fbpx

Die opskrif sê van meet af dat ek nie meer kan doen as waarneem nie, en wel hier en daar ´n bietjie subjektiewe inligting van mense wat hier woon en werk kan gebruik. Daar is seker doktorsgrade op die internet beskikbaar vir diegene wat in diepte op die onderwerp wil ingaan.

Die meerderheid Spanjaarde behoort tot die Katolieke Kerk, seker naastenby 90%. Die oorgrote meerderheid van hulle is egter nominale Katolieke wat selde kerk toe gaan. Die Katolieke Kerk was van lankal af ‘n groot magsfaktor in Spanje en alhoewel dit geleidelik sy invloed begin verloor, is dit nog steeds ‘n magtige instelling. Trouens, die Katolieke Kerk en Spanje was amper sinoniem. Die Katolieke Kerk in Spanje was aan die voorpunt van die Inkwisisie, die Spaanse konings was die groot verdedigers van die Katolieke godsdiens en diegene wat Protestantisme beveg het. In die meer onlangse Franco-era (1939-1975) was die Katolieke Kerk een van die steunpilare van die bewind en ‘n behoudende mag.

Spanje is vandag egter redelik ewe gelyk verdeel tussen die konserwatiewe element (wat tans regeer met die Partido Popular of Volksparty) en die linkse, anti-kerklike element (polities verteenwoordig deur die Partido Socialista de Orbreros, PSOE, asook kleiner vêrlinkse partye en die vakbonde). Die Katolieke Kerk se vereenselwiging met die regse deel van Spanje het gemaak dat die PSOE-regerings (die mees onlangse een van 2004 tot 2012 onder Jose Luis Zapatero) die Katolieke Kerk se vlerke geknip het en wetgewing ingevoer het wat lynreg in stryd met Bybelse sienings is (vergemakliking van egskeiding en aborsie, aanvaarding van gay-huwelike, ens). Spanje het in die laaste 30 jaar meer en meer sekulêr geraak, ‘n tendens wat orals in Europa voortduur en die Katolieke Kerk se invloed het daarmee saam gekwyn. Die talle pragtige kerke in elke Spaanse stad en dorp wys egter die geweldige mag wat die Katolieke Kerk gehad het en nog steeds gedeeltelik het. Nog is dit nie so ver soos in Nederland nie, waar kerke as stoorplekke gebruik word.

Ek het ‘n paar kere ‘n Katolieke mis bygewoon, in die week (elke aand behalwe Maandag is daar ‘n mis) en ook op ‘n Sondag, selfs met die biskop van Almeria wat gepreek het en in volle ornaat sy opwagting gemaak het, met die mitra op sy kop en die silwer herderstaf in sy hand en voorafgegaan deur wierrookswaaiende misdienaars. Die bywoning van die mis is egter maar net effens, dit is hoofsaaklik vroue bo 50 jaar en selde meer as sowat 50 mense. Die verrigtinge is formeel en dit verskil in wese nie veel van die gereformeerde, formele dienste nie wat die liturgie betref, met Bybellesing, geloofsbelydenis, preek en seën. Natuurlik het die Katolieke Kerk allerhande byvoegings en tradisies wat onbybels is en maak dat ek my afstand handhaaf, al beïndruk hulle pragtige kerke en hulle geordendheid en waardigheid my wel.

Spanje het die hervorming in die kiem gesmoor en daar is nie iets soos ‘n “amptelike” Protestantse Kerk nie. Die mense wat tot die Protestante in die wyer sin behoort is slegs om en by 1%, dit is dus ‘n amper weglaatbare minderheid as dit bloot gaan oor getalle. Meer nog, hulle is verdeel in talle klein kerke wat almal op die oog af Charismaties of Pinkster is. Blykbaar is daar egter wesenlike verskille tussen hulle, wat maak dat selfs so ‘n klein groep mense nie een kerk kan vorm nie. Dit was, so sleg soos wat die situasie is, in ‘n sekere troos vir my om te besef dat die kerkverdeling geen Afrikaner-eienskap is nie, maar blykbaar iets wat saamgaan met die Protestantisme. Mense uit Finland het dieselfde tendens by hulle bevestig: ‘n Groot “amptelike” maar dooie en polities-korrekte Lutherse Kerk en talle klein evangeliese kerke.

Ek het verskeie van die evangeliese dienste bygewoon, met bywoningsyfers van so min as 10 tot so baie as 100, maar met groot entoesiasme en meelewing, en gewoonlik meer as twee ure lank. Dit begin gewoonlik met sang met orkesbegeleiding wat ‘n uur kan aanhou en meer en meer tot ‘n hoogtepunt kom wat dan direk oorgaan in algemene bid wat hier en daar in geskreeu ontaard. Dan volg gewoonlik ‘n goeie, suiwer preek en dan weer saamsing en daarna nog saamkuier en saameet in die kerk. Al verkies ek die formeel-gereformeerde opset, het ek vrede gemaak met hoe dit hier gedoen word, dit pas immers by die Spaanse, meer emosionele geaardheid.

Die Protestantse kerke hier is feitlik almal nog kerke in wording, of pionierkerke en die lidmate is meesal arm, anders as in Suid-Afrika se voorstede, waar die charismatiese kerke intussen by uitstek die kerke vir die welvarende middelklas is. Dienste word gehou in gehuurde store of sale wat die sjarme van ‘n fabrieksgebou het, in totale teenstelling van die Katolieke Kerke met hulle prag en praal van eeue gelede. Wat egter tel is die Gees wat teenwoordig is. Verder is dit opvallend dat die lidmate baie divers is, met aansienlike getalle mense uit die immigrantegemeenskap (mense uit Afrika en Latyns-Amerika). Evangeliese Spanjaarde is werklik iets wat nogal skaars is, seker nie verbasend as ‘n mens die algemene tendense in Europa in ag neem. Dit wil voorkom asof die godsdiens in Europa net meer en meer verval en geen omdraai in uitsig is nie, terwyl buite Europa meer en meer herlewing plaasvind.