fbpx

‘n 20-jarige vrou word vermoor, arms agter die rug vasgemaak – let op: arms nie hande nie. Haar hande is afgesny. Maag oopgesny en haar selfoon en huissleutels in die gat gedruk.
Dit was die voorval wat gemeenskapsgeweld in Relela ingelei het. Dit was 24 Januarie, ‘n Vrydag.

Oor die naweek word paaie deur die gemeenskap afgesper met boomstompe en klippe. Drie mense word ingeroep vir ondervraging rondom die moord.
Met die vrylating van hierdie drie, word twee se huise afgebrand. Die gemeenskap is op pad na die derde se huis toe hulle in ‘n konfrontasie met die polisie beland. ‘n Seun van 15 word doodgeskiet – na bewering deur die polisie.

Op Dinsdag 28 Januarie breek daar weer geweld teen die polisie uit. 1500 mense val die driekamer -satellietstasie aan met klippe en petrolbomme. Negentien voertuie word beskadig. Vyftien Polisielede word beseer, drie kritiek. Die polisie skiet en dood twee van die aanvallers. Nege arrestasies vind plaas na aanleiding van die geweld.

Die polisiekommissaris gaan lê besoek af. Haar toespraak word onderbreek deur twee vrae:“Wie het opdrag gegee dat die polisie ons mense skiet?” en “Gaan ons die meisie se hande kry om saam met haar lyf te begrawe?”

Dit dan die feite waarop ek reageer.Daar was 19 polisievoertuie by ‘n driekamersatellietstasie. Dit klink vir my na ‘n saak wat die kern van die polisie se aandag is. Dit klink vir my of hulle dalk te veel hulpbronne hier toespits. Daar is tog sekerlik elders ook probleme, of hoe?

Dit werp vrugte af: drie mense ingeroep om te verduidelik wat hulle betrokkenheid is. Oor die naweek al nadat die moord op ‘n Vrydag plaasgevind het. Klink vir my na ‘n ondersoek wat flink verloop. Die aard van ‘n regverdige ondersoek is verder dat jy nie bloot die eerste drie mense wat jy kry arresteer en hulle aanhou totdat hulle skuld erken nie. Dit was juis die aanklag teen polisie van die vorige bedeling. Hoe regverdig of onregverdig hierdie kritiek was, is nie die punt van hierdie skrywe nie. Die persepsie bestaan dat hulle bloot gemartel het totdat jy skuldig pleit. Ons wil die skuldiges aan die pen laat ry en die onskuldiges beskerm – dis tog die rol van die polisie. Niemand het tog sekerlik gedink hulle kan al seker genoeg wees om die verdagtes aan te hou nie?! Of het hulle?

Maar die gemeenskap se belewenis is dat die polisie nie werklik omgee nie. Nie werklik belangstel om die saak op te los nie. Nie in die gemeenskap se belang wil optree nie. Hulle is ongeduldig vir antwoorde en onrealisties oor wanneer daardie antwoorde gekry moet word.

Hulle hoor die polisie het mense ingeroep en verklaar hulle summier skuldig. En hulle kan waarskynlik skuldig wees. Maar kom ons maak eers seker voor ons iemand se lewe ruïneer. Hierdie boodskap val op dowe ore – hulle is skuldig op grond van die feit dat die polisie dink hulle weet iets van die saak.

Die gemeenskap neem reg in eie hande. In ‘n geval waar daar 15 polisielede beseer is. So daar was heelwat meer lede van die mag betrokke. Die saak geniet reeds voorrang. Dis nie nodig om in te meng nie. Dis nie nodig om nog aandag hier te fokus nie. Die aandag is reeds hier. Uitbarstings van gemeenskapswoede verbeter nie die ondersoek nie. Dit pla.

Selfs as die ingeroeptes skuldig is, is die afbrand van iemand se huis tog nie die manier om dit te hanteer nie. Jy wil hê hulle moet boet, maar presies daarvoor is daar mos maniere om dit te bereik. Lewenslank is deesdae nie meer lewenslank nie en die doodstraf is weg. Om dit egter verder te voer en te meen dat daar geen straf voorlê vir iemand wat skuldig bewys kan word nie, is belaglik. Tronke is steeds nie lekker plekke om in te wees nie. As die skuldiges gevang word, sal hulle genoeg pyn beleef om enige drang na wraak te versadig. Hulle gaan gestraf word tot lank nadat die meeste van die gemeenskap van die moord vergeet het.

