by Jaco Kleynhans | Jan 16, 2014 | Nuus |
Die afgelope naweek is een van die grootste leiers wat Israel nog opgelewer het, Ariel Sharon, oorlede. Sy dood is ‘n soort anti-klimaks nadat hy vir sowat agt jaar in ‘n koma was. Sharon het op 4 Januarie 2006 ‘n beroerte gehad. Op daardie stadium was hy op die kruin van sy politieke loopbaan.
Wat Sharon se loopbaan merkwaardig gemaak het, was sy sterk verbintenis tot ‘n volhoubare Israel. Hy het reeds in 1948 as jong soldaat naam gemaak in die Onafhanklikheidsoorlog. Sharon word vandag nog beskou as een van die beste bevelvoerders wat die Israelse regering ooit opgelewer het. Hy was nie net ‘n goeie bevelvoerder nie, maar ook ‘n uitmuntende militêre strateeg wat lof verdien vir vele van Israel se militêre suksesse.
Sharon was vir die grootste deel van sy loopbaan ‘n voorstander van die oprigting van Israelse nedersettings in die Palestynse gebiede van die Gaza-strook en die Wesbank. Kort nadat Sharon in 2001 Eerste Minister van Israel geword het, het hy egter ‘n ander deuntjie begin sing. In 2004 kondig hy die onttrekking van Israel uit die Gaza-strook aan. Volgens alle verwagtinge was sy plan om gedurende 2006 met onttrekkings uit die Wesbank te begin. Sharon se patriotisme teenoor en liefde vir Israel kan nie betwyfel word nie. Hy is egter as ‘n verraaier uitgemaak omdat hy besette dele van die Wesbank aan die Palestyne wou teruggee.
Kyk ons na die Israel van vandag besef ons dat ‘n volhoubare Israel sal afhang van vrede met die Palestyne en vrede met die Palestyne sal net moontlik wees indien Israel uit groot dele van die Wesbank onttrek. Daar is natuurlik ander vereistes soos dat die Palestyne alle aanvalle op Israel moet staak, ook, maar die hoof struikelblok vir vrede is tans die groot aantal Israelse nedersettings in Palestynse gebiede.
Wanneer ‘n mens buite die praktiese politiek staan en nie self vir die oplossing van moeilike vraagstukke verantwoordelik is nie, is dit maklik om suiwer beginsels te handhaaf. Sharon se lewe is ‘n voorbeeld daarvan. Voordat hy Eerste Minister was, was dit maklik om ‘n voorstander van Israelse nedersettings in Palestynse gebiede te wees, terwyl jy ook ‘n permanente oplossing vir die Israel-Palestynse vraagstuk wou sien gebeur. Toe hy Eerste Minister word, het dit hom gedwing om nuut na die vraagstuk oor nedersettings te kyk.
Die Israelse voorbeeld herinner ons tog aan die Afrikaner van die 1980’s. Die meeste Afrikaners het in daardie jare nog geglo dat die Afrikaner vir altyd beheer oor die hele Suid-Afrika sou behou. Geen plan wat die opoffering van dele van Suid-Afrika voorgestel het ten einde vir die Afrikaner ‘n volhoubare tuiste te verseker, het steun geniet nie.
In 1994 het ons, ons Vryheid verloor. In ons strewe na selfbeskikking sal die Afrikaner meer pragmaties en minder kieskeurig moet wees.
by Sebastiaan Biehl | Jan 13, 2014 | Nuus |
Hierdie jaar 2014 staan in die teken van die 100-jarige herdenking van die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Die eintlike vierings sal in Juliemaand vanjaar plaasvind, wanneer dit presies 100 jaar gelede was dat die Eerste Wêreldoorlog begin het. Die oorlog het egter ‘n aanloop gehad en dit is nogal ‘n versoeking vir historici en politieke wetenskaplikes om die aanloop 100 jaar gelede met vandag te vergelyk en te bespiegel oor die moontlikheid van ‘n Derde Wêreldoorlog met die huidige konstellasie van groot- en supermoondhede.
