‘n Nuwe intellektuele opkoms in Afrikanergeledere

oor-gemeenskap-en-plek1Ons hoor gereeld dat die Afrikaner rigtingloos en leierloos is. Ons mense het ‘n diepe onsekerheid oor die toekoms en gryp graag na strooihalms in hul soeke na vastigheid. Terwyl Afrikaners oor die afgelope 21 jaar hul aanpasbaarheid ten toon gestel het, is dit ‘n feit dat die toekoms van die Afrikaner onseker is.

Die oproer oor standbeelde wat onlangs begin het met die eise van studente dat die beeld van Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad verwyder moet word, is ‘n goeie aanduiding van die toenemende kulturele onverdraagsaamheid in ons land. Uitsprake oor grondbesit, Afrikaanse onderrig en transformasie in die algemeen stem baie Afrikaners tot diepe kommer. Mediaberigte oor duisende wittes wat by Eskom uitgewerk gaan word en die toenemende aandrang op rasseverteenwoordiging in elke segment van die openbare lewe stem ons mense verder tot kommer.

Die vraag wat in die lug bly hang is, hoe gaan Afrikaners vir hulself ‘n volhoubare toekoms in Suid-Afrika skep? Rondom braaivleisvure en wanneer tee en koffie na kerk saamgedrink word, praat mense hoofsaaklik oor emigrasie, integrasie en ‘n soort geprivatiseerde roete as opsies tot oorlewing. Selfbeskikking in sy verskillende dimensies word soms bespreek, maar steeds as te ver beskou.

Wat egter in ‘n groot mate by Afrikaners ontbreek, is ‘n diepe intellektuele gesprek oor ‘n nuwe toekoms. Geen volk kan daarin slaag om uit ‘n revolusie te kom en homself nuut te posisioneer sonder ‘n diep intellektuele gesprek nie. Op hierdie terrein is daar die afgelope paar maande groot vordering gemaak en dit verdien erkenning.

Gedurende die laat 1990’s en die eerste jare van die nuwe eeu het verskeie pogings tot ‘n intellektuele gesprek en die ontwikkeling van nuwe idees vir die Afrikaner misluk. Die afgelope tyd word daar egter met nuwe energie oor toekomsopsies gepraat. Gespreksgeleenthede word dikwels deur soveel mense bygewoon dat daar stoele ingedra moet word. Op forums soos Maroela Media en verskeie blogs en ander nuwe media word briljante idees daagliks gepubliseer en bespreek.

Ons weet egter dat ‘n volk wat nie meer oor die vermoë beskik om sy idees in boeke te publiseer nie, totaal gedoem is. Daarom is die publikasie van verskeie belangrike boeke die afgelope tyd uiters belangrik. Prof Koos Malan se Politokrasie, Carel Boshoff se NP van Wyk Louw en die Derde Afrikaner en nou Prof Danie Goosen se boek, Oor Gemeenskap en Plek, is van groot belang in ons stryd om sinvolle idees.

Prof Danie Goosen is vandag een van dié grootste Afrikanerintellektuele. Daarom behoort elke Afrikaner wat ernstig dink oor ons toekoms sy boek wat onlangs deur die FAK uitgegee is, te lees. Oor Gemeenskap en Plek, vra die vraag hoe Afrikaners as kultuurgemeenskap vandag tot hul reg kan kom. Met ‘n diepe beskouing op die Westerse gemeenskapstrasidie bied Goosen belangrike en rigtinggewende antwoorde wat moontlik in die komende jare tot ‘n nuwe Afrikanerbeweging aanleiding kan gee. Hierdie boek kan en behoort die katalisator tot ‘n nuwe toekomsbeeld vir die Afrikaner te wees en kan ‘n groot bydrae lewer in Orania se strewe om meer Afrikaners anders oor hul toekoms te laat dink.

