Verkiesing 2014

Afrikaners staan op die vooraand van die 2014 algemene verkiesing in Suid-Afrika by ‘n politieke kruispad. Die besluite wat ons met hierdie verkiesing neem kan verreikende gevolge hê vir ons vermoë om voordeel te trek uit die parlementêre politiek.

Tog is dinge nie meer so duidelik as voorheen nie. Waar die DA met alle krag en mag teen die beleide van die ANC geveg het wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se groeiende probleme, begin ‘n nuwe, jonger leierskap binne die DA om die status quo en politieke posisionering van die party uit te daag.

Die oorsaak van hierdie ommeswaai word aangedui deur die volgende grafiek wat deur www.emtanalytics.com opgestel is in hul onlangse ontleding oor die verkiesing:

Bron: http://www.etmanalytics.com

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se etniese minderhede (in die analise gedefinieer as blankes, gekleurdes, Indiërs en Asiate) se proporsionele stem gaandeweg besig is om te daal en daarmee saam word hul vermoë om die politieke diskoers te beïnvloed, ook al minder.

Hierdie tendens gaan ook nie verander nie, aangesien die land se minderhede relatief gesproke steeds heelwat minder kinders as die swart groepering kry, soos aangedui deur die volgende bevolkingspiramide van www.emtanalytics.com:

Bron: http://www.etmanalytics.com/

Uit bogenoemde is dit duidelik dat dit wat vir die minderhede as geheel geld, nog te meer van toepassing op Afrikaners is. Indien ons moedertaal as bepaler inspan, verteenwoordig ons slegs 60% van die rooi streep op die bevolkingspiramide.

Dit is uit die grafiek duidelik dat ‘n politieke party wat die regering wil oorneem, die grootste gedeelte van die swart stem op homself moet verenig. So ‘n party het dan geen ander keuse nie as om simpatiek te wees teenoor die waardes, verwagtinge en geskiedenisbeskouing van die swart meerderheid .

Dit beteken in praktiese terme dat wanneer die swart kieserskorps glo dat grond van hulle gesteel is deur witmense en dit vir hulle belangrik is om daardie grond terug te kry, enige party wat graag ‘n regering wil vorm, simpatiek teenoor hul eise sal wees (ongeag of hul standpunt histories akkuraat is of nie).

Dit verklaar waarom die 3 politieke partye wat tans beplan om nou (of in die toekoms) die regering te vorm, te wete die ANC, DA en EFF, almal ten gunste is van beleide wat skadelik is vir die land se ekonomie en veral ook vir Afrikaners, soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie en Grondhervorming.

Dit verklaar ook hoekom die DA nie sy posisie in die Wes-Kaapse regering gebruik het om druk op die Stellenbosch Universiteit te plaas om Afrikaans as onderrigmedium te bewaar en uit te bou nie. Ook waarom die DA in die Wes-Kaap nie Solidariteit gesteun het in sy hofsaak teen die Departement van Korrektiewe Dienste se toepassing van Regstellende Aksie nie. Dit ten spyte daarvan dat die agteruitgang van Afrikaans en die diskriminasie teen bruin en wit werkers deur werkgewers in die Wes-Kaap, lynreg bots met die belange van die meerderheid van die DA se kiesers in die Wes-Kaap.

Dit is dus duidelik dat demografiese verandering beteken dat Afrikaners wat vir die ANC, DA of EFF stem, geen voordeel in ruil daarvoor in die beleidsrigtings van daardie partye kan verwag nie.

Beteken dit dat Afrikaners apaties teenoor partypolitiek moet raak?

Om hierdie vraag te beantwoord moet daar oorweeg word of daar enige alternatiewe wyse is waarop Afrikaners voordeel uit die parlementêre politiek kan kry.

By die bestudering van ouer demokrasieë, is dit duidelik dat minderheidspartye wel die boerpot kan wen  wanneer dit as sogenaamde koningsmaker kan optree.

Dit gebeur wanneer die twee dominante partye nie self ‘n meerderheid van die stem gekry het nie, en die hulp van ‘n minderheidsparty benodig om ‘n regering te kan vorm. Daardie minderheidsparty kan dan voorwaardes stel in ruil vir sy ondersteuning van die party waarmee hy gaan saamwerk om die regering te vorm.

Een so ‘n voorbeeld is die rol wat die Groen Party in Australië vervul het om dit vir die Arbeidersparty moontlik te maak om ‘n regering te vorm tussen 2010 en 2013. Tydens die verkiesingsveldtog in 2010 het die Arbeidersparty belowe dat daar nie ‘n Koolstofbelasting ingestel sal word indien hulle die regering sou vorm nie. In die verkiesing het die Arbeidersparty 72 setels in die parlement gewen en die Liberale Party (grootste opposisie) het ook 72 setels gewen. Die Groen Party (met slegs 1 setel) het toe sy steun aan die Arbeidersparty gegee op voorwaarde dat daar ‘n Koolfstofbelasting ingestel word. Die Arbeidersparty het toe met behulp van die Groen Party die regering gevorm en in 2012 is ‘n Koolstofbelasting in werking gestel.