Die historikus prof. Margaret MacMillan van die Universiteit van Cambridge, doen presies dit in ‘n onlangse artikel in die Britse koerant The Independent. Volgens haar is dit wat destyds die Balkan was, ‘n streek met talle vyandige, etnies en godsdienstig verdeelde klein state, vandag bekend as die Midde-Ooste. Dié kookpot was in die grootmoondhede se agterplaas. Dit was destyds Duitsland, Rusland, Frankryk, die Habsburg Ryk, die Ottomaanse Ryk en Groot-Brittanje wat in die sake van die Balkan ingemeng het en bondgenootskappe met die state gesluit het. Vandag is die VSA, Rusland, Sjina, Turkye, Iran en die Europese Unie aan verskillende fronte betrokke in die Midde-Oosterse kookpunt. Dit is veral die oorlog in Sirië wat die toneel van inmenging van buite en ondersteuning van die verskillende oorlogspartye is.
Israel en die Palestynse gebiede bly ook ‘n kookpunt en die VSA se bondgenootskap met Israel staan teenoor die ondersteuning van Israel se vyande deur, veral Iran, met Rusland en Sjina wat ook in die agtergrond bedrywig is. Die vernietigende krag was destyds etniese nasionalisme en die stryd vir afskeiding van die multi-etniese ryke soos die Habsburg Ryk en die Ottomaanse Ryk. Vandag is dit die Islam-fundamentalisme wat teen sekulêre regimes veg en die inter-Islamitiese konflik tussen Soennite en Sjiite wat onderliggend aan talle konflikte is, soos in Libanon, Sirië, Irak en Bahrain. Etniese minderhede soos die Koerde dra by tot die konflik. Behalwe vir die Midde-Ooste is daar ook ‘n tweede front in die Stille Oseaan wat eers in die Tweede Wêreldoorlog ‘n faktor was toe die VSA en Japan teen mekaar te staan gekom het. Dit is vandag die VSA wat sy supermoondheidstatus wil beskerm teen die opkomende nuwe mag, Sjina. Japan, ook ‘n groot moondheid en ‘n bondgenoot van die VSA, is tans in direkte konflik met Sjina oor ‘n onbewoonde eilandgroep, die Senkaku-eilande. Ook kleiner lande soos Taiwan, die Filippyne en Viëtnam is rolspelers in die konflik en voel deur Sjina bedreig. Die parallelle met 1914 is ook duidelik: ‘n nuwe, opkomende en aggressiewe moondheid wat deur die ouer moondhede nie as gelyke aanvaar is nie, soos destyds die Duitse Ryk. Vandag is dit Sjina. Wat destyds Groot-Brittanje en Frankryk was, is vandag die VSA en Japan.
Vandag word dikwels geargumenteer dat globalisering en die vervlegting van state en hulle belange ‘n groot oorlog onmoontlik maak, die Europese Unie en die lang tyd van vrede (afgesien van “kleiner” konflikte in die Derde Wêreld) word as bewys genoem. Macmillan wys egter daarop dat ook die tyd voor 1914 ‘n periode van ‘n lang vrede was, meer as 40 jaar, wat Europese state betref en daar net enkele klein oorloë in die randgebiede en kolonies was. Dit was ‘n tyd van ongekende voorspoed, ekonomiese groei, tegnologiese ontwikkeling, kulturele verandering en nuwe idees. Dit is egter sulke situasies van vinnige verandering wat lei tot konflikte want state raak gulsig, te selfversekerd en is in aggressiewe kompetisie met mekaar. Kulturele en ekonomiese vervlegting en kontak lei juis eerder tot spanning en selfs konflik, meer as isolasie. Dit, terloops, is ‘n links-liberale kernoortuiging wat al te dikwels as ‘n drogbeeld bewys is, naamlik dat die maksimum kontak, vervlegting en vermenging vrede en harmonie bring, en isolasie tot aggressie en konflik lei. Die geskiedenis wys dat eerder die teendeel waar is. Al is Japannese, Amerikaners en Sjinese almal verbruikers van globale produkte en dienste en mense met globalistiese gewoontes en voorkeure, beteken dit nie dat hulle nie meer patrioties voel nie, of nou skielik lief vir die ander volke raak net omdat hulle dieselfde klere dra en dieselfde vermaak beoefen nie.
