gesê word dat die skrywers geen sensasionele doemprofete is nie en hulle op talle forums en maniere daarvoor beywer om hierdie tendens juis te verander. Feit is egter dat die ontvangers van maatskaplike toelaes van 13,5 miljoen in 2008 tot 16,1 miljoen in 2012 gestyg het en dat die bedrag wat daaraan bestee is van R70 miljard in 2008 tot R104,9 miljard in 2012 toegeneem het. Indiensneming deur die staat het van 2008 tot 2012 met 13% toegeneem, maar staatsdiensvergoeding het in dieselfde tyd met 76,1% toegeneem. In 2008 was daar 1 343 978 persone in die staat se diens wat sowat R177,39 miljard ontvang het; in 2012 is daar 1 518 714 persone in diens wat sowat R312,42 miljard ontvang het.
Die totale owerheidsinkome vir 2012/13 beloop daarenteen R814,1 miljard, waarvan persoonlike inkomstebelasting die grootste enkele bron is. 34% van die totale inkome word deur sowat 4,8 miljoen persone bygedra. BTW is vir 26,5% verantwoordelik en Maatskappybelasting vir 19,8%. Hoewel belastinginkomste ook sal styg, kan dit net teen ‘n beperkte koers plaasvind sonder om die land se ekonomie te knou.
Dit is dus duidelik dat dié twee lyne, die besteding aan maatskaplike toelaes en statsdienssalarisse en belastinginkomste, vorentoe geprojekteer kan word tot die punt waar hulle mekaar ontmoet, met ander woorde waar die staat se totale inkomste deur toelaes en salarisse opgeneem sou word. Volgens die skrywers se berekening en met redelik optimistiese groeivooruitsigte sou dit teen 2026 gebeur; met wat hulle as haalbare belastingverhogings beskou, kan dit tot 2028 uitgestel word. Tot sover die skrywers se ontleding.
Daar is natuurlik vir geen regering enige alternatief as om die krisis af te weer nie, die vraag is egter in hoeverre dit deur bestedingsbesnoeiing en in hoe verre deur inkomsteverhoging gedoen gaan word. Die politieke kragte wat hierdie tendense onderlê en die populêre retoriek van arm swartmense se regte tenoor ryk wit mense se verpligtings en skuld, laat ongelukkig min aan die verbeelding oor. Om die waarheid te sê, mens kyk met toenemende spyt terug op die verspeelde geleenthede om by wyse van ‘n eie staat aan sulke tendense te ontsnap, hoe onrealisties dit dan ook in daardie tydsgewrig vir die meeste van ons mense gelyk het. Feit is natuurlik dat daar nou geen kortpad uit is nie en dat ons ander strategieë sal moet volg om groter selfstandigheid te herwin.
2.
Oor die NG Kerk se verwerping of aanvaarding van die Belhardokument kan maklik gevra word of dit in ‘n betoog soos hierdie hoort. Die kerk is immers ‘n andersoortige instelling wat haar historiese verantwoordelikheid ingevolge haar geloofsbronne jeens haar lidmate en die wêreld op ‘n eiesoortige manier moet nakom. Met volle erkenning daarvan en sonder om in ‘n teologiese behandeling van die dokument betrokke te raak, is daar aspekte van dié vraagstuk waarby ‘n Afrikanerorganisasie soos die Orania Beweging ‘n wesenlike belang het. Die komplekse sosiaal-politieke verskynsel wat as “Apartheid” bekendstaan en teen die agtergrond waarvan die Belharbelydenis ontstaan het, hoef ook nie in besonderhede oorweeg te word nie aangesien die NG Kerk haar reeds duidelik daaroor uitgespreek het en die Orania Beweging ook geen begeerte of vooruitsig het om daarheen terug te probeer keer nie.
Hoewel die NG Kerk tereg nie ‘n Afrikanervolkskerk is of wil wees nie, is dit ons siening dat die verheffing van die Belhardokument tot ‘n belydenisskrif van die kerk die voortgesette kriminalisering van ons geskiedenis en bygevolg van die Afrikanervolk vandag, in die hand sal werk. Die selfvervreemding wat die toe-eiening van die dokument se liberaal individualistiese sienings van geregtigheid en versoening tot gevolg sal hê, sal Afrikaners se vermoë om op ‘n opbouende wyse by ‘n toekoms van onderlinge erkenning en gebalanseerde selfhandhawing binne breër Suid-Afrikaanse verband betrokke te wees, ernstig aan bande lê. Dit sal vergelyk met die NG Kerk se veroordeling van die Groot Trek gedurende die negentiende eeu toe die Kerk haar lidmate in hulle nood aan hulleself oorgelaat het.