Die Liberale Demokratiese Party in die Verenigde Koninkryk (VK) is ook ‘n voorbeeld. Nadat hulle die Konserwatiewe Party in 2010 aan bewind gestel het deur hul 57 setels by die 306 van die Konserwatiewe party te voeg, het die Konserwatiewe Party ingestem om ‘n referendum te hou oor die verkiesingstelsel wat in die VK gebruik word. Hierdie referendum is deur die Liberale Demokrate gevra omdat die huidige stelsel hulle tot 9% van die setels beperk al wen hulle 23% van die stemme.

In beide hierdie voorbeelde het die grootste party eise toegestaan wat hulle self skade berokken het, omdat dit hulle in staat gestel het om ‘n regering te kan vorm. Die moontlikheid van mag is dus ‘n baie sterk hefboom wat ‘n klein party in sulke omstandighede kan inspan om uitsonderlike toegewings aan hul kieserskorps te wen. Daardie magshefboom bly ook tot en met die volgende verkiesing in plek, want die minderheidsparty kan te eniger tyd besluit om nie meer die regerende party te steun nie en ‘n nuwe verkiesing teweeg te bring. Dit maak dit onmoontlik vir die regerende party om nie aan die minderheidsparty se redelike eise te voldoen nie. In Kontinentale Europa is die skep van sulke na-verkiesings-koalisies om die regering te vorm en die gepaardgaande uitruil van gunste en gawes algemene praktyk.

Volgens die verslag van www.emtanalytics.com is daar ‘n 85% kans dat die Suid-Afrikanse politieke bestel in die toekoms weg sal beweeg vanaf ‘n eenpartystelsel na ‘n twee- of meerpartystelsel. In beide die twee- en die meerpartystelsel kan ‘n klein Afrikanerparty as koningmaker optree en sy pond vleis vir sy ondersteuners eis:

Bron: http://www.etmanalytics.com (aangepas om huidige stand korrek weer te gee)

Die verwagte tydsberekening van die oorgang na ‘n twee- of meerpartystelsel word as volg deur www.emtanalytics.com uitgedruk: “Given the potential outcomes of the next decade, the final takeaway from this analysis should be the recognition that any current political uncertainty is just the opening salvo in a process of realignment that is likely to consume the rest of the decade. Current indications are that the ANC will be in a position to retain power in 2019, but by 2024, the landscape may have shifted sufficiently for the first post-1994 transfer of power via the ballot box.”

Indien Afrikaners vir ‘n party stem wat onbeskaamd Afrikanersake bevorder en geen aspirasies het om eendag die meerderheidsparty  in die regering te wees nie, kan ons teen 2024 selfs 16 setels in die parlement hou (indien ons die kwynende proporsionele stem van Afrikaners in berekening hou), wat deurslaggewend kan wees vir enige party wat setels kort om aan bewind te kom. Ons party kan dan enige van ‘n aantal voorwaardes stel aan die ANC of DA wat aan bewind wil kom. Voorbeelde kan insluit (in geen spesifieke volgorde nie):

  • Die befondsing van een of meer enkelmedium Afrikaanse universiteite as private instellings
  • Die kwytskelding van sekere dele van die land aan die vereistes van Regstellende Aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en Grondhervorming
  • ‘n Sonsondergangsklousule vir Regstellende Aksie wat kinders wat na 1994 gebore is kwytskel daarvan
  • Die oordrag van Afrikaanse medium skole vanaf die Departement van Onderwys na die Afrikaanse Taalraad, met meegaande befondsing, om as onafhanklike skole te bestuur
  • Die gewaarborgde beskikbaarstelling van Afrikaans deur die staatsdienste in die provinsies waar Afrikaans deur ‘n beduidende deel van die bevolking gepraat word
  • Praktiese stappe om uitvoering te gee aan Afrikaners se reg op Selfbeskikking, soos die implementering van voorstelle wat deur die Volkstaatraad aan die regering gemaak is
  • Groter bevoegdhede vir Orania en die befondsing vir infrastruktuurontwikkeling op Orania
  • Groter aftrekbaarheid van uitgawes vir medies, veiligheidsdienste en onderwys van persoonlike inkomstebelasting, ens.

Die Vryheidsfront Plus het in die verlede bewys dat hy met beide die DA en die ANC kan saamwerk. Die VF+ het die DA in staat gestel om in 2007 die munisipaliteit van Kaapstad te regeer en in 2009 is dr. Pieter Mulder deur die ANC as adjunk-minister aangestel. Die party kan hierdie ervaring gebruik in toekomstige onderhandelinge.

