fbpx

“My kind, die valbyl het oor die kop van my volk geval”

– Tiaan Theron

“n Huis wat in homself verdeel is, kan nie staande bly nie.”

Dit is die jaar 1993, ek gaan sit in ons TV-kamer(dstv het nog nie bestaan nie) langs my Pa waar hy besig is om te kyk na die terugvoering en verslaggewing van die week se onderhandelings by kodesa….
Ek is 11 jaar oud en verstaan nie veel van die groot woorde wat die oom met die min hare sê nie. Ek hoor darem van wigte en teenwigte, dit maak nie sin nie, maar vir daai oom is dit blykbaar van groot waarde….
Pa verskil heftig en sug soms diep terwyl hy sy kop skud. Hy het die manier om terug te argumenteer, al kan die mense hom nie hoor nie.
Ek verwonder my in sy teleurstelling en frustrasie al verstaan ek nog nie lekker waaroor dit gaan nie, vir my lyk dinge eintlik glad nie so sleg nie, ek het dan n nuwe “Backpaddel” gister gekry….
Ek moet erken ek was as kind nogal lief daarvoor om na grootmense se geselskap te luister.
As ons op die dorp tussen ander mense is, dan verskil Pa in standpunt met baie ander belangerike ooms. Die manne wat “voorvat” noem vir Pa n “verkrampte” en beskuldig hom dat hy oningelig is. Party lag hom en die bietjie ondersteuners wat hy het, openlik uit en ek sien elke keer as ons in die veld met die bakkie ry en gesels, hoe daai lag en spot se wonde dieper oopkeep…..
Vandag is Pa oud en ja oor baie dinge is hy verbitterd, soos baie van sy maatjies van ouds. Ek verstaan nou beter waaroor hy so heftig verskil het en wat hy bedoel het toe hy een aand na nog n TV verslag met die oom met die min hare, vir my sê: “My kind, die valbyl het oor die kop van my volk geval”

Intussen het ek baie van daai ooms wat jare terug heftig met Pa verskil het, sien nader staan en met hom sien saamstem en amper as ware hul hand so versigtig na syne begin uitsteek….maar Pa en sy maaitjies sukkel met die handevat ding. Daai oopwonde wat gesny is met lag en spot en belaglik maak en beskuldigings van verkramptheid, gaan nie vanself gesond raak nie. Hulle het spesiale behandeling nodig, hulle kort die salf van erkening en die pleisters van jammer sê….
Daai wonde het by baie van Pa se maatjies ontsteek en septies geraak en die kanse van genesing is maar skraal, maar ek bly hoop…

Want n huis wat in homself verdeel is, kan nie staande bly nie, en ek en my kinders woon nou in daai vervallende huis…..

Of daai valbyl wat in 1992 geval het ons volk se dood beteken het of nie, is in die hande van ons wat nou leef, ek weier om op te gee!

Sterkstaan Boerevolk……. Sterkstaan!

(Die van julle wat die oom met die min hare ken, stuur vir hom groete en sê vir hom sy wigte en teenwigte werk nie.😉)

