fbpx

’n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers

Geagte mede-Afrikaner,

Soos verlede jaar hierdie tyd wens ons vanuit Orania dat hierdie skrywe u gereed vir die eise van die jaar wat voorlê, bereik. Almal wat op ‘n manier daarvan deel was, sal weet dat Orania ‘n besonder bedrywige vakansieseisoen beleef het en dat meer besoekers as ooit tevore tussen Geloftedag en Nuwejaar op begeleide toere deur Orania geneem is. Boonop het minstens twee familiegroepe wat uit tientalle mense bestaan het, Orania vanjaar met hulle saamtrekke, wat van dae tot weke geduur het, vereer. Op dié manier het Orania, selfs vir Afrikaners en hulle kinders wat in die buiteland woon, ‘n lewende werklikheid geword. Daardeur voel ons van die Orania Beweging versterk en geïnspireer.

Sprong2Soos verlede jaar vra ons u aandag vir die gedagtes wat volg omdat ons nie net as individuele Afrikaners nie, maar as lede van ’n volk oor die eise wat 2015 aan ons gaan stel, moet besin. Dit gaan weer eens nie soseer oor die besonderhede van politieke verwikkelinge nie, as oor algemene tendense wat ons lewensruimte nou en in die toekoms bepalend gaan beïnvloed. Besondere besluite wat gedurende die jaar geneem sal word, moet dit eerder in aanmerking neem as ignoreer.

Verduideliking

Die gedagte van ‘n “volk-staat betoog”, iets tussen ‘n “State of the Nation-address” soos deur huidige staatshoofde in Suid-Afrika en ‘n nuwejaarsboodskap soos uit vervloë dae onder ‘n Afrikanerregering, het verlede jaar die eerste keer konkrete beslag gekry en ‘n oorweldigend positiewe reaksie uitgelok. Nie die “staat van die nasie nie”, maar die “stand van die volk”, die “volk-staat” in ‘n ander sin as wat die woord dikwels gebruik word, kom ter sprake.

Dat ons nie meer oor ‘n eie parlement of regering beskik nie, beteken immers nie dat ons nie meer sake het om na om te sien nie of dat ons die strewe na die bevoegdheid om self oor ons eie toekoms te beskik, prysgee nie; inteendeel, dié strewe is besig om onder ons mense veld te wen. Soms weet mens nie wat jy gehad het voordat jy dit nie verloor nie – en Afrikaners se vryheid is ‘n voorbeeld daarvan.

In Orania bou ons stelselmatig en van die grond af ‘n nuwe gemeenskap en gemeenskapsorde op, een waarbinne ons na gelang van ons vermoë en getalle en met behulp van ons eie instellings reeds en toenemend besig is om oor baie van ons eie sake te beslis. Dit is egter nie bedoel om net ‘n plaaslike poging van ‘n klein getal Afrikaners te wees of te bly nie, maar om ten behoewe van die groter Afrikanervolk ‘n nuwe tuistelike ruimte te skep waarbinne selfbeskikking op ‘n eg demokratiese wyse beoefen kan word.

As president van die Orania Beweging rig ek my gevolglik nie net tot die leiers van Orania en ampsdraers van die Orania Beweging nie, maar tot alle Afrikaners wat hulle in die suksesse van ons vryheidsbeweging interesseer en na die eise wat dit stel, wil opleef. Daarmee word nie voorgegee om die plek van ‘n staatshoof in te neem nie, maar wel om ‘n gewigtige verantwoordelikheid jeens ons mense na te kom, naamlik om die koers van vryheid aan te dui.

Agtergrond: 2014

Vooruitsigte op 2014 het die nasionale en provinsiale verkiesings in die kollig geplaas, nie omdat die uitslag in die weegskaal was nie, maar omdat dit die politieke toon vir die volgende termyn sou aangee. Dit het inderdaad gebeur, hoewel dit van betekenis is dat die verkiesings onder ons mense meestal reeds so goed as vergete is. Dit is asof niks verander het nie – buiten vir die vervreemdende tendens van groter populisme en radikalisering wat deur die EFF se ontwrigting van die Parlement versinnebeeld is. Die speelveld het inderdaad na links geskuif en versoenende gebare wat nog in 2009 by regeringsvorming wenslik gelyk het, is duidelik in 2014 nie meer as die moeite werd beskou nie.