Die demografiese noodsaak vir ‘n landelike Afrikanerstad

Van Dorp tot stadOnlangse navorsing deur die Amerikaanse nuustydskrif, The Atlantic, toon hoe daar toenemend ‘n groot gaping tussen stedelike en landelike Amerika ontstaan. Immigrante van regoor die wêreld stroom na stede soos New York en Los Angeles. Die toename van immigrante met beperkte opleiding in stedelike gebiede veroorsaak dat veral blanke mense uit die werkersklas uit stede gedruk word en ‘n groot uittog van die blanke werkersklas vind na meer landelike gebiede plaas. Daarteenoor verkies jong gegradueerde Amerikaners eerder stedelike gebiede met goeie werksgeleenthede en groter salarisse. Min jongmense uit die platteland wat die geleentheid het om na skool te gaan studeer keer weer na hul studies terug.

Nog ‘n interessantste verskuiwing wat in die VSA plaasvind is op die politieke terrein. Liberale persone verkies die stede en konserwatiewe mense wyk uit na meer landelike gebiede om die stede, sowel as die dieper platteland. Dit veroorsaak dat jy toenemend polities twee uiteenlopende Amerikas raakloop. Die een meer landelik, konserwatief, Christelik en gemeenskaps en waardegerig. Hierdie groep verdien egter ook minder geld en het laer opleidingsvlakke.

Die tweede groep leef in stadsentrums en naby aan stedelike gebiede en is meer liberaal, minder gelowig, meer divers en baie minder op gemeenskapswaardes toegespits en dus eerder individualisties. Die stedelike Amerikaner word meestal gedryf deur ‘n behoefte aan ‘n groter inkomste. Hulle verdien gemiddeld baie meer as mense op die platteland.

Daar ontstaan toenemend spanning tussen die stedelike en landelike VSA en dit spoel reeds oor tot die politiek waar verkose politici uit landelike en stedelike gebiede voortdurend met mekaar bots.

Dieselfde tendense word ook toenemend onder Afrikaners bespeur. Ons beleef ook die verstedeliking van gegradueerdes en die uitwyk van mense met laer opleidingsvlakke na landelike gebiede. Bloukraag Afrikaners vind dit toenemend moeilik om in Suid-Afrika se stede te oorleef omdat daar weens die beskikbaarheid van swart vaardighede op hul terreine ernstig teen hulle gediskrimineer word. Orania ontvang daagliks ‘n magdom navrae van sulke Afrikaners wat moedeloos en soms desperaat is. Die demografiese verskuiwing onder Afrikaners het egter ook ‘n ander dinamika. Die bekende ekonoom, Magnus Heystek, skryf verlede week van semigrasie – ‘n verskynsel waar mense van een deel van die land na ‘n ander trek. Hy verwys spesifiek na ryker Afrikaners wat toenemend Gauteng vir die Wes-Kaap verruil. In baie gevalle verskuif mense hul gesinne na plekke soos Stellenbosch, Somerset-Wes, Paarl en George terwyl hulle vir werk tussen die Wes-Kaap en Gauteng pendel. Ryker Afrikaners met hoë opvoedingsvlakke kan steeds in baie gevalle deur die diskriminasie teen blankes navigeer en vir hulself ‘n ekonomiese sukses in die stede bied. Wat die stede egter nie meer vir hulle kan bied nie is ‘n veilige, kultuurvriendelike omgewing.

Die meeste woonbuurte van Suid-Afrika se stede raak ook toenemend multi-kultureel en liberaal. Daarteenoor bly plattelandse gemeenskappe sentrums vir konserwatiewe, waardegedrewe leefwyses. Die verdeling tussen Afrikaners is egter nie net landelik en stedelik van aard nie. Daar is steeds ‘n sterk suidelike en noordelike verdeling. Afrikaners uit die noordelike en sentrale landelike dele, sowel as die voorstede van Pretoria is meer konserwatief as Afrikaners uit die Wes-Kaap en die voorstede van Johannesburg. Die onlangse debat in die NG Kerk oor die Belhar-belydenis het die verdelings mooi uitgewys. ‘n Liberale, stedelike elite het die Belhar-belydenis probeer deurvoer. Meestal landelike lidmate en gemeentes, uit die noorde en sentrale dele van die land, het egter ‘n stokkie daarvoor gesteek.