Ook in die tyd wat aanloop tot potensiële regeringsverandering kan ‘n Afrikanerparty heelwat vir Afrikaners beteken, soos die VF+ tot op hede gedoen het. Elke Nasionale setel beteken ongeveer R1 miljoen se befondsing aan ‘n party per jaar wat aangewend kan word vir navorsing, belegging in projekte wat Afrikaners ekonomies kan bemagtig en die dryf van hofsake ten behoewe van Afrikaners. Voorbeelde van sulke hofsake waarby die VF+  betrokke was, is die saak om Suid-Afrikaners in die buiteland toe te laat om te stem, die herstel van Transnet pensionarisse se aftreevoordele en om die sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak te verklaar.

Volgens www.emtanalytics.com kan die DA in hierdie verkiesing tussen 2% en 4% van die nasionale stem verloor as gevolg van sy rondvallery met Regstellende Aksie en Agang. Dit is egter nie vanselfsprekend dat die VF+ daarin sal slaag om hierdie kiesers op te vang nie. Die 52% daling in steun wat die VF+ ervaar het tussen die 2006 en 2011 munisipale verkiesings dui aan dat die VF+ ‘n ernstige geloofwaardigheidsknou onder Afrikanerkiesers gekry het toe dr. Pieter Mulder die adjunkministerspos aanvaar het sonder ‘n mandaat van sy kiesers of ‘n kwantifiseerbare voordeel wat die party vir sy kiesers in ruil daarvoor beding het, terwyl ‘n aantal prominente en gewilde leiers van die party uitgeboender is na afloop van die besluit om die pos te aanvaar.

Ten einde Afrikanerkiesers se aandag te trek sal die VF+ sy vlak van aktivisme drasties moet verhoog, minder staat moet maak op akademiese toesprake en mediaverklarings om sy boodskap by die kiesers uit te kry, sy organisatoriese vermoë (spesifiek takke) moet uitbrei en ‘n verkiesingsveldtog bestuur wat om die regte redes verras. Die VF+ sal moet leer uit die suksesse van AfriForum en kreatiewe maniere vind om die ANC en die DA in die verleentheid te stel weens hul rasgedrewe beleide. Die VF+ sal ook beter daarin moet slaag om dinamiese leiers te behou en soos ander ernstige partye sy beleid op skrif moet stel en toeganklike moet maak. Dit is elkeen uitdagende take wat die leierskap en die partystrukture op die proef sal stel.

Die geleentheid om wesenlike voordeel uit die parlementêre politiek te trek gaan egter nie vir lank met ons wees nie. Soos wat Afrikaners ‘n al kleinerwordende gedeelte van Suid-Afrika se kiesers word (verwys na die eerste grafieke) gaan ons al minder kan bereik binne die parlement.

Daarom is daar geen langtermyn plaasvervanger vir selfbeskikking nie en moet Afrikaners, ten spyte van dikwels uiteenlopende politieke oortuigings, daadwerklik bydra tot die vestiging en uitbou van ons eie gebied rondom Orania.

As water begin lol

Die werklikheid en wens verskil meesal drasties van mekaar. Daar is egter rede om te dink oor die afstand tussen hulle.

Hidroponika, akwaponika, permakultuur, organiese beginsels is almal baie emosionele gonswoorde of -begrippe wat deur veral wensdenkers vertroetel en rondgestrooi word. Ek moet bieg dat ek ook so ‘n filosoof is. Ek het al baie gelees oor al bogenoemde kulture en selfs soms daarmee gespeel.

Hidroponika is “grondlose” kultuur met presiese mengsels van voedingstowwe. Water word ‘n paar maal herverbruik en die voordele is presiese voeding, waterbesparing en maklike outomatisasie. Klipgruis of organiese materiale word gebruik as inerte mediums.

Akwaponika is ‘n vindingryke aanpassing daarvan waar visse in ‘n tenk aangehou en gevoer word. Hulle afval word verby plante se wortels gepomp soos in hidroponika hierbo. Die plante neem die voedingstowwe op en suiwer dus in ‘n sin die water. Die voordele is weereens presies soos bo, met die bykomende visproduksie en meer organiese verbouing van plante. Hoenders kan ook bo water aangehou word sodat hulle mis in die viswater beland.

“Organies” beteken spesifiek dat geen kunsmatige bemesting of plant- of onkruiddoder gebruik word nie. Die misbruik van die begrip het gelei tot maatreëls om sertifisering te formaliseer. Dit is dus vir die boer baie duur en tydrowend om die klaring te verkry. Produkpryse weerspieël meesal ‘n premie vir daardie sekerheid.

Permakultuur is organiese “hemel”. Stelsels word geïntegreer sodat min peste problematies raak. Die natuur word “bestuur” om goeie eienskappe te gebruik terwyl nadele uitbestuur word.

Suiwer uit ‘n wateroogpunt is die eerste twee metodes baie voordelig. Organiese metodes en permakultuur bespaar water terwyl vogbewaring in die grond verbeter word. Water-ekonomie is egter nie so indrukwekkend soos by hidroponika nie.