Die Afrikaner hoef geen “uitverkore volk” te wees om van sy grootste kerk leiding te verwag, nie in die rigting van selfontbinding nie, maar in die rigting van ‘n diensbare en godvrugtige bestaan. Die buitenstydse beoordeling van ‘n vorige bedeling waarvan Afrikaners dekades gelede reeds vrywillig afskeid geneem het, aan die hand van ‘n wêreldbeskouing wat min of geen ruimte vir kulturele differensiasie laat, versterk die kragte van ontbinding en ondermyn die moontlikheid van regverdigbare selfbehoud. Die meeste Afrikaners voel dit intuïtief so aan en reageer tereg nie op die Belhardokument asof dit ‘n neutraal rasionele lig op menseverhoudinge werp nie, maar ervaar dit as deel van ‘n denkraam wat kwalik enige ruimte vir ons besonderse bestaan ooplaat. Daarin is hulle reg en ons wens van die Orania Beweging se kant dat die NG Kerk ‘n uitweg sal vind wat nie op polarisering tussen die kerkleiding en tallose lidmate sal uitloop nie.
3.
Hidro-breking vir skaliegas in die Karoo verteenwoordig ‘n omgewingsrisiko wat groter is as steenkoolontginning op die ou Transvaalse Hoëveld aangesien die ontginningsmetodes meer drasties is. Enigeen wat met die huidige Mpumalanga bekend is, besef dat dit tegelyk ‘n onvervangbare rol in Suid-Afrika se ontwikkeling gespeel het én ‘n onbekostigbare prys daarvoor op komende geslagte afgelaai het. Dieselfde sal gebeur as die ekologies uiters kwesbare Karoo aan meer skadelike ontginningsmetodes as wat op die Hoëveld gebruik is, uitgelewer word. Hoewel daar nog min bekend is oor die werklike vooruitsigte op skaliegas, kan mens tereg vrees dat grootskaalse energiebronne vir Suid-Afrikaanse en globale rolspelers onweerstaanbaar aantreklik sal wees. Hoe swaar plaaslike gemeenskappe se belang en omgewingsbewaring daarby sal weeg, sal dan ook afhang van die belanghebbendes se betrokkenheid. Nie net Orania nie, maar Afrikaners in die algemeen het ‘n historiese en emosionele verbintenis met die Karoo en behoort hulle teen onverantwoordelike skaliegasontginning te beywer.
Die belangrike punt waarop almal wat hidro-breking in die Karoo wil verhoed, kan ooreenkom, is dat dieselfde gebied op ‘n wêreldwye skaal van die beste geskik is vir die ontginning van hernubare son- en windenergie. Waar inverstering in die ontginning van fossielbrandstof tipies ‘n beperkte leeftyd het en ‘n spoor van vernietiging agterlaat omdat die bronne uitgeput raak, is die son en wind onuitputlike energiebronne wat op bewarende wyse en tot voordeel van plaaslike gemeenskappe ontgin kan word. Hierin wil die Orania Beweging sy stem voeg by talle ander rolspelers wat hulle ten gunste van ander alternatiewe as hidro-breking beywer en wil voorkom dat onomkeerbare skade aangerig word. Ons dink nie dat dit om dowe neute in onder meer Groot Brittanje, Duitsland, Nederland en sekere Amerikaanse state verbied is nie. Van dié lande het ‘n moratorium op ontginning geplaas om inligting daaroor in te win en die verbod daarop in tussen permanent gemaak
Strategiese fokus vir 2015
Teen die agtergrond van hierdie sake is dit duidelik dat die stand van sake vir Afrikaners – die volk-staat – ons tot ernstige kommer en toenemende betrokkenheid behoort te stem. Drie strategiese fokusarea’s moet gevolglik by die wat verlede jaar aangemeld is, gevoeg word.