Die toenemende organisering van Afrikaners in landelike gemeenskappe is positief. Sommige dorpe is reeds verlore vir die Afrikaner en in ander kom Afrikaners bymekaar om deur organisasies soos AfriForum beheer oor hul eie infrastruktuur, onderwys en kultuurgoedere te neem. Tog bloei landelike gemeenskappe weens die verlies van die meeste van hul slimste jongmense na die stede. Die verlies aan kundigheid verhoed volledige kulturele en ekonomiese behoud.

Afrikaners sal nie ‘n seker toekoms in Suid-Afrika kan hê indien ons slegs binne ekonomies-ontmagtigde landelike gemeenskappe funksioneer nie.  Dit is waarom die bou van ‘n Afrikanerstad met ‘n Afrikaanse universiteit, goeie werksgeleenthede en kulturele samehang nou nodig is. Die gesprekke hieroor wat tans in Afrikanerkringe plaasvind is goed en demografiese inligting bewys toenemend waarom dit noodsaaklik is dat Afrikaners nuut oor hul toekoms in Suid-Afrika moet dink. Orania het homself oor die afgelope 24 jaar bewys as ‘n potensiële Afrikanerstad. Ons sal egter ons mense daarvan moet oortuig en hulle dringend by hierdie bouproses betrokke kry.

Migrasie en die kwessie van die homogene teenoor die heterogene samelewing

HongaryeIn veral Europa is tans die “multi-kulturele samelewing” die ideaal wat die elite in die politici, media en ander meningsvormers voorstaan en met mag propageer. Lande wat grootliks “volkstate” was, en deels nog is, probeer hulle bes om die demografiese oorwig van die “staatsvolk” te verminder deur massiewe immigrasie te bevorder en dit as goed, verrykend, noodsaaklik en onkeerbaar te beskryf.

Immigrasie van mense uit ander lande en volke is inderdaad iets wat nog altyd plaasgevind het en wat onder sekere omstandighede verrykend en noodsaaklik kan wees. Onkeerbaar is dit beslis nie, en goed is dit ook net onder sekere omstandighede. Omdat sekere individue van sekere volke waarde toevoeg deur skaars vaardighede saam te bring, werk te skep en goed te integreer beteken nie dat immigrasie daarom in alle gevalle so afloop nie. Trouens, in meeste gevalle lei immigrasie, veral massa-immigrasie, tot ontwrigting, konflik en vervreemding. Samelewings wat weens hulle geskiedenis immigrante-samelewings is, soos die VSA, Australië, Brasilië en ook ons eie Suid-Afrika moet maniere vind om daarmee saam te leef en die diversiteit te akkommodeer. Samelewings wat egter etnies grootliks homogeen is en oor ‘n lang geskiedenis van een volk met sy eie staat beskik, is in ‘n gelukkige posisie en sou dwaas wees as hulle die toestand sou probeer verander.

Die probleem kom gewoonlik in wanneer groot getalle van een groep na ‘n spesifieke land immigreer. Individue het geen keuse as om te integreer, en gewoonlik is hulle individuele keuse om te immigreer ook ondersteun deur die wil om ‘n nuwe lewe in ‘n nuwe vaderland op te bou. Dit is die soort mense wat die VSA die suksesvolste en magtigste land op aarde gemaak het. Dit is egter ‘n historiese sameloop van omstandighede wat nie sonder meer herhaal kan word nie en wat ook nie vir meeste samelewings geld nie. Talle ander samelewings wat deur immigrante uit verskeie oorde ontstaan het is alles behalwe ekonomies suksesvol of polities stabiel. Dink maar aan Argentinië, Brasilië of Meksiko, om enkeles te noem. Die ondervinding leer dat grootliks homogene samelewings oor die algemeen meer vreedsaam en stabiel is as die “multi-kulturele samelewings” en dat daar geen noodsaaklikheid bestaan om samelewings meer multi-kultureel te maak om hulle te verbeter nie. Die groot dryfkrag om samelewings “multi-kultureel” te maak het eerder iets te doen met anti-nasionale linkse denke en haat vir die eie (oikofobie) as met die rasionele argumente soos die ekonomiese inspuiting, vernuwing en kennisoordrag wat dit sou meebring.

