fbpx

Failing stateEskom is tans weer die nuusmaker van die afgelope tyd. Eintlik is dit egter niks nuuts nie. Eskom-probleme kom al ‘n lang pad en sowat 3 jaar gelede het dit ook kop uitgesteek. Toe die beurtkrag egter verby was het mense gedink die probleem is nou sommer opgelos en het voortgegaan asof niks gebeur het nie. Eintlik moes meer mense die tekens van die tye reg gelees het en voorsiening gemaak het vir die dag wanneer Eskom heeltemal verbrokkel. Dis nie genoeg om kerse en gasbottels aan te hou vir noodgevalle nie. Dit is eerder nodig om jouself heeltemal onafhanklik te maak van Eskom. Danksy tegnologiese vooruitgang in die sonkragbedryf is dit moontlik om jou hele huishouding met alternatiewe energie te bedryf. Hier in Orania is ‘n voorbeeld van ‘n aardskip, ‘n huis wat totaal en al self-onderhoudend is: eie krag, eie water, eie riolering en eie groente wat binne die huis verbou word. Wanneer munisipale dienste verval, soos elders in die land, dan sal die Aardskip soos Noag se ark kan aangaan.

‘n Mens hoef egter nie so vêr te gaan soos om ‘n Aardskip te bou nie. Jy kan jou krag self opwek met sonpanele en solank begin om groente in jou erf te verbou. Dit sal ‘n aanpassing verg vir Afrikaners wat gewoond is aan die kitssamelewing, maar die kitssamelewing is nie net sleg vir die omgewing en langtermyn onvolhoubaar nie, dit is iets wat Westers is en in Afrika net in sekere geglobaliseerde groot stede sal voortbestaan.

Waar daar mense saamgetrek is wat dieselfde doelwitte nastrewe en dieselfde kultuur deel, is dit soveel makliker om oplossings te vind vir die tyd wanneer die staat net nie meer in praktyk bestaan nie. Kultuur, terloops, is nie net die “hoër funksies” soos musiek, literatuur, feeste ens nie, dit is die manier hoe sekere volke dinge doen. Dit het ook baie met die ekonomie te make.

Waar mense uit dieselfde kultuur saamgetrek is, is dit soveel makliker om funksies wat ‘n staat moet vervul, te privatiseer en as gemeenskap te bedryf. ‘n Eie klein sonkragsentrale vir Orania is moontlik. Voedselsekerheid en die uitruil van eie produkte moet bevorder word, want as daar nie meer krag is nie, word brandstof ook skaars (want dan word meer benodig vir turbines) en veral plattelandse plekke word nie meer uit die sentrums deur vragmotors met kos bedien nie.

Ook op die gebied van opleiding moet ons ons eie strukture skep. Afrikaners is, soos alle mense geneig om altyd eers die maklike paaie te beproef al is dit doodloopstrate. Vir lank is geglo dat Potchefstroom Universiteit ‘n uitkoms bied en ‘n Afrikaner-eiland is omdat dit ‘n Afrikaanse kampus is met sterk ondersteuning van gesaghebbende Afrikaners. Dieselfde is van Stellenbosch ook geglo,wat deur sy verankering in die Afrikaanse Wes-Kaap en sy pragmatisme beskerm sou word. In die totalitêre “transformasie”-ideologie van die regering, en veral sy kommunistiese minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, is daar egter nie ‘n bestaansreg vir instellings vir die minderheid nie, al is daar reeds 20 of meer universiteite wat Engels is.

Al wat oorbly is die stigting van ‘n private Afrikaanse universiteit (met ‘n Christelike etos) wat Solidariteit nou doen en waarvoor hulle lof en steun verdien. Al sal sommige meningsvormers dit verguis as isolasionisties en teenproduktief  sal dit ‘n instelling word wat akademiese uitnemendheid bevorder en wie se studente gesog sal wees in die arbeidsmark. Ook ‘n ambagskool, wat tans in Orania gebou word, vul ‘n belangrike gaping want die staatsgedrewe ambagsopleiding deur middel van Setas werk nie.

Hoe gouer ons besef dat ons op ons eie is en nie op ‘n staat, al het ons voorouers dit opgebou, moet staatmaak nie, hoe beter. Ons moet ons ook nie laat mislei deur mooiklinkende praatjies van die regering dat ons “almal saam Suid-Afrika moet laat werk” wat gewoonlik op openbare vakansiedae en voor ‘n Afrikaner-gehoor geuiter word. Ons weet uit ondervinding hoe lyk daardie “samewerking”: ons betaal en die regering besluit hoe dit bestee word sonder om ons te vra.

Om jou eie instellings te skep is niks nuuts vir Afrikaners nie. Lank voor die staat in die besit van die Afrikaners was het Afrikaners hulle eie instellings geskep in ‘n omgewing wat onsimpatiek en Engels-individualisties ingesteld was. Ons kan vergeet om die regering te wil oorneem, selfs as junior-vennoot in ‘n breë koalisie. Ons kan ook vergeet om deur smeek en witvoetjie soek of deur onsself onmisbaar te wil maak iets van die regering te kry. Al wat ons kan doen is om weer ons eie instellings te skep, deur onsself en vir onsself.

 Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.