Landbou in Suid-Afrika het verskeie baie lastige probleme. Een daarvan is waterskaarste en in gevalle waar besproei word, ook die prys van gepompte water. Met kragtariewe wat ywerig styg, het boere in verskeie gebiede reeds verklaar dat produkpryse nie teen dieselfde tempo styg nie en dat die punt genader word waar produksie nie gaan betaal nie. Boere se inkomste, voedselsekerheid en werksgeleenthede word bedreig.

Uit ‘n selfsorgoogpunt is ‘n denkproses ook nodig. Ons water word deur ESKOM gepomp. Dit is tans onmoontlik om te produseer as hulle diens verval. Ons het eenvoudig nie ekonomiese alternatiewe nie.

Met hidroponika kan baie makliker met sonkrag weggekom word omdat water eenvoudig hersirkuleer kan word en sonkrag kan baie maklik daarvoor gebruik word. Daar kan dus vir dae weggekom word sonder groot volumes “nuwe” water.

Ek dink dit raak tyd dat die afstand tussen wens en doen begin krimp: waterskaarste is volgens alle kenners naby!

Land van bloed

‘n 20-jarige vrou word vermoor, arms agter die rug vasgemaak – let op: arms nie hande nie. Haar hande is afgesny. Maag oopgesny en haar selfoon en huissleutels in die gat gedruk.
Dit was die voorval wat gemeenskapsgeweld in Relela ingelei het. Dit was 24 Januarie, ‘n Vrydag.

Oor die naweek word paaie deur die gemeenskap afgesper met boomstompe en klippe. Drie mense word ingeroep vir ondervraging rondom die moord.
Met die vrylating van hierdie drie, word twee se huise afgebrand. Die gemeenskap is op pad na die derde se huis toe hulle in ‘n konfrontasie met die polisie beland. ‘n Seun van 15 word doodgeskiet – na bewering deur die polisie.

Op Dinsdag 28 Januarie breek daar weer geweld teen die polisie uit. 1500 mense val die driekamer -satellietstasie aan met klippe en petrolbomme. Negentien voertuie word beskadig. Vyftien Polisielede word beseer, drie kritiek. Die polisie skiet en dood twee van die aanvallers. Nege arrestasies vind plaas na aanleiding van die geweld.

Die polisiekommissaris gaan lê besoek af. Haar toespraak word onderbreek deur twee vrae:“Wie het opdrag gegee dat die polisie ons mense skiet?” en “Gaan ons die meisie se hande kry om saam met haar lyf te begrawe?”

Dit dan die feite waarop ek reageer.Daar was 19 polisievoertuie by ‘n driekamersatellietstasie. Dit klink vir my na ‘n saak wat die kern van die polisie se aandag is. Dit klink vir my of hulle dalk te veel hulpbronne hier toespits. Daar is tog sekerlik elders ook probleme, of hoe?

Dit werp vrugte af: drie mense ingeroep om te verduidelik wat hulle betrokkenheid is. Oor die naweek al nadat die moord op ‘n Vrydag plaasgevind het. Klink vir my na ‘n ondersoek wat flink verloop. Die aard van ‘n regverdige ondersoek is verder dat jy nie bloot die eerste drie mense wat jy kry arresteer en hulle aanhou totdat hulle skuld erken nie. Dit was juis die aanklag teen polisie van die vorige bedeling. Hoe regverdig of onregverdig hierdie kritiek was, is nie die punt van hierdie skrywe nie. Die persepsie bestaan dat hulle bloot gemartel het totdat jy skuldig pleit. Ons wil die skuldiges aan die pen laat ry en die onskuldiges beskerm – dis tog die rol van die polisie. Niemand het tog sekerlik gedink hulle kan al seker genoeg wees om die verdagtes aan te hou nie?! Of het hulle?

Maar die gemeenskap se belewenis is dat die polisie nie werklik omgee nie. Nie werklik belangstel om die saak op te los nie. Nie in die gemeenskap se belang wil optree nie. Hulle is ongeduldig vir antwoorde en onrealisties oor wanneer daardie antwoorde gekry moet word.

Hulle hoor die polisie het mense ingeroep en verklaar hulle summier skuldig. En hulle kan waarskynlik skuldig wees. Maar kom ons maak eers seker voor ons iemand se lewe ruïneer. Hierdie boodskap val op dowe ore – hulle is skuldig op grond van die feit dat die polisie dink hulle weet iets van die saak.

Die gemeenskap neem reg in eie hande. In ‘n geval waar daar 15 polisielede beseer is. So daar was heelwat meer lede van die mag betrokke. Die saak geniet reeds voorrang. Dis nie nodig om in te meng nie. Dis nie nodig om nog aandag hier te fokus nie. Die aandag is reeds hier. Uitbarstings van gemeenskapswoede verbeter nie die ondersoek nie. Dit pla.