Laastens, net soos wat in 1914 ‘n tweederangse gebeurtenis in ‘n uithoek van Europa tot ‘n wêreldwye konflik gelei het omdat die toneel reeds voorberei was en net nog ‘n vonk gekort het om die lont aan te steek, net so kan iets soos die spanning oor die Senkaku-eilande tot ‘n oorlog tussen Japan en Sjina lei, met die kettingreaksie van die betrokkenheid van bondgenote.
by Carel Boshoff | Jan 8, 2014 | Nuus |
Die Orania Beweging se volk-staatbetoog vir 2014:
’n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers
7 Januarie 2014
Geagte mede-Afrikaner
Vanuit Orania hoop ons dat hierdie skrywe u, uitgerus en versterk, gereed vir die eise van ’n nuwe jaar, bereik. Ons vra u aandag vir die onderstaande gedagtes omdat dit vir ons, deels as individuele Afrikaners, maar veral as lede van ’n volk, of nasionale kultuurgemeenskap, van belang is om daaroor te besin. Sake word hieronder meer oorsigtelik eerder as gedetailleerd behandel en word as aanleiding tot gesprek en agtergrond tot besluite wat u gedurende die jaar mag neem, aangebied.
Verduideliking
In demokratiese state is dit gebruiklik dat die staatshoof jaarliks, gewoonlik by die Parlementsopening, ’n “state of the nation”-toespraak lewer. Ook in Suid-Afrika word dit gedoen. Daarin word die stand van sake vir die staat en sy burgers, sowel as voortspruitende uitdagings en prioriteite as’t ware namens die nasie aan die besluitnemers gestel en word die politieke toon vir die jaar aangegee.
As Afrikaners beskik ons al vir ’n geruime tyd nie meer oor ’n staat wat aan ons besondere belange en strewes uitdrukking gee nie en ontbeer ons gevolglik ook die geleentheid om op so ’n manier sy stand en status in oënskou te neem en antwoorde daarop te probeer gee. In hierdie geval is dit nie die behandeling van die “staat van die nasie” nie, maar die “staat van die volk”, die “volk-staat” in ’n ander sin as wat die woord meestal gebruik word, wat ter sprake is.
In Orania lê ons die grondslag van ’n Afrikanergebied waarin ons, onder Gods hand, oor ons eie lot en toekoms kan beskik en nie na vreemde heersers hoef op te sien nie. Aan die hand daarvan neem ek as president van die Orania Beweging aan die begin van 2014 die vrymoedigheid en verantwoordelikheid om ’n volk-staatbetoog, nie by wyse van ’n rede voor ’n parlemet nie, maar as ’n ope brief aan Afrikanerbesluitnemers te rig.
Daarmee word nie voorgegee om die plek van ’n staatshoof in te neem nie, maar om ’n lewensnoodsaaklike behandeling van die stand en status van ons volk, die uitdagings waarvoor ons te staan kom en ons antwoorde daarop, aan te bied. Die besluitnemers wat ons in die oog het, is natuurlik die lede van ons Beweging se Burgerraad, maar net so die besture van ander Afrikanerorganisasies en selfs individuele Afrikaners wat op die vooraand van lotsbestemmende besluite staan.
Die Orania Beweging hoop dat hierdie inisiatief deelname en besinning sal uitlok en selfs tot meer soortgelyke standpuntinnames aanleiding sal gee.
Teen die agtergrond van 2013
Die jaar 2013 het afgesluit met die allesoorheersende dood, begrafnis en huldiging van die vader van die nuwe Suid-Afrika, mnr Nelson Mandela. Wat hier belangrik is, is nie die meriete van die manier waarop ’n gewone sterfling verhef is tot iemand wat hyself kwalik sou herken nie, maar die feit dat ’n era in Suid-Afrika se geskiedenis daarmee simbolies afgesluit is.
Dat dit nie tot die grootskaalse geweld en wanorde gelei het wat baie mense gevrees het nie, is natuurlik rede tot dankbaarheid. Ons moet ons oë egter nie sluit vir die verhoogde risiko van ons mense wat verspreid en weerloos oor Suid-Afrika gevestig is, beide in landelike en stedelike gebiede, nie. Afrikaners bly ’n sigbare, weerlose en voorheen bevoorregte minderheid in ’n toenemend vyandige omgewing en moet dringend aan ’n omvattende strategie vir volhoubare beveiliging en oorlewing aandag gee.