Dis nie nodig om iemand se eiendom te vernietig bloot oor jy tweede- of derdehands gehoor het hulle het die een of ander betrokkenheid by die moord nie. Dit is presies wat hierdie gemeenskapslede gedoen het. Dis onaanvaarbaar. Dis krimineel. Veel sekerder so as dat die ouens wat ingeroep is om vrae te antwoord krimineel opgetree het.

Boonop stel jy die onskuldiges wat in huise rondom die gebrande huise bly se eiendom en selfs lewens in gevaar.Die polisie tree op teen kriminaliteit. In hierdie geval dus teen die gemeenskapslede wat reg in eie hande neem. Te hardhandig? Miskien. Ek was nie daar nie en lei die feite af van wat berig word. Hoe duidelik hulle lewens in gevaar was, is vir my onseker. Hulle kon rubberpatrone gebruik het. Hulle kon traangas ingespan het. Daar is ander maniere om optogte uitmekaar te jaag, soos wat ons polisiemag goed weet. Hulle het al te veel oefening gehad het om nie te weet nie.Die polisie het lewendige ammunisie op gemeenskapslede gevuur. Die gemeenskap se woede ontvlam teen presies die mense wat besig is om te probeer doen wat hulle eis. Dis tragies.

‘n Newe-effek is natuurlik dat wanneer jy die polisie met klippe gooi, hulle nie so lekker kan fokus op die oplos van die moordsaak waarmee jy wil hê hulle moet besig wees nie. Juis die gemeenskap se ongeduld oor antwoorde maak dat die antwoorde langer gaan vat om te kry.

Is ek al een wat slim genoeg is om die punte bymekaar te bring?

Maar in so ‘n uitbarsting tel logika nie. Relela se eie optrede is die grootste blokkasie wat verhoed dat hulle eise bevredig word. Hierdie introspeksie bestaan glad nie. Die polisie word, soos die mense wat hulle ingeroep het, summier skuldig verklaar. Want die polisie is teen ons. Die polisie wil ons indoen. Die polisie laat die mense vry wat hierdie aaklige ding gedoen het. Alle bewyse tot die teendeel ten spyt. Alle onsekerheid oor die onredelike gevolgtrekking is swakheid. Alle voorstelle dat ons tog kalm bly, is onredelik. Alle hoop op geduld is bewys dat niemand vir ons omgee nie. Die saak KAN nie vinniger opgelos word nie, is ‘n verskoning.

“Wie het opdrag gegee dat die polisie ons mense skiet?” Niemand nie, maar as jy my met klippe gooi, gaan ek myself verdedig.

“Gaan ons die meisie se hande kry om saam met haar lyf te begrawe?” Nie as julle aanhou ons motors vernietig en die paaie toemaak dat ons nie kan kom op die plekke waar ons moet soek nie.

Dis die grootste tragedie dat die armstes in ons samelewing onder die indruk is dat geweld probleme oplos, dat as jy hard genoeg skree, genoeg klippe gooi en petrolbomme teen die polisie gebruik, dit gaan maak dat die saak opgelos word.

Dit gaan nie. Die belofte dat dit gaan, is ‘n leuen.
Die leuen word bevorder elke keer wat mense herinner word aan die geweld van die struggle, asof dit iets is om op trots te wees dat die Kerkstraatbom onskuldiges doodgemaak het.
Die leuen word aangeblaas elke keer wat ‘n politieke leier sê ons gaan vir ons vat wat ons wil.
Die leuen groei in aanklank as grootkoppe net hulle groot koppe draai as die massas baklei.
Die leuen word geglo, want dit was so lank die mantra.
Die leuen word ondersteun met elke herhaling van die masjiengeweerliedjie.
Ons gaan ons pad oopskiet na ‘n beter lewe. Ons gaan die rykdom van hierdie land met machete’s vat. Ons gaan die land onregeerbaar maak tot alles beter is.
Dis die leuen.

‘n Beter lewe kom nie uit ‘n geweer se loop uit nie. Dood kom uit ‘n geweer se loop. Soos Relela eerstehands beleef het hierdie week.

Die grootste struikelblok wat voor elke rebel staan is dit: wat as ek die regering word? As jy die regering word, wil jy juis die optrede stopsit wat jyself aangeblaas het. Dit is en bly die ANC se grootste swakplek. As hulle geweld aanhou ondersteun, maak hulle die regering se werk onmoontlik. As hulle ophou, sê Julius Malema het hulle die struggle vergeet.
Hoe kom ons uit hierdie penarie uit? Ek weet nie. Maar Guerilla Sizobabulala, Sizobadubula Ngombayimbayi, Shosholosa en Umshini wam’ help nie.