Selfs as die ingeroeptes skuldig is, is die afbrand van iemand se huis tog nie die manier om dit te hanteer nie. Jy wil hê hulle moet boet, maar presies daarvoor is daar mos maniere om dit te bereik. Lewenslank is deesdae nie meer lewenslank nie en die doodstraf is weg. Om dit egter verder te voer en te meen dat daar geen straf voorlê vir iemand wat skuldig bewys kan word nie, is belaglik. Tronke is steeds nie lekker plekke om in te wees nie. As die skuldiges gevang word, sal hulle genoeg pyn beleef om enige drang na wraak te versadig. Hulle gaan gestraf word tot lank nadat die meeste van die gemeenskap van die moord vergeet het.

Dis nie nodig om iemand se eiendom te vernietig bloot oor jy tweede- of derdehands gehoor het hulle het die een of ander betrokkenheid by die moord nie. Dit is presies wat hierdie gemeenskapslede gedoen het. Dis onaanvaarbaar. Dis krimineel. Veel sekerder so as dat die ouens wat ingeroep is om vrae te antwoord krimineel opgetree het.

Boonop stel jy die onskuldiges wat in huise rondom die gebrande huise bly se eiendom en selfs lewens in gevaar.Die polisie tree op teen kriminaliteit. In hierdie geval dus teen die gemeenskapslede wat reg in eie hande neem. Te hardhandig? Miskien. Ek was nie daar nie en lei die feite af van wat berig word. Hoe duidelik hulle lewens in gevaar was, is vir my onseker. Hulle kon rubberpatrone gebruik het. Hulle kon traangas ingespan het. Daar is ander maniere om optogte uitmekaar te jaag, soos wat ons polisiemag goed weet. Hulle het al te veel oefening gehad het om nie te weet nie.Die polisie het lewendige ammunisie op gemeenskapslede gevuur. Die gemeenskap se woede ontvlam teen presies die mense wat besig is om te probeer doen wat hulle eis. Dis tragies.

‘n Newe-effek is natuurlik dat wanneer jy die polisie met klippe gooi, hulle nie so lekker kan fokus op die oplos van die moordsaak waarmee jy wil hê hulle moet besig wees nie. Juis die gemeenskap se ongeduld oor antwoorde maak dat die antwoorde langer gaan vat om te kry.

Is ek al een wat slim genoeg is om die punte bymekaar te bring?

Maar in so ‘n uitbarsting tel logika nie. Relela se eie optrede is die grootste blokkasie wat verhoed dat hulle eise bevredig word. Hierdie introspeksie bestaan glad nie. Die polisie word, soos die mense wat hulle ingeroep het, summier skuldig verklaar. Want die polisie is teen ons. Die polisie wil ons indoen. Die polisie laat die mense vry wat hierdie aaklige ding gedoen het. Alle bewyse tot die teendeel ten spyt. Alle onsekerheid oor die onredelike gevolgtrekking is swakheid. Alle voorstelle dat ons tog kalm bly, is onredelik. Alle hoop op geduld is bewys dat niemand vir ons omgee nie. Die saak KAN nie vinniger opgelos word nie, is ‘n verskoning.

“Wie het opdrag gegee dat die polisie ons mense skiet?” Niemand nie, maar as jy my met klippe gooi, gaan ek myself verdedig.

“Gaan ons die meisie se hande kry om saam met haar lyf te begrawe?” Nie as julle aanhou ons motors vernietig en die paaie toemaak dat ons nie kan kom op die plekke waar ons moet soek nie.

Dis die grootste tragedie dat die armstes in ons samelewing onder die indruk is dat geweld probleme oplos, dat as jy hard genoeg skree, genoeg klippe gooi en petrolbomme teen die polisie gebruik, dit gaan maak dat die saak opgelos word.

Dit gaan nie. Die belofte dat dit gaan, is ‘n leuen.
Die leuen word bevorder elke keer wat mense herinner word aan die geweld van die struggle, asof dit iets is om op trots te wees dat die Kerkstraatbom onskuldiges doodgemaak het.
Die leuen word aangeblaas elke keer wat ‘n politieke leier sê ons gaan vir ons vat wat ons wil.
Die leuen groei in aanklank as grootkoppe net hulle groot koppe draai as die massas baklei.
Die leuen word geglo, want dit was so lank die mantra.
Die leuen word ondersteun met elke herhaling van die masjiengeweerliedjie.
Ons gaan ons pad oopskiet na ‘n beter lewe. Ons gaan die rykdom van hierdie land met machete’s vat. Ons gaan die land onregeerbaar maak tot alles beter is.
Dis die leuen.

‘n Beter lewe kom nie uit ‘n geweer se loop uit nie. Dood kom uit ‘n geweer se loop. Soos Relela eerstehands beleef het hierdie week.

Die grootste struikelblok wat voor elke rebel staan is dit: wat as ek die regering word? As jy die regering word, wil jy juis die optrede stopsit wat jyself aangeblaas het. Dit is en bly die ANC se grootste swakplek. As hulle geweld aanhou ondersteun, maak hulle die regering se werk onmoontlik. As hulle ophou, sê Julius Malema het hulle die struggle vergeet.
Hoe kom ons uit hierdie penarie uit? Ek weet nie. Maar Guerilla Sizobabulala, Sizobadubula Ngombayimbayi, Shosholosa en Umshini wam’ help nie.