As mnr Mandela sy oorwinning oor die politieke orde waarin Afrikaners ’n oorheersende rol gespeel het, op ’n versoenende wyse toegeëien het, beteken dit nie dat al sy ondersteuners dié benadering vandag nog deel nie. Dit is toenemend duidelik dat dit sy opvolgers, veral in die laer ordes van die breë swart politieke beweging, die betreklik gunstige posisie waarin dit Afrikaners gelaat het, dikwels met afguns en wrewel vervul.
Een beskrywing van die nuwe klem op die grondkwessie in Suid-Afrika is byvoorbeeld dat arm swart Suid-Afrikaners geen rede sien waarom die land aan hulle behoort, maar nie die grond nie. Dit geld baie gou ook vir ander vorme van rykdom wat ingevolge die Freedom Charter in algemene besit behoort te wees, maar in werklikheid net in die hande van ’n nuwe swart elite oorgegaan het.
Die swart menigte vir wie sake die afgelope twintig jaar nie verbeter het nie, sal eerder die “ryk wit elite” as hulle leiers daarvoor verwyt, en die persepsie van wit bevoorregting sal deur die nuwe elite eerder versterk word as om dit in realistiese perspektief te stel. Lae ekonomiese groei, Suid-Afrika se verswakkende geldeenheid en die opkoms van ’n jong en gefrustreerde kieserskorps, is van die faktore wat spanning kan verhoog.
Daarteenoor is die Orania Beweging se waarneming dat 2013 onder Afrikaners in die teken van groter realisme oor Suid-Afrika as tuiste vir ons volk gestaan het. Ons mense is toenemend bewus van die tekortkomings wat die Suid-Afrikaanse staat kenmerk, maar veral van die feit dat ons onder sulke omstandighede al minder ons heil van dié staat moet verwag. Inteendeel, die sin vir selfstandigheid waarvoor ons ons al só lank beywer, is besig om oor ’n breë front inslag te vind en moet bevorder word.
Vooruitsigte vir 2014
Die jaar 2014 sal polities gesproke na verwagting deur die nasionale en provinsiale verkiesings oorheers word. Hierbo is verwys na die opkoms van ’n gefrustreerde swart jeug wat hulle stem reeds gedeeltelik gaan laat hoor. Tydens die volgende verkiesings (2019) sal dit nog meer so wees. Onder sulke omstandighede mag die verlies van steun deur die ANC dalk minder gunstig wees as wat dit met die eerste oogopslag lyk omdat die leemte deur sosialistiese ekstremiste en nabootsers van die ANC gevul gaan word. Dit sal die ANC ook aan sy radikale wortels herinner.
Die Orania Beweging was in die verlede, en is nog steeds van mening dat sy lede hulle Suid-Afrikaanse stemreg moet gebruik om ons selfbeskikkingstrewe op die Suid-Afrikaanse politieke forums te bevorder. Ons moedig Afrikaners dus nie net aan om aan die verkiesings deel te neem nie, maar om dit met ons vryheidstrewe in gedagte te doen.
’n Klein minderheid se impak op die steun van dominante partye in ’n vreemde bedeling is klein en laat ‘n mens maklik verydel voel, maar die proporsionele stelsel maak dit moontlik om met betreklik min kiesers doelgerigte verteenwoordigers met ’n spesifieke mandaat tot die Parlement en Provinsiale Wetgewers te verkies. Met die oog daarop kan ’n mens sê dat elke bietjie help.
Wat egter sedert 1994 vir Afrikaners na ’n redelik tegemoetkomende politieke omgewing gelyk het, kan gedurende 2014 aansienlik onvriendeliker word. Die Orania Beweging het iets daarvan ervaar toe ons reaksie op mnr Mandela se dood heel billik deur ’n joernalis opgesom is as “with dry eyes and due respect” en dit ’n stroom van rassistiese haatpos uit jong swart geledere op die sosiale media tot gevolg gehad het.
