fbpx

Oikofobie‘n  Jong en begaafde Nederlandse skrywer het behoorlik die kat in die hoenderhok losgelaat met twee opspraakwekkende boeke wat die afgelope twee jaar uit sy pen verskyn het. Thierry Baudet publiseer gedurende 2012 die boek De Aanval op de Natiestaat waarin hy ‘n sterk argument lewer vir die behoud van die nasiestaat in Europa. Baudet se boek lewer ‘n kritiek op toenemende pogings van die politieke elite in Europa om die nasiestaat af te breek deur landsgrense meer irrelevant te maak en sodoende een groot Europa te verwesenlik.

Vanaf 1 Januarie vanjaar kan burgers van Bulgarye en Roemenië, beide redelike arm Oos-Europese lande, sonder enige toestemming in ander lidlande van die Europese Unie gaan werk. ‘n Groot meerderheid van Nederlandse burgers is ten sterkste hierteen gekant omdat dit werksgeleenthede van Nederlanders ontneem en salarisse afdwing wat weer tot ‘n swakker lewenstyl kan aanleiding gee. Ten spyte van die groot teenstand onder gewone Nederlanders, steun die oorgrote meerderheid van politici in Nederland egter wel die verdere oopgooi van Nederland se reeds byna onsigbare landsgrense.

Baudet vra in sy boek die belangrike vraag oor of die wêreld werklik meer vry en veilig sal wees indien die nasiestaat wat op ‘n basis van gedeelde waardes en ‘n gesamentlike kulturele identiteit gebou is, stelselmatig afgebreek word.

In opvolg op hierdie belangrike vraag skryf Baudet in sy onlangs gepubliseerde boek, Oikofobie, oor die rede waarom daar so ‘n aanslag op die nasiestaat in Europa is. Oikofobie volgens Baudet, is ‘n angs vir die eie. Oikofobie staan teenoor xenofobie wat ‘n angs vir mense anders as jy beteken. Een van die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog, asook die aftakeling van kolonialisme is dat Europeërs ‘n vrees vir hul eie identiteit ontwikkel het. In Nederland speel dit af deur die drang na globalisme. Die aantal Nederlanders wat hul kinders na Engelse skole stuur, iets wat enkele dekades gelede nog totaal ongehoord was, styg skerp en Nederlanders probeer toenemend “globaal” oorkom.

Terwyl ons as Afrikaners nog debatteer oor patriotisme word patriotisme in Europa gelykgestel aan rassisme en Naziïsme. Baudet skryf dat Oikofobie daartoe lei dat Nederlanders hul waarde in die wêreld gering skat en dat hulle voortdurend daarna streef om deur goeie gebruik van Engels ‘n mate van aanvaarding te kry en afstand van hul eie identiteit te skep.

Volgens Baudet is daar drie oorsake van Oikofobie naamlik die uitdagings wat ‘n toenemende multikulturele samelewing in Nederland vir sy burgers inhou. Verdere redes vir Oikofobie is die globalisme wat deur Europese integrasie aangedryf word en die moderne kunste.

Die Afrikaner beleef vandag ook toenemend ‘n soort Oikofobie. Veral in die media moet ons gedurig Afrikaners hoor wat probeer om tog nie te Afrikanerrig oor te kom nie. Die drang om in ‘n globale wêreld aanvaar te word laat mense selfs verengelsing op hulself afdwing. Ook die moderne Afrikaanse musiek, boeke en teater lewer ‘n groot bydrae hiertoe. Net ‘n besef dat jy ten spyte van ‘n liefde vir identiteit steeds suksesvol kan wees, sal hierdie probleem kan teenwerk. Afrikanerorganisasies sal op moderne wyses ons mense weer trots op hul Afrikaneridentiteit moet maak.