by Orania Beweging | Apr 15, 2015 | Nuus |
Die huidige drama rondom die vandalisering van ons monumente en die eise dat hulle verwyder moet word simboliseer tot ‘n groot mate die transformasieproses wat neerkom op die suiwering van Afrikaners uit Suid-Afrika se publieke ruimtes en areas van gedeelde belang.
Hierdie proses het begin met die uitwerk van Afrikaners uit die staatsdiens, eers as werknemers en later ook as gebruikers van dienste soos publieke hospitale, openbare treine en selfs beskermingsdienste soos die polisie. Ander publieke ruimtes soos stedelike parke en baie strate is vandag “no-go” areas vir baie Afrikaners.
Tot ‘n groot mate het Afrikaners wat besluit het om in Suid-Afrika aan te bly, in natuurlike reaksie op hierdie vervreemding, tot hulself ingekeer. Tim du Plessis het reeds in 2005 hierdie verskynsel as “inwaartse emigrasie” beskryf. Veral diegene wat die bykomende uitgawe kan bekostig skuil agter reuse heinings, diefwering en sekuriteitswagte – vanaf ons blyplekke tot ons werksplekke en ook waar ons inkopies doen, vermaak soek en die hospitale waar ons verkies om mediese hulp te ontvang.
Terwyl dit maklik was om Afrikaners uit belangrike publieke ruimtes te skuif deur ons werksgeleenthede te ontneem en selfs deur algemene kriminaliteit, is dit nie so maklik om al die spore van ons bestaan weg te vee nie. So staan ons monumente nou soos eensame brandwagte op terreine waar ons huiwerig is om self lank te vertoef.
Die druk om ons monumente te skuif het dus ‘n rasionele politieke aanloop, en in die gesig van die venyn wat ons ervaar is dit ten behoewe van ons erfenis selfs ‘n goeie idee om ons beelde na veilige hawens te verskuif.
Dit neem egter nie weg van die voortslepende onreg wat aan Afrikaners gedoen word na die vertroue wat die meeste van ons in die NP en ANC se onderhandelde skikking geplaas het nie. Ons het immers baie prys gegee om ‘n land te skep wat aan almal behoort wat daarin woon. Dit is nou duidelik dat terwyl ons vir ‘n demokrasie gestem het, ons ‘n rewolusie gekry het met eise wat daagliks net al hoe onredeliker word.
Behalwe vir die algemene staatsverval wat rondom ons plaasvind, sien ons ook verdere tekens dat Suid-Afrika se demokrasie besig is om ons te in die steek te laat. Een voorbeeld hiervan is die wyse waarop die media, wat veronderstel is om die waghonde van die demokrasie te wees, die ANC en die EFF se rassisme altyd as politiek rapporteer, terwyl Afrikaners se politiek as rassisme gebrandmerk word.
So word die rassisme-kaart ook vinnig ingespan teen talle Afrikaners wat baie emosioneel reageer op die aanslag op ons monumente-erfenis.
Orania het nog altyd sterk standpunt teen rassisme en rasse-haat ingeneem en sal dit in die toekoms bly doen. Ons Christelike grondslag leer ons dat mense geskape is na die beeld van God en daarom kan ons nie anders nie as om elkeen met waardigheid en respek te hanteer.
Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat ‘n liefde vir die eie nie dieselfde is as haat vir ander nie, en selfs al sou daar korrelasie wees, leer die statistiese wetenskap ons dat korrelasie nie oorsaak impliseer nie. Anders gestel: Selfs al sou daar rassiste wees onder diegene wat hul kulturele-erfenis probeer beskerm, maak dit nie die aanspraak op kulturele beskerming ongeldig nie. In ‘n ware demokrasie sou ons almal saam gestem het dat dit hul reg is om emosioneel te raak oor hul simbole en om binne die perke van redelikheid hul frustrasie in die publiek uit te druk.
Hoe moet ons dan nou maak om ons monumente-erfenis te beskerm in ‘n kamma-demokrasie wat sy beste doen om ons uit te dryf?