Die eerste is dat ons mense, elkeen apart en saam waar dit kan, ons skeppende verbeelding moet inspan om ons toenemend van die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse ekonomie los te maak. Hoewel mens jou nie volledig daarvan kan vervreem nie, is dit duidelik dat die ekonomies-politieke eise en vooruitsigte vir die volgende tien tot vyftien jaar ons mense se bestaansruimte en lewensmiddele net verder gaan beperk. Namate die onafwendbare inkorting van sosiale besteding in werking tree en arm Suid-Afrikaners se lewensomstandighede verder verswak, sal die politieke druk op die regering toeneem en ‘n sondebok in die vorm van voorheen bevoordeeldes gesoek word. Ons moet daarvoor gereed wees. Konsentrasiepolitiek kom uiteraard hierby ter sprake en ekonomiese selfstandigheid in elke sin van die woord gaan toenemend noodsaaklik word. Selfwerksaamheid en onderlinge handel kan later twee faktore wees wat die verskil tussen oorlewing en ondergang maak.
Die tweede saak van strategiese belang is dat ons mense anderkant die uitgediende idioom van selfmiskenning moet tree. Dit is lankal tyd dat ons die instrumentele gebruik van begrippe soos skuld en versoening om die nuwe orde ten dienste te wees, van ons afwerp en ‘n nugtere, opbouende selfbevestiging ons eie maak. Dit klink amper soos die swart bewussynsbeweging om aan te voer dat ons nie langer die prooi durf wees van ander wat ons bewussyn met hulle inhoud probeer vul nie. Nie hulle beeld van ons bedoelings nie, maar ons eie kennis en insig daarin behoort die toon aan te gee by ons tuiskoms in ons eie geskiedenis. Natuurlik is alles wat deur ons voorgangers gedoen is nie maanskyn en rose nie – maar dit geld vir elke volk op aarde, waarom sou dit anders wees met ons?
Ons het wel alle rede om aan te voer dat ons Afrikaners uit ons foute leer en probeer om dit voortaan te vermy. Geen van die dié foute is in elk geval van so ‘n aard dat ons daardeur ons bestaansreg verbeur het nie, só werk die geskiedenis nou eenmaal nie. Dit beteken egter nie dat ons eiegeregtig en oordonderend hoef te wees nie of dat ons elke stommiteit wat al in ons naam gepleeg is, moet regverdig nie; dit beteken wel dat selfs ons selfkritiek met die selfvertoue eie aan iemand wat homself liefhet en nie haat nie, uitgespreek word. Liefde vir die self is immers part en deel van die Christelike liefdesgebod; so laat ons aan ons eie aard en aan die verskeidenheid wat eie aan Gods skepping is, reg geskied.
Derdens sal beide ons ekonomiese herposisionering én ons hernude selfbevestiging waarvan daar al soveel te sien is, ‘n nuwe fokus op ons jeug vereis. Wanneer die dinge waaroor ons nou praat volkome aan die orde kom, sal jongmense wat nou 18 is amper 30 wees en kinders van agt of tien sal omtrent twintig wees. Ons jong leiers sal groter verantwoordelikheid moet dra as wat die huidige geslag dalk moes doen en ons sal hulle daarvoor moet toerus. Orania en die vestiging van ‘n volwaardige tuistelike gemeenskap is geen avontuurkamp sonder einde nie, dit is ‘n lewenswyse wat dikwels prosaiese eise stel. Ons moet eet, aantrek en woon – behoeftes waaraan baie mense hulle hele lewe wy. Maar ons dra ook die hoë strewe na méér as blote voortbestaan. Dit vra meer van ons, maar dit beloon ons ook ryker as bloot materiële sukses.
Diegene wat reeds op Orania woon sowel as diegene wat die Orania-gedagte ondersteun, gaan in 2015 ‘n nuwe toekoms tegemoet. Baie van wat voorheen verwag is, is besig om in vervullig te gaan en die meeste daarvan maak dit vir die Afrikanervolk nie makliker nie, maar moeiliker. Ons het egter al groot uitdagings met moed en geloof tegemoetgegaan en ons kan dit weer doen. Kom ons maak seker dat ons later terugkyk op hierdie dae en bly sal wees dat ons die kanse wat ons gehad het, gebruik het om gereed te maak vir wat kom.
Met beste wense
Carel Boshoff
President van die Orania Beweging
by Orania Beweging | Jan 13, 2015 | Nuus |
Na verlede jaar se nasionale en provinsiale verkiesing het baie Suid-Afrikaners waarskynlik ‘n sug van verligting gegee omdat dinge weer na normaal kon terugkeer. Daardie verligting was egter van korte duur toe daar later in die jaar chaos in die parlement uitgebreek het en talle denkleiers begin voorspel het dat politieke onstabiliteit toenemend ‘n moontlikheid vir Suid-Afrika raak.
