fbpx

Almeria, die stad waar ek sedert die begin van Junie woon, is in die provinsie Andalusië in die suide van Spanje geleë. Dit is ‘n belangrike hawestad met talle veerbote na Marokko en Algerië.

Die naam Almeria is van Arabiese oorsprong (Al-Mariyah) en beteken “spieël” wat verwys na die see wat meesal soos ‘n spieël lyk, sonder golwe. Dit was vir eeue ‘n Arabiese stad (die Arabiere oftewel Moore het die grootste deel van Spanje in die Middeleeue beset) tot dit in die 15de eeu in die proses van die Reconquista (herowering) deur die Christelike Spanjaarde verower is. Daar is nog geboue uit die tyd van die Moore, soos die Alcazaba (n enorme kasteel uit die 10de eeu wat bo die stad uittroon), en die moskee, wat later ‘n kerk geword het. Daar is natuurlik ook ‘n hele paar pragtige Katolieke kerke uit die laat Middeleeue en daarna. Ten spyte van die besienswaardighede  is toeriste hier redelik skaars wat daarmee te doen dat Spanje eenvoudig te veel besienswaardige stede het, en toeriste na Andalusië se reisplanne sluit gewoonlik die hoogtepunte Sevilla, Granada, Cordoba, Malaga en Ronda in, en vir Almeria bly dan nie nog tyd nie. Dit maak dat die stad ‘n Spaanse karakter behou het en nie net leef vir toerisme nie en daarmee saam sy karakter prysgee om buitelandse geld te verkry nie. Dit bring ook mee dat feitlik nêrens Engels gepraat word nie (anders as byvoorbeeld by die Costa do Sol rondom Malaga, waar omtrent alle aanwysings en advertensies al tweetalig Spaans en Engels is ter wille van die groot getalle Britse sonsoekers). Sonder ‘n bietjie Spaans om ten minste iets in ‘n restourant te bestel of inkopies te kan doen en jou pad te vra sal jy sukkel.

Die stad het sowat 170 000 inwoners, waarvan ‘n deel mense van Marokko is, wat meesal in die armer dele woon en hulle eie groep vorm en min met die Spanjaarde meng. Ooglopende konflik tussen die groepe is daar baie min, maar die Spanjaarde het oor die algemeen nie veel ooghare vir die Marokkane nie, wat ‘n ander godsdiens (Islam) en gewoontes het en ook die grootste deel van die arm bevolking uitmaak. In die deel waar Marokkane gekonsentreer is, is dwelmmisbruik en misdaad, maatskaplike probleme en algemene verval nogal ooglopend. Dit gesê, het ek egter met heelwat Marokkane te doen gekry wat vriendelik, gasvry en ordentlik is en goeie morele waardes (in die konteks van Islam) aanhang en trots is op hulle kultuur.

Die klimaat is nogal baie soos Orania s’n, altans in die somer: baie warm, altyd son, en droog. Die omgewing is barre rotswoestyn, maar ten spyte daarvan is die stad groen, met talle palm-, sitrus en ander bome wat die groot strate begrens en ‘n aangename voorkoms aan die stad gee.

As ‘n mens vanaf die netjiese en geordende Middel-Europa na Spanje kom, is dit eers ‘n aanpassing. Dit is ooglopend dat Afrika geografies al taamlik naby is: die strate is vuil, talle geboue onversorg en half vervalle. Die ekonomiese krisis wat Spanje tans beleef (en Almeria het ‘n werkloosheid van 45%) speel daarby ook ‘n rol. Op die oog af gaan die lewe aan, mense is meesal netjies geklee, gaan eet en doen inkopies. Maar as ‘n mens van nader kyk val die talle mense op wat snags in asblikke na bruikbare goed krap, en elke tweede gebou staan leeg en is te koop of te huur, veral in die ou stad.

Die reuke wat jy dikwels aantref is riool, rommel, hondemis of vis, en af en toe ‘n daggawalm. Alhoewel die munisipaliteit gereeld die vullisdromme leegmaak en strate skoonmaak en mense probeer aanmoedig om hulle hondemis op te tel en weg te gooi, gee mense nie veel daarvoor om nie. Vergelyk dit met Weenen, ‘n veel groter stad wat silwerskoon is. Hier word ook meer gerook as in Middel-Europa, en nogal heelwat sigare. Wat die kleredrag betref is die ouer mense (veral die ou vroue) meesal elegant geklee, die jong vroue stylvol en nogal verleidelik, die jong mans en tieners taamlik informeel. Tatoeëermerke is ook opvallend volop by die jeug.