Dit help nie om mee te doen aan die proses om ons uit die publieke ruimte te verban deur bloot ons monumente uit alle openbare terreine te onttrek nie. Dit is duidelik dat daar ‘n groot behoefte aan publieke aanvaarding by Afrikaners is, soos implisiet in die meerderheid se wens dat ons beelde moet bly op die plekke waar hul tans staan. Sonder publieke ruimtes waar ons onsself kan uitleef, word die versoeking vir ons kinders soveel groter om in ander lande en kulture, publieke ruimtes op te soek wat hulle verwelkom.
Dit help egter ook nie om te veg net om ‘n punt te probeer bewys nie. Vir volke sonder ‘n tuiste word laaste staanplekke meestal toegegroeide grafte wat in die vergetelheid verdwyn.
Gelukkig bied ons Westerse tradisie ‘n bodemlose put van inspirasie en hoop.
Terwyl Rome vernietig is, is grondwerke op ‘n moerasagtige eilandstreek gelê waarvoor die meeste Romeine aanvanklik hul neuse opgetrek het, maar wat uiteindelik die wieg van die Renaissance sou word.
Afrikaners kan ook verby ons Rome kyk om ons Venesië te bou.
Laat ons dus soos op Orania werk aan die skep van nuwe publieke ruimtes vir ons monumente wat ons na gelang van ons vermoë in stand kan hou en volgens ons behoefte kan uitbrei. Dan skep ons vir meer as net beelde ‘n tuiste.
by Orania Beweging | Apr 8, 2015 | Nuus |
Dit lyk die afgelope paar dae asof die EFF en ANC Jeugliga behoorlik met mekaar meeding oor wie die grootste poging teen die Afrikaner en eintlik blankes in die algemeen se erfenis kan loods.
Die huidige debakel oor monumente moenie as iets nuut beskou word nie. Dit is eerder deel van ‘n proses wat reeds in die middel negentigerjare begin het. Die proses om van veral die Afrikaner se erfenis ontslae te raak stop nie by monumente nie. Ja die meeste Verwoerd-standbeelde is lankal verwyder en die kanse dat Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein staande sal bly raak by die dag skraler.
Die aanslag op ons erfenis vind egter reeds vir baie jare op ander terreine plaas. Die hoeveelheid Afrikaanse en Afrikanergerigte boeke wat regoor Suid-Afrika uit biblioteke gegooi en in baie gevalle op ashope beland het, is een voorbeeld. Nog ‘n voorbeeld is die onttrekking van staatsubsidies aan talle kultuurorganisasies, monumente, museums en ander instellings en plekke waar die Afrikanerkultuur bewaar word. In sommige gevalle het die ANC-regering beheer oor instellings oorgeneem en dit gedeeltelik begin transformeer soos wat die geval is by die Oorlogmuseum in Bloemfontein en die Taalmonument in die Paarl.
Afrikaners reageer tans verskillend op die verskerpte veldtog teen ons erfenis. Een groep wil alles probeer behou waar dit is. Ander wil hê alles moet verskuif word en ‘n ander groep soek ‘n soort middelgrond.
Wat nodig is, is dat Afrikaners ‘n nuwe realisme ontwikkel. Demografies is ons ‘n reeds klein, minderwordende minderheid. Afrikaners het baie van ons mense aan emigrasie verloor en weens lae bevolkingsaanwas onder ons eie mense en ‘n hoë bevolkingsaanwas onder ander volkere gaan ons aanhou om ‘n kleiner persentasie van die land se bevolking uit te maak. Demografie is belangrik. Een voorbeeld is sekerlik die middestad van Pretoria.
Dertig jaar gelede was dit ‘n Afrikanerhartland waar Afrikaners gewoon en gewerk het. Vandag is daar bitter min Afrikaners wat nog in die Pretoria middestad woon en selfs dié wat daar werk word vinnig minder. Dertig jaar gelede het die meerderheid van mense wat dus by President Kruger se standbeeld verbygestap het, sterk daarmee geïdentifiseer. Vandag is dit nie meer die geval nie. Sou dit dus nie meer sin gemaak het om te aanvaar dat die middestad van Pretoria nie meer ‘n tuiste vir Afrikanerfenis is nie?
Afrikaners woon vandag steeds verspreid oor die hele Suid-Afrika. Ons is nêrens gekonsentreerd nie en vorm byna nêrens ‘n meerderheid nie. Dit is ‘n onvolhoubare werklikheid. Ons kan tog nie voortgaan om te eis dat ons erfenis bewaar moet word in plekke waar die Afrikaner minder as 5% van die bevolking uitmaak nie?
