by Orania Beweging | Feb 18, 2015 | Nuus |
In die Belorussiese hoofstad Minsk vind tans die vredeskonferensie oor die voortgesette konflik in die Oekraïne plaas. Die state wat deelneem is Rusland, Oekraïne, Duitsland en Frankryk. Reeds vooraf het die Duitse kanselier, Angela Merkel, haar optrede met ander Westerse leiers afgespreek, soos president Obama van die VSA en Kanada se eerste minister Steven Harper. Anders as die EU-lande Duitsland en Frankryk wil die VSA en Kanada meer aggressief teenoor Rusland optree en wapens aan Oekraïne lewer. Duitsland en Frankryk glo egter onverpoosd aan die sukses van diplomasie, alhoewel dit tot dusver min opgelewer het. Die wapenstilstand wat reeds onderhandel is, is verskeie kere verbreek. Die Russiese separatiste het in die laaste tyd weer heelwat grondgebied gewen nadat dit sowat `n halwe jaar gelede gelyk het asof hulle op die agtervoet is voor die eerste wapenstilstandsooreenkoms van September 2014. Die houding van die Weste en die Oekraïne is dat afskeiding nie `n moontlikheid is nie. Die separatiste wil van Oekraïne afskei en waarskynlik by Rusland ingelyf word soos die Krim. Rusland ondersteun die separatiste nie openlik met wapens nie en is ook versigtig om aansluiting by Rusland te bepleit, maar agter die skerms werk die Russe waarskynlik in daardie rigting. President Putin is ‘n uiters geslepe politikus en magsmens en weet hoe om te manipuleer. Vir Rusland gaan dit dalk nie in die eerste plek oor die vergroting van sy grondgebied nie, maar daaroor om die Oekraïne swak en binne die Russiese invloedsfeer te hou.
Wedersydse beskuldigings van volksmoord deur Kroasië en Serwië is deur die Internasionale Geregshof afgewys. Dié twee lande was van 1991 tot 1995 in ‘n oorlog gewikkel toe Kroasië van Joegoslawië (waarvan Serwië die grootste deel was) afgeskei het. In die proses is groot getalle mense vermoor en nog veel meer verdryf. Dorpe en stede is ook vernietig. Kroasië het na die oorlog, in 1999, ‘n saak van volksmoord teen Serwië by die Internasionale Geregshof aanhangig gemaak. Die saak het veral betrekking op die Serwiese aanval op Vucovar, ‘n stad naby die grens met Serwië, waarin meer as 200 Kroasiërs doelbewus gedood is deur paramilitêre magte en vele meer verdryf is. Die stad het ’n aansienlike Serwiese bevolking gehad en Serwië wou die stad en omgewing “etnies suiwer”.
Serwië het as reaksie in 2010 ‘n teen-aanklag teen Kroasië aanhangig gemaak. Dit het betrekking op die Kroasiese herowering van die Krajina. Dit is ‘n streek binne Kroasië wat hoofsaaklik deur Serwiërs bewoon word. Tydens die oorlog het die Krajina hulself afgeskei van Kroasië, maar is in 1995 deur Kroasiese magte herower. Feitlik alle Serwiërs is verdryf, maar baie min doelbewus gedood.
Sedert die klagtes aanhangig gemaak is, het die verhoudinge tussen die lande egter aansienlik ontspan en beide het gedemokratiseer. Kroasië is die nuutste lid van die Europese Unie en Serwië het aansoek gedoen om toelating en word selfs daarin van Kroasië ondersteun. Die wonde in die betrokke bevolking is nog rou, maar die houding van die regerings is eerder dat die verlede nou agtergelaat moet word. Die uitspraak van die Internasionale Geregshof het die pad van die minste weerstand gevolg en altwee sake as ongegrond verwerp. Die uitspraak kan beslis bevraagteken word, maar is ‘n pragmatiese een wat rekening hou met die veranderde omstandighede. Die argument van die hof is dat die twee gevalle wel neerkom op etniese uitdrywing, maar nie sterk genoeg is vir volksmoord nie, omdat die bedoeling nie was om die hele volk uit te wis nie maar slegs om sekere dele “etnies te suiwer”. Die geval van Vukovar bevat egter beslis elemente van volksmoord al was dit op `n klein skaal.