Die Europese Unie se leiers loop tans voor in die koor van multi-kulturalisme. Daar is egter al hoe meer ‘n gaping tussen die elite sonder ‘n vaderland, wat aanhangers van liberale oortuigings is, en aansienlike dele van die bevolkings in die onderskeie lidlande. Daar is egter ook regerings binne die EU wat nie die elite in Brussels se koers volg nie, maar wat staan op hulle lande se soewereiniteit en die reg om behoudende, patriotiese oortuigings te bevorder. Een so ‘n regering is die van Victor Orban, eerste minister van Hongarye. Omdat hy hom nie neerlê by die EU-elite se eise soos multi-kulturalisme, liberalisme en die afsweer van die nasionale en van Christelike en tradisionele waardes nie, word hy dikwels deur meningsvormers aangeval. Hongarye en sy eerste minister, wat demokraties en met ‘n volstrekte meerderheid verkies is, sien egter nie die links-liberale weergawe van demokrasie, wat vandag in die Weste as die enigste aanvaarbare regeringsvorm gesien word, as die geskikte een vir Hongarye nie. Daar is patriotisme en die gewortelheid in die eie kultuur die onderbou van die samelewing. Om vreemde kulture en vreemde, onaanpasbare godsdienste soos die Islam op groot skaal in die land in te bring skep ‘n groot risiko en verg baie moeite (indien dit hoegenaamd slaag) om dit te integreer. Om die rede word immigrasie van vreemde kulture en godsdienste (mense buite die EU) ook afgekeur. Die EU-elite probeer egter toenemend nasionale regerings se soewereiniteit van hulle wegneem om hulle in lyn te bring.

In die kleine volg ook Orania die oortuigings van Hongarye en staan teenoor ‘n magtige apparaat uit partye, die media en instellings wat vermenging wil afdwing en weerstand daarteen as onaanvaarbaar beskou en verdag maak.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Koöperatiewe model as skans teen globalisme

Pope Francis delivers his speech during a special audience with members of the confederation of Italian cooperatives in Paul VI hall at the VaticanPous Francis van die Katolieke Kerk het Saterdag tydens ‘n toespraak in Italië ‘n striemende aanval op wat hy beskryf as die weggooi-kultuur van moderne globalisme geloods. Volgens die pous word mense gereduseer tot eenvoudige gebruiksmiddelle in ‘n globale ekonomie waar ‘n klein groepie rolspelers toenemend alle ekonomiese instrumente beheer.

Die pous het ‘n sterk pleidooi gelewer dat die ekonomie in diens van mense moet staan en dat mense nie eenvoudig net as vervangbare items beskou moet word nie. Volgens die pous word geld toenemend verafgod en lei dit daartoe dat mense keuses maak aan die hand van hoeveel geld hulle uit elke aksie kan maak. Mense word daardeur slawe van ‘n gejaag na geld.

Die pous het ‘n konferensie van koöperatiewe verenigings in Italië toegespreek. Die koöperatiewe beweging in Italië bestaan reeds sedert die negentiende eeu en speel steeds ‘n belangrike rol in finansiële dienste, landbou en die boubedryf in dié land.

Net soos die Mondragon koöperatiewe beweging in die Baskiese deel van Spanje is koöperatiewe instellings in Italië toenemend onder druk. Weens globalisering is daar in Eerste Wêreldlande soos Spanje en Italië ‘n groot invloei van goedkoper produkte en dienste uit Derde Wêreldlande. Selfs net ongelyke mededinging met lande soos Duitsland veroorsaak dat plaaslike produsente nadelig geraak word.

Talle Europese lande ervaar tans hoë werkloosheid en daarmee saam maatskaplike probleme. Gewone mense voel magteloos en beskou hulself toenemend as toeskouers van ‘n globale ekonomiese spel waartoe hulle nie toegang kry nie. Die pous se vurige toespraak moet dus nie as ‘n verrassing beskou word nie.