Die lewe vind plaas op straat, nie in mense se privaathuise nie. In die huise word gebad, sekere etes geëet en geslaap, maar al die ander dinge gebeur op straat. Die oorgrote meerderheid mense woon in woonstelle, private huise met groot tuine is amper ongehoord, selfs in die voorstede. Dit is in sterk teenstelling met die Britse (en ook Afrikaanse) leefwyse van “My home is my castle” en die openbare ruimte wat veral, om verstaanbare redes, onder wit Suid-Afrikaners as ‘n amper vyandige plek beleef word. Hier is orals pleine, straatkafees en kroeë en restourante.

Die ritme van die tipiese Spaanse stad is so: mense slaap redelik laat, tot 8 uur, eet dan ‘n vinnige ontbyt (desayuno) bestaande uit sterk koffie met baie melk (wat hier uit glase, nie bekers of koppies nie, gedrink word) en ‘n roosterbrood met konfyt of ‘n joghurt. Die idée om spek en gebakte eiers vir ontbyt te eet is hier absurd, en toe ek dit een keer wou maak, het my “landlady” dit baie vreemd gevind. Eers na 9 uur begin besighede open en is mense op straat tot so om en by 12 uur, wanneer mense vir die klein honger gewoonlik by ‘n “bar” (n soort eetkroeg) ‘n koffie, of ‘n bier sal drink, saam met ‘n tapa, ‘n ligte verversing soos n broodjie met vis of vleis, ‘n stuk gebraaide vis, ‘n paar olywe en ham of kaas. Tapas kan ‘n mens natuurlik ook later in die vroeë aand kry, as oorbrugging tot by die aandete (cena).

Die brandende son maak dat in die warmste tyd van die middag, tussen 2 en 5:30, alles sluit en dit soos ‘n Sondagmiddag in Orania lyk, elke dag. Dit is die bekende siësta, wat in hierdie klimaat sin maak. Dan gaan mense van die werk af huis toe, eet middagete (almuerzo) en knip ‘n uiltjie. In die laat middag gaan mense egter weer terug werk toe en winkels maak weer oop en bly oop tot laat, en mense bevolk die strate. So om en by 6 uur sal mense by ‘n koffieplek weer ‘n koffie drink met ietsie soet. Dan, as die temperature so na 7 meer draaglik is, word rondgeloop, op pleine gesit en gesels en by restourante bier, wyn en tapas genuttig. Ook na 10 uur gaan die lewe nog aan, dan eet mense in restourante of kuier op pleine waarvan daar nie ‘n tekort is nie. Nou, in die somer, is ook gereeld musiekvertonings op pleine wat nog tot die lekker kuieratmosfeer toevoeg. Die Spanjaarde het ‘n mooi manier van kuier, daar word uitbundig gesels as families of vriendekringe, maar ek het nooit swak gedrag en dronkenskap in die openbaar beleef nie.

Kultuur is nogal belangrik vir die Spanjaarde en word selfs in tye van ekonomiese benoudheid gesubsidieer. Veral in die somer het elke stad en dorp sy feestye (fiësta) wanneer daar orals musiek- en dansvertonings is, dikwels gratis of betreklik goedkoop. Ook museums is gratis. Die Spanjaarde het ‘n ou en ryk kultuur en geskiedenis en is trots daarop. Dit vind ook sy neerslag in die houding teenoor buitelanders: Hulle is vriendelik en hulpvaardig, maar val nie oor hulle voete om ‘n uitlander se wense te vervul nie en stel ook nie juis belang in ander volke se mense nie. Anders as in Suid-Afrika, ten minste buite die sentrums, waar mense altyd buitelanders nuuskierig sal uitvra oor waar hulle vandaan kom, is dit hier nie die geval nie. Spanje is natuurlik ook een van die top toerismebestemmings en uitlanders is dus niks snaaks nie. Die buitelanders wat langtermyn hier leef berig dat hulle nie sommer vriende maak met die Spanjaarde nie. Dit is in teenstelling met die Afrikaanse kultuur, wat nogal besonder gasvry en oop teenoor buitelanders is, seker ook maar omdat dit ‘n volk is wat uit ‘n mengelmoes volke ontstaan het, en nogal betreklik onlangs.

*Sebastiaan Biehl keer weer later vanjaar na Orania terug. Hy doen tans sendingwerk onder die Marokkane in Spanje.