‘n Konflik tussen Indonesië en Australië broei tans, wat ook ‘n weerspieëling van Westerse teenoor Oosterse waardes is. In 2005 is ‘n groep van 9 Australiërs in Bali, ‘n Indonesiese eiland, in hegtenis geneem weens die smokkel van heroien. Hulle het tussen hulle 8.3 kg heroien by hulle gehad. Die Indonesiese owerhede het toegeslaan na ‘n wenk van die Australiese polisie. Die twee leiers van die groep, Andrew Chan en Muryan Sukumuran, is Australiese burgers, maar van Sjinese en Indonesiese afkoms onderskeidelik. Hulle is ter dood veroordeel. Die straf is nog nie voltrek nie en hulle is nou al amper 10 jaar in aanhouding. Die ander lede van die groep het lang tronkstrawwe gekry maar is nie ter dood veroordeel nie omdat die twee leiers hulle beïnvloed het om deel te neem aan die smokkelary. Daar was ’n moratorium op die voltrekking van die doodstraf, wat egter in 2013 opgehef is. Hulle familie beweer dat hulle in die tronk verander het en berou het vir wat hulle gedoen het. Daar is wêreldwye ontsteltenis oor die doodsvonnis, veral in Australië. Alle lewende Australiese eerste ministers asook talle ander prominente persone het gepleit om begenadiging. Die Indonesiese owerhede en president Joko Widodo, wat onlangs verkies is, het dit egter van die hand gewys. Hy het daarop gewys dat gemiddeld 50 mense per dag in Indonesië sterf as gevolg van dwelms en dat Indonesië om dié rede sulke streng wette het. Die smokkelaars vernietig lewens op groot skaal en weet waarvoor hulle hulleself inlaat. Verlede jaar reeds is dwelmsmokkelaars uit verskeie lande soos Malawi, Nederland, Brasilië, Nigerië en Viëtnam tereggestel. Brasilië en Nederland het uit protes hulle ambassadeurs uit Indonesië onttrek. Die regering van Indonesië sien egter geen rede hoekom die Australiërs anders behandel moet word as ander dwelmsmokkelaars nie. In Indonesië self is daar groot steun vir die doodstraf vir dwelmhandel en die nuwe president het dit sy prioriteit gemaak om die euwel uit te roei.
In Australië is daar nou ‘n internetveldtog aan die gang om die land, spesifiek Bali, een van die gewildste toeristebestemmings vir Australiërs, as bestemming te boikot. Indonesiërs het teruggekap dat hulle hulle nie laat boelie deur onttrekking van Westerse geld nie en dat hulle mense se gesondheid belangriker is.
Indonesië is een van talle Oosterse lande wat uiters streng is oor dwelms (soos ook Maleisië en Singapoer) en wat sterk verskil van die Westerse permissiwiteit wat dwelms betref. ‘n Vergelykbare geval is tans ook in Singapoer ter sprake waar twee Duitsers opsetlik moltreinwaens beskadig en met graffiti besmeer het, ten spyte van die land se streng wette teen besoedeling en wat nou houe met die bamboesroede in die gesig staar.
Dan beweeg ons na Argentinië. ‘n Politieke misdaadriller, wat klink soos ‘n John Grisham-roman, ontvou tans daar. In die middle van Januarie word die openbare vervolger, Alberto Nisman, dood in sy huis aangetref. Dit het aanvanklik na selfmoord gelyk maar intussen bestaan twyfel daaromtrent en dit is moontlik dat dit moord was wat na selfmoord moes lyk. Ondersoekbeamptes het intussen die DNA van ‘n tweede onbekende persoon in die huis ontdek. Nog meer pikant is ontdek dat mnr. Nisman besig was om ‘n verslag oor die Argentynse regering se betrokkenheid by ‘n toesmeerdery op te stel en om ‘n saak voor te berei. Hy sou dit binnekort by die kommissie van ondersoek bekend maak en die Argentynse president, mev. Cristina Kirchner, aankla. Maar toe is hy dood. Die voorval wat hy aanhangig wou maak, verwys na ‘n aanslag op ‘n Joodse gemeenskapsentrum waarin 85 mense dood is en waar na bewering die Iranse regering by betrokke was. Die Argentynse regering het blykbaar die ondersoek na die Iranse betrokkenheid onderdruk in ruil vir olie teen spesiale tariewe. Die minister van Buitelandse Sake, Hector Timerman, word ook geïmpliseer as een van die sleutelfigure wat die leidrade na die Iranse betrokkenheid onderdruk het. Die aanslag het wel voor mev. Kirchner se presidentskap plaasgevind, maar die ondersoek duur al 20 jaar en na bewering wil die regerings sekere spore doodvee. Die regering was nie self by die aanslag betrokke nie, maar hy skerm na bewering vir Iran. Mev. Kirchner se regering is uitgesproke links en deel van ‘n informele anti-Westerse alliansie, met bande met ander radikale regerings in Suid-Amerika, soos Venezuela en Bolivië. Dan is daar ook Iran.
