fbpx

Daar was eens op ‘n tyd ‘n laerskool met die naam Le Francais. ‘n Skool met die leuse Liberté.
By hierdie skool was daar ‘n Gr 6-seun genaamd Charlie Hebdo. Hy was nie eintlik self noemenswaardig nie. Hy het nie so vinnig gehardloop nie. Hy was nie so slim nie. Hy was in kort glad nie so talentvol op enige van die maniere wat die groter kinders van hom laat notisie neem het nie. Charlie het een onderskeidende eienskap gehad. Hy was ‘n boelie.
Charlie het dit sy werk gemaak om enige aardigheid wat hy by die kleiner kinders kon kry uit te wys en te bespot. Moses het deurgeloop tot sy grootboet in Gr 7 hom kom help het. Charlie het die Priester-kind oor sy van afgekraak…
Maar Charlie het ‘n gunsteling gehad: ‘n koshuiskind in Gr 2. Ishmael was die soort kind wat snaaks aangetrek het, hy het ‘n vreemde aksent gehad en hy het hom eenkant gehou het op die speelgrond. Charlie se kos! Hy het naderhand opgehou om die ander kleintjies te spot, want dit was só lekker om net op Ishmael te pik.
Die onderwysers het gesien wat Charlie doen, maar hulle het gesê Liberté beteken jy kan sê wat jy wil.
Toe, op ‘n dag bring Ishmael ‘n mes skool toe. Charlie het hom nog eerste pouse kom spot en Ishmael het deur die trane vir hom gedreig dat hy nog sal spyt wees. Charlie het net gelag en toe… Toe ruk Ishmael die mes uit en swaai wild. Dis raak. Die mes kloof vel. Daar’s bloed!
Die juffrou aan diens het onmiddellik reageer. Sy het die mes by Ishmael afgevat en hom sommer daar en dan pak gegee. “Kyk wat het jy gemaak! Ek sal sorg dat jou ouers hiervan hoor! Jy sal gelukkig wees as jy einde van die week nog in hierdie skool is!”
Terwyl die juffrou nog besig was om vir Ishmael vas te vat, het die ander kinders al begin om vir Charlie te help. Een help die bloeding keer en nog een bring Dettol, ‘n derde gaan haal pleisters. Hulle was skoon trots op hulleself oor hoe mooi hulle die slagoffer kon bystaan.
Die volgende dag was Charlie ‘n held. Omtrent almal het hemde gedra wat sê “Ek is Charlie” en Charlie het aangekondig dat hy hom nie gaan laat afskrik nie. Hy sal aanhou sê wat hy wil.
Ek sê nie wat Ishmael gedoen het is reg nie, maar ek wil verseker nie in ‘n skool wees waar Charlie die held is nie. Dis daarom dat ek dit so baie geniet het toe Orania ‘n ander man uitgesonder het: Jan. Jan van Riebeeck was ‘n witboortjie misdadiger. Ek vereenselwig my egter veel eerder met die man wat hier in Afrika sy lewe kon herstel het, as met die rassistiese haatspraak van Charlie Hebdo.