Orania het die morele hoë grond: Deur Victor Correia

Die verkiesing is verby. Die mense van Orania is ietwat verlig. Rondom elke verkiesing, probeer opportunistiese verslaggewers om een of ander storie op te maak oor Orania. Hul soek nie eintlik die waarheid nie, maar hou van ʼn lekker soetsappige storie wat kykers vir ʼn oomblik kan laat vergeet van die horibale toestand waarin Suid-Afrika verkeer. Daar is darem iets wat egter is as ʼn staat wat besig is om te misluk, vrot is van korrupsie en waarvan die moordsyfer sommige mislukte state s’n oortref.
Dit was juis in aanloop tot die 2019 verkiesing dat ʼn redelik onverteenwoordigende groep van eNCA, ondersoek wou instel waarom Orania nie meer verteenwoordigend van Suid-Afrika se diversiteit is nie. Die doel van hul besoek was eenvoudig om Orania se bestaansreg weereens onder verdenking te bring.
Dit kan afgelei word uit ʼn peiling wat op hul webblad geplaas is, waarvan die uitslae later vinnig verwyder is omdat dit nie hul agenda gepas het nie. In kort het eNCA se eie lesers in ʼn groot meerderheid gesê: “Los hierdie gemeenskap uit, hul het niemand skade gedoen nie”.
In ʼn ietwat sombere afskeidsartikel (want hul kon toe nie vir die hele wêreld bewys Orania is rassiste nie) het eNCA ʼn wel ʼn berig geplaas met die opskrif “The ‘immoral people of Orania’”. Dit het my getref hierdie berig oor Orania eintlik oorweging positief was, met tye selfs ontnugterend vir die naïewe besoekers. Selfs so positief dat die verslaggewer, dalk op ʼn stadium gewonder het of hy sy werk sal behou as hy ʼn onkritiese artikel oor Orania skryf. Daarom moes hy tog op die ou end iets negatiefs vind om die wêreld (eintlik liberale pers) se vooroordele oor Orania te bevestig. Van ware joernalistiek was hier nie veel sprake nie. Uiteindelik is die informasie wat hul agenda gepas het opgeblaas, en die res was agtergrond.
Die sydelingse insident, wat nie erg genoeg was om ʼn substansiële klag mee te bring nie, word toe die hoofstorie. Gelukkig kon eNCA se nuusspan op grond van ʼn geïsoleerde insident waar ʼn verbyganger glo hulle ʼn paar woorde toegesnou het, afgelei het dat al die mense van Orania steeds ʼn immorele gemeenskap is. Boonop, om alles nog erger te maak word, beweer dat hulle hul laaste aand bevrees in die “Oewer Hotel” geslaap het, wat die wat Orania ken, sal weet dat dit hoogs onwaarskynlik was.
Eerstens moet daarop gewys word dat eNCA uitgaan van ʼn verskraalde individualistiese vertrekpunt, wat in werklikheid geen ruimte laat vir die bestaan van minderhede soos die Afrikaner nie. Tweedens is die posisie wat Orania in die nuwe Suid-Afrika inneem wel geregverdig, selfs moreel. Nader beskou, blyk dit eerder dat diegene wat die gemeenskap met dwang wil integreer in ʼn mislukkende Suid-Afrika immoreel is, en dat Orania as ʼn gemeenskap eintlik die morele hoë grond besit in vandag se politiek debat. Dit sal hul onder geen omstandighede wil erken nie, maar hier volg ‘n moontlike verduideliking.
Die ideologie van nuwe Suid-Afrikanisme
Die vraag of ʼn gemeenskap soos Orania bestaansreg in die nuwe Suid-Afrika behoort te hê, is ʼn eintlik ʼn vreemde vraag. Hier is ʼn gemeenskap wat werklik bestaan, niemand skade aan gedoen het nie en boonop met bitter min hulpbronne ʼn funksionerende dorp opgerig het. Orania behoort eintlik hiervoor erkenning te kry, maar die realiteit (bestaan van Orania) word hier beoordeel aan die hand van ʼn uitgediende idee (dat Suid-Afrika uit ʼn veelheid van individue bestaan). Dit bied in werklikheid nie voldoende beskerming aan gemeenskappe nie. Suid-Afrika bestaan in werklikheid nie uit ʼn veelheid van individue nie, maar uit ʼn veelheid van gemeenskappe. Die mens is nie alleenlik individu nie, maar ewe fundamenteel ʼn gemeenskapswese.
Orania gee aan die werklike stand van sake gestalte en wys dat die idee van ʼn reënboognasie nie veronderstel dat elke duimbreed van Suid-Afrika presies dieselfde hoef te lyk nie. Die idee dat die reënboognasie idee veronderstel dat die land se rassedemografie op elke denkbare deel van Suid-Afrika presies so moet uitsien, is eintlik ʼn dekmantel vir die ANC se begeerte vir totale oorheersing. Want indien dit wel so gebeur, sal daar geen enkele duimbreed van Suid-Afrika wees waar hul nie die volle sê het nie.
Die idee van ʼn reënboognasie wat Orania nastreef veronderstel eerder dat daar binne die reënboog ruimte moet wees vir verskillende gemeenskappe om hul verskeidenheid uit te leef. Dit moet liefs op ʼn natuurlike wyse gebeur, dat die land se vorm gevorm word deur mense op grondvlak se keuses. Orania wil in kort vir diegene vir wie hul Christelike oortuigings, Afrikanerkultuur en toekoms van hul kinders belangrik is, ʼn plek gee om hierdie keuses te maak.
Die immoraliteit waarvan eNCA melding maak het ten diepste te doen met hul oortuiging dat Orania ten diepste ʼn rassistiese gemeenskap is, terwyl die leierskap van Orania duidelik gestel het dat Orania ʼn kultuurgemeenskap is. Dit was wel nie wat die nuuskanaal wou hoor nie. Dus speel hul tot vervelens toe die rassekaart wat spruit uit hul eie vertolking van die reënboognasie. Skynbaar is hul hoogs ontsteld en seergemaak dat die demografiese profiel van Suid-Afrika nie eenvoudig soos ʼn rasseformule op elke denkbare vierkant van die grondgebied van Suid-Afrika afgedwing kan word nie. En laat hul maar ontsteld wees, en laat Lesufi maar sy speelgoed uit die kot gooi. Dit is nie hoe dinge in die werklike lewe gebeur nie. Politici kan nie besluit met wie mense op grondvlak mag assosieer of nie. Dat daar byvoorbeeld ʼn oorwegend bruin gemeenskap op die Kaapse vlak is, of areas in Natal is waar Indiërs in die meerderheid is, is nie iets wat nuus maak nie.
Die nuuskanaal se berig oor Orania verklap verder ʼn statistiese vertrekpunt. Hul wil klaarblyklik hê dat die staat een of ander tyd, as daar genoeg publieke druk is, moet ingryp en Orania binne die res van Suid-Afrika met dwang moet inlyf. Dit sou natuurlik uiters onverdraagsaam wees en as ʼn mens die eNCA se eie stoute woorde wil gebruik hoogs “immoreel”. Terwyl dit internasionaal hoog aangeprys word om minderhede te beskerm, word minderheidsregte in Suid-Afrika blatant ignoreer. ʼn Duidelike bewys hiervan is die feit dat plaasmoorde steeds nie as ʼn prioriteitsmisdaad beskou word nie.
Uiteindelik is dit waarskynlik nie vergesog om te sê dat die arme verslaggewers eintlik nie anders kon as om ʼn negatiewe berig oor Orania te skryf nie. Dit het duidelik geblyk uit die boodskap uit hoofkantoor waar die betrokke persoon in totale onkunde gestel het dat Orania die plek is “waar swart mense net werk kan kry as jy ʼn tuinwerker of bediende is”. Sjoe, ek het nie eers gedink dat die pers die bal so ver kan mis slaan nie. Trouens het hulle hierdie bal heeltemal gemis. Met sulke wanpersepsies oor Orania, is dit dalk net weer ʼn keer nodig om Orania se posisie uiteen te sit. Vir diegene wat eintlik nie geweet het nie, is dit wat volg ʼn uiteensetting van die moraliteit van Orania se vertrekpunt.
My eerlike mening is dat die nuusberig eintlik ʼn ander doel gehad het. Die raaiselagtige gebeurtenis dat ʼn gemeenskap wat nie eens 2000 inwoners het nie soveel aandag geniet, wys eerder op ʼn gebrek aan werklik nuuswaardige gebeurtenisse elders in Suid-Afrika. Dit kan m.i. eerder as ʼn desperate poging om die aandag van die vele mislukkings in die res van Suid-Afrika af te lei, beskou word.
Die moraliteit van Orania se standpunt
Orania het vandag die morele hoë grond. Die gemeenskap het hul grond op ʼn wettige wyse bekom, dit met hulle eie arbeid opgebou en bedryf hul sake op ʼn ekonomies volhoubare wyse, terwyl hul ook die belange van die omgewing in ag neem. Buiten die ekonomiese volhoubaarheid, word daar ook baie maatskaplike hulp verskaf. Die werkloosheid in Orania is byna niksseggend.
Verder het Orania histories gesproke ʼn skoon rekord. Hul het geen ander gemeenskap enige onreg aangedoen in die oorspronklike grondtransaksie of deur hul arbeid teen ʼn lae koste uit te buit nie. Hiermee saam betaal Orania se inwoners dubbele belasting. Elke inwoner van Orania betaal belasting aan SARS, maar die dorpsraad lewer al die dienste wat ʼn munisipaliteit gewoonlik sal lewer met addisionele fooie wat van Oraniërs gehef word. Hulle doen dit wel baie meer effektief as wat ʼn mens in meeste dele van Suid-Afrika sien. Die dorp skep verder ʼn goeie indruk. Dit is skoon en netjies. Die inwoners voel buitendien veilig en is volgens ʼn 2019 verslag van Helpende Hand gelukkig, ten spyte van laer as gemiddelde inkomste van die inwoners.
Die dorp is eintlik ʼn reusagtige suksesverhaal, veral teen die agtergrond van Suid-Afrika wat vandag as ʼn mislukkende staat beskou kan word. Tans is Suid-Afrika 88ste van 174 lande op die Fragile State Index, en beweeg steeds teen ʼn konstante tempo by die ranglys op. Hoe hoër op jy op hierdie lys is, hoe groter word jou risiko geskat. Suid-Afrika word volgens hierdie indeks as toenemend meer onstabiel as lande soos Botswana en Namibië beskou en val tans in die kategorie “waarskuwing”.

