fbpx

Verwoerd4Daar is feitlik geen artikel van ‘n buitelandse joernalis wat nie prominent die Verwoerdhuis en die granietbeeld van dr Verwoerd vertoon nie. Dikwels met ‘n negatiewe bedoeling om te wys dat “Orania in die verlede leef en die argitek van apartheid vereer en daarmee sy haat en minagting vir die reënboognasie uitdruk” of iets soortgelyks.

Waarom is daar ‘n Verwoerdmuseum in Orania? Is dit ’n stelling teen die “nuwe” Suid-Afrika en ‘n “bewys” dat ons nie vrede maak met die hede nie?

Allermins. Die rede waarom daar ’n Verwoerdhuis in Orania is, is in die eerste plek dat dit ‘n historiese monument is wat bewaar moet word vir die die nageslag en vir diegene wat meer oor dr Verwoerd wil weet. Ongeag of ‘n mens ‘n bewonderaar van dr Verwoerd is of nie, die feit bly staan dat hy seker die persoon was wat Suid-Afrika in die 20ste eeu die meeste gevorm het en wat nie eenvoudig verswyg kan word nie. Al word alle Verwoerdbeelde en alle verwysings na hom deur die ANC-regering verwyder, bly sy handskrif in die vorming van die moderne Suid-Afrika nog altyd bestaan.

Die Verwoerdhuis in Orania was van 1992 tot 2000 die woning van sy weduwee mev Betsie Verwoerd, ‘n merkwaardige persoon in eie reg wie se verbintenis met Orania en die Afrikaner se vryheidstrewe ook nie misken moet word nie. Anders as menige vroue van politici, wat maar net hulle mans se vroue was, het mev Verwoerd ook na haar man se tragiese dood betrokke gebly op allerhande terreine van die Afrikanerkultuur soos die Voortrekkers, SABRA, die Afrikaner-Volkswag en Avstig, om maar enkele voorbeelde te noem. Na haar vreedsame afsterwe in 2000 op 98-jarige ouderdom het haar klein, beskeie maar smaakvolle woning behoue gebly en is die tweede deel van die huis, die opsigterswoning, omskep in ‘n museum wat dr. Verwoerd se nalatenskap uitstal.

Elke gewese eerste minister of president van ‘n land het gewoonlik ‘n museum in sy geboortehuis of die huis waar hy die langste tyd gewoon het. Aangesien dr Verword in Amsterdam, Nederland gebore is en in Suid-Afrika weens sy politieke betrokkenheid veel rondgetrek het en weens die feit dat hy vermoor is ook nie ‘n plek vir sy oudag gehad het nie, is daar geen plek  wat hom leun tot ‘n Verwoerdmuseum nie, behalwe sy weduwee se laaste woonplek. Ander eerste ministers of presidente soos Paul Kruger, Jan Smuts, JG Strijdom, JBM Hertzog en ander het almal ‘n huis wat aan hulle herinner en daar word geen ophef van gemaak nie, want dit is historiese figure en hulle word as sodanig behandel. Dat Orania ‘n Verwoerdmuseum het, beteken dus nie dat ons dr Verwoerd se beleid een vir een onderskryf nie, maar ons is ook nie skaam vir die groot rol wat hy gespeel het nie. Hy is net so deel van die Afrikanererfenis soos Andries Pretorius, Paul Kruger, Christiaan de Wet of Koos de la Rey.

Sonder om te veel in te gaan in dr Verwoerd se beleid en sy tyd moet eenvoudig erken word dat hy in sy tyd uiters suksesvol en gewild was onder sy volk en ook deur vele swart mense gerespekteer is. Dit was ‘n tyd van voorspoed en relatiewe vrede en alle volksgroepe het daarby gebaat. Die ANC en ander swart nasionalistiese groepe het destyds nie die meerderheid swart mense verteenwoordig nie en was boonop deurspek met kommuniste wat gestaan het vir ‘n wêreldrevolusie en die vernietiging van ‘n Westerse en geordende samelewing. Eers heelwat later het die ANC meer gematig geword. Om dus die 1960’s te beoordeel na die hand van die huidige siening van menseregte en individualistiese vryhede wat heers sedert die val van die ystergordyn is amper absurd.

Die belangrikste nalatenskap van dr Verwoerd vir Orania is die Oranjerivier-Waterskema met sy damme en kanale, waarsonder hierdie streek nie die oase met die landboumoontlikhede sou wees wat dit is nie. Sonder die waterskema sou ook geen dorp Orania destyds in die 1960’s gestig gewees het nie en sou die tweede stigting in 1991 as volkstaatdorp nie moontlik gewees het nie.

Besoekers aan die Verwoerdhuis is elke keer aangegryp. Ouer mense word herinner aan ‘n era wat hulle as besonder voorspoedig beleef het en die groot skok wat die sluipmoord op dr Verwoerd vir die destydse samelewing was. Jonger mense raak geïnteresseerd om meer te lees oor ‘n persoon en sy tyd waarvan hulle min weet en gewoonlik net enkele trefwoorde buite konteks gehoor het. Vir diegene wat navorsing doen oor die era van Verwoerd is die museum ook ‘n belangrike bron van eerstehandse inligting.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.