Hierdie jaar 2014 staan in die teken van die 100-jarige herdenking van die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Die eintlike vierings sal in Juliemaand vanjaar plaasvind, wanneer dit presies 100 jaar gelede was dat die Eerste Wêreldoorlog begin het. Die oorlog het egter ‘n aanloop gehad en dit is nogal ‘n versoeking vir historici en politieke wetenskaplikes om die aanloop 100 jaar gelede met vandag te vergelyk en te bespiegel oor die moontlikheid van ‘n Derde Wêreldoorlog met die huidige konstellasie van groot- en supermoondhede.

Die historikus prof. Margaret MacMillan van die Universiteit van Cambridge, doen presies dit in ‘n onlangse artikel in die Britse koerant The Independent. Volgens haar is dit wat destyds die Balkan was, ‘n streek met talle vyandige, etnies en godsdienstig verdeelde klein state, vandag bekend as die Midde-Ooste. Dié kookpot was in die grootmoondhede se agterplaas. Dit was destyds Duitsland, Rusland, Frankryk, die Habsburg Ryk, die Ottomaanse Ryk en Groot-Brittanje wat in die sake van die Balkan ingemeng het en bondgenootskappe met die state gesluit het. Vandag is die VSA, Rusland, Sjina, Turkye, Iran en die Europese Unie aan verskillende fronte betrokke in die Midde-Oosterse kookpunt. Dit is veral die oorlog in Sirië wat die toneel van inmenging van buite en ondersteuning van die verskillende oorlogspartye is.

Israel en die Palestynse gebiede bly ook ‘n kookpunt en die VSA se bondgenootskap met Israel staan teenoor die ondersteuning van Israel se vyande deur, veral Iran, met Rusland en Sjina wat ook in die agtergrond bedrywig is. Die vernietigende krag was destyds etniese nasionalisme en die stryd vir afskeiding van die multi-etniese ryke soos die Habsburg Ryk en die Ottomaanse Ryk. Vandag is dit die Islam-fundamentalisme wat teen sekulêre regimes veg en die inter-Islamitiese konflik tussen Soennite en Sjiite wat onderliggend aan talle konflikte is, soos in Libanon, Sirië, Irak en Bahrain. Etniese minderhede soos die Koerde dra by tot die konflik. Behalwe vir die Midde-Ooste is daar ook ‘n tweede front in die Stille  Oseaan wat eers in die Tweede Wêreldoorlog ‘n faktor was toe die VSA en Japan teen mekaar te staan gekom het. Dit is vandag die VSA wat sy supermoondheidstatus wil beskerm teen die opkomende nuwe mag, Sjina. Japan, ook ‘n groot moondheid en ‘n bondgenoot van die VSA, is tans in direkte konflik met Sjina oor ‘n onbewoonde eilandgroep, die Senkaku-eilande. Ook kleiner lande soos Taiwan, die Filippyne en Viëtnam is rolspelers in die konflik en voel deur Sjina bedreig. Die parallelle met 1914 is ook duidelik: ‘n nuwe, opkomende en aggressiewe moondheid wat deur die ouer moondhede nie as gelyke aanvaar is nie, soos destyds die Duitse Ryk. Vandag is dit Sjina. Wat destyds Groot-Brittanje en Frankryk was, is vandag die VSA en Japan.

Vandag word dikwels geargumenteer dat globalisering en die vervlegting van state en hulle belange ‘n groot oorlog onmoontlik maak, die Europese Unie en die lang tyd van vrede (afgesien van “kleiner” konflikte in die Derde Wêreld) word as bewys genoem. Macmillan wys egter daarop dat ook die tyd voor 1914 ‘n periode van ‘n lang vrede was, meer as 40 jaar, wat Europese state betref en daar net enkele klein oorloë in die randgebiede en kolonies was. Dit was ‘n tyd van ongekende voorspoed, ekonomiese groei, tegnologiese ontwikkeling, kulturele verandering en nuwe idees. Dit is egter sulke situasies van vinnige verandering wat lei tot konflikte want state raak gulsig, te selfversekerd en is in aggressiewe kompetisie met mekaar. Kulturele en ekonomiese vervlegting en kontak lei juis eerder tot spanning en selfs konflik, meer as isolasie. Dit, terloops, is ‘n links-liberale kernoortuiging wat al te dikwels as ‘n drogbeeld bewys is, naamlik dat die maksimum kontak, vervlegting en vermenging vrede en harmonie bring, en isolasie tot aggressie en konflik lei. Die geskiedenis wys dat eerder die teendeel waar is. Al is Japannese, Amerikaners en Sjinese almal verbruikers van globale produkte en dienste en mense met globalistiese gewoontes en voorkeure, beteken dit nie dat hulle nie meer patrioties voel nie, of nou skielik lief vir die ander volke raak net omdat hulle dieselfde klere dra en dieselfde vermaak beoefen nie.

Laastens, net soos wat in 1914 ‘n tweederangse gebeurtenis in ‘n uithoek van Europa tot ‘n wêreldwye konflik gelei het omdat die toneel reeds voorberei was en net nog ‘n vonk gekort het om die lont aan te steek, net so kan iets soos die spanning oor die Senkaku-eilande tot ‘n oorlog tussen Japan en Sjina lei, met die kettingreaksie van die betrokkenheid van bondgenote.