Die Orania Beweging se klem op uitwaartse aksie, op konsentrasie-politiek en op versnelde groei het deur die gebeure net noodsaakliker geword. Daarom sal dit steeds ‘n integrale deel van ons werksaamhede bly, hoewel drie ander punte met die oog op 2015 uitgelig sal word. Van die vorige drie is dit die maklikste om op ons geslaagde binne- en buitelandse skakelaksies gedurende 2014 te wys, terwyl die vestiging van ‘n nuwe begrip soos “konsentrasie-politiek” in ons mense se politieke woordeskat moeiliker meetbaar is en die bevordering van versnelde groei ironies genoeg met veel geduld aangepak moet word. Maar ook op dié twee terreine is daar inderdaad vordering gemaak.

Soos die jaar 2013 het Orania die jaar 2014 weer met belangwekkende publisiteit afgesluit. Terwyl ons nie aan die media se herdenking van oud-president Mandela se dood en begrafnis deelgeneem het nie, het dit so gebeur dat ‘n Afrika-wye nuuskanaal Orania besoek het op die dag toe ‘n afvaardignig van ons af oppad was na Mnyameni om voortgang aan ons onderlinge ondersteuningspoging te gee. Die joernalis wat Orania teen die agtergrond van ‘n skerp daling van Suid-Afrika se versoeningsindeks besoek het, was uiters verras met die voorgenome besoek en het dit op kort kennisgewing meegemaak.

Haar gevolgtrekking aan die einde van ‘n twaalf minutelange dokumentêre program was hoopvol, maar realisties. (Sien dit by http://youtu.be/csrfAY4Obo8) Sy het aangevoer dat betekenisvolle versoening nie hoef te beteken dat Suid-Afrikaners in gemaakte liefde in mekaar se arms val nie, maar om daar te wees vir mekaar as die ander ons nodig het. Daarvan is Orania en Mnyameni vir haar ‘n voorbeeld. Buiten dat dit goeie dekking vir Orania se selfstandige gemeenskapsbenadering is, wys dit ook dat ons ‘n bydrae het om tot die Suid-Afrikaanse politieke diskoers te lewer. Iemand soos die radikale ANC politikus/sakeman Jimmy Manye se reaksie op die program getuig daarvan. Hy het gesê dat die verbintenis van die Afrikaners van Orania `n les vir die hele Suid-Afrika inhou – dat selfbeskikking nie dieselfde as rassisme is nie.

Teen dié agtergrond kyk ons op ‘n veeleisende, maar suksesvolle jaar terug en bou ons voort op ‘n toenemend belangrike rol vir Orania onder Afrikaners en in Suid-Afrika.

Vooruitsigte vir 2015

As ons na 2015 en die era wat daarmee ingelui word, kyk, is daar ekonomiese, kulturele en omgewingsvraagstukke wat ons aandag verdien. Die eerste word beskryf as Suid-Afrika se naderende “fiskale afgrond”, die tweede is die verwerping al dan nie deur die grootste kerkgenootskap onder Afrikaners, die NG Kerk, van die “Belharbelydenis” en die derde is die toelating al dan nie van hidro-breking in die Karoo.

1.

“Suid-Afrika se fiskale afgrond: ‘n blik op die aanwending van owerheidshulpbronne” is ‘n artikel van Jannie Rossouw, Fanie Joubert en Adèle Breytenbach in die Maart 2014-uitgawe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Die goed gedokumenteerde argument kom kortliks op die volgende neer: dat die besteding aan sosiale bystand (verskillende toelae) plus die regering se besteding aan salarisse die afgelope vier jaar soveel vinniger as die regering se belastinginkomste gestyg het, dat ‘n tydstip geprojekteer kan word waarop die totale owerheidsinkome deur hierdie twee koste-items in beslag geneem sou word. Dit word dan as die fiskale afgrond beskryf.