In die lig van die bogenoemde gegewens, sou die verantwoordelik ding eerder wees om meer aandag te bestee Suid-Afrika se spoedige agteruitgang. Dit sou natuurlik minder sensasioneel wees, veral voor ʼn belangrike verkiesing wat die ANC graag wou wen. Daar is wel ʼn ander rede waarom Orania vandag soveel aandag trek.
Terwyl die internasionale gemeenskap vir Suid-Afrika sê: “pasop” en jong mense uit die land vlug bied Orania vandag eintlik hoop. Orania het ʼn gemiddelde groeikoers van 10% vir die afgelope 5 jaar gehandhaaf. Vir diegene wat nie wil immigreer nie of dalk nie kan nie, word Orania ‘n alternatief vir menigte Afrikaners. Orania se sukses is eintlik ʼn groot verleentheid vir vele munisipaliteite wat vandag kniediep in die skuld is veral vir diegene wat meen dat Afrikaners eintlik net diewe is en geen bestaansreg in Afrika het nie. Die dorp is vandag ʼn bewys dat Afrikaners sonder om ander mense se uit te buit of hul grond te steel ʼn stad kan bou. Orania is nie skuldig aan een van die twee klagtes nie. Hul het niemand se grond gesteel nie en geen ander gemeenskap se arbeid uitgebuit nie.
Die enigste kaart wat die linkse media speel en waarmee hul keer op keer Orania se bestaansreg probeer bevraagteken is die rassekaart, hoewel daar keer op keer gestel is dat Orania ʼn kultuurgemeenskap is. Die linkse media se probleem is dat indien hul nie Orania van rassisme kan beskuldig nie, hul eintlik geen ander opsie het as om Orania se bestaansreg te aanvaar nie. Dat Orania eenvoudig ʼn kultuurgemeenskap is, wat ʼn gemeenskaplike geloof, erfenis en belewenis van Afrikanerskap met mekaar deel is vir hul net te moeilik om te aanvaar, veral as ʼn mens graag nog na 1994 na Suid-Afrika met ʼn rassebril wil kyk.
Daar word nie van die bruin mense in Kaap verwag om wit mense daarin te integreer nie, of van die swart mense in Soweto om meer wit mense daar toe te laat nie. Mense assosieer natuurlik met wie hul graag wil assosieer. Die tipe pogings spruit eerder uit ʼn ideologies gedrewe en ongrondwetlike idee (Sien DKD hofsaak) dat die land se demografie presies dieselfde moet lyk om elke hoek en draai. Dit is die Lesufi’s van ons tyd wat met dwang rasformules wil afdwing op gemeenskappe. Hy wil van sy gesagsposisie af vir mense op grondvlak sê met na watter skole hulle moet gaan, met wie hulle wil vriende maak en wie weet wat nog als.
In werklikheid sien dinge anders uit. Mense moet vry wees om te assosieer met wie hulle wil. Die punt is dat Orania eintlik vandag die morele hoë grond besit. As Christelik-Afrikaanse gemeenskap het hul die volle reg om hul Godgegewe roeping na te streef. Hierdie Godgegewe reg word vandag nog in die grondwet gewaarborg, maar sou selfs met die afwesigheid van so artikel moeilik wees om te omseil.
Ja, selfs indien die reg tot selfbeskikking nie in die grondwet gestaan het nie, sal ʼn mens ʼn baie sterker saak as ras moet uitmaak om ʼn gemeenskap wat van niemand gesteel het en die dorp met eie arbeid opgebou het, se bestaansreg op te hef nie. Dit is ook eNCA se groot fout. Hul dink dat Orania gaan ophou bestaan as die staat ingryp. Nee, inteendeel Orania bestaan reeds, het die volle reg om te bestaan en se bestaan is self noodsaaklik in die lig van die onsekerheid van die Afrikanerminderheid se toekoms in Suid-Afrika.
Hoe sterker Orania groei, hoe moeiliker word dit om iets teen Orania se bestaan te doen. Hoewel Orania wel die morele hoë grond het, is daar nog baie werk wat voorlê.
Victor Correia

Idealisme

Om mieliepap te maak, is op die oog af nie moeilik nie; net drie bestanddele: water, sout en mieliemeel. En tog is alle mieliepap nie lekker nie. Klonterigheid (die beginnersprobleem) buite rekening gelaat, is daar eintlik net een ding wat verkeerd kan wees en dis die sout – te min of te veel. Of dit slappap, stywepap of krummelpap is en of dit nou perfek lyk waar dit daar staan en stoom, te veel of te min sout kan tot teleurstelling lei.

Nou vra iemand my – laat ek hom maar ’n wetenskaplike noem – hoe mens weet as jou pap te veel sout in het. En hy vra dit nie soos een wat wil weet nie, hy vra soos een wat wil sê, dus luister ek. Hy sê: jy proe dit … hy bedoel as jy die sout kan proe, is dit te veel. Ek vra toe of sy reël nie ’n bietjie subjektief is nie en hy sê: ja natuurlik, maar ’n mens se mieliepapsmaak ís ’n subjektiewe saak. Hy het onlangs vir ’n week by mense gebly wat te veel sout in hulle pap gooi en wat dit so ongemaklik maak, is dat hulle dit nie proe nie.

Daarmee het hy kennelik ’n paar groot lewensvrae aangesny, veral as mens geweet het dat dit sy skoonfamilie is by wie hy gekuier het. Maar verhoudingsvrae en relatiwiteit daar gelaat, is die punt waarop ek afstuur die volgende: mens kan sout nie juis as die “geheime bestanddeel” van mieliepap beskryf nie, maar tog is daar ’n geheimenis in die gebruik daarvan opgesluit.

Om onder die opskrif van Idealisme met ’n mieliepapstorie te begin, skep sekerlik die verwagting dat daar ’n eenvoudige en onteenseglike toepassing sal volg, ’n soort lessie van die storie. “Sout is goed en selfs noodsaaklik, maar nie te veel op ’n slag nie – en so is dit met idealisme ook …”

Dit is nie waarop ek afstuur nie, hoewel dit seker ’n belangrike aanknopingspunt bevat. ’n Punt wat vooruit verreken moet word as mens, soos ek dit verderaan sal doen, ’n pleidooi vir idealisme wil lewer. Daar is tog soveel praktiese werklikhede wat nie geïgnoreer kan word nie en almal weet dat die soort dromery wat voeling met die werklikheid verloor, nie ver kom as dit in werking gestel word nie.

My toepassing van die storie is eerder dit, dat daar in die suksesvolle mengsel van idealisme en werklikheidsbesef ook ’n geheimenis skuil, iets wat nie in resepte en formules opgesluit lê nie, maar waaroor ons onder moeilike omstandighede dieper behoort te dink. “Moeilike omstandighede” – en  die meeste mense sal saamstem dat Afrikaners hulle tans in moeilike omstandighede bevind – is eintlik net ’n ander manier om na ongunstige en onwenslike werklikhede te verwys.

Enige mens met ’n sin vir selfstandigheid, of dit nou polities, ekonomies, emosioneel of andersins is, voel soms deur sekere werklikhede vasgekeer en neem hom of haar voor om dit te verander, al is dit die laaste ding wat hulle doen! Soms vang mense in sulke tye dwaashede aan, soms styg hulle tot nuwe hoogtes of kondig hulle planne die begin van iets nuuts en groots aan. Maar waar lê die verskil tussen die een en die ander, tussen die een wat onder moeilike omstandighede ondergaan en die een wat onder moeilike omstandighede nuwe hoogtes bereik?

Dit is duidelik ’n kwessie van verandering én werklikheid – nie nét verandering nie en nie nét die behoud van bestaande werklikhede nie, want aan beide kan mens ondergaan terwyl ’n goeie balans tussen veranderingswil en werklikheidsbesef die sleutel tot sukses hou. Maar hoe vind mens dié goeie balans?

Daar is geen resep vir goeie oordeel en gesonde verstand nie, en tog vaar party mense daarmee beter as ander en vaar dieselfde mense partykeer beter as ander. Ek is seker dat enigeen wat van ander se suksesse en mislukking probeer leer, iets daaruit sal wys word. Daarom dat gevallestudies in sommige vakke tot op die hoogste vlak so ’n belangrike plek in die leerplanne inneem. Voordat ek my egter op ’n waardevolle bron uit die tradisie beroep, wil ek ’n eenvoudige definisie gee van wat ek met idealisme bedoel – dalk so eenvoudig dat dit kon gebly het, maar ek dink tog dat dit iets bevat wat ons maklik en tot ons nadeel uit die oog verloor.

Wat ek oor idealisme te sê het, sê alreeds ook iets oor die mens en hoe ons die mens kan of moet beskou. Dit is dat, vanuit menslike hoek, die werklikheid aan die een kant altyd alreeds gegewe is, maar aan die ander kant ook altyd alreeds ’n veranderlike en veranderbare gegewe is. Dit mag nou baie filosofies klink, maar ons ervaar dit elke dag: daar staan as’t ware elke oggend ’n werklikheid vir ons klaar, een wat om sy eie redes en “van binne” kan verander (dink maar aan die weer), maar ook deur my – meestal nie alleen nie – verander word (dink maar aan die bouperseel waar ek dalk my brood verdien).

Fokus ons nou op die deel van die werklikheid wat ek vandag (of vanjaar, of gedurende my lewe) gaan verander, onstaan die vraag: Hoe en aan die hand waarvan gaan ek dit verander? Aan die hand van niks anders nie as ’n idee, ’n denkbeeld van hoe die werklikheid vir my of vir ons beter kan word as wat dit tans is. Só beskou is idealisme niks anders nie as die oortuiging dat idees aan ons werklikheid betekenis gee en aan ons verandering daarvan rigting gee.

Hoewel hierdie oortuiging oordryf kan word en ’n mens dalk jou aandeel aan of die moontlikhede van ’n nuwe werklikheid kan oorskat, is ek van mening dat ons mense vandag eerder die teenoorgestelde risiko loop. Ons loop die gevaar om die rol wat ons elkeen apart, maar veral saam kan speel in die daarstelling van ’n beter werklikheid as die een wat ons ontvang het, te onderskat. Ons Afrikaners in Suid-Afrika berus te maklik, pas te maklik aan by omstandighede wat ons lankal weet ons nie behoort te aanvaar nie. Ons loop die risiko om ons idealisme te verloor.

Dit help egter nie om bloot ’n beroep op meer idealisme te doen, maar geen rigtingwysers te gee vir die wat en die hoe daarvan nie. Om by die hoe te begin, gaan dit oor die verskil tussen mislukking en sukses, want selfs ’n goeie plan wat verkeerd aangepak word, stuur op mislukking af terwyl ’n ou konserwatiewe spreekwoord lui “moenie dat die perfekte tussen jou en die beste staan nie”. Die beste raad waarvan ek weet as mens ’n goeie idealis wil wees, sluit by die klassieke deugde wat deur skrywers soos Jozef Pieper en Alistair MacIntyre vir ons era toepaslik gemaak is.

Ek noem dit maar, want om aan hierdie ontdekking – só word dit beskryf – reg te laat geskied, kan ’n lewenstaak wees. En as ek die vier kardinale deugde (weer) noem, sal dit onmiddellik duidelik wees dat elkeen op ’n besondere manier sal help om ons idealisme op vrugbare weë te lei.

  • Die moeder van die deug is verstandigheid, daardeur word nie net ons handelinge nie, maar ook ons vertolking van die ander deugde gelei.
  • Die tweede deug is dapperheid waarsonder geen onderneming wat die moeite werd is, aangepak kan word nie; daarsonder staar ons ons net teen die struikelblokke wat die gegewe werklikheid opwerp, vas.
  • Die derde deug is matigheid waarsonder ons gevaar loop om ons eie denkkrag of doenkrag te oorskat; om planne te bedink asof ons gode is en nie mense nie.
  • Die vierde deug is geregtigheid waarsonder ons verhouding met ander sal skeefloop omdat die tydelike voordeel van selfbegunstiging ten koste van ander vir ons as mense so ’n onweerstaanbare versoeking verteenwoordig.

Die Afrikanervryheidstigting het 30 jaar gelede as ’n ideebeweging ontstaan en ten diepste is dit juis wat die Orania Beweging vandag nog is: ’n uitdrukking van idealisme. Die wat van ons idealisme is kort en klaar: vryheid in ’n eie gebied onder ’n eie owerheid en met eie arbeid verwerf. Daaraan toets ons elke gegewe werklikheid en verander ons dit planmatig en na ons vermoë sodat elkeen wat hiermee gemoeid was eendag sal sê “my lewe was betekenisvol”.

Die geskiedenis van ons organisasie

Deur Sebastiaan Biehl

Toe Orania in 1991 gekoop is, was dit die eerste praktiese stap in die verwesenliking van ‘n ideaal wat al vir meer as 20 jaar bedink is, naamlik ‘n eie gebied oftewel volkstaat vir die Afrikaners.

Eerste versigtige tree in rigting volkstaat (1960’s en 1970’s)

Daar is geen duidelike datum om te bepaal wanneer die idee van ‘n Afrikaner-volkstaat die eerste keer genoem is nie. Dit het wel ontstaan binne die dampkringe van die Suid-Afrikaanse Buro van Rasse-Aangeleenthede (SABRA), wat in 1948 gestig is en territoriale skeiding op grond van rasse en volkere gesteun het en navorsing daar rondom gedoen het. Meeste latere voordenkers en voorvatters van die volkstaat-idee was lede van SABRA. Dr Chris Jooste, prominente lid en later direkteur van SABRA van 1968 tot 1982, was een van die eerstes wat behalwe vir tuislande vir die verskillende swart volke ook die moontlikheid van ‘n volkstaat vir blankes (wat destyds as ‘n volk behandel is) teenoor eerste minister dr Verwoerd, wat SABRA gesteun het, genoem het. Al die aandag was egter op die ontwikkeling van die verskillende swart tuislande (selfs ‘n bruin en Indiërtuisland is bespreek) en Suid-Afrika was sonder die tuislande by implikasie die “blankes se land”, met die Afrikaner as die prominente deel.

In die tyd van eerste minister BJ Vorster, waar die geweldige swart bevolkingstoename en die groeiende onrus sekere mense laat wonder het oor die volhoubaarheid van “aparte ontwikkeling”, is ‘n “blanke tuisland” reeds in die vroeë 1970’s as ‘n alternatief genoem indien die tuislandbeleid sou misluk, deur niemand minder nie as dr Gerrit Viljoen, SABRA-lid, voorste akademikus en later minister onder PW Botha. SABRA en veral dr Jooste het die idee in die laat 1970’s meer openlik verkondig en daar is in 1977 met ‘n memorandum oor “Projek Oranje” in-diepte navorsing oor die moontlikheid van blanke groeipunte bekend gestel. In sekere kerngedeeltes van Suid-Afrika, onder andere in die gebied waar Orania vandag geleë is, sou blankes gekonsentreerd vestig ten einde ʼn soort hartland te vorm. Pleks van blankes is later toenemend van Afrikaners gepraat.

Die breuk met die regering, eerste praktiese stappe en die stigting van AVSTIG (1980’s)

In 1980 is die eerste organisasie wat die idee van “Projek Oranje” in praktyk wou uitvoer, die Vereniging van Oranjewerkers (VOW), gestig. Baie van hulle beginsels het ooreengestem met die van die latere Afrikaner Vryheidstigting. Alhoewel VOW nog vaag was oor die gebied en nie ‘n Afrikanerstaat van Suid-Afrika wou afskei nie, het hulle wel die idee van konsentrasie in sekere demografies gunstige kerngebiede, soos deur Projek Oranje voorgestel, nagestreef. Hulle het ook die eerste keer volkseie arbeid as voorvereiste verkondig en in verskeie dorpe binne die aangewese gebiede (soos Morgenzon en Philippolis) toegepas. Dr Jooste en ander uit SABRA was ook leiers binne VOW. Hy, prof Carel Boshoff en ander het toe al gepleit vir ‘n tuisland in die yl bevolkte noordwestelike Kaapland en dele van die Oranje-Vrystaat, maar binne die VOW was die meeste lede aanhangers van ‘n konsentrasie in die Oos-Transvaal, waar Afrikaners reeds groot getalle gehad het, maar nog steeds ‘n minderheid was en nooit die getalleresies sou kon wen nie. Boonop was dit ‘n ekonomies sterk ontwikkelde en daarom ook sterk geïntegreerde gebied.

Die tuislandbeleid het in die 1980’s sy straalkrag verloor en meer en meer, met korrupte en onbekwame tuislandleiers en – administrasie, ‘n verleentheid geword. Terwyl dr Verwoerd oortuig was van die werkbaarheid en regverdigbaarheid van tuislande en mnr Vorster Verwoerd se beleid ten minste uiterlik voortgesit het, het mnr Botha na alle aanduidings nie meer werklik daaraan geglo nie.

Daar was geen regeringsteun vir dit wat VOW verkondig en gedoen het nie en min steun van Afrikaners op grondvlak, selfs nie in die aangewese gebiede nie. Trouens, dit was in daardie tyd, die vroeë 1980’s, waar daar ‘n breuk was tussen SABRA (en verwante organisasies) wat vir territoriale selfbeskikking gestaan het, en die NP-regering onder PW Botha, wat meer en meer in die rigting van een onverdeelde Suid-Afrika gewerk het (veral met die 1984 grondwet). Prof Boshoff, destyds voorsitter van die Afrikaner Broederbond en van SABRA (1972-2002) en ook voorsitter van die nuutgestigte AfrikanerVolkswag, was een van diegene wat uit die gevestigde orde na die politieke woestyn beweeg het om nie sy oortuigings en ideale prys te gee nie. SABRA was afhanklik van regeringsbefondsing en dit is gestaak, omdat hulle toenemend in opposisie tot die NP-regering was en die 1984 grondwet, wat afstand gedoen het van die uiteindelike doel van territoriale opdeling, verwerp het. SABRA moes op eie fondswerwing staatmaak.

1984 was ‘n beslissende jaar, want SABRA en die NP-regering was nie meer deel van dieselfde kring nie. Wat vroeër ten minste implisiete regeringsbeleid was, het nou vir die regering ‘n struikelblok geraak. Dit was die tyd waar Afrikaners op talle vlakke geskeur het, polities, godsdienstig, op onderwys- en kultuurgebied. SABRA was egter ‘n dinkskrum, nie ‘n massabeweging wat populêre steun kon monster nie. Dit was daarom dat die Afrikaner Volkswag in 1984 gestig is, om volksgesinde Afrikaners op die gebied van hulle kultuur en veral rondom die 150’ste herdenking van die Groot Trek te verenig. “Op trek na ons eie” was die leuse en die boodskap was dat die herdenking nie net oor die verlede gaan nie, maar dat die trek van die Voortrekkers na vryheid en soeke na ‘n eie staat in die binneland in die verlede onder die huidige omstandighede die trek na ‘n eie Afrikanertuisland sou wees. Prof Boshoff is tot voorsitter van die Volkswag verkies. Nie almal binne Volkswag was noodwendig volkstaters nie, maar die sentiment van die eie toekoms en die afkeur vir die rigting van die regering het sterk geloop. Dit was ook in daardie tyd waar talle publikasies uit die kringe van VOW, SABRA en Volkswag, wat ‘n eie gebied of tuisland bepleit het, die lig gesien het.

Tussen 1986 en 1988 het talle herdenkingsgeleenthede plaasgevind, met die hoogtepunt by Donkerhoek naby Pretoria op 16 Desember 1988, waar volksgesinde Afrikaners saamgesnoer is en daar ‘n gevoel van ‘n lotsbestemming en ‘n nuwe strewe na ‘n groot ideaal sonder die verbruikte NP was. Die emosionele opwelling van die Groot Trek 150 herdenking moes egter nou gebruik word vir ʼn doel. Die mobilisering van groot getalle Afrikaners rondom die Groot Trek het direk gelei tot die stigting van die Afrikaner Vryheidstigting (AVSTIG) in Maart 1988, ook onder leiding van prof Carel en mev Anna Boshoff. Terwyl SABRA veral teoreties van aard was, en Volkswag kultuur-polities, het AVSTIG die onomwonde doel nagestreef om die volkstaat werklikheid te laat word deur ontwikkeling van ‘n yl bevolkte gebied in die Noordwes-Kaap. AVSTIG was egter vir eers ʼn avantgarde-organisasie met enkele, maar baie sterk volkstaatgesinde lede, en Volkswag was die “volksorganisasie” wie se lede die volkstaatideaal in beginsel gesteun het. Later is met “Spansaam” ʼn oorgangsreëling getref, waar ʼn lid van een organisasie lid van al drie (SABRA, Volkswag, AVSTIG) geword het, met toenemende fokus op AVSTIG.

In Junie 1988 het AVSTIG sy plan vir ‘n Volkstaat bekend gestel. Die droë en yl bevolkte Noordwes-Kaapland en dele van die Suid-Vrystaat is as volkstaat voorgestel, sonder enige groot stad of tuisland of myn, ʼn groot feitlik leë gebied wat met sowat 500 000 Afrikaners ʼn stewige meerderheid sou hê. Dit was gebaseer op navorsing van veral dr Jooste en Dirk Viljoen. Volkseie arbeid was een van die ononderhandelbare vereistes vir die volkstaat. Die model van die besetting en ontwikkeling van Palestina deur die Jode was daarby ʼn voorbeeld en ʼn inspirasie. Die plan het op die stadium min geesdrif in die media of onder die gemiddelde Afrikaner ontlok aangesien die media veral die NP-lyn gevolg het, maar dit is tog deur sekeres as ‘n moontlike uitweg uit die doodloopstraat van geweld en konflik gesien.

AVSTIG het voortgegaan om sy plan met al sy aspekte te bemark. Daar is in die tyd ook besoeke aan die aangewese gebied gebring om te kyk na ‘n geskikte plek om ‘n praktiese begin te maak.

Die aankoop van Orania. Die volkstaat-ideaal word praktyk.

‘n Lid van AVSTIG het in Augustus 1990 op ‘n advertensie in die Landbou Weekblad afgekom wat aangekondig het dat die staat ‘n hele dorp in die Noord-Kaap, Orania, met ‘n oppervlakte van 483 hektaar, te koop aanbied. Dit was geleë in die  volkstaatgebied wat AVSTIG voorgestel het. Prof Boshoff het dadelik die bestuurslede van AVSTIG bymekaargekry en sommer die volgende oggend het hulle die lang pad van Pretoria aangepak om ‘n verkennende besoek aan Orania te bring en te ondersoek of die dorp geskik was as ‘n volkstaatgroeipunt. Alhoewel die plek vervalle en verniel was, het prof Boshoff en sy ondersteuners wel die potensiaal raakgesien en besef hoeveel infrastruktuur nog steeds daar was wat andersins ten duurste weer opgerig sou moes word. Op pad terug is besluit om die koop te waag en om ‘n tender in te sit op die veiling. Prof Boshoff het prof Gerrit Viljoen, Minister vir Grondwetlike Ontwikkeling in die NP-kabinet en ‘n kennis uit die dae van gemeenskaplike betrokkenheid by SABRA, geskakel om te hoor of die regering ‘n beginselbeswaar met die stigting van ‘n volkstaatgroeipunt sou hê.