Suid-Afrikaners wat dus hoop dat politieke stryd vanjaar bietjie op die agtergrond geskuif gaan word en dat daar daadwerklik op die bou van Suid-Afrika se ekonomie en die bekamping van probleme soos misdaad, vaardigheidstekorte en die land se verkrummelende infrastruktuur gefokus sal word, gaan diep teleurgesteld wees. Vanjaar is die jaar voor nog ‘n verkiesing want ja Suid-Afrikaners gaan volgende jaar weer stembus toe.
Die vyfjaarlikse munisipale verkiesing vind volgende jaar plaas. Munisipale verkiesings word gekenwerk deur ‘n grondvlakmagstryd binne politieke partye. Waar mense jare gelede vir die saak op munisipale rade gedien het, ontvang munisipale raadslede in Suid-Afrika vandag groot bedrae geld om een of twee keer per maand raadsvergaderings by te woon. Raadslede se werk strek natuurlik wyer en moet veral fokus op die oplos van munisipale diensleweringsprobleme van gewone belastingbetalers, maar daar kom in die meeste gevalle baie min daarvan.
Om dus op ‘n munisipale raad te dien is baie grondvlaklede van politieke partye se droom. Die ANC is tans op ‘n afwaartse trajek en ons kan reeds aanvaar dat daar volgende jaar minder ANC-raadslede verkies gaan word. Die stryd binne ANC-takke gaan dus fel wees vir posisies op verkiesingslyste. ‘n Posisie wat deesdae in Suid-Afrika met belonings van duur motors, groot salarisse en selfs luukse huise en oorsese besoeke kom, is die van burgemeester. Die ANC wys burgemeesters sentralisties aan en daarom sal die stryd tussen verskillende faksies binne die ANC om meer van hul onderskeie lede as burgemeesters benoem te kry, ook toeneem.
Die groot nuweling in die Suid-Afrikaanse politiek is natuurlik die EFF van Julius Malema. Ons kan ook met gemak sê dat die EFF volgende jaar in ‘n groot aantal munisipale raadslede sal verkies. Ook die EFF, wat reeds tekens van interne stryd toon, sal vanjaar getoets word soos wat lede navore sal tree in die stryd om op munisipale lyste te kom.
Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se munisipaliteite word eenvoudig vrot bestuur. Hierdie munisipaliteite word ook bykans almal deur die ANC alleen of die ANC in koalisie met ander partye regeer. Vakansiegangers wat die afgelope tyd die Wes-Kaap besoek het sal kan getuig van die groterwordende kontras tussen munisipaliteite wat deur die ANC en munisipaliteite wat nie deur die ANC regeer word nie.
‘n Munisipale verkiesing gaan nie net oor die stryd binne politieke partye nie, maar ook oor gewone burgers se behoefte vir beter munisipale dienslewering. Kom ons hoop dat genoeg Suid-Afrikaners voor volgende jaar se verkiesing besef dat die ANC nie die antwoord vir hul diensleweringsbehoeftes is nie. Intussen sal ons almal vanjaar moet saamleef met die politiekery en interne magstryd waarmee ons nou al goed bekend is.
Gelukkig het ons in Orania ons eie Dorpsraad en verkies ons reeds sedert 2000 wanneer die res van Suid-Afrika aan munisipale verkiesings deelneem ons eie Orania Verteenwoordigende Raad. Orania en sy ondersteuners word egter steeds geraak deur dit wat om ons aangaan en daarom sal ons die politieke onstabiliteit van die volgende maande moet verreken.
by Orania Beweging | Jan 8, 2015 | Nuus |
Volgens verskeie ranglyste (gebaseer op Global Peace Index) is die veiligste en vreedsaamste lande ter wêreld in volgorde Ysland, Denemarke, Oostenryk, Nieu-Seeland, Switserland, Finland, Kanada, Japan en België. Op ander lyste word Swede, Singapoer, Slowenië en Tsjeggië bygevoeg en die volgorde verskil effens. Die soort ranglyste verander min oor tyd en dit is al jare dieselfde lande wat in die topgroep is. Alhoewel ook in veilige lande van tyd tot tyd verskriklike goed kan gebeur wat aandag trek, soos die Breivik-amoktog, is dit uitsonderings wat die stabiliteit en struktuur van die lande nie aantas nie en wat ten spyte, nie as gevolg van sulke lande se vreedsame aard plaasvind.
Vreedsame lande word gekenmerk deur lae misdaad en geweld en was ook baie lanklaas in oorloë gewikkel. Die vraag is hoekom sekere lande vreedsaam is en wat hulle gemeenskaplike kenmerke is. As ons na die genoemde lande kyk, val op dat hulle feitlik almal klein lande met ‘n betreklike klein bevolking is (uitsonderings op die reël is Japan en Kanada). Verder is hulle omtrent almal etnies grootliks homogeen of, indien hulle wel nie homogeen is nie, soos Switserland, België en Kanada, beskik hulle oor ‘n groot mate van federalisme wat vir elke taalgroep sy eie deelstate of Kantons bied. Singapoer is hier die uitsondering, wat uit 3 groot etniese groepe bestaan en ‘n ineen gevlegte wêreldstad is.
Verder is feitlik almal Westerse lande (sowel Europese lande asook lande wat deur Europeërs bevolk is, soos Kanada en Nieu-Seeland). Japan en Singapoer, beide Oosterse lande, is wel sterk beïnvloed deur die Anglo-Amerikaanse manier van regering en bestuur en het die Weste se voorbeeld nagevolg.
Daar is natuurlik ook die aspek van mentaliteit. Sekere volke is van nature meer aggressief en opsweepbaar as ander (al is die stelling vir sekere mense moeilik om te sluk). Die Skandinawiese lande het al vir meer as honderd jaar by geen oorlog betrokke geraak nie (alhoewel Noorweë, Denemarke en Finland beset is en slagoffers van Duitse of Russiese aggressie was), en Switserland was sedert sy stigting in die 16de eeu by geen konflik betrokke nie. Japan was eens aggressief-nasionalisties, maar het sedert die tweede Wêreldoorlog ‘n lae profiel op internasionale politieke terrein gehandhaaf en het eerder op sy ekonomiese vooruitgang gefokus.
Suid-Afrika is alles behalwe die bogenoemde: ‘n groot land (1.3 miljoen km²) met ’n groot bevolking (50 miljoen +), etnies uiters divers, met 4 verskillende rasgroepe asook talle etniese onderverdelings, 11 amptelike tale en talle ander, kleiner tale. Pleks van sterk federalistiese strukture, wat onder sulke omstandighede voor die hand liggend sou wees, word sentralisme en magskonsentrasie toegepas. Daar is niks wat samebinding (kohesie) bied nie, soos gedeelde ideale, sienings of ‘n gemeenskaplike geskiedenis nie. Geweld en misdaad is van die hoogste in die wêreld en verhoudings tussen die bevolkingsgroepe, ten spyte van individuele suksesverhale en pogings tot nasiebou, is uiters power. Of die land deur die NP, ANC, DA of wie ook al regeer word maak eintlik min verskil want die struktuur en samestelling van Suid-Afrika maak dat die land so geweldgeteisterd is. Dit wat volgens “social engineers” vrede verseker, soos groter gelykheid, gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem, ekonomiese groei en meer werksgeleenthede, meer kontak tussen verskillende groepe ens., kom juis vanself in klein, oorsigtelike en redelik homogene samelewings voor, sonder dat die staat dit moet forseer.
Die model van ‘n Afrikaner-volkstaat is op dié leus geskoei om ‘n vreedsame en suksesvolle staat te wees en wat reeds in die kleine in Orania suksesvol is: klein, kompak, etnies, godsdienstig en taalkundig homogeen, met ‘n verspreiding van mag en besluitneming en met geen begeerte om in te meng in sake wat buite ons beheer is.
Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.
by Orania Beweging | Des 19, 2014 | Nuus |
Eskom is tans weer die nuusmaker van die afgelope tyd. Eintlik is dit egter niks nuuts nie. Eskom-probleme kom al ‘n lang pad en sowat 3 jaar gelede het dit ook kop uitgesteek. Toe die beurtkrag egter verby was het mense gedink die probleem is nou sommer opgelos en het voortgegaan asof niks gebeur het nie. Eintlik moes meer mense die tekens van die tye reg gelees het en voorsiening gemaak het vir die dag wanneer Eskom heeltemal verbrokkel. Dis nie genoeg om kerse en gasbottels aan te hou vir noodgevalle nie. Dit is eerder nodig om jouself heeltemal onafhanklik te maak van Eskom. Danksy tegnologiese vooruitgang in die sonkragbedryf is dit moontlik om jou hele huishouding met alternatiewe energie te bedryf. Hier in Orania is ‘n voorbeeld van ‘n aardskip, ‘n huis wat totaal en al self-onderhoudend is: eie krag, eie water, eie riolering en eie groente wat binne die huis verbou word. Wanneer munisipale dienste verval, soos elders in die land, dan sal die Aardskip soos Noag se ark kan aangaan.