Die uitspraak van die hof mag ook deur die waarneming van sowel Kroasië asook Serwië as aanvallers in die Joegoslawië-oorlog, terwyl Bosnië, wat die ergste deurgeloop het, as die slagoffer gesien word. Die onderskeie volke was egter almal, in mindere of meerdere mate, sowel slagoffers asook aanvallers, maar Serwië het die wreedste opgetree en Bosnië se Moslems het die meeste deurgeloop.
Australië se eerste minister, Tony Abbot, oorleef `n mosie van wantroue. Abbot, eerste minister van sedert 2013, het aan bewind gekom na onstuimige jare van verskeie Arbeidersparty-regerings. Die bewind van die linkse Arbeidersparty was woelig en en was gekenmerk deur gereelde verandering van die leier Eers Kevin Rudd, toe Julia Gillard en toe weer Rudd. Moddergooiery was ook nie `n vreemde verskynsel nie. Mnr Abbot van die Liberaal-Nasionale party het stabiliteit aan kiesers belowe. Sy regering was egter nog nie besonder suksesvol nie. Sy besparingsmaatreëls en besnoeiing van welsynsuitgawes, mediese dienste, ouerskapverlof en universiteitsubsidies maak ekonomies sin, maar maak hom ook ongewild by kiesers. Meningspeilings lyk tans sleg vir sy party. Onlangs het hulle ook swak gevaar in ‘n verkiesing in die deelstaat Queensland. Verder het mnr. Abbot die toekenning van ridderskappe aan uitstaande persone, ‘n ou Britse tradisie wat reeds in die 1970’s in Australië afgeskaf is, heringestel en ‘n ridderskap aan Prins Phillip, Koningin Elizabeth se man, laat toeken. Dit het hom oopgestel vir kritiek deur republikeinsgesinde Australiërs wat die bande met die koningshuis as ‘’n oorblyfsel uit die koloniale era” beskou. Verder word ook gevra hoekom die hoogste eer aan ‘n nie-Australiër toegeken word wat boonop oor ‘n magdom titels en toekennings beskik. Die vraag of Australië ‘n republiek moet word of die Britse monarg as staatshoof moet behou is ‘n deurlopende tema, maar in 1999 het die meerderheid vir die behoud van die status quo gestem en sedertdien het die steun vir ‘n republiek eerder verminder.
Die Liberaal-Nasionale party is ‘n samevoeging van twee partye, die Liberale Party en die meer konserwatiewe Nasionale Party. Die spanning tussen die twee rigtings binne die party kom dikwels na vore. Mnr Abbot is deel van die meer konserwatiewe vleuel.
In sy eie party is daar ook ‘n reeks agterbankers wat ontevrede is met sy leierskapstyl en voel dat hulle in besluitneming oor die hoof gesien word. ‘n Rebellie in die party het begin broei en ‘n mosie van vertroue in die leier is in die koukus voorgestel. Voor die tyd moes mnr Abbot en sy aanhangers binne die koukus, bestaande uit alle parlementslede van die party, spook om belangrike mense aan boord te kry om ‘n neerlaag te verhoed. Daar is vermoed dat die onderleier en minister van buitelandse sake, mev Julie Bishop, mnr Abbot gaan uitdaag, maar sy het voor die toets haar steun aan Abbot toegesê en die wind uit die teenstanders se seile gehaal. Die teenstanders het hulle wel geskaar rondom Malcolm Turnbull, die minister van kommunikasie, wat ambisies het om Abbot te ontsetel as leier. Abbot het die steun van 61 lede gekry met 39 teenstemme. Dit was ‘n oorwinning, maar ‘n beperkte een. Hy kry nog ‘n kans maar is gewond en moet nou alles in die stryd werp om sy aansien te verbeter.
Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.
by Orania Beweging | Feb 17, 2015 | Nuus |
Verlede Dinsdag is drie jong Moslemstudente deur ‘n kranksinnige man in die universiteitsdorp, Chapel Hill in North Carolina in die VSA vermoor. Die moordenaar is bekend vir sy uitgesproke ateïsme en haat vir alle gelowe.