Konsentrasie nodig om impak te maak

Gedurende die 1990’s is daar gereeld na Afrikaners as onmisbaar verwys. Ten spyte van grootskaalse emigrasie na lande soos Australië en Nieu-Seeland was veral Afrikaner dokters, ingenieurs en sakemanne belangrik vir die volhoubaarheid van gemeenskappe, groot maatskappye en selfs die hele Suid-Afrikaanse ekonomie. Afrikaners het belangrike rolle in byna elke sektor van die ekonomie vertolk en sou  jy in 1994 alle Afrikaners uit die Suid-Afrikaanse ekonomie moes onttrek, sou alles waarskynlik platgeval het.

Afrikaners maak vandag ongeveer 5% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit en is van alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika dié een wat die meeste oor die lengte en breedte van die land versprei is. Selfs in stede soos Pretoria en Bloemfontein waar daar redelike groot konsentrasies van Afrikaners voorkom en waar Afrikaans steeds ‘n openbare teenwoordigheid het, maak Afrikaners steeds ‘n klein minderheid van die totale bevolking uit. Byna in elke dorp en stad in Suid-Afrika daal die persentasie Afrikanerinwoners.

Daarmee saam moet en sal Afrikaners se onmisbaarheid ook begin verdwyn. Daar bestaan geen twyfel oor die hoë vlakke van opleiding, vaardighede en entrepreneurskap wat steeds vandag onder Afrikaners teenwoordig is nie. Ten spyte daarvan dat Afrikaners uit die staatsdiens en semi-staatsinstellings gedwing is en dat Afrikanerjongmense toenemend sukkel om weens diskriminerende regeringsbeleid toegang tot werksgeleenthede in die formele sektor en veral groter maatskappye te kry, speel Afrikaners steeds ‘n belangrike rol in die land se ekonomie. Hierdie rol is vandag egter minder werd as wat dit 20 jaar gelede was.

Ja voortdurende emigrasie van sommige van die besopgeleide en mees bedrewe Afrikanersakemanne, vakmanne en professionele persone dra by tot die laer vlak van impak wat Afrikaners maak, maar die realiteit dat ons voortdurend, waar ookal ons woon, ‘n kleinerwordende minderheid is, is selfs belangriker.

Die Duitssprekende Suid-Tirolers in die Noorde van Italië is een van die besopgeleide en mees entrepreneuriese volkere in die wêreld. Hulle is ‘n klein volkie van 350 000 mense. Die provinsie Suid-Tirool presteer beter as die res van Italië op byna elke ekonomiese terrein. Hierdie volk maak maar 0,5% van Italië se bevolking uit en sou hulle soos Afrikaners regoor die lengte en breedte van hul land versprei moes gewoon het, sou hul impak baie kleiner gewees het. Een suksesvolle ingenieur of een bekwame dokter in ‘n plattelandse dorp waar munisipale dienste in duie stort, werkloosheid styg, ondernemings maand na maand sluit en misdaad hoogty vier kan hoe goed wees, maar hy sal baie min impak aan die omstandighede om hom kan maak.

Afrikaners kan hoe briljant ook wees, en baie van ons mense is tereg briljant en slaag in moelike omstandighede om bo uit te kom, ons impak in Suid-Afrika sal bly afneem omdat ons demografies ‘n kleiner en kleiner deel van die land sal uitmaak. Die enigste manier om dit teen  te werk is deur te konsentreer. Fisies te konsentreer en ‘n gebied of gebiede te beset waar Afrikaners ‘n groot genoeg deel van die bevolking uitmaak om wel ‘n groter impak te maak. Konsentrasie sal deel van ons strategie moet word indien ons die Afrikaner se voortbestaan wil verseker.

Die fiesta, hoogtepunt van Spaanse volkskultuur

StiergevegDie fiesta of feria is die feesgety wat elke stad en dorp in Spanje het, gewoonlik in die somermaande, en waar die plaaslike beskermheer, ‘n heilige of die maagd Maria, met verskeie byname gevier word. Tydens die fiesta, wat omtrent twee weke duur en wat nog ‘n aanloop het met ‘n voorprogram, vind daar elke dag op die pleine musiek- en dansuitvoerings plaas, optogte met nabootsings van historiese figure en met sierwaens. Die strate is vol mense, veral die vroue wat hulle Spaansheid met die wuiwende rokke en rooi rose in die hare vertoon. Die Spaanse folkloristiese kultuur, veral in die suide, in Andalusië, is sterk beinvloed deur die Sigeuners. Dit kom veral in die musiek en die tradisionele kleredrag na vore. Flamenco is sinoniem met Spaanse musiek. Dit is ‘n sterk, ritmiese musiek, dikwels nog versterk deur handeklap en ‘n hamerende tapdans en begelei deur ‘n klaende liefdespynsang op die kitaar. Alhoewel dit intussen op talle plekke in ‘n toeristespektakel ontaard het, is daar ook plekke, soos die Casa Cultural La Guajira in Almeria, waar dit vir Spanjaarde vertoon word, met ‘n toeris hier en daar en waar Duits of Engels nog nie die allesoorheersende taal is nie.

