Die Mandela-saga
Orania Beweging-president, mnr Carel Boshoff, het op 2 Julie ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy genoem het dat die organisasie “met spyt en meelewing” kennis neem van mnr Mandela se toestand en sy simpatie met dié oudpresident van Suid-Afrika se familie en bewonderaars uitgespreek.
Mnr Boshoff se woorde was nog nie koud nie, toe begin die kritiek soos Agincourt se pyle toesak op hom en die Orania Beweging. Vuurwarm debatte is dieselfde dag nog ontketen op blogs en Facebookblaaie. Verkramptes en verligtes kon nie hul kontrasterende standpunte hard genoeg in mekaar se kele afwurg nie.
Ons weet darem nou ten minste dat die Orania Beweging se mediaverklarings deur heelwat mense gelees word. Ek weet nie van julle nie, maar daar is nogal baie ongerepte mediaverklarings van tientalle een-man-een-faksmasjien-organisasies in my Outlook se asblik. Orania Beweging is in my boekie een van ’n handjievol organisasies wat darem leeswaardige nuusbriewe en verklarings uitreik.
Terug na die punt. ’n Paar dae voordat die mediaverklaring uitgereik is, het Orania ’n groot toestroming van joernaliste beleef. Spanne van onder andere Nederland, Frankryk en ja, selfs die SAUK, het hul kameras en mikrofone in Oraniërs se gesigte kom druk om te hoor wat ons van hul sterwende held dink.
Ek het nog half grappenderwys vir die Franse nuusman gevra of hy en sy kameraman verveeld geraak het om dag in dag uit tussen al die blomme by die hospitaal te sit en wag vir ’n storie en toe maar besluit het om ’n scoop te kom soek in Orania. “Oui, monsieur” was sy reguit antwoord. Nou ja, daar het julle dit uit die perd se bek uit.
Sien, hulle base soek ’n nuwe sensasionele storie want daar is duidelik nog nie genoeg stokke om die Afrikaner mee te slaan nie. Is ons in hul oë dan regtig niks meer as ’n klomp verkrampte rassiste nie?
Hulle wil hoor hoe ons vir Mandela haat. Hoe min simpatie ons met sy toestand het en presies hoe graag ons van hom ontslae wil raak. Hulle kan dit dan netjies verpak in hul 3 minute-nuusbulletins en vir miljoene kykers oor die wêreld heen gaan wys hoe die agterlike Mandela-hatermuishonde lyk en waar hulle wegkruip vir alles wat swart en mooi is.
Toe vang ons hulle met ’n slap riem.
Ons haat nie vir Mandela nie. Ons het simpatie met sy toestand en wil nie van hom ontslae raak nie. Ons weet waar hy vandaan kom en dat hy standpunt ingeneem het vir sy mense se vryheid. Ons verstaan dit, want ons wil ook vryheid vir ons mense hê.
So min as wat Mandela geneë was om te aanvaar dat die Afrikaner oor hom en sy mense regeer, so min wil ons deur die Xhosa of die Zulu regeer word. Nie omdat ons mekaar haat nie, eerder omdat ons ons eie beter verstaan as wat die ander doen, en ons onsself binne konteks van ons onderskeie kulture meer doeltreffend kan bestuur as wat ander kan.
Orania gebruik toe die geleentheid wat die wêreld se media ons bied om ons strewe opnuut te bevestig. Insgelyks plaas ons hul internasionale gehoor voor ’n baie belangrike vraagstuk: as die mense van Orania besig is om iets vir hul mense te bewerkstellig dieselfde as wat Mandela vir sy mense bewerkstellig het, hoe kan hulle dan verkeerd wees? Dit was ’n meesterskuif deur Carel Boshoff en sy gepaardgaande verduideliking het ook bietjie nugterheid gebring aan weerskante van die politieke spektrum.
So, tree ons kritici regverdig op deur ons nou joiners te noem?
Allermins. Dit is so onbenullig om Nelson Mandela as niks anders as ’n terroris te beskou nie as wat dit sou wees om vir Jan Smuts uitsluitlik as ’n dapper vryheidsvegter van die Boerevolk te vereer. Ja, Mandela was ’n terroris en ja, Smuts was ’n bittereinder-Boeregeneraal. Dit kan sekerlik nie die enigste etikette wees wat ons om hulle nekke kan hang nie.
Ek onthou nog die dag toe Mandela vrygelaat is. Ons hele gesin het in Ouma-hulle se sitkamer gesit en die spektakel op TV1 aanskou. Een van my ooms, ’n ware heethoof, het aangegaan oor hoe ons nóú moet voorberei vir oorlog. My wyle oupa, ’n afgetrede brigadier, het as jongman ’n Spitfire by El Alamein gevlieg. Hy het baie oorloë in sy tyd gesien. Met ’n paar ferm woorde het hy my oom stilgemaak.
As 9-jarige seun kon ek nie verstaan waarom my oupa dan nie ook bang is vir die terroris-monster op die skerm nie. Mandela is dan ’n kommunis en kommuniste gaan die wêreld verwoes!
22 jaar later weet ek dat my oupa reg was. Mandela het toe nie probeer om ons volk uit te wis nie. Alles behalwe. Terwyl derduisende Afrikaners nog met spense vol 1993-gedateerde blikkieskos opgeskeep sit, het hy en tannie Betsie Verwoerd tee gedrink in Orania. Vergelyk tog net appels met appels.
Hy het op ’n slag sy opinie oor die Afrikaner uitgespreek. Volgens Mandela is “Afrikaners goeie mense wat deur hul leiers verraai is”. Dis nou wel oop vir interpretasie, maar ek glo dat selfs die mees vêrregse volksgenoot onder ons met hierdie stelling sal saamstem.
‘n Mens kan natuurlik argumenteer dat Mandela na sy vrylating goeie bedoelings gehad het, maar in die proses Pandora se boks onwillekeurig oopgemaak het. Hy het dan self erken dat hy nooit kon dink dat soveel van sy mense hul vryheid só gruwelik gaan misbruik nadat hulle dit uiteindelik bekom het nie.
Miskien ’n waardevolle les vir ons nuwe geslag Afrikaners wat vandag besig is om ons vryheid te herstel.