fbpx

Afrikaners se reaksie op die dood van voormalige president Nelson Mandela is nogals deur twee teenpole gekenmerk. Aan die een kant ‘n oordrewe verromantisering wat aan afgodery grens. Aan die ander kant ‘n reaksie van mense wat dink dat as hulle ‘terroris, terroris’ van hul dakke gaan afskree die wêreld skielik minder van Mandela gaan hou.
Beide hierdie reaksies dui op ‘n soort verwardheid en die voortdurende leemte aan leierskap onder Afrikaners. Ons mense het ‘n diep behoefte om hulself oor ernstige sake waarmee hulle wroeg uit te druk, maar is onseker oor hoe om dit te doen. Een groep Afrikaners het die diepe behoefte vir aanvaardiging en dat die wêreld normaal na hulle moet kyk. Niemand wil die muishond van die wêreld wees nie en baie Afrikaners streef na ‘n beter beeld in die internasionale spieël. Deur van Mandela ‘n afgod te maak hoop hulle om as normaal geag te word.
Die ander groep het die behoefte om hul woede oor plaasmoorde en al die geweld teen ons mense, maar ook diskriminasie teen Afrikaners en die uitbuiting van ons mense op ekonomiese gebied, uit te druk. Ons mense wil net ‘n billike kans hê om binne ‘n veilige omgewing waar almal ‘n gelyke kans het om hulself uit te leef, vir hulself ‘n toekoms te kan skep. Hierdie mense druk hul woede uit deur met harde taalgebruik teenoor Nelson Mandela te reageer.
Beide hierdie groepe se behoeftes is verstaanbaar. Eintlik mag en moet alle Afrikaners daarna streef om groter aanvaarding in die wêreld te geniet. Ons mag terughunker na die steun wat die Boere tydens die Tweede Vryheidsoorlog geniet het. Ons het ook ‘n reg om ons woede en frustrasie met die huidige politieke bestel in Suid-Afrika uit te druk. Indien Afrikaners nie hul frustrasie kan en gaan uitdruk nie sal net meer van ons mense emigreer of totaal apaties teenoor ons eie toekoms begin staan.
Die probleem vandag is dus nie dit waaroor ons, onsself wil uitdruk nie, maar eerder hoe ons, onsself uitdruk. Die reaksie op Mandela se dood is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe dinge nie gedoen moet word nie.
Daar is egter uitsonderings. Carel Boshoff, president van die Orania Beweging het in reaksie op Mandela se dood onder andere die volgende gesê: “Mnr Mandela wou ’n nalatenskap van versoening hê; ons sê versoening is ’n goeie ding, maar dit kan net op erkenning gebou word – en erkenning is die grondslag van vryheid.”
Flip Buys van Solidariteit het gesê: “Die probleem is dat die ANC versoening verskraal tot inlywing by die meerderheid. Wanneer die prys van versoening die opheffing van ons bestaan beteken, raak die prys te hoog. Die grondslag van ware versoening is wedersydse erkenning en respek. Dit is die basis van die versoening wat ons moet bevorder.”
Afrikaners mag dus reageer op hul behoeftes en frustrasie. Maar laat dit by erkenning en respek begin en laat dit nie reaktief wees nie, maar wel gefokus op ‘n beter toekoms vir ons eie mense eerder as ‘n verdere vertroebeling van ons posisie in Suid-Afrika.