Die harde werklikheid is dat Afrikaners sal moet besef dat ons eerder betyds ons erfenis na plekke waar ons oor die vermoë beskik om dit te bewaar moet verskuif voordat dit voor ons oë vernietig word of op ashope beland. Orania doen reeds baie om erfenisitems daar te bewaar. Die Erfenisstigting doen ook belangrike werk. Afrikanerinstellings sal moet saamwerk om ons erfenisitems na geskikte plekke te verskuif. Orania is reeds goed daarvoor gerat om die meeste items hier te ontvang, te bewaar en ten toon te stel.
by Orania Beweging | Apr 8, 2015 | Nuus |
Jy kan nie geskiedenisfeite verander nie.
Dit is ʼn geskiedkundige feit dat Jan van Riebeeck 6 April 1652 in Tafelbaai geland het.
Dit is ʼn geskiedkundige feit dat Jan van Riebeeck Autshumao, wat hy Herrie die strandloper genoem het, en sy mense in Tafelbaai gekry het.
Waarom verskil ons dan so dikwels oor geskiedenis?
Omdat mense geskiedenisfeite verskillend interpreteer.
Ook omdat sommige mense die geskiedenis misbruik om ander mense te mobiliseer. So probeer hulle eie doelwitte bereik in die huidige tyd. Dan kies ons geskiedenisfeite wat ons pas en los ander ongemaklike feite weg. Daarmee skep ons geskiedenis-mites wat gedeeltelik waar is — maar nie die geskiedenis volledig en gebalanseerd weergee nie. Die mites uit die geskiedenis wat ons so skep, vertel meer van die tyd waarin die mite ontstaan en van onsself as van die tyd waaroor dit gaan.
Dan Brown skryf in sy boek The Da Vinci Code (p343):
“History is always written by the winners. When two cultures clash, the loser is obliterated, and the winner writes the history books – books which glorify their own cause and disparage the conquered foe. As Napoleon once said: ‘What is history, but a fable agreed upon?’ By its very nature, history is always a one-sided account.”
Tans word die Suid-Afrikaanse geskiedenis weer uit nuwe hoeke ontleed en herskryf, veral deur die ANC wat hulself as die oorwinnaars na 1994 sien. Wat ek jammer vind is dat presies dieselfde foute as in die verlede gemaak word. In die nuwe weergawe van die geskiedenis is die Afrikaner en wittes altyd net sleg en Swart, Bruin, Khoisan en die ander altyd net goed en onskuldig. Mense en die geskiedenis is nooit so eenvoudig nie.
President Mandela het in die parlement met die tienjaar herdenking van sy inhuldiging (10 Mei 2004) gesê dat ʼn rigtinggewende beginsel vir hom: “has been that there are good men and women to be found in all groups and from all sectors of society, and that in an open and free society those South Africans will come together to jointly and co-operatively realise the common good”.
Dit is ook my probleem met artikels soos “The Eight years of Jan van Riebeeck.”
Volgens hierdie artikel is Autshumao en sy volgelinge net goed en onskuldig met goeie bedoelings. Jan van Riebeeck en sy volgelinge is net sleg en gemeen met kwade bedoelings. Die geskiedenis van daardie tyd is ingewikkelder as dit met goeie en slegte mense aan albei kante.
As die geskiedenis gesien word uit die oogpunt van die KhoeKhoen of KhoiKhoi, soos Herrie se mense genoem is, is die artikelskrywer reg dat Van Riebeeck die KhoiKhoi se lewe ontwrig en verander het. Baie van hulle is later in strafekspedisies gedood en die groot Pokke epidemies van 1713, 1755 en 1767 het sommige stamme totaal uitgewis. Die Khoi en San is die binneland in forseer net soos hulle baie jare van te vore deur die Nguni stamme uit die huidige KwaZulu-Natal gebiede suid gedwing is. Net hulle rotstekeninge het in die Drakensberge oorgebly.
Maar hoe lyk die feite uit die Hollandse oogpunt gesien? Feite wat die skrywer weglaat?
Volgens die artikelskrywer het die plaaslike Khoi inwoners ten alle tye vriendelik (cordial) teenoor Europeërs opgetree. Die dagboeke van die vroeë seevaarders verskil daarvan.