Saterdagmiddag het ‘n Moslemekstremis in Kopenhagen in Denemarke eers op ‘n kafee en daarna ‘n Joodse sinagoge losgebrand. Minstens een persoon van Joodse afkoms is in die skietery by die sinagoge dood. Volgens die intelligensiedienste in Denemarke was die aanvaller aan hulle bekend en is hy sterk beïnvloed deur die propaganda van ekstremistiese Moslemgroepe.
Sondag is ‘n video deur die Moslemekstremistiese groep ISIS, ook bekend as Islamitiese Staat, bekend gemaak waarin gewys word hoe 21 Koptiese Christene uit Epigte in Libië onthoof is. Koptiese Christene word ook in Epigte deur Islamitiese groepe geteiken.
Hierdie drie voorvalle die afgelope week volg op toenemende spanning tussen mense van verskillende gelowe. Die aanvalle op Christene in Nigerië en die enorme aanslag teen Christene in die Midde-Ooste, veral Sirië en Irak, is bekend. Ook Jode loop toenemend onder geweld deur. Onlangse aanvalle op Joodse skole en sinagoges in onder andere België, Frankryk en Denemarke bewys dit.
Geweld teen mense weens hul geloofsoortuigings is geen nuwe verskynsel nie. Reeds vir eeue word daar gereeld ‘n stryd en soms selfs oorlog gevoer tussen mense van verskillende gelowe. Vandag word hierdie stryd veral gedryf deur die mislukte multikulturalisme in Westerse lande, die radikalisering in die Moslemwêreld en die voordurende stryd tussen Israel en die Palestyne.
Daar is tog toenemend een verskil tussen aanvalle op mense weens hul geloof. Wanneer Moslems geteiken word, soos tydens die aanval in die VSA verlede week, is daar onmiddellik ‘n sterk reaksie vanaf Moslemlande. Ook Westerse lande verwerp sulke misdade en doen opnuut moeite om na Moslemgemeenskappe uit te reik.
Wanneer Jode geteiken word soos die naweek in Denemarke kan Israel reageer. Meer en meer Jode verlaat tans Europa en trek na Israel omdat hulle daar veiliger voel. Weens multikulturalisme word Jode toenemend in stede soos Amsterdam en Antwerpen, voorheen stede met groot Joodse bevolkings en bekend vir hul verdraagsaamheid teenoor diversiteit, geteiken. Joodse skole in Amsterdam moet permanent deur veiligheidswagte bewaak word. Tog het die Jode ‘n plek, Israel, waar hulle tuis kan voel.
Wat is die geval vir Christene? Die toename in aanvalle op Christene behoort vir elkeen van ons ‘n bron van kommer te wees. Christene het egter nie meer ‘n land oor wat namens hulle kan praat nie. Selfs die groot Christenkerke is vandag verswak. Nie die VSA of ‘n enkele Europese land staan meer as ‘n Christenland bekend nie. Westerse lande sit almal met groot immigrante bevolkings en hierdie mense is meestal van ander gelowe, veral die Moslemgeloof. Intussen word Christene in Nigerië, Egipte, Sirië en Irak afgemaai.
Terwyl ons teen intervensionisme soos die Amerikaners se oorlog in Irak gekant moet wees, moet ons as Christene maniere bedink om die Christengemeenskap saam te snoer sodat daar ook ‘n stem, en waar nodig aksie, teen die ongeregtighede wat teen mede-Christene gepleeg word, kan opgaan.
by Orania Beweging | Feb 10, 2015 | Nuus |
Die grootste konserwatiewe tydskrif in die VSA, National Review, het die afgelope naweek ‘n insiggewende artikel oor Suid-Afrika met die titel “The End of South Africa” gepubliseer. National Review is ‘n geloofwaardige hoofstroompublikasie wat die neo-konserwatiewe denke binne die Republikeinse Party verteenwoordig.