Die vraagstuk wat hier aangeraak word is nie meer die ou kapitalisme teen sosialisme debat nie. Sosialisme het lank reeds misluk en goeie mededinging het homself lank reeds bewys. Ons weet almal wat die voordele daarvan is, wanneer ‘n tweede supermark, apteek of restaurant in ‘n dorp oopmaak. Mededinging bring gewoonlik beter dienslewering en selfs laer pryse.

Mededinging is egter net sinvol wanneer alle partye by dieselfde punt wegspring. Sou ‘n dorp sy een supermark subsidieer terwyl die tweede supermark geen subsidie ontvang nie, sal die mededinging tussen die twee ondernemings sinneloos wees. Globale mededinging vind vandag toenemend op hierdie basis plaas. Subsidies, meganismes om geldeenhede te verswak en selfs uitbuiting van mense en die natuur veroorsaak dat sommige ekonomiese rolspelers eenvoudig nie meer kan meeding nie. Die rol van groterwordende multi-nasionale maatskappye wat pryse effens afdwing, maar daarmee saam baie skade veroorsaak, word toenemend duidelik.

Die antwoord vir werkloosheid en armoede in Italië en elke ander plek is nie vir die sentrale regering om meer belasting te hef sodat meer regeringsprogramme ingestel kan word nie. Nee die antwoord lê juis in die koöperatiewe model waar gemeenskappe verantwoordelikheid vir hul eie lot neem. Gemeenskappe wat saamwerk teen negatiewe invloede van globalisme kan hul eie probleme oplos. Koop dus eerder tapmelk van die plaaslike boer as supermarkmelk wat oor honderde kilometers vervoer is. Raak betrokke by plaaslike ondernemings en laat jou koopkrag ‘n skans teen globalisme wees.

Belangrike internasionale gebeure die laaste tyd

Aarde‘n Konflik tussen Indonesië en Australië broei tans, wat ook ‘n weerspieëling van Westerse teenoor Oosterse waardes is. In 2005 is ‘n groep van 9 Australiërs in Bali, ‘n Indonesiese eiland, in hegtenis geneem weens die smokkel van heroien. Hulle het tussen hulle 8.3 kg heroien by hulle gehad. Die Indonesiese owerhede het toegeslaan na ‘n wenk van die Australiese polisie. Die twee leiers van die groep, Andrew Chan en Muryan Sukumuran, is Australiese burgers, maar van Sjinese en Indonesiese afkoms onderskeidelik. Hulle is ter dood veroordeel.  Die straf is nog nie voltrek nie en hulle is nou al amper 10 jaar in aanhouding. Die ander lede van die groep het lang tronkstrawwe gekry maar is nie ter dood veroordeel nie omdat die twee leiers hulle beïnvloed het om deel te neem aan die smokkelary. Daar was ’n moratorium op die voltrekking van die doodstraf, wat egter in 2013 opgehef is. Hulle familie beweer dat hulle in die tronk verander het en berou het vir wat hulle gedoen het. Daar is wêreldwye ontsteltenis oor die doodsvonnis, veral in Australië. Alle lewende Australiese eerste ministers asook talle ander prominente persone het gepleit om begenadiging. Die Indonesiese owerhede en president Joko Widodo, wat onlangs verkies is, het dit egter van die hand gewys. Hy het daarop gewys dat gemiddeld 50 mense per dag in Indonesië sterf as gevolg van dwelms en dat Indonesië om dié rede sulke streng wette het. Die smokkelaars vernietig lewens op groot skaal en weet waarvoor hulle hulleself inlaat. Verlede jaar reeds is dwelmsmokkelaars uit verskeie lande soos Malawi, Nederland, Brasilië, Nigerië en Viëtnam tereggestel. Brasilië en Nederland het uit protes hulle ambassadeurs uit Indonesië onttrek. Die regering van Indonesië sien egter geen rede hoekom die Australiërs anders behandel moet word as ander dwelmsmokkelaars nie. In Indonesië self is daar groot steun vir die doodstraf vir dwelmhandel en die nuwe president het dit sy prioriteit gemaak om die euwel uit te roei.