Nou moet dadelik gesê word dat die skrywers geen sensasionele doemprofete is nie en hulle op talle forums en maniere daarvoor beywer om hierdie tendens juis te verander. Feit is egter dat die ontvangers van maatskaplike toelaes van 13,5 miljoen in 2008 tot 16,1 miljoen in 2012 gestyg het en dat die bedrag wat daaraan bestee is van R70 miljard in 2008 tot R104,9 miljard in 2012 toegeneem het. Indiensneming deur die staat het van 2008 tot 2012 met 13% toegeneem, maar staatsdiensvergoeding het in dieselfde tyd met 76,1% toegeneem. In 2008 was daar 1 343 978 persone in die staat se diens wat sowat R177,39 miljard ontvang het; in 2012 is daar 1 518 714 persone in diens wat sowat R312,42 miljard ontvang het.

Die totale owerheidsinkome vir 2012/13 beloop daarenteen R814,1 miljard, waarvan persoonlike inkomstebelasting die grootste enkele bron is. 34% van die totale inkome word deur sowat 4,8 miljoen persone bygedra. BTW is vir 26,5% verantwoordelik en Maatskappybelasting vir 19,8%. Hoewel belastinginkomste ook sal styg, kan dit net teen ‘n beperkte koers plaasvind sonder om die land se ekonomie te knou.

Dit is dus duidelik dat dié twee lyne, die besteding aan maatskaplike toelaes en statsdienssalarisse en belastinginkomste, vorentoe geprojekteer kan word tot die punt waar hulle mekaar ontmoet, met ander woorde waar die staat se totale inkomste deur toelaes en salarisse opgeneem sou word. Volgens die skrywers se berekening en met redelik optimistiese groeivooruitsigte sou dit teen 2026 gebeur; met wat hulle as haalbare belastingverhogings beskou, kan dit tot 2028 uitgestel word. Tot sover die skrywers se ontleding.

Daar is natuurlik vir geen regering enige alternatief as om die krisis af te weer nie, die vraag is egter in hoeverre dit deur bestedingsbesnoeiing en in hoe verre deur inkomsteverhoging gedoen gaan word. Die politieke kragte wat hierdie tendense onderlê en die populêre retoriek van arm swartmense se regte tenoor ryk wit mense se verpligtings en skuld, laat ongelukkig min aan die verbeelding oor. Om die waarheid te sê, mens kyk met toenemende spyt terug op die verspeelde geleenthede om by wyse van ‘n eie staat aan sulke tendense te ontsnap, hoe onrealisties dit dan ook in daardie tydsgewrig vir die meeste van ons mense gelyk het. Feit is natuurlik dat daar nou geen kortpad uit is nie en dat ons ander strategieë sal moet volg om groter selfstandigheid te herwin.

2.

Oor die NG Kerk se verwerping of aanvaarding van die Belhardokument kan maklik gevra word of dit in ‘n betoog soos hierdie hoort. Die kerk is immers ‘n andersoortige instelling wat haar historiese verantwoordelikheid ingevolge haar geloofsbronne jeens haar lidmate en die wêreld op ‘n eiesoortige manier moet nakom. Met volle erkenning daarvan en sonder om in ‘n teologiese behandeling van die dokument betrokke te raak, is daar aspekte van dié vraagstuk waarby ‘n Afrikanerorganisasie soos die Orania Beweging ‘n wesenlike belang het. Die komplekse sosiaal-politieke verskynsel wat as “Apartheid” bekendstaan en teen die agtergrond waarvan die Belharbelydenis ontstaan het, hoef ook nie in besonderhede oorweeg te word nie aangesien die NG Kerk haar reeds duidelik daaroor uitgespreek het en die Orania Beweging ook geen begeerte of vooruitsig het om daarheen terug te probeer keer nie.

Hoewel die NG Kerk tereg nie ‘n Afrikanervolkskerk is of wil wees nie, is dit ons siening dat die verheffing van die Belhardokument tot ‘n belydenisskrif van die kerk die voortgesette kriminalisering van ons geskiedenis en bygevolg van die Afrikanervolk vandag, in die hand sal werk. Die selfvervreemding wat die toe-eiening van die dokument se liberaal individualistiese sienings van geregtigheid en versoening tot gevolg sal hê, sal Afrikaners se vermoë om op ‘n opbouende wyse by ‘n toekoms van onderlinge erkenning en gebalanseerde selfhandhawing binne breër Suid-Afrikaanse verband betrokke te wees, ernstig aan bande lê. Dit sal vergelyk met die NG Kerk se veroordeling van die Groot Trek gedurende die negentiende eeu toe die Kerk haar lidmate in hulle nood aan hulleself oorgelaat het.