Die hoogtepunt van die fiesta is egter die corrida, die tradisionele bulgeveg. Elke stad of dorp het sy Plaza de Toros of bularena, wat soos ‘n Romeinse amfiteater lyk. Vir die grootste deel van die jaar is dit ‘n wit olifant, maar tydens die fiesta is dit die plek waar die Spaanse siel aanwesig is en Spaansheid gevier word, nie vir toeriste nie, maar vir die Spanjaarde self. Trouens die meeste toeriste ys eintlik vir die bloeddorstige bulgeveg en bly weg. Ek wou dit egter gesien en beleef het, ‘n argaïese en oeroue viering wat eie aan Spanje is. Andalusië is een van die vestings van bulgevegte, maar in Katalonië, die modernste streek met die hoofstad Barcelona, is dit reeds verbied en het daar onlangs die laaste bulgeveg plaasgevind. Die verbod deur die nasionalistiese regering van Katalonië was egter nie net ter wille van die bulle nie, maar ook om te wys dat hulle Katalane is en nie Spanjaarde nie, en dus ook niks met Spaanse tradisie uit te waai het nie. Globalisering werk natuurlik ook hier teen ‘n eeue-oue tradisie. Maar vir eers, te oordeel aan die groot geesdrif en getalle, sal die bulgeveg nog deel wees van die Spaanse kultuur. Self het ek gemengde gevoelens gehad. Aan die een kant wou ek hierdie kultuurgebeurtenis beleef, maar aan die ander kant kry ek die dier wat ‘n halfuur lank gegaffel word voor dit uiteindelik doodgesteek word, ook jammer.

Om ‘n kaartjie vir ‘n bulgeveg te kry is nie maklik nie. Dit kan net op die dag voor die geveg gekoop word en jy moet gereed wees om ‘n uur of langer tou te staan. En goedkoop is dit ook nie.
Uiteindelik het ek toe my kaartjie gehad en in die namiddag na die Plaza de Toros toe vertrek, waar massas mense, jonk en oud, en ‘n hele paar pragtig opgetooide vroue, in die arena ingestroom het. Ek het die klein protesbetoging van tien mense teen die bulgeveg wat by een van die ingange gestaan het, jammer gekry in die aangesig van hierdie geweldige oormag bulgeveggeesdriftiges.Toe ek die arena betree, het ek hoendervleis gekry toe ek die groot skare sien en hulle eenheid as Spanjaarde tydens hierdie viering van hulle kultuur. Die toreros (bulvegters), picadores (perderuiters met spiese) en bandarilleros (mans met versierde spiese) en as fokuspunt die matador de toros (die “doder van die bul“) het onder heroïese paso doble-musiek in die arena ingekom en statig rondbeweeg en vir die geesdriftige skare gewuif. Die matadores geniet heldestatus vergelykbaar met topsportsterre en kry ook groot geld vir hulle waagmoed.

 

Stiergevegarena

Na die intog begin die ritueel wat volgens vaste reëls verloop: ‘n groot, wilde bul hardloop vol energie in die arena in. Verskeie toreros met pers en geel doeke laat die bul op hulle afstorm. Dié stadium is gevaarlik, die bul is aggressief en vol energie en dikwels moet die toreros agter die houtomranding vlug om nie op horings geneem te word nie. Die bul word tussen die verskillende doekswaaiende toreros rondgejaag en raak geleidelik uit stoom uit. Dan begin die fase waar die bul beseer en gegaffel word. Eerste kom die picadores op perde en boor hulle lanse in die vel van die bul in, wat op sy beurt probeer om met sy geweldige krag die perd, wat met ‘n dik kombers beskerm is, om te stoot. As die kragmeting begin gevaarlik raak vir die perd en ruiter, kom die toreros weer in aksie en trek die bul se aandag af met hulle doeke. Vervolgens kom drie vlugtvoetige bandarilleros in en hardloop op die bul af en steek drie bandarillas, spiese met angels en versier met linte, in die bul se dik nek in. Hulle het geen wapens of beskerming nie en dit is ‘n waagmoedige taak. As hulle goed is en elkeen sy drie spiese in die bul vassteek, dan klap die skare hande en roep die aanmoedigende Olé. Die bul begin nou bloei en swaar asemhaal, maar is nog steeds gevaarlik. Nou kom die matador in die arena in, met ‘n rooi doek en ‘n dun degen. Hy volvoer nou vir sowat 10 minute iets wat amper lyk soos ‘n dans met die bul en beweeg vaardig en op kort afstand om die bul en laat hom in die rooi doek stoot. Hy hou sy oog op die horings en op die regte plek in die rug vir die doodsteek. Met ‘n vinnige steek tussen die skouerblaaie in word die stier verlam, maar is nog nie dood nie. Met sy laaste opwelling van woede kom toreros weer en trek die bul se aandag van die matador af. Kort daarna stort die bul ineen, gewoonlik teen die omranding, en word dan met ‘n goed gemikte dolksteek in die nek van sy lyding verlos. Die skare staan op, waai sakdoeke en prys die matador, wat met die oor of stert van die bul as trofee triomfantlik met sy helpers deur die arena wandel. Die dames gooi in ekstase rooi rose en waaiers na hom en die matador geniet die huldigings en sy triomf. Na ‘n kort pouse gaan die ritueel met die volgende bul en volgende matador aan, gewoonlik ses bulle tydens ‘n corrida wat in totaal drie uur duur. Tydens die pouse haal die toeskouers hulle peuselkos uit, drink wyn wat uit ‘n leersak in jou mond gespuit word en lewer in opgeruimde luim kommentaar.

