fbpx

cygne chanteur Whooper Swan Cygnus cygnus cygnusGedurende die laat 1980’s het die Afrikaner Volkswag, toe nog ‘n groot en gedugte Afrikanerkultuurorganisasie die volgende, pragtige slagspreuk gebruik: “Winter haal nooit ‘n trekvoël in nie.”

Verlede week ontketen die liberale denker, skrywer en uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, Dr Frans Cronje, ‘n debat nadat hy in ‘n onderhoud noem dat hy dink dit vir Suid-Afrikaners nodig is om ‘n Plan B te hê. Sy Plan B behels om te emigreer. Selfs vir Cronje is die omstandighede in Suid-Afrika besig om so vinnig agteruit te gaan dat ‘n Plan B nodig is.

Toe die Afrikanervolkswag in die laat tagtigerjare gesê het dat die winter nooit ‘n trekvoël inhaal nie het hulle eintlik ‘n visionêre boodskap aan Afrikaners gelewer. Suid-Afrika sou verander. Die politieke veranderinge van die vroeë 1990’s was onstuitbaar, maar hierdie veranderinge sou van Afrikaners vereis om soos talle kere in sy verlede weer op te pak en te trek.

Verskeie navorsingsprojekte het die afgelope paar jaar probeer bepaal hoeveel Suid-Afrikaners en in besonder Afrikaners sedert die vroeë 90’s die land verlaat het. Party instellings beweer dat tot soveel as 800 000 of selfs 1 miljoen blankes emigreer het. Enigiets tussen 500 000 en 800 000 Afrikaners het waarskynlik groener weivelde gaan soek.

Die Afrikaner is tereg soos wat die Afrikanervolkswag beweer het, ‘n trekvoël. Die nuwe Groot Trek wat die afgelope 25 jaar plaasgevind het, was egter nie net ‘n trek na oorsese bestemmings nie. ‘n Studie van die laaste drie sensusopnames toon duidelik dat daar die afgelope paar jaar ook binne Suid-Afrika groot bevolkingsverskuiwings onder Afrikaners plaasgevind het. Gaan ry maar net deur ‘n klein plattelandse dorp en die enorme afname in die Afrikanerbevolking is duidelik sigbaar. Jong Afrikaners het selfs in groter getalle die afgelope tyd na skool na die groter stede verhuis. Min Afrikaners bly op die platteland oor. Plase word gekonsolideer en so word die aantal boere ook minder.

Ouer mense trek na die relatiewe veiligheid en steeds hoë vlakke van dienslewering wat in die Wes-Kaap ervaar kan word. Baie ander gaan na die stede om naby aan hul kinders en goeie mediese dienste te wees. Die veranderende demografie van die Wes-Kaap en al die groot stede maak dit egter slegs tydelike oplossings.

Selfs ook binne stede trek Afrikaners uit sommige woonbuurte na ander. In elke groot stad in Suid-Afrika is daar vandag voormalige Afrikanerwoonbuurte waar byna geen Afrikaners meer woon nie.

Sonder dat Afrikaners dit noodwendig besef staan hierdie verskuiwings van die afgelope paar jaar in die gees van konsentrasie. Daar waar Afrikaners in woonbuurte konsentreer kan taal, kultuur en tradisies behoue bly.

Die winter is al vir bykans 25 jaar besig om Afrikaners in te haal. En sonder dat ons dit besef het, het ons soos goeie trekvoëls bly oppak om van die koue te ontsnap. Die Afrikanervolkswag se slagspreuk het natuurlik na ‘n meer volhoubare trek verwys. Indien Afrikaners nie hierdie trek in die volgende paar jaar begin maak nie mag die winter hom dalk net inhaal. Meer van ons mense moet vinniger in Orania kom vestig.