Hierdie artikel volg op soortgelyke ernstige kritiek op die huidige stand van sake in Suid-Afrika deur ander, selfs groter, oorsese publikasies. ‘n Artikel verlede jaar in The Economist het wêreldwyd opslae gemaak weens die fel kritiek wat teen die ANC en die regering uitgespreek is.
Ons sien toenemend hoe ‘n nuwe realisme oor Suid-Afrika in Westerse lande intree. Na 1994 het die meeste Westerse lande die Suid-Afrika-projek as afgehandel beskou. Die monster van Apartheid is uitgewis en Westerse demokrasie is in Suid-Afrika gevestig. Die afgelope 20 jaar is daar min na Suid-Afrika gekyk en wanneer foute raakgesien is, is dit meestal as groeipyne afgemaak.
Hierdie prentjie het egter veral sedert Jacob Zuma president geword het, begin verander. Die Westerse media het deur deurdringende ondersoek toenemend kritiek op die regering begin uitspreek. Die werk van burgerlike organisasies om korrupsie, misdaad en nuwe diskriminasie te ondersoek, ontleed en internasionaal bekend te maak, het ook ‘n impak begin maak.
Die terugvoer van verskeie Afrikanerorganisasies na afloop van skakelbesoeke aan Europa en die VSA is dat daar ‘n nuwe bewustheid van die probleme in Suid-Afrika is. Die hoop dat Suid-Afrika in ‘n model demokrasie vir Afrika sou ontwikkel het reeds begin vervaag.
Die politieke veranderinge in Suid-Afrika aan die einde van die 1980’s en vroeë 1990’s het natuurlik saamgeloop met die voltrekking van Westerse demokrasie in Europa. Die val van die Berlynse Muur in 1989 en die hereniging van Duitsland in 1990, saam met ‘n groot mate van ekonomiese groei en stabiliteit in Amerika en Wes-Europa, het die persepsie geskep dat daar geen beter bedeling as die Westerse territoriale staat kan bestaan nie. Die voltrekking van die demokratiese projek in Suid-Afrika was dus vir die Weste ‘n groot deurbraak. Na Suid-Afrika sou die res van die Derde Wêreld daarna smag om dieselfde pad te stap en sou Westerse demokrasie oor die wêreld spoel.
Dit het natuurlik nie gebeur nie. Die demokrasie in Suid-Afrika het begin om te misluk terwyl demokrasie in die res van Afrika en die Midde-Ooste eerder agteruitboer of selfs glad nie van die grond afgekom het nie. Sedert die mooi jare van die laat 1980’s en die 1990’s het die VSA en Europa ook ernstige geo-politieke uitdagings begin beleef. Die opkoms van Moslem-ekstremisme en grootskaalse immigrasie uit Derde Wêreldlande het nuwe bedreigings vir vrede en veiligheid geskep. Minderhede in Europa het ook selfbeskikking begin eis.
Dit behoort dus nie ‘n verrassing te wees dat die National Review praat van die einde van die huidige Suid-Afrika nie. Die tydskrif gaan sover om die skep van ‘n stadstaat deur Afrikaners voor te stel. Volgens die skrywer is Afrikaners se dae in die huidige Suid-Afrika getel en moet ons, ons eie Singapoer skep. Nuwe Westerse realisme en steun vir selfbeskikking behoort verwelkom te word. Dit is natuurlik goed vir Orania en bewys dat die Orania-denke toe al die tyd reg was.
by Orania Beweging | Feb 4, 2015 | Nuus |
Neesham Balton, die direkteur van die Ahmed Kathrada Stigting, maak verlede week die stelling dat skole laboratoriums van nasiebou behoort te wees en nie sogenaamde enklaves van apartheiddenke nie. Volgens Balton is dit onaanvaarbaar dat ouers daarop aandring dat hul kinders die voorreg moet hê om aan hul eie kultuur blootgestel te word, sodat hul kultuur oorgedra en behou kan word. Hierdie wens om kultuur in stand te hou word dan in dieselfde asem as apartheidsdenke afgemaak.
Hierdie uitsprake het gevolg nadat swart ouers by ‘n privaatskool buite Pretoria verlede week gekla het oor die indeling van kinders in klasse. Afrikanerkinders is klaarblyklik hoofsaaklik by ander Afrikanerkinders in klasse ingedeel. Intussen blyk dit dat die skool eerder besluit om kinders volgens rasse gelykop in klasse te verdeel om ‘n herhaling van hierdie kamma-kontroversie te voorkom. Dit kom meer op geforseerde integrasie en uiteindelik kulturele assimilasie.
Ons sien toenemend in Suid-Afrika hoe enige poging van Afrikaners om hul kultuur te behou en te bevorder as rassisme en apartheidsdenke gebrandmerk en tot ‘n klas van verwerplikheid gerangeer word.
Die Afrikanerkultuur is die afgelope twee dekades toenemend uit die openbare sfeer weggeneem en tot private ruimtes beperk. Die afgelope tyd is die aanslag op Afrikaneronderwys egter besonder fel. Geen volk kon nog ooit oorleef sonder behoorlike kultuuroordrag op skoolvlak nie. Indien ‘n volk se kultuur uit die onderwys gerangeer word, is dit ‘n kwessie van tyd voordat volledige assimilasie intree en kulturele dade en tradisies slegs in geskiedenisboeke voortleef. Vra maar die talle volkere wat voor die koms van Westerlinge in plekke soos die VSA en Kanada geleef het. Daar bly vandag weinig van hierdie mense se tale en kulture oor omdat kinders op ‘n stadium geforseer is om in Engels skool te gaan en omdat kultuuroordrag verbied is.
In Suid-Tirool in die Noorde van Italië is die klein Tiroolse minderheid gedurende die 1930’s en 1940’s onderwerp aan ‘n Italianiseringsprogram waartydens kinders verplig is om in Italiaans skool te gaan. Kultuuroordag is bykans onmoontlik gemaak. Die Tirolers het egter vasgebyt en ‘n soort van guerilla-onderwysstelsel is geïmplementeer waar kinders in die geheim in hul moedertaal, Duits, onderrig is en waar kultuur en tradisies oorgedra is. Die Suid-Tirolers is vandag een van die mees kultuurvaste volkere in Wes-Europa.
Die manier waarop die linkse Ahmed Kathrada Stigting, ander linkse kommentators en selfs die Gautengse Onderwysdepartement verlede week ‘n kontroversie opgedis het, behoort vir Afrikaners ‘n voorsmakie te wees van wat vir ons in die toekoms voorlê. Staatskole se kurrikulum is reeds om die minste te sê vyandiggesind teenoor Afrikaners. Ook ons handjievol privaatskole sal toenemend in die visier van die bende wat Afrikanerkultuur wil vernietig, wees.
Wat staan Afrikaners wat glo in die behoud van ons eie kultuur, geloof, taal en tradisies te doen? Privaat Afrikanereie onderwys moet versterk word. Ouers moet groter verantwoordelikheid in hul kinders se opvoeding en kulturele onderrig neem en deur konsentrasie moet ruimtes geskep word waar ons domineer en dus op openbare ruimtes vir ons kultuur aanspraak kan maak.
by Orania Beweging | Jan 27, 2015 | Nuus |
Die optrede en prestasie van die ANC-regering die afgelope twintig jaar, en veral onder die bewindstydperk van president Jacob Zuma, word vir al hoe meer mense ‘n bron van diepe kommer. Hoewel die land se wesenlike probleme mense behoort aan te spoor tot diepgaande denke en verantwoordelike optrede, lei dit ongelukkig baie keer ook tot ondeurdagte reaksie. ‘n Mens kan amper sê dat hoe meer onbegryplik die optrede van die regering en die president raak, hoe meer vreemd raak baie van die reaksie daarop.
‘n Gemaklike toevlugsoord vir baie wat nie saamstem met die regering se optrede nie, is om hulle te wend tot openlike of verskuilde rassisme. Daar is ses belangrike redes waarom Orania nie hierdie strategie kan of moet kies nie:
- Orania bou sy saak op ‘n proaktiewe en nie ‘n reaktiewe argument nie: Afrikaners is deel van Suid-Afrika en het die reg om hulle eie plekke, ruimtes en instellings te bou. Die saak van Orania benadeel geen groep of enige individue nie. Inteendeel, die Orania-ontwikkelingsmodel is bruikbaar vir ander gemeenskappe wat graag selfstandig wil ontwikkel, ongeag hulle etniese afkoms. Orania se argument staan dus op ‘n stewige morele grondslag.
- Indien Orania hom sou wend tot rassisme, skaar hy homself by ‘n groep mense wat dink hulle is meerderwaardig en hulle eie geloofwaardigheid bou op die krenk van die karakter van ‘n ander. Dit is ‘n groep mense wat geen plan of strategie het nie, behalwe om ander te verneder nie.
- Die vorm wat Orania se toekoms gaan aanneem sal meer afhang van wat Orania self doen, as van wat ander aan Orania doen. Dit beteken gewoon ook dat ‘n strategie wat op rassisme gebou is, m.a.w. waar die verantwoordelikheid vir Orania se eie omstandighede op iemand anders geplaas word, Orania net mooi niks verder sal bring nie. Tewens, dit kan Orania verlei om terug te sit aangesien hy self, na aanleiding van hierdie argument, nie in beheer is van sy eie toekoms nie.
- Rassistiese uitsprake of optrede sal Orania vervreem van die grootste gedeelte van die bevolking en nie net van die regering nie. Orania het vriende nodig, wit, bruin en swart. Om in vyandskap met ‘n groot deel van die land se mense te leef gaan net ons bestaansrisiko’s verhoog.
- Tans is daar ‘n ongelyke magsbalans in Suid-Afrika en die kans is goed dat Orania in enige formele konfrontasie met die regering aan die kortste end sal trek. Dit sal dus vir Orania polities dom wees om hom te wend tot optrede wat hom die gramskap op die hals haal van die wat oor die oorwig van mag beskik.
- ‘n Groeiende Orania gaan noodwendig lei tot groeiende skakeling, onderhandeling en diplomasie met die regering en ander verwante partye. Orania moet homself dus nie vooraf in die voet skiet met onderdagte oprede wat by voorbaat genoemde onderhandelinge en gesprekke sal skaad nie.
Orania se saak is sterk genoeg en kan ondubbelsinnig aan enige een gestel of verdedig word, nasionaal of internasionaal. Orania lei nie aan ‘n minderwaardigheidskompleks nie en hoef dus nie sy optrede te regverdig deur ander te beledig nie. Selfs al word ons aan rassistiese optrede of uitsprake uitgelewer, sal dit ons niks baat om rassisme met verdere rassisme te beantwoord nie.
Frans de Klerk is die uitvoerende hoof van die dorpsraad.
by Orania Beweging | Jan 23, 2015 | Nuus |
Die oeroue vraag, wat belangriker is vir ‘n samelewing, vryheid of gelykheid, word ook in die konteks van Orania en die Afrikanervolkstaat gevra. Almal is dit eens dat die groot gedagte agter Orania en `n volkstaat vryheid is, maar wat is vryheid? En watter tipe vryheid bedoel ons? Daar is basies twee maniere om vryheid uit te leef – in groepsverband, of individueel. Die twee sluit mekaar nie uit nie, maar of die een of die ander sal die meeste gewig moet dra. In Orania het ons gekies vir groepsvryheid.
Ons as Afrikaners wat hier vir ‘n spesifieke doel bymekaarkom en iets opbou, wil ons vryheid in groepsverband, of volksverband uitleef, omdat ons oor genoeg gemeenskaplikhede beskik. Kom ek noem ‘n paar voorbeelde: Hier praat feitlik almal Afrikaans as moedertaal en daar word nie eers ‘n debat gevoer oor watter taal die openbare taal moet wees nie. Omdat 98% van Orania se inwoners Afrikaanssprekend is, is dit logies dat dit ook die openbare taal is. Daar is egter nog steeds ruimte vir individuele vryheid om byvoorbeeld Engels privaat te gebruik. Dieselfde geld vir die Christelike godsdiens.
Almal wat hier woon of hierheen kom is ten minste nominaal Christene omdat die Afrikaner as volk nog altyd Christene was en in hulle meerderheid nog steeds is, en omdat dit die onderbou van ons volk is. Die individuele vryheid laat mense egter toe om hulle denominasie te kies, en hier is waaragtig ‘n groot verskeidenheid daarvan, van streng gereformeerd en formeel tot charismaties en informeel. Hoe en of jy jou godsdiens uitleef bly elke mens se eie gewetensaak. Niemand hoef kerk toe te gaan nie, maar die konsensus is dat die Sondag en Christelike waardes eerbiedig moet word.
Wanneer individuele vryheid, wat deesdae in die liberale Weste en veral in Suid-Afrika as die enigste vorm van vryheid erken word geld, is dit omgekeerd: die oorheersende taal waarin alles in die openbaar geskied is die “globale taal” Engels, wat in meeste lande eintlik ‘n minderheidstaal is, en ander tale is beperk tot private dinge soos praat by die huis, lees en musiek luister. Dieselfde geld vir godsdiens: sekularisme is die amptelike godsdiens, maar mense word nie verbied om privaat die godsdiens van hulle keuse uit te oefen nie. Met die houding word ontken dat die mens al van die vroegste tye af ‘n groepswese is. Die liberale individualisme is ‘n betreklik onlangse verskynsel en is grootliks beperk tot die Westerse of Westers-geïnspireerde elite.
Vryheid kan egter net ten volle in groepsverband uitgeleef word omdat die mens ‘n groepswese is en as individu eenvoudig nie oor die middele beskik om ten volle sy vryheid uit te leef nie, tensy hy of sy een van die superrykes is wat alles wat hulle wil hê kan koop of self kan oprig met hulle geld. As ons dus sê dat ons ons vryheid as volk in groepsverband uitleef, en nog steeds ruimte laat vir persoonlike vryheid, wat dan van die kwessie van gelykheid? Daar is talle mense, veral onder die swart volke, maar toenemend ook onder Europeërs, wat voel dat gelykheid belangriker is as vryheid oftewel dat vryheid bereik is wanneer die meerderheid se opinie seëvier, en dat dus eerder aan gelykheid aandag gegee moet word.
Weereens moet ons gelykheid eers bespreek en die vraag vra watter tipe gelykheid bedoel word. Absolute gelykheid, soos kommunistiese state dit nastrewe (en wat ook telkens ‘n sentiment in dele van die ANC en ander swart-nasionalistiese partye is), of relatiewe gelykheid, oftewel gelyke kanse. Absolute gelykheid kan net met absolute dwang bereik word, en altyd op die laagste moontlike vlak. Totaal gelyke samelewings lyk dan soos Sjina onder Mao of die Sowjet-Unie onder Stalin, of Noord-Korea vandag, en selfs dan is daar ‘n klein magselite wat bo die res uittroon. Eerder as om gelykheid as absolute ideaal te stel moet beter lewensomstandighede vir elkeen nagestreef word. As ek ‘n huis, ‘n werk, genoeg geld om ‘n gesin te onderhou en af en toe iets ekstra te koop het, hoekom moet dit my dan pla dat daar mense is wat ryker is as ek? Solank daar vir my ook die geleentheid is om so ryk te word soos wat ek reken nodig is. Solank rykdom deur eerlikheid en harde werk en nie deur bedrog en korrupsie bereik word nie, is dit reg.
In die konteks van ‘n volkstaat moet daar genoeg persoonlike vryheid wees om jouself op te werk en nie deur die owerheid tot ‘n anonieme massa gereduseer te word nie. Te groot ongelykhede is egter ongesond want dit skep spanning. Deur opleiding kan verseker word dat almal ‘n ordentlike werk en lewensvatbare inkomste kry. Die ondernemer wat risikos aangaan en in die proses ekonomiese groei en werk skep moet nie oormatig belas en gestraf word vir sy inisiatief nie. ‘n Welvarende ondernemer in die volkstaat behoort (en talle doen dit) ‘n deel van sy winste vrywillig in te ploeg in die opbou van die gemeenskap, of deur bloot hier te koop die ekonomie te stimuleer. Die persoonlike vryheid van die individu moet wel beperk word deur die algemene waardes van die gemeenskap.
Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.
Nuutste Opmerkings