Nou ja, ek het dit beleef, maar my gemengde gevoelens bly, die begeestering vir die outentieke kulturele ervaring word getemper deur die medelye met die bul.

Laat ons nou nie ook Oikofobies raak nie

Oikofobie‘n  Jong en begaafde Nederlandse skrywer het behoorlik die kat in die hoenderhok losgelaat met twee opspraakwekkende boeke wat die afgelope twee jaar uit sy pen verskyn het. Thierry Baudet publiseer gedurende 2012 die boek De Aanval op de Natiestaat waarin hy ‘n sterk argument lewer vir die behoud van die nasiestaat in Europa. Baudet se boek lewer ‘n kritiek op toenemende pogings van die politieke elite in Europa om die nasiestaat af te breek deur landsgrense meer irrelevant te maak en sodoende een groot Europa te verwesenlik.

Vanaf 1 Januarie vanjaar kan burgers van Bulgarye en Roemenië, beide redelike arm Oos-Europese lande, sonder enige toestemming in ander lidlande van die Europese Unie gaan werk. ‘n Groot meerderheid van Nederlandse burgers is ten sterkste hierteen gekant omdat dit werksgeleenthede van Nederlanders ontneem en salarisse afdwing wat weer tot ‘n swakker lewenstyl kan aanleiding gee. Ten spyte van die groot teenstand onder gewone Nederlanders, steun die oorgrote meerderheid van politici in Nederland egter wel die verdere oopgooi van Nederland se reeds byna onsigbare landsgrense.

Baudet vra in sy boek die belangrike vraag oor of die wêreld werklik meer vry en veilig sal wees indien die nasiestaat wat op ‘n basis van gedeelde waardes en ‘n gesamentlike kulturele identiteit gebou is, stelselmatig afgebreek word.

In opvolg op hierdie belangrike vraag skryf Baudet in sy onlangs gepubliseerde boek, Oikofobie, oor die rede waarom daar so ‘n aanslag op die nasiestaat in Europa is. Oikofobie volgens Baudet, is ‘n angs vir die eie. Oikofobie staan teenoor xenofobie wat ‘n angs vir mense anders as jy beteken. Een van die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog, asook die aftakeling van kolonialisme is dat Europeërs ‘n vrees vir hul eie identiteit ontwikkel het. In Nederland speel dit af deur die drang na globalisme. Die aantal Nederlanders wat hul kinders na Engelse skole stuur, iets wat enkele dekades gelede nog totaal ongehoord was, styg skerp en Nederlanders probeer toenemend “globaal” oorkom.

Terwyl ons as Afrikaners nog debatteer oor patriotisme word patriotisme in Europa gelykgestel aan rassisme en Naziïsme. Baudet skryf dat Oikofobie daartoe lei dat Nederlanders hul waarde in die wêreld gering skat en dat hulle voortdurend daarna streef om deur goeie gebruik van Engels ‘n mate van aanvaarding te kry en afstand van hul eie identiteit te skep.

Volgens Baudet is daar drie oorsake van Oikofobie naamlik die uitdagings wat ‘n toenemende multikulturele samelewing in Nederland vir sy burgers inhou. Verdere redes vir Oikofobie is die globalisme wat deur Europese integrasie aangedryf word en die moderne kunste.

Die Afrikaner beleef vandag ook toenemend ‘n soort Oikofobie. Veral in die media moet ons gedurig Afrikaners hoor wat probeer om tog nie te Afrikanerrig oor te kom nie. Die drang om in ‘n globale wêreld aanvaar te word laat mense selfs verengelsing op hulself afdwing. Ook die moderne Afrikaanse musiek, boeke en teater lewer ‘n groot bydrae hiertoe. Net ‘n besef dat jy ten spyte van ‘n liefde vir identiteit steeds suksesvol kan wees, sal hierdie probleem kan teenwerk. Afrikanerorganisasies sal op moderne wyses ons mense weer trots op hul Afrikaneridentiteit moet maak.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel