by Orania Beweging | Jul 12, 2021 | Uncategorized |

Foto: Gewelddadige protesoptrede in Suid-Afrika te midde die tronkstraf van voormalige president Jacob Zuma. Bron: BBC
Hoe verseker ons Afrikaners se veiligheid in Afrika?
Die veiligheidsrisiko’s vir Afrikaners is tans primêr drieledig: beroepsmisdadigers, openbare onrus en ras-politiesgemotiveerde misdrywe.
In die eerste geval is die Suid-Afrikaanse situasie bloot die gevolg van grootskaalse kriminele aktiwiteit sonder die nodige bronne om dit doeltreffend te bestry. Korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid in die Suid-Afrikaanse Polisie (met uitsonderinge waarvoor ons baie dankbaar is) is aan die orde van die dag. In die tweede geval word verskeie kwessies verpolitiseer met ernstige gevolge vir die ekonomie, munisipaliteite en gewone burgers.
Die laaste risiko is vir Afrikaners ʼn groot uitdaging. Ons posisie staan tans so: Afrikaners is ʼn 1) klein minderheid wat 2) maklik op sigwaarde geïdentifiseer kan word (ons lyk anders as die meerderheid), 3) voorheen aan bewind was en wat tans vir ons sekere implikasies het en 4) ons speel ʼn prominente rol in die ekonomie terwyl ʼn beduidende groep Afrikaners nog ekonomies welgesteld is.
Behalwe vir haatmisdade, die ongelooflike wreedheid van plaasmoorde en verpolitiserings van Afrikanergeskiedenis, -kultuur en -ruimtes, asook die opsweping teen alles wat Afrikaans op kampusse is, is die dreigemente van grondonteiening sonder vergoeding in geen onduidelike terme nie ʼn rasgerigte beleid.
Veiligheid in konteks: 400 jaar van verantwoordelikheid neem
Tydens Jan van Riebeeck se bewind was die Vryburgers, wat die verste van die kasteel af geleë was, self verantwoordelik vir grensveiligheid. Tydens die Oosgrensoorloë moes plaasgesinne self organiseer om die omgewing te beveilig. Die Voortrekkers het geen staande weermag gehad nie, en toe ons die wêreld se magtigste ryk in twee oorloë die stryd aansê was dit elke man se eie verantwoordelikheid om perd, geweer en kos te onderhou.
Met hierdie stellings is die doel geensins om enige een tot goedkoop oorlogpraatjies aan te hits nie. Inteendeel, in ieder van hierdie gevalle moes Afrikaners later ʼn beter alternatief kry. Wat wel hieruit duidelik word, is twee sake: sedert ons aankoms is dreigende lewensgevaar immerteenwoordig en veiligheid is ons eie verantwoordelikheid.
Veiligheid as ingesteldheid
Eie beteken jý moet dit doen.
Jy moet paraat wees, jy moet jou gesin en besittings, geloof en gemeenskap kan beskerm. Grensboere het dit deur die jare baie direk ervaar en moes groot aanpassings ter wille van veiligheid maak. Dit begin en eindig by die vermoë en vernuf waaroor jy beskik.
Die groot denkskuif om egter te maak, is om verby die moord en misdaad te kyk en die oorsaak daarvan te verstaan. Dit verander reaksionêre veiligheidsoplossings (hekke en honde) na pro-aktiewe veiligheidsinstellings.
Volhoubare veiligheidsoplossings
My persoonlike vaste oortuiging is dat Afrikaners slegs kan oorleef as ons in ʼn eie gebied konsentreer. Die Orania Beweging se standpunt is van die begin af dat konsentrasie kardinaal is vir ons oorlewing. ʼn Verspreide minderheid is uiters kwesbaar op verskillende wyses, dink gerus aan hoe kwesbaar ons plaasboere geword het wat afgeleë en wyd versprei woon.
As ons dan van volhoubare veiligheid praat, kan ons nie anders nie as om weereens klem te lê op Orania se beleid van eie arbeid nie. Sonder eie arbeid en selfwerksaamheid sal volhoubare veiligheid ʼn lugkasteel bly. In Orania maak ons die afstand van verwydering kleiner, want ons deel kerkbanke en kinders se skoolbanke tussen werkgewer en werknemer en dit verseker ʼn veiliger gemeenskap.
Volhoubare veiligheid in konsentrasie sluit veiligheid van instellings, veiligheid van kultuur, veiligheid van ons taal op ʼn volhoubare wyse en veiligheid van ons uitlewing van geloof in. As te ware ʼn veilige fondament vir kulturele praktyke.
Orania se veiligheid
Sonder staatskoffers wat na algemene dienste in Orania kan omsien, is dit kritiek vir baie instellings om hulle eie bestaan op ʼn kommersiële manier te help regverdig. Orania Veiligheidsdienste (OVD) is geen uitsondering nie en bied in Orania en die groter omgewing ʼn reeks veiligheidsverwante dienste aan. Dit sluit noodmedies, basiese reaksie, monitering van alarms en kameras ensovoorts in. Op hierdie wyse voorsien OVD self gedeeltelik in die finansiële implikasies van sy interne diens aan inwoners.
Die vermoë wat Orania Veiligheidsdienste geskep het, sluit personeel in wat reeds baie jare se polisiedienservaring in verskeie eenhede het. Ettiene de Lange, wat aan die hoof van OVD staan, het diverse sekuriteitservaring wat hoëprofiellughawebeskerming en die veiligheidsdienste van ʼn privaatlandgoed insluit.
Dit is so dat die SAPD in die groter omgewing al meer as een keer vir OVD se hulp gevra het gegewe ʼn goed toegeruste span, magsvermenigvuldigingde toerusting soos hommeltuie, kameras en honde en ʼn goeie netwerk na ander veiligheidsinstellings. ʼn Oos-Kaapse motordiefstalsindikaat wat misdaadaksies in ons omgewing geloods het, is byvoorbeeld in die nagtelike ure deur Orania se manne (met reuse samewerking deur die gemeenskap) vasgetrek terwyl die polisie nog gepoog het om hulle op te spoor.
Die aspek van Orania se veiligheid wat, behalwe vir konsentrasiepolitiek en eie arbeid, seker die belangrikste is, is die betrokkenheid van die gemeenskap. Die gemeenskap het ʼn mentaliteit van verantwoordelikheid en paraatheid aangeneem en bly daagliks daarop ingestel.
Selfbeskikking begin by self verantwoordelikheid en dit is in hierdie gees dat ons elke dag skaaf om die stelsels wat ons reeds gebou het, te verbeter.
Joost Strydom is die Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

by Orania Beweging | Jul 13, 2020 | Uncategorized |
deur dr Wynand Boshoff
Kulturele selfbeskikking gee jou gesag oor sekere funksies en territoriale selfbeskikking oor ’n sekere gebied. Elk het sy voor- en nadele.
Met kulturele selfbeskikking lewer jy regeringsdienste net aan diegene wat dit graag wil hê. Byvoorbeeld: Net die mense (maar ook al die mense) in België wat Duitse onderwys verlang, kan dit kry – ongeag waar in België hulle woon.
Met territoriale selfbeskikking moet jy oor ’n gebied en al sy mense regeer. Etiopië, byvoorbeeld, is in etniese deelstate verdeel. Maar in elke staat is daar klein groepe van ander etniese groepe.
Die gevolglike probleem dat daardie mense, wie se volksgenote ander state oorheers, in hierdie staat ’n onderdrukte minderheid is en die streeksregering moet met hulle plan maak.
Vir Afrikaners behoort kulturele selfbeskikking te beteken dat funksies soos onderwys, welsyn en erfenisbewaring onder Afrikaners se eie gesag geplaas word. Op ’n informele manier is dit reeds die geval, al ondermyn sekere persone (dink aan Panyasa Lesufi) dit aktief.
Dink aan die volgende moontlikheid:
’n Afrikanerraad is deel van Suid-Afrika se konstitusionele bedeling, soos swart tradisionele owerhede en rade wat dit verteenwoordig. Hierdie raad het bevoegdheid oor skole, kinderhuise en erfenisterreine wie se beheerrade dit verkies. Afrikanerskole kan die staatsgeld waarop hulle geregtig is ontvang, sonder om hulle identiteit op allerlei maniere te versteek. Sonder uitsluiting op rasgronde.
Territoriale selfbeskikking kan net uitgeoefen word waar die groep wat dit wil hê, die meerderheid is – ongeag historiese aansprake. Territoriale selfbeskikking kan net werk as ’n klomp Afrikaners trek.
