fbpx

Afrikaners het ‘n lang en mooi geskiedenis van konserwatisme. Reeds aan die begindae is die konserwatiewe agrariese kultuur van die Nederlanders wat in die Kaap gevestig het en die sterk waardes en diepe geloofsoortuigings van die Hugenote uit Frankryk saamgevoeg in ‘n besonderse konserwatiewe kultuur.

Terwyl die res van die Westerse wêreld gedurende die 1960’s en 1970’s in opstand teen die konserwatisme gekom het, het Afrikaners steeds tot in die 1990’s grootliks hierdie kultuur behou. Gedurende die laat 1980’s het meer as 80% van Afrikaners nog weekliks kerk toe gegaan.

Vandag sien ons egter dat Afrikaners in allerhande rigtings van sy konserwatiewe wortels afdwaal. Met die opkoms van vêrregse organisasies in die 1980’s is die persepsie ook geskep dat konserwatiewe Afrikaners en regse Afrikaners dieselfde ding is. Daar is egter ‘n groot verskil. Konserwatiewe mense glo in die voortdurende behoud van die goeie en om deur die aanvaarding van realiteite om ons die beste uit ons verlede te neem en daarmee ‘n realistiese beter toekoms te bou.

Konserwatiewe mense is pro-aktief, maar versigtig en beginselvas, dog buigsaam en realisties. Konserwatiewe mense is ook op die positiewe ingestel en glo in die roeping en die moontlikheid om in moeilike omstandighede steeds gelukkig en suksesvol te wees. Konserwatiewes laat hulle deur hul beginsels en die werklikhede om hulle lei terwyl regses meestal deur emosie gedryf word.

Regses is meestal ook beginselvas en opregte Afrikaners wat diep besorg is oor hul mense. Hulle is ongelukkig dikwels ook reaksionêr en  glo veel meer in revolusie en grootskaalse verandering ten einde by hul doelwitte uit te kom. Sulke Regse bewegings hou risiko’s vir die Afrikaner in, omdat diesulkes nie besorg is oor die gevolge van hul woorde en dade nie, maar eerder fokus op die grootskaalse omvorming van die omgewing waarin hulle hulself bevind. Die gevolge van hul dade is iets waarmee hulle later sal saamleef.

Sedert die 1990’s het die konserwatiewe tradisie onder Afrikaners ook na links weggekalwe. Dit is eenvoudig sigbaar in die groot afname in kerkbywoning onder Afrikaners, die omhelsing van die verbruikerskultuur en individualisme en die aanvaardiging van die totale afbreek van ‘n eens waardegedrewe gemeenskap deur wetgewing wat aborsies, pornografie, homoseksuele huwelike en ander dergelike sondes goedkeur. Baie Afrikaners doen vandag op Sondae inkopies, spandeer al hoe minder geld op maatskaplike en kulturele akitwiteite in hul gemeenskappe en het lankal egskeidings as “normaal” begin aanvaar.

Indien ons vir onsself ‘n toekoms in Suid-Afrika wil skep, sal ons as Afrikaners terug moet draai na ons konserwatiewe tradisie. ‘n Tradisie gebou op instellings soos die gesin, ons kerke, die gemeenskappe waarbinne ons woon en ons kulturele en burgerlike organisasies.

Die leiers in ons gemeenskap moet ouers, onderwysers, predikante en die leiers van burgerlike organisasies wees. Ons moet ons toekomsplanne bou op ons geloof, kultuur, tradisies en ‘n besef dat jou verstand eerder as jou emosies ‘n beter rigting sal aantoon. Met ‘n roepingsbesef en ‘n herbeklemtoning van die gesin, die gemeenskap en die volk sal ons vir Afrikaners hoop op ‘n beter toekoms kan skep.