Die dood van mnr. Nisman het skokgolwe deur die Argentynse samelewing gestuur, veral as die bewerings van regeringbetrokkenheid by sy dood waar is. Vandag vind daar ‘n groot betoging plaas ter herdenking van mnr. Nisman se dood. Dit is ook ‘n antiregeringsbetoging wat deur talle magte in die samelewing, soos die vereniging van regslui en die katolieke kerk ondersteun word. Mnr. Nisman se opvolger, Gerardo Pollicita, gaan intussen voort om die aanklag teen die regering voor te berei. Die regering, by name president Kirchner en die minister van Buitelandse Sake, Hector Timerman, tree op soos ‘n mens dit ken van die ANC: hulle beskuldig die regslui van ondermyning van die land en “demokrasie” en probeer op populistiese manier te praat van ‘n onderduimse groep regslui wat die land en sy mense gyselaar hou en die regering verdag maak. ‘n Regering wat egter nie meer respek vir die reg het en homself nie meer daaraan wil onderwerp nie, beweeg in die rigting van ‘n diktatorskap. Hierdie is die grootste potensiële krisis van die regering van mev. Kirchner en dit is moontlik dat sy self in die beskuldigdebank kan beland en vervolg word. Argentinië se demokratiese strukture is egter sterker ontwikkel as byvoorbeeld Suid-Afrika s’n en daar is ‘n aansienlike middelklas wat nie so maklik opsweepbaar en beïnvloedbaar is soos die armes nie, alhoewel dit ook ‘n sterk faktor is.
Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.
Weet ons van enige Boere afstammelinge in Argentinia wat wil terugkom Suid Afrika toe. Kan ons voelers uitsteek daarheen indien enige sou belangstel om na Orania te kom. Weet die Argentyne van Orania?
Flip, onlangs het ‘n Argentyn wat in Patagonië woon kontak met Orania gemaak. Ek sal ‘n bietjie met hom gesels. Hy het in Suid-Afrika gewoon, maar ek kan nie agterkom dat hy een van die afstamelinge van die Boere is nie.
Twee Oraniërs was sowat 2 jaar gelede in Argentinië om die nakomelinge van die Boere te besoek. Daar is ook ‘n artikel daaroor in Voorgrond geskryf. Hulle waarneming was egter dat die nakomelinge van die Boere geheel en al opgegaan het in die Spaanssprekende bevolking en min van hulle nog enige Afrikaans praat. Dit is immers ook al 3 generasies terug en die jonges praat glad nie meer Afrikaans nie en sien hulleself as Argentyne en het in elk geval so vermeng geraak met die plaaslike bevolking dat hulle nie meer as Afrikaners kan deurgaan nie. Ek sien nie dat ons uit die oorde veel immigrante kan werf nie. Die lot van die Boere in Argentinië is egter ‘n les oor wat gebeur met Afrikaners wat die land verlaat: na 2 generasies, of selfs al na 1 is hulle ontstam. Ons moet dus eerder diegene wat onlangs na Australië, Engeland, Kanada ens. geëmigreer het probeer terug kry voor dit te laat is. My waarneming met immigrante is dat 10 jaar min of meer die afsnypunt is. Daarna het jy vrede gemaak met jou nuwe land, is goed gevestig en het geen begeerte meer om terug te kom nie.
De economie is nu enorm slecht in Nederland en ook een verloederende onvriendelijke maatschappij. Er zijn veel Nederlanders die emigreren dus ook mischien ook een handvoll Afrikaners die in NL wonen die naar Orania zouden kunnen gaan.
Het is lang niet meer zo makkelijk om naar Canada of Australie te immigreren als vroeger.