fbpx

CataloniaVroeër die maand het meer as twee miljoene Katalane aan `n referendum oor `n onafhanklike Katalonië deelgeneem en meer as 80 persent van daardie deelnemers het aangedui dat hulle ten gunste is van onafhanklikheid van Spanje. Dit kan egter nie as `n amptelike referendum beskou word nie aangesien so `n stemming slegs deur Madrid uitgeroep kan word. Dit maak dit egter meer indrukwekkend aangesien dit sonder die finansiële en logistieke ondersteuning van die staat plaasgevind het. Daar was twee vrae op die stembrief: Moet Katalonië tot `n staat verklaar word en indien wel moet dit `n onafhanklike staat wees? Katalonië, wat die gewilde toerismebestemming Barcelona insluit, is gedurende die laat 1700’s deur Spanje verower.

Gedurende die twintigste eeu het Katalonië `n mate van outonomie geniet wat later ook weer herroep is. As `n gebied wat ekonomies sterk staan word dit `n toenemende frustrasie vir die bykans sewe miljoen Katalane om aan die Spaanse regering onderhewig te wees. Verskeie buitelandse besoekers verkeer onder die indruk dat daar geen verskil is tussen Katalane en Spanjaarde nie. Die waarheid is egter dat Katalane `n eie taal en kultuur het en dat daar reuse verskille tussen die twee groepe is. Oor die afgelope jare het die Katalane op verskeie maniere hul ongelukkigheid met Spaanse heerskappy betoon. Die bekendste is die drapering van `n banier by `n Formule 1-wedren met die woorde: “Catalonia is not Spain.” Talle ander oorspronklike vorms van protes het gevolg. Tydens een protesaksie het drie miljoen Katalane `n ‘V’ vir ‘Victory’ in die strate van Barcelona gevorm. Die veldtog het aanhou momentum opbou en selfs `n weiering deur die owerheid van die dag kon nie verhoed dat hulle by die stembus aandui wat hulle in die toekoms wil sien gebeur nie.

Daar is `n paar lesse wat Afrikaners wat selfbeskikking nastreef by Katalonië kan leer. Eerstens het hulle daarin geslaag om miljoene mense te mobiliseer om aan protesaksies deel te neem. Op een slag bykans 50% van die bevolking. Die protesaksies het die verbeelding aangegryp maar, selfs belangriker, was nie militant nie en het vreedsaam verloop. As daar na foto’s van die Katalaanse stryd om onafhanklikheid gekyk word sien ons ook dat die jonger geslag betrek is en dat aksies kleurvol en modern was. Selfbeskikking is `n edele strewe. Ook `n baie moderne tendens as daar na die res van die wêreld gekyk word. Dit is belangrik dat dié edele strewe nie besoedel word deur militante, rassistiese en onwettige optrede nie.