In 1510 word Francisco d’Almeida, ʼn Portugese onderkoning, in Tafelbaai gedood na ʼn botsing met plaaslike inwoners. Die Portugese seevaarders het daarna opdrag gekry om landings aan die Suid-Afrikaanse kus te probeer vermy. Dit help verklaar waarom Suid-Afrika nie ʼn Portugese kolonie soos Angola en Mosambiek geword het nie.
Die Hollandse seevaarders skryf oor die vriendelikheid of vyandigheid van die plaaslike inwoners aan die Kaap dat hulle, hulle “onvoorspelbaar” vind. So is die Hollandse koopman Cornelis Specx en 14 van sy bemanningslede in 1638 in Tafelbaai vermoor toe hulle hul te ver van hul skepe gewaag het.
Met Jan van Riebeeck se koms in 1652 het hy spesifieke opdragte van die Here Sewentien gehad. Hy moes ʼn fort bou vir beveiliging maar het ook ʼn streng opdrag gekry om in vrede en in goeie verhouding met die plaaslike bevolking te lewe. Die doel was beslis nie om hulle lewe te ontwrig of hulle uit te wis soos die artikels dit stel nie. Sonder goeie verhoudinge met die Khoi was dit nie moontlik om met hulle handel te dryf nie ten einde genoeg beeste en skape te ruil om die vlote wat by die Kaap aan doen van vleis te voorsien.
Daarvoor was ʼn tolk vir kommunikasie nodig. Autshumao, (Herrie die strandloper), sy susterskind Krotoa (Eva) en Doman het as tolke opgetree. Krotoa (Eva) het deel van Van Riebeeck se familie geword en by hulle gewoon. Sy het ʼn Christen geword wat gedoop is en het met ʼn Hollander, Pieter van Meerhof getrou. Uit die huwelik is drie kinders gebore wat deel van die Hollandse gemeenskap geword het. Dit toon aan hoe die aanvanklike verdelings nie op ras gegrond was nie maar op geloof. Ras sou eers in die 18de eeu ʼn belangrike verdelingsfaktor word.
Van Riebeeck skryf oor hoe hy sukkel om sy opdragte uit te voer omdat die verskillende Khoi groepe onderling verdeeld was en mekaar gewantrou het. Hulle wou ook nie altyd handel dryf en vee ruil nie. Van die groepe of stamme waarmee hy gesukkel het, was die Goringhaiconas (die Strandlopers van Autshumao) en die Goringhaiquas (die Kaapmans onder Gogosoa). Hy skryf wel positief oor die Saldanha wat meer bereid was tot handeldryf.
Vir meer as ʼn jaar na 1652 gaan dit goed. Dan op 19 Oktober 1653 steel Autshumao en sy volgelinge byna al die vee van die Kompanjie. Hulle maak ook die veewagter David Jansz dood.
Van Riebeeck skryf hoe geskok hy is dat “die tolk Herrij, die doorgaens van onse taeffel als een groot vrunt alle dagen is gespijst met Hollandse cleederen gecleet, so iets kon doen. (Hoe die tolk Herrij, wat deurgaans as ʼn vriend gereeld aan ons tafels saam met ons geëet het en Hollandse klere gedra het, so iets kon doen.)
Later vind hulle uit hoe Doman, die ander tolk, die Goringhaiquas (die Kaapmans) aanraai om tydens reënweer nog vee te steel aangesien Van Riebeeck se mense dan met klam lonte en kruit nie hul pangewere kan gebruik nie.
In Julie 1659 word die veewagter Sijmon in’t Velt doodgesteek en ʼn verdere 68 beeste en 67 skape weggevoer. Hierop word besluit om die heining te bou waarna in die artikel verwys word. Konflik tussen die Hollanders en die plaaslike bevolking volg tot April 1660. Na gesprekke tussen die groepe word in Mei 1660 vrede met die leiers van die verskillende groepe gesluit en word die versoeningsbeleid hervat.
Die finale gebalanseerde geskiedenis van daardie tyd sal nog geskryf moet word. Dit sal iewers tussen die Khoi en Hollandse perspektiewe lê. Dit sal verduidelik hoe twee verskillende kultuur-benaderings aan die Kaap gebots het. Die Hollanders wat uit Europa kom waar individuele- en privaateiendomsreg van grond die gebruik is teenoor die Khoi wat geglo het die grond behoort aan almal om te gebruik. Die Khoi wat vee aanhou net vir eie gebruik teenoor die Hollanders wat handeldryf om wins te maak en om gereed te wees om groot Hollandse vlote van vleis te voorsien.
As uit vandag se perspektief daaroor geskryf word, moet die vraag gevra word of Suid-Afrika ʼn beter plek sou wees as Jan van Riebeeck nooit na die Kaap gekom het nie? Dit is tog vandag se debat. Sou die snelweë breër, die hospitale groter en die TV beter gewees het sonder Jan van Riebeeck en sy nakomelinge se bydrae?
Tans is Suid-Afrika ʼn ekonomiese reus in Afrika. Amper die helfte van alle geteerde paaie in Afrika kom in Suid-Afrika voor asook die grootste hospitale in die Suidelike halfrond met meer selfone in Suid-Afrika as wat daar volwasse inwoners is. Ook die nageslagte van Autshumao gebruik vandag hierdie hospitale, paaie, televisie en selfone.
Wat is die gevaar van geskiedenis mites wat vir hedendaagse mobilisering gebruik word? Een voorbeeld:
In Rwanda skep die Hutu-leiers geskiedenis mites om aan te toon dat die land se probleme deur die Tutsi’s en nie deur hulle veroorsaak is nie. Toe die probleme nie weggaan nie begin die gewone Hutus die Tutsi’s “kakkerlakke” noem en besluit op ʼn dag om van die “kakkerlakke” ontslae te raak. Tot ʼn miljoen Tutsi’s word in 100 dae vermoor.
Aan die begin van hierdie jaar praat president Zuma oor Suid-Afrika se geskiedenis. Waar kom Suid-Afrika se probleme vandaan? Die agb. President sê: “a man called Jan van Riebeek arrived here and that was the start of the trouble in this country.” Ek kan aantoon hoe die president verkeerd is deurdat hy die swart op swart oorloë of die swart en Khoi botsings voor 1652 verswyg. Die vraag is egter wat presies sê hy in gewone taal? Hy sê toe die witmense hier aankom, het die moeilikheid begin.
Met die herdenking van die ANC se 103de verjaarsdag vanjaar in die Kaapse stadion, verwys die prys- en gebedsvoorganger Ockert Lewies na mnr. Zuma se opmerkings oor Van Riebeeck. In sy pryssang sê hy aan die 40 000 mense in die stadion dat hy eers Jan van Riebeeck se bose gees moet uitdryf ten einde die stadion skoon te kry voordat die president kan praat. Terloops, Van Riebeeck is in Batavia dood en begrawe – nie in Kaapstad nie.
Wat verstaan die gewone ANC ondersteuner van die president en die pryssanger se opmerkings? Hy verstaan dat die wittes vir die probleme in die land verantwoordelik is. As jy dus van die wittes ontslae raak, dan is die probleme weg. Dryf die “kakkerlakke” uit, dan is die probleme weg. Dit is hoekom mites so gevaarlik is en nie net so gelaat kan word nie.
ʼn Ou Afrika gesegde lui dat solank as wat die leeus nie kan praat en hulle eie storievertellers aanstel nie, sal in die stories na die jag, die jagters altyd die beste daarvan afkom. Kom ons beywer ons vir gebalanseerde Suid-Afrikaanse geskiedskrywing en politieke debat deur die leeus en die jagters omdat ons die gevare van eensydige geskiedskrywing en mites besef.
Dr Pieter Mulder is die leier van die Vryheidsfront Plus.
by Orania Beweging | Apr 2, 2015 | Nuus |
Tans woed die debat oor die moontlike verwydering van die standbeeld van Cecil John Rhodes op die kampus van die Universiteit van Kaapstad in die media. Dis na my wete die eerste standbeeld van ‘n nie-Afrikaner wat in die gedrang is, nadat talle beelde van Afrikanerleiers reeds verwyder is of in gedrang is.