Die Afrikaner hoef geen “uitverkore volk” te wees om van sy grootste kerk leiding te verwag, nie in die rigting van selfontbinding nie, maar in die rigting van ‘n diensbare en godvrugtige bestaan. Die buitenstydse beoordeling van ‘n vorige bedeling waarvan Afrikaners dekades gelede reeds vrywillig afskeid geneem het, aan die hand van ‘n wêreldbeskouing wat min of geen ruimte vir kulturele differensiasie laat, versterk die kragte van ontbinding en ondermyn die moontlikheid van regverdigbare selfbehoud. Die meeste Afrikaners voel dit intuïtief so aan en reageer tereg nie op die Belhardokument asof dit ‘n neutraal rasionele lig op menseverhoudinge werp nie, maar ervaar dit as deel van ‘n denkraam wat kwalik enige ruimte vir ons besonderse bestaan ooplaat. Daarin is hulle reg en ons wens van die Orania Beweging se kant dat die NG Kerk ‘n uitweg sal vind wat nie op polarisering tussen die kerkleiding en tallose lidmate sal uitloop nie.

3.

Hidro-breking vir skaliegas in die Karoo verteenwoordig ‘n omgewingsrisiko wat groter is as steenkoolontginning op die ou Transvaalse Hoëveld aangesien die ontginningsmetodes meer drasties is. Enigeen wat met die huidige Mpumalanga bekend is, besef dat dit tegelyk ‘n onvervangbare rol in Suid-Afrika se ontwikkeling gespeel het én ‘n onbekostigbare prys daarvoor op komende geslagte afgelaai het. Dieselfde sal gebeur as die ekologies uiters kwesbare Karoo aan meer skadelike ontginningsmetodes as wat op die Hoëveld gebruik is, uitgelewer word. Hoewel daar nog min bekend is oor die werklike vooruitsigte op skaliegas, kan mens tereg vrees dat grootskaalse energiebronne vir Suid-Afrikaanse en globale rolspelers onweerstaanbaar aantreklik sal wees. Hoe swaar plaaslike gemeenskappe se belang en omgewingsbewaring daarby sal weeg, sal dan ook afhang van die belanghebbendes se betrokkenheid. Nie net Orania nie, maar Afrikaners in die algemeen het ‘n historiese en emosionele verbintenis met die Karoo en behoort hulle teen onverantwoordelike skaliegasontginning te beywer.

Die belangrike punt waarop almal wat hidro-breking in die Karoo wil verhoed, kan ooreenkom, is dat dieselfde gebied op ‘n wêreldwye skaal van die beste geskik is vir die ontginning van hernubare son- en windenergie. Waar inverstering in die ontginning van fossielbrandstof tipies ‘n beperkte leeftyd het en ‘n spoor van vernietiging agterlaat omdat die bronne uitgeput raak, is die son en wind onuitputlike energiebronne wat op bewarende wyse en tot voordeel van plaaslike gemeenskappe ontgin kan word. Hierin wil die Orania Beweging sy stem voeg by talle ander rolspelers wat hulle ten gunste van ander alternatiewe as hidro-breking beywer en wil voorkom dat onomkeerbare skade aangerig word. Ons dink nie dat dit om dowe neute in onder meer Groot Brittanje, Duitsland, Nederland en sekere Amerikaanse state verbied is nie. Van dié lande het ‘n moratorium op ontginning geplaas om inligting daaroor in te win en die verbod daarop in tussen permanent gemaak

Strategiese fokus vir 2015

Teen die agtergrond van hierdie sake is dit duidelik dat die stand van sake vir Afrikaners – die volk-staat – ons tot ernstige kommer en toenemende betrokkenheid behoort te stem. Drie strategiese fokusarea’s moet gevolglik by die wat verlede jaar aangemeld is, gevoeg word.