In Australië is daar nou ‘n internetveldtog aan die gang om die land, spesifiek Bali, een van die gewildste toeristebestemmings vir Australiërs, as bestemming te boikot. Indonesiërs het teruggekap dat hulle hulle nie laat boelie deur onttrekking van Westerse geld nie en dat hulle mense se gesondheid belangriker is.

Indonesië is een van talle Oosterse lande wat uiters streng is oor dwelms (soos ook Maleisië en Singapoer) en wat sterk verskil van die Westerse permissiwiteit wat dwelms betref. ‘n Vergelykbare geval  is tans ook in Singapoer ter sprake waar twee Duitsers opsetlik moltreinwaens beskadig en met graffiti besmeer het, ten spyte van die land se streng wette teen besoedeling en wat nou houe met die bamboesroede in die gesig staar.

Dan beweeg ons na Argentinië. ‘n Politieke misdaadriller, wat klink soos ‘n John Grisham-roman, ontvou tans daar. In die middle van Januarie word die openbare vervolger, Alberto Nisman, dood in sy huis aangetref. Dit het aanvanklik na selfmoord gelyk maar intussen bestaan twyfel daaromtrent en dit is moontlik dat dit moord was wat na selfmoord moes lyk. Ondersoekbeamptes het intussen die DNA van ‘n tweede onbekende persoon in die huis ontdek. Nog meer pikant is ontdek dat mnr. Nisman besig was om ‘n verslag oor die Argentynse regering se betrokkenheid by ‘n toesmeerdery op te stel en om ‘n saak voor te berei. Hy sou dit binnekort by die kommissie van ondersoek bekend maak en die Argentynse president, mev. Cristina Kirchner, aankla.  Maar toe is hy dood. Die voorval wat hy aanhangig wou maak, verwys na ‘n aanslag op ‘n Joodse gemeenskapsentrum waarin 85 mense dood is en waar na bewering die Iranse regering by betrokke was. Die Argentynse regering het blykbaar die ondersoek na die Iranse betrokkenheid onderdruk in ruil vir olie teen spesiale tariewe. Die minister van Buitelandse Sake, Hector Timerman, word ook geïmpliseer as een van die sleutelfigure wat die leidrade na die Iranse betrokkenheid onderdruk het. Die aanslag het wel voor mev. Kirchner se presidentskap plaasgevind, maar die ondersoek duur al 20 jaar en na bewering wil die regerings sekere spore doodvee. Die regering was nie self by die aanslag betrokke nie, maar hy skerm na bewering vir Iran. Mev. Kirchner se regering is uitgesproke links en deel van ‘n informele anti-Westerse alliansie, met bande met ander radikale regerings in Suid-Amerika, soos Venezuela en Bolivië.  Dan is daar ook Iran.

Die dood van mnr. Nisman het skokgolwe deur die Argentynse samelewing gestuur, veral as die bewerings van regeringbetrokkenheid by sy dood waar is. Vandag vind daar ‘n groot betoging plaas ter herdenking van mnr. Nisman se dood.  Dit is ook ‘n antiregeringsbetoging wat deur talle magte in die samelewing, soos die vereniging van regslui en die katolieke kerk ondersteun word. Mnr. Nisman se opvolger, Gerardo Pollicita, gaan intussen voort om die aanklag teen die regering voor te berei. Die regering, by name president Kirchner en die minister van Buitelandse Sake, Hector Timerman, tree op soos ‘n mens dit ken van die ANC: hulle beskuldig die regslui van ondermyning van die land en “demokrasie” en probeer op populistiese manier te praat van ‘n onderduimse groep regslui wat die land en sy mense gyselaar hou en die regering verdag maak.  ‘n Regering wat egter nie meer respek vir die reg het en homself nie meer daaraan wil onderwerp nie, beweeg in die rigting van ‘n diktatorskap. Hierdie is die grootste potensiële krisis van die regering van mev. Kirchner en dit is moontlik dat sy self in die beskuldigdebank kan beland en vervolg word. Argentinië se demokratiese strukture is egter sterker ontwikkel as byvoorbeeld Suid-Afrika s’n en daar is ‘n aansienlike middelklas wat nie so maklik opsweepbaar en beïnvloedbaar is soos die armes nie, alhoewel dit ook ‘n sterk faktor is.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Wanneer die staat in geloofsake inmeng

260272Die regering van die deelstaat Bremen in die Noordweste van Duitsland het verlede week ‘n ongewone stap geneem om homself hard teen die inhoud van ‘n plaaslike predikant se preek uit te spreek.

Ds Olaf Latzel het op 18 Januarie uit Rigters 6 gepreek. Sy preek het gefokus op hoe Christene hul van die leringe van vreemde Gode moet reinig. Die predikant het spesifiek verwys na die toenemende gebruik van gemeenskaplike gebede oor geloofsgrense heen. Hy het dit Bybels verkeerd bewys. Nog ‘n voorbeeld uit sy preek is kritiek wat hy teen die plasing van Buddha-beelde in Christene se huise, uitgespreek het. Volgens die teks van sy preek is dit afgodediens. Die boodskap van Ds Latzel se preek was duidelik: Christene moet na die suiwer leer terugkeer en daarteen waak dat ander gelowe ‘n negatiewe invloed op hul geloofslewe kan hê. Daardeur het hy duidelike kritiek teen ander gelowe en selfs teen die Rooms Katolieke Kerk uitgespreek. Ds Latzel is predikant van die Bremen Evangeliese Kerk, ‘n konserwatiewe Protestantse Kerk.

Die parlement van Bremen het op voorstel van ‘n linkse party ‘n resolusie aanvaar waarvolgens die preek as ontoelaatbaar beskryf word. Verder bepaal die resolusie dat daar teen die predikant opgetree moet word. Linkse politici in Bremen het die preek as ‘haatprediking’ beskryf. Volgens hulle word haat teen mense van ander gelowe onder die dekmantel van prediking en skrifuitleg, verkondig. Die departement van Justisie van Bremen het ‘n ondersoek oor aanhitsing tot haat teen die predikant geopen. Sou dit slaag sal dele van die Bybel tegnies gekriminaliseer word.

Hierdie voorval in Duitsland kan nie as ‘n klein, geïsoleerder voorval afgemaak word nie. Die voorval ontbloot twee belangrike uitdagings. Eerstens raak dit vir Christene in Westerse lande toenemend moeilik om hul roeping volkome uit te leef. Weens immigrasie en sekularisering het die meeste Westerse lande vandag groot bevolkings nie-Christene. In Bremen is 10% van inwoners Moslems. Wanneer ‘n predikant dus volgens die Bybel teen die invloed van ander gelowe preek, word hy in die bek geruk. Verdraagsaamheid beteken dus dat Christene in ‘n tradisioneel Christelike land nie meer volkome Christelik kan optree nie.

Die tweede uitdaging is dat regerings toenemend terreine waar hulle nie hoort nie, betree. Verlede jaar het die ekstreem-linkse burgemeester van Houston in die VSA ‘n regsproses begin om alle kerke in die stad te dwing om hul preke aan haar kantoor te verskaf. Die doel hiervan was om seker te maak dat geen sogenaamde haatspraak of diskriminerende boodskappe deur kerke en hul predikante uitgestuur word nie.

Vir Christene om hulself volkome as gelowiges uit te leef is dit nodig dat Christelike gemeenskappe as sulks erken moet word. Soos wat sommige lande Moslemlande is waar mense van ander gelowe die Moslemtradisie moet respekteer, moet daar ook lande, of minstens gemeenskappe wees wat volwaardig as Christelik erken moet word. Duitsland en ander Westerse lande was eens op ‘n tyd sulke lande. Tweedens moet Christene beter saamwerk om regeringsinmenging op die terrein van die kerk af te weer. Wat in kerke gebeur het absoluut niks met die staat te make nie.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel