fbpx

HongaryeIn veral Europa is tans die “multi-kulturele samelewing” die ideaal wat die elite in die politici, media en ander meningsvormers voorstaan en met mag propageer. Lande wat grootliks “volkstate” was, en deels nog is, probeer hulle bes om die demografiese oorwig van die “staatsvolk” te verminder deur massiewe immigrasie te bevorder en dit as goed, verrykend, noodsaaklik en onkeerbaar te beskryf.

Immigrasie van mense uit ander lande en volke is inderdaad iets wat nog altyd plaasgevind het en wat onder sekere omstandighede verrykend en noodsaaklik kan wees. Onkeerbaar is dit beslis nie, en goed is dit ook net onder sekere omstandighede. Omdat sekere individue van sekere volke waarde toevoeg deur skaars vaardighede saam te bring, werk te skep en goed te integreer beteken nie dat immigrasie daarom in alle gevalle so afloop nie. Trouens, in meeste gevalle lei immigrasie, veral massa-immigrasie, tot ontwrigting, konflik en vervreemding. Samelewings wat weens hulle geskiedenis immigrante-samelewings is, soos die VSA, Australië, Brasilië en ook ons eie Suid-Afrika moet maniere vind om daarmee saam te leef en die diversiteit te akkommodeer. Samelewings wat egter etnies grootliks homogeen is en oor ‘n lang geskiedenis van een volk met sy eie staat beskik, is in ‘n gelukkige posisie en sou dwaas wees as hulle die toestand sou probeer verander.

Die probleem kom gewoonlik in wanneer groot getalle van een groep na ‘n spesifieke land immigreer. Individue het geen keuse as om te integreer, en gewoonlik is hulle individuele keuse om te immigreer ook ondersteun deur die wil om ‘n nuwe lewe in ‘n nuwe vaderland op te bou. Dit is die soort mense wat die VSA die suksesvolste en magtigste land op aarde gemaak het. Dit is egter ‘n historiese sameloop van omstandighede wat nie sonder meer herhaal kan word nie en wat ook nie vir meeste samelewings geld nie. Talle ander samelewings wat deur immigrante uit verskeie oorde ontstaan het is alles behalwe ekonomies suksesvol of polities stabiel. Dink maar aan Argentinië, Brasilië of Meksiko, om enkeles te noem. Die ondervinding leer dat grootliks homogene samelewings oor die algemeen meer vreedsaam en stabiel is as die “multi-kulturele samelewings” en dat daar geen noodsaaklikheid bestaan om samelewings meer multi-kultureel te maak om hulle te verbeter nie. Die groot dryfkrag om samelewings “multi-kultureel” te maak het eerder iets te doen met anti-nasionale linkse denke en haat vir die eie (oikofobie) as met die rasionele argumente soos die ekonomiese inspuiting, vernuwing en kennisoordrag wat dit sou meebring.

Die Europese Unie se leiers loop tans voor in die koor van multi-kulturalisme. Daar is egter al hoe meer ‘n gaping tussen die elite sonder ‘n vaderland, wat aanhangers van liberale oortuigings is, en aansienlike dele van die bevolkings in die onderskeie lidlande. Daar is egter ook regerings binne die EU wat nie die elite in Brussels se koers volg nie, maar wat staan op hulle lande se soewereiniteit en die reg om behoudende, patriotiese oortuigings te bevorder. Een so ‘n regering is die van Victor Orban, eerste minister van Hongarye. Omdat hy hom nie neerlê by die EU-elite se eise soos multi-kulturalisme, liberalisme en die afsweer van die nasionale en van Christelike en tradisionele waardes nie, word hy dikwels deur meningsvormers aangeval. Hongarye en sy eerste minister, wat demokraties en met ‘n volstrekte meerderheid verkies is, sien egter nie die links-liberale weergawe van demokrasie, wat vandag in die Weste as die enigste aanvaarbare regeringsvorm gesien word, as die geskikte een vir Hongarye nie. Daar is patriotisme en die gewortelheid in die eie kultuur die onderbou van die samelewing. Om vreemde kulture en vreemde, onaanpasbare godsdienste soos die Islam op groot skaal in die land in te bring skep ‘n groot risiko en verg baie moeite (indien dit hoegenaamd slaag) om dit te integreer. Om die rede word immigrasie van vreemde kulture en godsdienste (mense buite die EU) ook afgekeur. Die EU-elite probeer egter toenemend nasionale regerings se soewereiniteit van hulle wegneem om hulle in lyn te bring.

In die kleine volg ook Orania die oortuigings van Hongarye en staan teenoor ‘n magtige apparaat uit partye, die media en instellings wat vermenging wil afdwing en weerstand daarteen as onaanvaarbaar beskou en verdag maak.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.