Die eerste is dat ons mense, elkeen apart en saam waar dit kan, ons skeppende verbeelding moet inspan om ons toenemend van die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse ekonomie los te maak. Hoewel mens jou nie volledig daarvan kan vervreem nie, is dit duidelik dat die ekonomies-politieke eise en vooruitsigte vir die volgende tien tot vyftien jaar ons mense se bestaansruimte en lewensmiddele net verder gaan beperk. Namate die onafwendbare inkorting van sosiale besteding in werking tree en arm Suid-Afrikaners se lewensomstandighede verder verswak, sal die politieke druk op die regering toeneem en ‘n sondebok in die vorm van voorheen bevoordeeldes gesoek word. Ons moet daarvoor gereed wees. Konsentrasiepolitiek kom uiteraard hierby ter sprake en ekonomiese selfstandigheid in elke sin van die woord gaan toenemend noodsaaklik word. Selfwerksaamheid en onderlinge handel kan later twee faktore wees wat die verskil tussen oorlewing en ondergang maak.

Die tweede saak van strategiese belang is dat ons mense anderkant die uitgediende idioom van selfmiskenning moet tree. Dit is lankal tyd dat ons die instrumentele gebruik van begrippe soos skuld en versoening om die nuwe orde ten dienste te wees, van ons afwerp en ‘n nugtere, opbouende selfbevestiging ons eie maak. Dit klink amper soos die swart bewussynsbeweging om aan te voer dat ons nie langer die prooi durf wees van ander wat ons bewussyn met hulle inhoud probeer vul nie. Nie hulle beeld van ons bedoelings nie, maar ons eie kennis en insig daarin behoort die toon aan te gee by ons tuiskoms in ons eie geskiedenis. Natuurlik is alles wat deur ons voorgangers gedoen is nie maanskyn en rose nie – maar dit geld vir elke volk op aarde, waarom sou dit anders wees met ons?

Ons het wel alle rede om aan te voer dat ons Afrikaners uit ons foute leer en probeer om dit voortaan te vermy. Geen van die dié foute is in elk geval van so ‘n aard dat ons daardeur ons bestaansreg verbeur het nie, só werk die geskiedenis nou eenmaal nie. Dit beteken egter nie dat ons eiegeregtig en oordonderend hoef te wees nie of dat ons elke stommiteit wat al in ons naam gepleeg is, moet regverdig nie; dit beteken wel dat selfs ons selfkritiek met die selfvertoue eie aan iemand wat homself liefhet en nie haat nie, uitgespreek word. Liefde vir die self is immers part en deel van die Christelike liefdesgebod; so laat ons aan ons eie aard en aan die verskeidenheid wat eie aan Gods skepping is, reg geskied.

Derdens sal beide ons ekonomiese herposisionering én ons hernude selfbevestiging waarvan daar al soveel te sien is, ‘n nuwe fokus op ons jeug vereis. Wanneer die dinge waaroor ons nou praat volkome aan die orde kom, sal jongmense wat nou 18 is amper 30 wees en kinders van agt of tien sal omtrent twintig wees. Ons jong leiers sal groter verantwoordelikheid moet dra as wat die huidige geslag dalk moes doen en ons sal hulle daarvoor moet toerus. Orania en die vestiging van ‘n volwaardige tuistelike gemeenskap is geen avontuurkamp sonder einde nie, dit is ‘n lewenswyse wat dikwels prosaiese eise stel. Ons moet eet, aantrek en woon – behoeftes waaraan baie mense hulle hele lewe wy. Maar ons dra ook die hoë strewe na méér as blote voortbestaan. Dit vra meer van ons, maar dit beloon ons ook ryker as bloot materiële sukses.

Diegene wat reeds op Orania woon sowel as diegene wat die Orania-gedagte ondersteun, gaan in 2015 ‘n nuwe toekoms tegemoet. Baie van wat voorheen verwag is, is besig om in vervullig te gaan en die meeste daarvan maak dit vir die Afrikanervolk nie makliker nie, maar moeiliker. Ons het egter al groot uitdagings met moed en geloof tegemoetgegaan en ons kan dit weer doen. Kom ons maak seker dat ons later terugkyk op hierdie dae en bly sal wees dat ons die kanse wat ons gehad het, gebruik het om gereed te maak vir wat kom.

Met beste wense

Carel Boshoff

President van die Orania Beweging