Hoewel ons nie met die verwagting van ’n enkele, kataklismiese “nag van die lang messe” werk nie, is ons bekommerd dat soveel van ons mense die slagoffers van haatmisdaad word. Elke nag waarop mense aangeval word, op hulle plase of in dorpe en stede, is ’n “nag van die lang messe” in die kleine. Ons is bekommerd dat Afrikaners dié gebeure nie in die lig van politieke wedywering beskou nie en daarom bloot individueel of in die kleiner kring benader.
Maar selfs as ‘n mens die fisiese bedreiging waaronder ons mense leef buite rekening laat, kan verwag word dat die verhoogde verwagtings en verhitte retoriek wat met die verkiesings gepaard sal gaan, die speelveld met betrekking tot die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing sal verskuif. Grond en die landboubedryf, mynbouregte en die mynbedryf, die industriële en korporatiewe sektore sal almal die toenemende druk daarvan voel, selfs al is dit eerder eienaarskap as werklike breëbasis swart bemagtiging waaroor dit gaan.
Die punt is dat die eksterne omgewing vir Afrikaners moeiliker eerder as makliker sal word en dat dit net groter eise aan ons sin vir selfstandigheid sal stel. Meer Afrikaners sal sekerlik oorweeg om Suid-Afrika te verlaat en ’n blote beroep op hulle lojaliteit aan die Suid-Afrikaanse staat sal al minder gewig dra.
Ons strategiese fokus vir 2014
Teen die agtergrond van die volk-staat wat hierbo geskets is, is die Orania Beweging van oordeel dat ons ’n drieledige strategie moet volg, nie net gedurende 2014 nie, maar ook in die jare wat nog kom. Hoewel dit baie kortliks aangemeld word, sal u besef dat dit in elke geval ’n mondvol is wat ter sprake gebring word.
Die eerste deel van die strategie is dat die Orania Beweging ’n sterker uitwaartse aksie moet loods. Ervaring het ons geleer dat ‘n mens nie steun vir Orania kan forseer nie, maar dat mens tegelyk nie kan swyg oor ’n saak wat jou so na aan die hart lê nie. Ondersteuning vir ons saak kan baie vorme aanneem en bestaan nie net uit diegene wat hulle in die Oraniagebied hervestig nie.
Belangrik soos vestiging mag wees, is die uitbreiding van ons lidmaatskap en ondersteuningsbasis, asook die groei van instellings soos die Helpsaamfonds en die Groeifonds, albei filiale van die Orania Beweging, voorwaardes vir ons toekomstige sukses. Lede en ondersteuners kan ons help om plaaslike bekendstellingsgeleenthede aan te bied en mede-Afrikaners te betrek.
Die tweede deel van ons strategie is dat ’n verspreide en kwesbare minderheidsbevolking met ’n gevestigde sin vir selfstandigheid die volgende eenvoudige stap moet oorweeg. Dit is naamlik konsentrasie. Selfs ’n minderheid wat gekonsentreerd woon en daardeur beheer oor sy eie instellings uitoefen sonder om daarvoor van ’n onvriendelike of vyandige staat afhanklik te wees, kan tot ’n hoë mate oor sy eie toekoms beskik.
Op ’n wêreldwye skaal is selfs ‘n groot volk ’n minderheid, maar is dit sy onbetwiste beheer oor ’n eie gebied wat van hom iets groot eerder as iets klein maak. Dieselfde geld vir middelslag en klein volke, ook vir die Afrikaner. Daarom moet Afrikaners hulle nie teen die huidige Orania en sy beperkings vasstaar nie, maar by ’n verbeeldingryke uitbou daarvan betrokke raak. Klein soos hy is, toon Orania reeds watter krag daar in konsentrasie lê. Dink net wat ons met tien maal of honderd maal sy huidige bevolking en gebied kan vermag!
Dit bring ons by die derde deel van ons noodsaaklike strategie vir die nuwe era wat in 2014 ingelei word, naamlik die noodsaak vir versnelde groei. Orania het vir baie Afrikaners ’n simboliese sentrum geword en meer is besig om dit as sodanig toe te eien. Daarvan spreek byvoorbeeld die troue vroeg vanjaar op Orania van twee jongmense wat in London woon, maar dié groot stap in ’n tuistelike omgewing wou neem. Dit het ’n groot kring van familie en vriende ook na Orania aangetrek en aan Orania ’n plek in hulle gemoed toegeken.
