Na verlede jaar se nasionale en provinsiale verkiesing het baie Suid-Afrikaners waarskynlik ‘n sug van verligting gegee omdat dinge weer na normaal kon terugkeer. Daardie verligting was egter van korte duur toe daar later in die jaar chaos in die parlement uitgebreek het en talle denkleiers begin voorspel het dat politieke onstabiliteit toenemend ‘n moontlikheid vir Suid-Afrika raak.
Suid-Afrikaners wat dus hoop dat politieke stryd vanjaar bietjie op die agtergrond geskuif gaan word en dat daar daadwerklik op die bou van Suid-Afrika se ekonomie en die bekamping van probleme soos misdaad, vaardigheidstekorte en die land se verkrummelende infrastruktuur gefokus sal word, gaan diep teleurgesteld wees. Vanjaar is die jaar voor nog ‘n verkiesing want ja Suid-Afrikaners gaan volgende jaar weer stembus toe.
Die vyfjaarlikse munisipale verkiesing vind volgende jaar plaas. Munisipale verkiesings word gekenwerk deur ‘n grondvlakmagstryd binne politieke partye. Waar mense jare gelede vir die saak op munisipale rade gedien het, ontvang munisipale raadslede in Suid-Afrika vandag groot bedrae geld om een of twee keer per maand raadsvergaderings by te woon. Raadslede se werk strek natuurlik wyer en moet veral fokus op die oplos van munisipale diensleweringsprobleme van gewone belastingbetalers, maar daar kom in die meeste gevalle baie min daarvan.
Om dus op ‘n munisipale raad te dien is baie grondvlaklede van politieke partye se droom. Die ANC is tans op ‘n afwaartse trajek en ons kan reeds aanvaar dat daar volgende jaar minder ANC-raadslede verkies gaan word. Die stryd binne ANC-takke gaan dus fel wees vir posisies op verkiesingslyste. ‘n Posisie wat deesdae in Suid-Afrika met belonings van duur motors, groot salarisse en selfs luukse huise en oorsese besoeke kom, is die van burgemeester. Die ANC wys burgemeesters sentralisties aan en daarom sal die stryd tussen verskillende faksies binne die ANC om meer van hul onderskeie lede as burgemeesters benoem te kry, ook toeneem.
Die groot nuweling in die Suid-Afrikaanse politiek is natuurlik die EFF van Julius Malema. Ons kan ook met gemak sê dat die EFF volgende jaar in ‘n groot aantal munisipale raadslede sal verkies. Ook die EFF, wat reeds tekens van interne stryd toon, sal vanjaar getoets word soos wat lede navore sal tree in die stryd om op munisipale lyste te kom.
Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se munisipaliteite word eenvoudig vrot bestuur. Hierdie munisipaliteite word ook bykans almal deur die ANC alleen of die ANC in koalisie met ander partye regeer. Vakansiegangers wat die afgelope tyd die Wes-Kaap besoek het sal kan getuig van die groterwordende kontras tussen munisipaliteite wat deur die ANC en munisipaliteite wat nie deur die ANC regeer word nie.
‘n Munisipale verkiesing gaan nie net oor die stryd binne politieke partye nie, maar ook oor gewone burgers se behoefte vir beter munisipale dienslewering. Kom ons hoop dat genoeg Suid-Afrikaners voor volgende jaar se verkiesing besef dat die ANC nie die antwoord vir hul diensleweringsbehoeftes is nie. Intussen sal ons almal vanjaar moet saamleef met die politiekery en interne magstryd waarmee ons nou al goed bekend is.
Gelukkig het ons in Orania ons eie Dorpsraad en verkies ons reeds sedert 2000 wanneer die res van Suid-Afrika aan munisipale verkiesings deelneem ons eie Orania Verteenwoordigende Raad. Orania en sy ondersteuners word egter steeds geraak deur dit wat om ons aangaan en daarom sal ons die politieke onstabiliteit van die volgende maande moet verreken.
Ja nee kyk, ons bevind ons omtrent in ‘n gemors. Afrika politiek werk maar ‘n bietjie anders, en derhalwe verwag ek nie dat die ANC vinnig sal steun verloor nie…….miskien bietjie meer stemme afstaan aan die rassistiese EFF.
Orania is op die regte pad. Groei gaan ‘n bietjie stadig, maar dit is beter as niks.
Beste Jaco, Ons kort besoek aan Orania aan die end van verlede jaar was ‘n aangename belewenis. Ons is daarvandaan na die Wes-Kaap en behalwe vir die ongelooflike druk verkeer was dit ook verrykend om dorp na dorp te besoek en waar te neem dat sake reg kan verloop. Weens ons omstandighede sal ons seker nie na Orania of die Wes-Kaap kan verhuis nie. Ons boodskap is dat almal in Orania en in die Wes-Kaap skouer aan die wiel moet hou. Veral die ouens in die Wes-Kaap moet sonder ophou veg om dit wat hulle bereik het te behou en verder uit te bou. Die ANC kan dit nie hanteer dat daar ‘n plek en Provinsie is waar dinge oneindig beter gaan as waar hulle die hef in die hande het nie. Eintlik is daar feitlik geen dorp en stad buite die Wes-Kaap (behalwe Orania) waar munisipale dienslewering op ‘n aanvaarbare vlak is nie.