Volgens prof Viljoen sou die regering niks doen om so ‘n volkstaatgroeipunt te keer nie. Die bedrag van R620 000 is bymekaargemaak veral deur die onverpoosde werwing van Anna Boshoff en ‘n tender is ingesit. Die bedrag was egter te min en die bod is toegestaan aan ‘n man van Johannesburg wat tot 31 Januarie 1991 tyd gehad het om die som te betaal. Die noodlot het dit egter beskik dat die volkstaters ‘n tweede kans sou kry omdat die voornemende koper nie sy verpligtinge kon nakom nie. Nou moes vinnig besluit word.

Uit sowat 1500 lede en ondersteuners van Volkswag, AVSTIG en die volkstaatgedagte is mense geïdentifiseer en gekontak om deur middel van aandele van R25 000 elk in die projek te belê. Dit was aandelekapitaal wat rentevry geleen is en terugbetaal is namate die aandeelblokke in Orania verkoop is. Alle aanvanklike bydraers vir die aankoop van Orania het mettertyd hulle insetkapitaal sonder rente terug ontvang. Die venster van geleentheid vir die aankoop van Orania was net vir ‘n baie kort tydperk oop en dat alles reg geloop het, was ‘n klein wonderwerk.

‘n Paar dae voor die sperdatum vir die tender is die bedrae in ‘n trustrekening inbetaal en is die ooreenkoms beklink. Vir die bedrag van R1 050 000 is die aanvanklike koper se verpligtinge oorgeneem en is Orania van die Departement van Waterwese met al die verbeteringe en toerusting gekoop en geregistreer in die naam van Orania Bestuursdienste Eiendoms Beperk (OBD). Teen 31 Januarie 1991 sou OBD oorneem en die Departement alles ontruim. Weens allerhande struikelblokke en voete sleep van die departement is die datum egter verskuif na 31 Maart. Net daarna, op 13 April, was die amptelike bekendstelling aan alle voornemende inwoners asook aan die media, ʼn geleentheid wat as Orania se stigtingsdag jaarliks gevier word. Kort na die aankoop van Orania is ook die omliggende plaas Vluytjeskraal 272 gekoop.

AVSTIG het hom gekonstitueer soos ‘n toekomstige Afrikanerregering, met ‘n jaarlikse Burgervergadering waar alle lede asook belangstellendes sake rondom die volkstaat kon bespreek, asook ‘n Burgerraad wat deur die lede verkies is en ‘n soort “volksraad” was, en die uitvoerende raad met portefeuljes, ‘n soort volksregering en die president as voorsitter. Vergaderings het in die Gemeenskapsaal van Orania plaasgevind, maar met die veronderstelling dat Orania net die eerste groeipunt in ‘n groter toekomstige volkstaat was.

*Die verhaal van die Afrikanervryheidstigting (Orania Beweging) se rol na die aankoop van Orania tot vandag sal in die volgende uitgawe van Voorgrond gepubliseer word.

Arbeid adel – die vrug van selfwerksaamheid

“Arbeidsetiek is die DNA van Orania” hoor ek ons Dorpsbestuurder se stem by ‘n vergadering waar ons die praktyk van selfwerksaamheid in Orania bespreek.

Ek kyk by die venster uit. Hier op Orania gaan die dae verby  –  een mooier en meer vol poësie as die ander! Beleë en gekoesterd lê die omgewing soos ‘n natros en ‘die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin, en witter lig wat daglank van die nuwe wind en klare son deurspoel word’, hoor ek Van Wyk Louw saampraat. Wat ‘n heerlike seisoen!

Om fluks en vlytig te wees is ‘n deug waarvan die voordele dieper as veldiep lê, dieper as wat die oog kan sien. Daarom is dit een van die sewe deugde wat in die Christelike tradisie van geslag tot geslag oorgedra moet word. “Werk behoort liefde te wees wat gestalte gekry het”, skryf J van der Berg in Ook die Klein Dingetjies, “want diegene wat met liefde werk – al is die werk hoe nederig en gering – vind hul loon in die besef van hulle dieper verband met alle wesenlike dinge wat in die groot plan dien. Ja – dit vernuwe die gees om weer sy identiteit te vind na die Beeltenis van God!

Oraniërs verstaan vandag baie goed dat vryheid ook arbeidsvryheid omskryf, en dit sluit in dat ‘n praktyk van gebrek aan selfwerksaamheid in ons kultuur gebreek moet word. Ek sien hoe ons mense in die vergadering hul koppe knik soos hulle die praktyk van die selfwerksaamheidsbeginsel uitpluis. Beskikbare vreemde arbeid het ons posisie grootliks versleg en daar is algemene instemming dat die yl verspreiding van ons klein Afrikanervolk oor ‘n uitgestrekte Suid-Afrika, tussen ‘n oorwig ander kulture, ons kultuur uiters kwesbaar gemaak het. Ons betaal daagliks die prys/verlies van ons kultuur en taal, ons werk en ons vryheid.

Met die oog op kulturele oorlewing is dit noodsaaklik dat Oraniërs hierdie deug moet bemeester en aan jongmense en hul kinders oordra. ‘n Heel gemeenskap funksioneer waar saam gewerk word met ‘n werksetiek wat ‘n plek vir almal het en lede in staat stel om kundigheid aan te leer en vaardighede te verbeter wat nog nodig mag wees. Binne die trajek van ‘n gemeenskapsingesteldheid pluk ‘n gemeenskap en die nageslag die vrug van deugdelikheid. ‘Oor sy wonde druppel die salf van eie gom’ dig Totius oor die platgetrapte doringboompie.

Die motief van selfwerksaamheid, as ‘n sterk kulturele waarde rondom die siening van ‘n heel gemeenskap, is toegevoegde waarde vir die gemeenskap. Soewereiniteit in eie kring word versterk deur kundigheid en bekwaamheid wat oor ‘n wye veld ontwikkel word en beskikbaar is. Deur die beoefening van hierdie deug word die Christelike tradisie ook weer bemagtig met gesag wat nodig is vir ‘n jonger geslag om dit te kan internaliseer. Inderdaad – selfwerksaamheid bemagtig ons in ons strewe na ‘n ‘kultuurhawe’ vir die Afrikaner en as deugdelike oefening bring dit heil en versterk ook die Christendom.