Die grendelstaat van 2020 en die mate waartoe Orania self die toepassing daarvan kon bestuur, getuig vir die waarde van territoriale selfbeskikking, al is die grondgebied en getal mense klein.
Daar is al bitter debatte tussen territoriale – en kulturele selfbeskikking gevoer. Dit is ’n vals teenstelling. Hoe kan kulturele selfbeskikking, soos hierbo geskets, anders as positief wees? En hoe kan beheer oor ’n gebied (hopelik liewer groter as kleiner) anders as positief wees?

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie
by Orania Beweging | Jul 8, 2020 | Uncategorized |
deur dr Wynand Boshoff
Daar is ’n algemene veronderstelling dat elke volk ’n staat het. So is Skotland vir die Skotte, Rusland vir die Russe ensovoorts.
Dit is meer dikwels nié die geval nie. Kom ons kyk na ’n paar bekende nasionale state.
Vir Frankryk het ’n “multi-kulturele samelewing” in die afgelope dekades met immigrasie uit Moslem-lande begin. Reg? Verkeerd.
In 1794 was net 1 uit elke 3 Franse burgers regtig Frans. Die res was deel van ‘n streekskultuur. Party streekstale was (is) Keltiese tale, ander Germaans en ander was verwant aan Frans – tog baie anders.
Opeenvolgende Franse regerings het kulturele verskeidenheid aktief onderdruk. Die houding is: “In Frankryk woon daar net Franse! As jy nie ’n Fransman is nie, sal jy een word!” Dit is verbasend suksesvol en kleiner kulture is op sterwe na dood.
Oostenryk het ’n soortelyke beleid gehad. Die huidige Tsjeggië, Slowakye, Pole, Bulgarye, Hongarye en al die Balkan-lande was een of ander tyd (volledig of gedeeltelik) deel van Oostenryk.
Vir eeue is Oostenryk regeer asof almal daarin Duits was. Dit het dit nie so goed gewerk as in Frankryk nie en dit was die onmiddellike oorsaak van die Eerste Wêreldoorlog. Dit is ook hoekom selfbeskikking in die vredesluiting so belangrik was, al is dit net ten koste van verloorders toegepas.
Die VSA dink graag aan hulleself as die “melting pot” van kulture. Al het Russe, Swede, Duitsers, Engelse, Pole, Iere en Franse in Europa chronies oorlog gemaak, in die VSA het hulle in vrede saamgewoon. In die pot was Engels soos kool in ’n potjiekos: Wat jy ook al bygooi, die pot bly Engels.
So is state geneig om ’n volk na sy identiteit te vorm, selfs met geweld en onderdrukking, pleks dat state volgens die vestigingspatrone van volke tot stand kom.
Suid-Afrika is so ’n land. Dit het ’n staat geword omdat die grense daarvan vir Britse burokrate sin gemaak het. Dit is agterstevoor.
Kulturele identiteit is die eerstehandse werklikheid. Die grense sowel as konstitusionele orde van state behoort dáárby aan te pas. Die alternatief is onderdrukking, van wie ook al, teen wie ook al.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie
by Orania Beweging | Jul 6, 2020 | Uncategorized |
deur dr Wynand Boshoff
Die reg tot selfbeskikking word internasionaal erken. Dit is waar. Maar beteken dit elke volk of gemeenskap wat dit verlang, kan dit deur die internasionale reg verkry?
Mens is geneig om oor die internasionale reg soos oor die gewone strafreg te dink. As iets van my gesteel is, meld ek dit by die polisie aan. Dit is hulle werk om die saak te ondersoek en as die dief gevang word, word hy aangekla. Die regstelsel sorg dat my saak bereg word.
Selfs in die handelsreg kan ek die persoon wat wederregtelik my besittings by hom hou, hof toe neem. As die hof in my guns uitspraak lewer, kry die balju opdrag om dit aan my terug te besorg.
Die probleem met die internasionale reg is dat daar nie werklik ’n aanklagkantoor of ’n balju is nie. Daar is ook nie duidelike wette nie, want daar is nie ’n algemeen aanvaarde regsgrondslag nie.
Die doel van die internasionale reg is hoofsaaklik om vrede te bewaar of te bereik. Die agente daarvan is bestaande state, wat verkies om dinge te hou soos dit is.
’n Groep wat wil afstig, moet óf ooreenkoms met die staat waarvan afgestig word bereik, óf genoeg ander state kry om sy aanspraak tot afstigting te ondersteun, óf soveel geweld en onrus veroorsaak dat afstigting erken word as die enigste manier om vrede te herstel.
Wanneer daar ooglopend teen ’n bepaalde bevolkingsgroep gediskrimineer word, kan mens verwag dat die internasionale gemeenskap druk sal uitoefen om dit te staak. Maar selfs toe die wêreld teen die blanke regering in Suid-Afrika verenig was, het geen land sy troepe ingestuur nie.
Iets wat nie bestaan nie, word in ieder geval nie deur die internasionale reg geskep nie. Byvoorbeeld: Nadat daar vir dekades en selfs eeue teen swart Christene in die suide van Soedan gediskrimineer is, is Suid-Soedan onder internasionale druk toegelaat om af te stig. Maar as swart Christene eweredig tussen Arabiese Moslems versprei was, sou die internasionale reg nie so ’n land geskep het nie.
Soms is die uitdruklike keuse vir afstigting van ’n omlynde streek, wat al bewys het dat hulle hulleself kán regeer, nie genoeg nie. Katalonië het met ’n duidelike meerderheid vir onafhanklikheid gestem, maar toe Spanje dit met geweld onderdruk, was die internasionale reg stil.
Op die end werk die internasionale reg vir volke wat onafhanklik wil word, meer soos ’n boer van die destydse Landboukredietraad gesê het: “Hulle gee vir jou ’n lening, mits jy kan bewys dat jy dit nie nodig het nie.”
As ’n volk prakties reeds vry is, sal die internasionale reg dit erken. Meer moet nie daarvan verwag word nie.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Jul 3, 2020 | Uncategorized |
deur Karin Kemp
Waarom sal ‘n professionele, opgeleide persoon die stadsliggies verlaat om eerder ‘n klein onderneming in Orania te kom bedryf? Dit klink na ‘n eenvoudige vraag maar die antwoord is so veelsydig. Ek beantwoord dit vanuit my persoonlike perspektief.
Ironies genoeg, is ek nie iemand wat glo dat geld nie geluk kan koop nie en dat dit beter is om arm maar gelukkig te wees nie. Ek glo ook nie dat geld alles is nie – inteendeel – genoeg welverdiende geld maak alles tog ‘n bietjie makliker: selfs om jou medemens te help. Dit maak lang ure se harde werk die moeite werd.
Ek glo ook jy is verantwoordelik vir jou eie geluk, jou eie toekoms en jou eie sukses. So maak dan jou eie geluk! Al werk jy lang ure, hard. Soek spesifiek vir die mooi in die kleiner dinge in die lewe. Geniet jou koppie tee in die 5-minuut gaping tussen afsprake en verkyk jou aan ‘n mooi tuin. Doen jou huistake met ‘n glimlag al wou jy eerder voor die televisie sit of vroeg in die bed klim. Dis ‘n lewenswaarheid wat ek, soos talle ander wyshede, by my pa geleer het: self-verantwoordelikheid.
Hoekom dan my groot salaris as voltydse oogkundige in die stad, verruil vir ‘n deeltydse praktyk in Orania? Want ek woon en werk nou tussen my eie mense; mense wat my agtergrond en waardes verstaan. Buitendien is dit soveel lekkerder en makliker om nie elke dag met die Engels-praat te sukkel nie.
Werksbevrediging is nie iets wat jy op jou bord kan skep nie. Dit is ook ’n belangrike ding wat my pa my geleer het. Dis ook nie iets wat ek in die stad geken het nie – werksbevrediging, nou. Per uitsondering wel, maar nie as ‘n reël nie. Trouens, ek het die dae en soms ure tot my volgende af tyd, soms letterlik afgetel. “Nog twee en ‘n half dae Karin, dan het jy een en ‘n half dag af,” is tipies iets wat ek op ‘n Donderdagoggend vir myself sou sê. Of, “nog ‘n uur, Karin, dan gaan jy uit met ete”. En dan het ek uitgegaan, hoor! Al het ek net in die kar gaan sit. Anders pla almal my met werksdinge, in my áftyd.
Hier is dit soveel anders. Hier meng jy werktyd met aftyd omdat jou lewe vervleg is in wat jy vir jou mense, jou dorp, jou eie menswees daarmee beteken. Jy maak so maklik uitsonderings, omdat jy wíl. Dit beteken nie dat kliënte nie my werkstye hoef te respekteer of my nie op my persoonlike foon oor werksdinge moet kontak nie. Inteendeel, danksy my uitmuntende assistent se goeie werk vorm daar al hoe meer ’n duidelike skeidslyn tussen my werk en my privaatlewe.
Lewensgehalte is soos mensekennis of lewenservaring: nie iets wat jy met ‘n pil kan inkry nie, jy moet dit ervaar! Nog ’n lewenswysheid van my pa – jy moet blootgestel word aan die lewe om dit te leer ken. Die “lewensgehalte”-deel het ek self bygevoeg, nadat ek die lewe in Orania leer ken en liefkry het. Ek is in die stad gebore en getoë, daarom moes ek maar ’n bietjie aanpas op die platteland en in die Karoo. Nou het ek so ‘verplattelands’ dat dit voel asof ek die storieboeke oor die platteland- en plaaslewe wat ek as kind verslind het, gelééf eerder as gelees het. Ek is tuis, waar ek hoort. Dít is lewensgehalte!
Gemeenskapsbetrokkenheid pas my soos ‘n handskoen. Dis vir my so lekker om deel te wees van ons dorp se hartklop en nie net my eie lewe onafhanklik van Orania te lei nie. Ek beweeg die hele dorp vol. Ek sien, hoor en vóél wat hier aangaan. Ek sien maande lank voor Karnavaltyd of die Desember-vakansieprogram, reeds daarna uit. Ek wil nêrens anders heen gaan nie. Dis mý dorp, mý mense en mý veilige hawe. Waarvoor ek sal baklei. Lelik, met my naels uit, as dit dan moet!
Natuurlik is daar uitdagings om ‘n professionele praktyk in ‘n klein dorp te bedryf. Ek glo wel met ‘n positiewe gesindheid dat daar vir elke uitdaging ‘n oplossing is.
So moes ek al ‘n rekenmeester en ‘n assistent aanstel om my van myself te red, omdat ek die mense jammer kry en almal wil help eerder as om ‘n besigheid te bedryf. Ek hoop en glo dat ek my werk as oogkundige goed doen, maar ek is nie in wese ‘n besigheidsvrou nie. Ek moes ongelukkig op die harde manier leer dat my praktyk ‘n besigheid en nie ‘n stokperdjie is nie en bedryf dit nou so.
Nog ’n uitdaging is dat koeriers nie elke dag tussen my praktyk en die laboratorium wat die brille maak, pakkies kan vervoer nie. Dit verhoog die wagtydperk vir die produk en dit is dikwels ‘n frustrasie – soms meer vir my as vir my pasiënte. Ons laboratorium is egter uitstekend en hoogsbetroubaar en doen altyd hul bes om ons pakkies te prioritiseer en so gou as moontlik terug te stuur.
Die naaste oogspesialiste is 160 km ver in Kimberley so verwysings daarheen is moeilik. In die stad is daar talle opsies, dikwels kan jy iemand sommer gou ‘om die hoek’ stuur. Daar is wel moontlik ‘n oplossing vir hierdie probleem in die pyplyn maar dit is te vroeg om nou reeds die aap uit die mou te laat. Grendelstaatregulasies vertraag ongelukkig tans alle onderhandelings. Maar hou hierdie spasie dop! Intussen, ry mens maar wanneer dit nodig is.
Kleiner uitdagings sorteer ons uitstekende span sommer van dag tot dag gou uit.
Behalwe vir bogenoemde oorkombare struikelblokke, kan ons spog met ons professionele status. Vergun my dit maar, want ek is trots op wat ons hier vermag. Ons maak gebruik van uitstekende toerusting en ons kan in alle opsigte dieselfde kwaliteit diens en produkte bied as wat ’n mens in ’n stad sou kry. Min kleiner dorpe kan dieselfde sê nie. Dit is vir eers in my boeke, goed genoeg. Orania groei en daarmee saam ontstaan geleenthede.
Gee kans en onthou: van dorp tot stad!

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.