fbpx

Zuma ANC JeugligaPresident Zuma se erkenning verlede week dat die ANC in die moeilikheid is, het heelwat mense verras. Niemand is verras oor die feit dat die ANC in die moeilikheid is nie, maar wel omdat Zuma bereid was om dit op ‘n openbare verhoog te erken.

Die ANC is besig om al hoe dieper in die moeilikheid te beland. Gedurende die eerste vyftien tot twintig jaar na 1994 kon die party in ‘n redelike mate aan die verwagtinge van sy ondersteuners voldoen. Suid-Afrika het na 1994 ‘n tyd van goeie ekonomiese groei en buitelandse beleggings beleef. Die staat se inkomste het vir jare skerp gestyg wat die toekenning van welsynstoelaes aan miljoene mense, die bou van huise, skole, hospitale en ander infrastruktuur moontlik gemaak het.

Die afgelope tyd het dit al hoe moeiliker begin raak. Suid-Afrika doen al hoe slegter op internasionale ranglyste wat lande volgens misdaad, korrupsie en ekonomiese omstandighede beoordeel. Dit gekoppel aan die talryke skandes en probleme met dienslewering en infrastruktuur soos die land se elektrisiteitsnetwerk, veroorsaak dat oorsese beleggers toenemend skepties is om in Suid-Afrika te belê. Die land se ekonomie sukkel om skaars teen 2% per jaar te groei en met ‘n skerp bevolkingsaanwas beteken dit dat die probleme van armoede en werkloosheid onder swart Suid-Afrikaners al hoe minder aangespreek kan word.

Die vakbond Numsa se aankondiging dat hulle ‘n linkse werkersparty op die been gaan bring sorg vir heelwat bekommernisse onder die leierskap van die ANC. Selfs al kry hierdie nuwe party net 4 tot 5% van die steun in ‘n nasionale verkiesing kan die ANC se steun tot net-net bo 50% afgeforseer word.

Die grootste fout wat Afrikaners egter kan maak is om te dink dat ‘n verswakte ANC goed vir ons is. Die vraag wat ons moet probeer beantwoord indien ons risiko’s vir ons eie voortbestaan wil identifiseer, is hoe die ANC sal optree indien hy 5 – 10% minder stemme moet kry. Gestel die ANC kry in die volgende nasionale verkiesing slegs 53% van die stemme, hoe sal die party se beleid verander?

‘n Hele paar ander sogenaamde bevrydingsbewegings in Afrika het dieselfde pad as die ANC gestap. Vir die eerste paar jaar is die party gewild en wen verkiesings met groot meerderhede. Dan begin korrupsie, swak ekonomiese groei en beleid wat oorsese beleggers verwilder, veroorsaak dat die party se ondersteuners onrustig raak. Nuwe, veral populistiese, partye kom tot stand en die regerende party se steun begin daal. Sodra sy steun naby aan 50% kom begin die party te radikaliseer, sondebokke uit te sonder en op hardhandige wyse op te tree. Kyk maar net wat in Kenia en Zimbabwe gebeur het.

Die uitdaging vir Afrikaners is om betyds te konsolideer, konsentreer en binne sterk instellings te organiseer voordat Suid-Afrika ook hierdie stadium bereik. Intussen moet ons nie te bly raak indien dit lyk of die ANC verswak nie. Die Afrikaner kan tans nie ‘n gekweste ANC-regering bekostig nie.