Orania kan egter nie verseker dat die Afrikanervolk in die toekoms sal floreer as hy net ’n simboliese sentrum bly nie. Orania moet ook ’n fisiese sentrum word, en dit sal hy net regkry as daar wesenlike groei plaasvind. Nie net die voorgaande twee punte nie, maar elkeen van ’n veeltal handelinge, groot en klein, moet daarop afgestem wees. Elke belegging en bydrae, elke nuwe besigheid, elke gebou wat verrys, elke gesin wat vestig dra daartoe by – en elke Afrikaner moet hom- en haarself afvra wat hulle kan doen om dit te bevorder.
Slegs as ons saam doen wat ons elkeen apart nie kan regkry nie, sal ons volk gedy en ons elkeen die voordeel daarvan geniet. Dan vind ons wat vryheid beteken, nie vryheid van iets slegs nie, maar vryheid vir iets groots. Dit is ’n roeping wat tot ons elkeen spreek. Ons is immers nie vir onderhorigheid gebore nie!
Met beste wense
Carel Boshoff
President van die Orania Beweging
by Jaco Kleynhans | Jan 7, 2014 | Nuus |
Afrikaners het ‘n lang en mooi geskiedenis van konserwatisme. Reeds aan die begindae is die konserwatiewe agrariese kultuur van die Nederlanders wat in die Kaap gevestig het en die sterk waardes en diepe geloofsoortuigings van die Hugenote uit Frankryk saamgevoeg in ‘n besonderse konserwatiewe kultuur.
Terwyl die res van die Westerse wêreld gedurende die 1960’s en 1970’s in opstand teen die konserwatisme gekom het, het Afrikaners steeds tot in die 1990’s grootliks hierdie kultuur behou. Gedurende die laat 1980’s het meer as 80% van Afrikaners nog weekliks kerk toe gegaan.
Vandag sien ons egter dat Afrikaners in allerhande rigtings van sy konserwatiewe wortels afdwaal. Met die opkoms van vêrregse organisasies in die 1980’s is die persepsie ook geskep dat konserwatiewe Afrikaners en regse Afrikaners dieselfde ding is. Daar is egter ‘n groot verskil. Konserwatiewe mense glo in die voortdurende behoud van die goeie en om deur die aanvaarding van realiteite om ons die beste uit ons verlede te neem en daarmee ‘n realistiese beter toekoms te bou.
Konserwatiewe mense is pro-aktief, maar versigtig en beginselvas, dog buigsaam en realisties. Konserwatiewe mense is ook op die positiewe ingestel en glo in die roeping en die moontlikheid om in moeilike omstandighede steeds gelukkig en suksesvol te wees. Konserwatiewes laat hulle deur hul beginsels en die werklikhede om hulle lei terwyl regses meestal deur emosie gedryf word.
Regses is meestal ook beginselvas en opregte Afrikaners wat diep besorg is oor hul mense. Hulle is ongelukkig dikwels ook reaksionêr en glo veel meer in revolusie en grootskaalse verandering ten einde by hul doelwitte uit te kom. Sulke Regse bewegings hou risiko’s vir die Afrikaner in, omdat diesulkes nie besorg is oor die gevolge van hul woorde en dade nie, maar eerder fokus op die grootskaalse omvorming van die omgewing waarin hulle hulself bevind. Die gevolge van hul dade is iets waarmee hulle later sal saamleef.
Sedert die 1990’s het die konserwatiewe tradisie onder Afrikaners ook na links weggekalwe. Dit is eenvoudig sigbaar in die groot afname in kerkbywoning onder Afrikaners, die omhelsing van die verbruikerskultuur en individualisme en die aanvaardiging van die totale afbreek van ‘n eens waardegedrewe gemeenskap deur wetgewing wat aborsies, pornografie, homoseksuele huwelike en ander dergelike sondes goedkeur. Baie Afrikaners doen vandag op Sondae inkopies, spandeer al hoe minder geld op maatskaplike en kulturele akitwiteite in hul gemeenskappe en het lankal egskeidings as “normaal” begin aanvaar.
Indien ons vir onsself ‘n toekoms in Suid-Afrika wil skep, sal ons as Afrikaners terug moet draai na ons konserwatiewe tradisie. ‘n Tradisie gebou op instellings soos die gesin, ons kerke, die gemeenskappe waarbinne ons woon en ons kulturele en burgerlike organisasies.
Die leiers in ons gemeenskap moet ouers, onderwysers, predikante en die leiers van burgerlike organisasies wees. Ons moet ons toekomsplanne bou op ons geloof, kultuur, tradisies en ‘n besef dat jou verstand eerder as jou emosies ‘n beter rigting sal aantoon. Met ‘n roepingsbesef en ‘n herbeklemtoning van die gesin, die gemeenskap en die volk sal ons vir Afrikaners hoop op ‘n beter toekoms kan skep.
by Jaco Kleynhans | Des 18, 2013 | Nuus |
Dit is alombekend dat Afrikaners se bande met ons stamlande in Europa gedurende die tweede helfte van die 21ste eeu ernstige skade gelei het. Die ANC se propagandaveldtog teen Afrikaners was uiters suksesvol en lande, organisasies en individue wat eens ons vriende was, is oornag in haters van die Afrikaner omskep.
Burgers van lande van regoor die wêreld het tydens die Tweede Vryheidsoorlog aan die Boere se kant geveg. Die lys in die voorportaal van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein is ‘n goeie bewys van die omvang van vriendskap wat tydens die oorlog teenoor die Boere geheers het. Ook na die oorlog was die bande met Europa sterk.
Ons weet egter almal wat na die 1948-verkiesing gebeur het. Die resultate van die propagandaveldtog wat teen die Afrikaner gevoer is, is vandag nog oral sigbaar. Vra maar enige ouer Nederlander, Fransman of Duitser wat hy van Afrikaners weet en dink en woorde soos “rassisme” , “apartheid” en “menseregteskendings” sal waarskynlik aangehoor moet word.
Kan die Afrikaner se beeld in die buiteland en in besonder in ons stamlande weer herstel word? Kan ons weer sterk bande met Europese lande bou?
Om hierdie vrae te beantwoord, sal ons eers moet besef dat wat verby is, verby is. Ons kan niks aan die geskiedenis doen nie. Daarmee saam sal ons moet aanvaar dat ons beeld in die buiteland steeds sleg is en dat dit tyd sal neem om te herstel. Europa van vandag lyk ook heelwat anders as die Europa van 1899. Een van die grootste nagevolge van die Tweede Wêreldoorlog is ‘n verskuiwing na links in Europa en in besonder weg van identiteit en die soewereine nasiestaat.
Deur op die behoud van ons Afrikaneridentiteit en ons strewe na selfbeskikking te fokus, sluit ons onmiddellik ‘n groot deel van die Europese bevolking uit. Enige poging om die Afrikaner se beeld oor die algemeen in Europa te probeer verbeter, sal dus ‘n moeisame en bykans onmoontlike taak wees.
Daar is egter goeie nuus. Regoor Europa is daar sterk politieke partye, burgerlike organisasies en verenigings wat weer die klem op identiteit en die nasiestaat begin plaas. In Nederland is daar die Partij Voor De Vrijheid en organisasies soos die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging en die Nederlands Zuid-Afrikaanse Werksgemeenschap.
In Vlaandere is daar Vlaams Belang en die Vrienden van Zuid-Afrika. In Frankryk groei Front National tans sterk. Afrikaners moet bande met hierdie partye en organisasies smee, eerder as om te probeer om die algemene beeld van die Afrikaner onder die massas in Europa te herstel.
Nog ‘n groot voordeel is tyd. Die generasie van die 1960’s en 1970’s se opstande is besig om oud te word. Nuwe generasies Europeërs staar hoë werkloosheid, verarming, toenemende misdaad en die verbrokkeling van hul kulture en tale in die gesig weens die toestroming van immigrante en asielsoekers, maar ook weens regerings se pro-Europa en anti-soewereine staat-standpunt oor dekades heen.
Toekomstig geslagte Europeërs sal heel waarskynlik weer met erns na die behoud van hul identiteit begin kyk. Die Afrikaner sal en kan met hulle aanklank vind.
Nuutste Opmerkings