‘n Mens hoef egter nie so vêr te gaan soos om ‘n Aardskip te bou nie. Jy kan jou krag self opwek met sonpanele en solank begin om groente in jou erf te verbou. Dit sal ‘n aanpassing verg vir Afrikaners wat gewoond is aan die kitssamelewing, maar die kitssamelewing is nie net sleg vir die omgewing en langtermyn onvolhoubaar nie, dit is iets wat Westers is en in Afrika net in sekere geglobaliseerde groot stede sal voortbestaan.
Waar daar mense saamgetrek is wat dieselfde doelwitte nastrewe en dieselfde kultuur deel, is dit soveel makliker om oplossings te vind vir die tyd wanneer die staat net nie meer in praktyk bestaan nie. Kultuur, terloops, is nie net die “hoër funksies” soos musiek, literatuur, feeste ens nie, dit is die manier hoe sekere volke dinge doen. Dit het ook baie met die ekonomie te make.
Waar mense uit dieselfde kultuur saamgetrek is, is dit soveel makliker om funksies wat ‘n staat moet vervul, te privatiseer en as gemeenskap te bedryf. ‘n Eie klein sonkragsentrale vir Orania is moontlik. Voedselsekerheid en die uitruil van eie produkte moet bevorder word, want as daar nie meer krag is nie, word brandstof ook skaars (want dan word meer benodig vir turbines) en veral plattelandse plekke word nie meer uit die sentrums deur vragmotors met kos bedien nie.
Ook op die gebied van opleiding moet ons ons eie strukture skep. Afrikaners is, soos alle mense geneig om altyd eers die maklike paaie te beproef al is dit doodloopstrate. Vir lank is geglo dat Potchefstroom Universiteit ‘n uitkoms bied en ‘n Afrikaner-eiland is omdat dit ‘n Afrikaanse kampus is met sterk ondersteuning van gesaghebbende Afrikaners. Dieselfde is van Stellenbosch ook geglo,wat deur sy verankering in die Afrikaanse Wes-Kaap en sy pragmatisme beskerm sou word. In die totalitêre “transformasie”-ideologie van die regering, en veral sy kommunistiese minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, is daar egter nie ‘n bestaansreg vir instellings vir die minderheid nie, al is daar reeds 20 of meer universiteite wat Engels is.
Al wat oorbly is die stigting van ‘n private Afrikaanse universiteit (met ‘n Christelike etos) wat Solidariteit nou doen en waarvoor hulle lof en steun verdien. Al sal sommige meningsvormers dit verguis as isolasionisties en teenproduktief sal dit ‘n instelling word wat akademiese uitnemendheid bevorder en wie se studente gesog sal wees in die arbeidsmark. Ook ‘n ambagskool, wat tans in Orania gebou word, vul ‘n belangrike gaping want die staatsgedrewe ambagsopleiding deur middel van Setas werk nie.
Hoe gouer ons besef dat ons op ons eie is en nie op ‘n staat, al het ons voorouers dit opgebou, moet staatmaak nie, hoe beter. Ons moet ons ook nie laat mislei deur mooiklinkende praatjies van die regering dat ons “almal saam Suid-Afrika moet laat werk” wat gewoonlik op openbare vakansiedae en voor ‘n Afrikaner-gehoor geuiter word. Ons weet uit ondervinding hoe lyk daardie “samewerking”: ons betaal en die regering besluit hoe dit bestee word sonder om ons te vra.
Om jou eie instellings te skep is niks nuuts vir Afrikaners nie. Lank voor die staat in die besit van die Afrikaners was het Afrikaners hulle eie instellings geskep in ‘n omgewing wat onsimpatiek en Engels-individualisties ingesteld was. Ons kan vergeet om die regering te wil oorneem, selfs as junior-vennoot in ‘n breë koalisie. Ons kan ook vergeet om deur smeek en witvoetjie soek of deur onsself onmisbaar te wil maak iets van die regering te kry. Al wat ons kan doen is om weer ons eie instellings te skep, deur onsself en vir onsself.
Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.
Nuutste Opmerkings