Om die beginsel van selfwerksaamheid te vestig is deur die jare hoë eise gestel. Dit het die gemeenskap voor een van hul grootste kulturele uitdagings te staan gebring. In die beginjare moes maar verlief geneem word met die frustrasies van substandaard arbeid, omdat die mannekrag en vaardighede ontbreek het, maar vandag gaan dit baie beter. Bo-Karoo Opleidingsentrum, wat al ‘n jaar of drie aan die gang is, konsentreer op kursusse waar inwoners opleiding ontvang om Rooi seëls, N-sertifikate en verwante opleiding, in veral die bou- en konstruksiebedryf, te kry. Met die eerste sooi gespit vir ‘n studentekoshuis , wat van regoor die land hul op Orania wil verder bekwaam, is daar nie keer dat Orania ‘n uitnemende sentrum vir tersiêre onderrig- en opvoeding word nie – die vrug van hulle wat die eerste rolbossie uitgepluk het, ‘n doringplant uitgetrek het of ‘n dakplaat vasgeslaan het van die skool! Hoe lekker is dit nie om te sien hoe seuns en dogters van die negentigerjare – die beginjare – vandag die gemeenskap help opbou deur hul eie suksesvolle bou-, elektriese- of loodgieterbedryf nie!

Soos Orania groei, vermeerder die druk om die aanbod van dienste te verbeter en soos ons vermoë groei vestig ons ‘n bepaalde kultuur. Ons versterk die kultuur deur gesprekvoering. Ons gesels daaroor. Ons redeneer daaroor. Ons kla daaroor. Ons spog oor ons pogings. Ons vind nuwe maniere van doen. Ons maak grappies oor ons minder suksesvolle pogings en ons gryp mekaar soms voor die bors. Ons voed ons dorp op – ons nuwe inwoners en opgroeiende jongmense – oor die hoekoms en waaroms van selfwerksaamheid.

So maak die byvoordele van arbeidsdeug ons deel. Ons vind nuwe identiteit in die selfwerksaamheidsbeginsel waarmee ons ons gemeenskap ‘laat werk’. Ons voel nodig. Ons voel ons het ‘n plek om vol te staan. Ons kyk met nuwe oë na onsself en na ander en sien die heldemoed as die son steek, as die sweet tap. Snobisme oor sekere tipe werk vir ‘n sekere klas word uitgerangeer. Salarisgapings krimp tussen geskoolde en ongeskoolde arbeid. Ons dra by tot ons streek en ons land se ekonomie deur ‘n dorp wat met ‘n gesonde werksetiek die wiele laat draai en sy plek in die ranglys van volke en state eendag weer volledig wil inneem. Ons voel dat ons ‘n belangrike rat is in ‘n groter geheel – groter as onsself, deur die aarde te bewoon en bewerk tot eer van God. So versterk ons ons geloof die  vryheid om dit te mag doen, ons beskeie pogings sal volg(sin maak nie sin nie_. Selfwerksaamheid hou ons wapenrusting blink! Flip Buys, van Solidariteit, sê altyd: ‘bid asof alles van God afhang, maar werk asof alles van jouself afhang!’

Hierdie jaar het ‘n oproep aan jong skoolverlaterseuns en -dogters van elders, om te kom help olywe en pekanneute oes, meer as 1500 aansoekers opgelewer! Dit is die soort rekrute wat ons in Orania se verdedigingsmag wil hê. Dit is die stryd wat ons stry. ‘Hy wie se sweet die grond benat sal die aarde beërf’ lui ‘n spreuk en ‘n ander een: ‘dit is die sooie van die ploegvoor wat die ploegskaar blink hou’. Om Christelike deugde te slyp is die wapenrusting wat sin maak, wat voorspoed en vrede bring – die roes spruit uit die ledigheid en die verwaarlosing.

Op die konstruksiepersele, verby die Poskantoor op pad na die Grootdorp, neem silhoeëtte van huise daagliks meer vorm aan teen die sonsopkoms. Om die draai vorder Orastad Ontwikkelaars en Bouers se meenthuisprojek al hoër teen die koppie op – ‘n wielmerk of twee teen die randsteen vertel van oë wat te lank geluier het op die bedrywige bouperseel. Maggies, die manne kan werk! Fleurig op die oog lê Gaby se tuinuitleg rondom die voltooide huise – sy ken van mooi plante kies wat aard in die karoo-klimaat en die koeler herfsweer help verseker.

Die olyfboorde hang swaar aan vetronde olywe – hierdie jaar ‘n rekordoes! Anton en sy span jongmanne pluk van douvoordag frantoias vir olyfolie en calamatas en missions vir inlê. Regoor Volkskool loop die oliepers van Cornelia. As jy durf inloer maak sy jou sit onder die boom tussen die sorteerders en kan jy die doel van jou koms oor ‘n emmer olywe verduidelik – die blinkgladdes kom in hierdie skottel, word verduidelik, en die met merkies kom in daardie een. Volgende aan die oesbeurt is die pekanneute wat vinnig ryp word in die herfsson en tussen die kopstukke en skerts word daar aangedruk met die werk!

Die goudgeel olie wat uit die pers tap raak vir my kosbare, Bybelse olie waarin mildelike seën opgesluit lê. Geld kan dit nie koop nie! Net my rooier wange verklap dat my hart uit volle bors die Arbeidslied sing – ‘n lied wat ons vir ons manne toegesing het met die opening van die pypleiding in die beginjare – Oranjerivierwater wat aan die wortels lê van hierdie rekordoes olywe!

Arbeidslied

Orania, dorp van ons harte
jy bring terug ons eer en ons faam
want mannemoed lankal vergete
herleef met volkstaatbou saam

So blink vloei die magtig’ Oranje
nog blinker ons vryheid daarvoor
want hartseer en smart is vergange
as arbeid en vryheid bekoor

Te arbei dit adel mos altyd
dit maak weer ons harte so bly
want water laat saad wat gesterf het
eenmaal in lente gedy

Ons sing nou ‘n lied vir ons manne
ons bring uit ons harte hul dank
want sweet en vereelte grof hande
teken die kaart van ons land

Net miskien inspireer ons ook ander om van hul swaarde ploegskare te smee en van hul spiese snoeiskêre.