Ons kan sê dat Rhodes vir dinge gestaan het wat lynreg teen die Afrikaner se vryheidstryd was soos Britse imperialisme en internasionale kapitalisme en dat hy een van die aanstigters van die Anglo-Boereoorlog en die Jameson-inval was. Dit bied aan Afrikaners genoeg rede om te sê dat hy verdien om verwyder te word. Sentimente vir Rhodes het ek beslis nie maar die aanslag op sy beeld laat my wel ongemaklik voel omdat dit lyk na die volgende fase van swart kulturele transformasie. Dit baat ons as Afrikaners niks as die wit Engelssprekendes se geskiedenis nou ook aangevat word nie want dit verteenwoordig die poging om die nalatenskap van wit mense in Suid-Afrika weg te vee. As dit met kommunistiese ywer bedryf word stuit dit voor niks nie. Dit vind veel meer in fases plaas: eerste word die beelde van “apartheidleiers” soos Verwoerd verwyder, dan is dit volksleiers uit die tyd van die Boererepublieke, volgende is dit skrywers en digters (soos met Totius reeds gebeur het), eintlik alle standbeelde van witmense behalwe diegene wat deel van die “struggle” was soos Bram Fischer of Beyers Naude. Ook in Zimbabwe is die Rhodes-standbeeld, immers die skepper van die land, verwyder voor in die volgende fase wit mense se plase gevat is in ‘n poging om terug te keer na ‘n verlede voor die koms van Europeërs na Afrika.
Die verwydering van standbeelde in Suid-Afrika is die simptoom van ‘n haat op die geskiedenis wat tot onlangs toe deur wit mense bepaal is en die poging om alle geskiedenis voor 1994 uit te vee en met ‘n soort “reboot” by nul te begin. Dat die oorwinnaars hulle eie helde vereer is vanselfsprekend en dat daar nou oral Mandela-beelde opgesit word behoort niemand te verbaas nie. Afrikaners het na 1948 ook hulle stempel deur middel van talle monumente afgedruk, maar sonder om beelde van Rhodes of koningin Victoria te verwyder. Die Afrikaner-era van Suid-Afrika, wat breedweg van 1924 tot 1994 (of volgens ander interpretasies van 1948 tot 1994) geduur het is as nuwe laag bo die geskiedenis van Engelse oorheersing wat daar voor was, geplaas. Afrikaners het nie probeer om die stempel wat Engelse op Suid-Afrika afgedruk het, al was dit grootliks verbind met geweld en onderdrukking van Afrikaners, te ontken en uit te vee nie.
Enige volk moet vrede met sy geskiedenis en die geskiedenis van sy land maak om homself en sy plek binne die wêreld en die eie land te begryp. Dit wat was, was dikwels sleg, maar is nogtans ‘n onvermydelike boublok vir ‘n beter hede. Vir Afrikaners was die tyd na 1948 ‘n goue era van voorspoed en vooruitgang, maar dit is opgebou op die koloniale skepping van die Unie van Suid-Afrika en moes toegewings aan die Engelse minderheid maak om te slaag, soos tweetaligheid en ‘n konsensus-vlag wat ook die Britse erfenis erken het. ‘n Terugkeer na die landelike Boererepublieke was net so onmoontlik soos wat vandag ’n terugkeer na ’n geïdealiseerde Afrika voor Jan van Riebeek moontlik is.
Die links-radikale geskiedenisbeskouing, wat talle swart asook linkse wit intellektuele aanhang, is egter een van herskepping uit niks. Voor dit kan plaasvind moet die ou orde so totaal en al vernietig word dat mense vergeet dat daar ooit iets soos ‘n geskiedenis was voor die bewindsverandering. Volgens die siening het Nelson Mandela in 1994 ‘n wonderlike reënboognasie geskep waar daar voor die tyd net geweld en onderdrukking was. Die tydperk voor 1994 is as t’ ware taboe en soos wat die skepping van die wêreld en die tyd per definisie met die woorde “laat daar lig wees” begin het, het die tyd van die reënboogland van gelykheid en regverdigheid met die verkiesing op 27 April 1994 begin.
Mense wat die geskiedenis navors en eras met mekaar vergelyk, kan nie anders as om hulle huidige omstandighede in perspektief te plaas en om tot die gevolgtrekking te kom dat nie alles in die verlede sleg was nie en dat die huidige tyd ook nie van ewige duur is nie. Dit is juis dit wat totalitêre bewinde wil vermy. Mense moet glo dat die huidige tyd die beste van alle tye is en dat net die bestaande bewind dit waarborg. Om te dink dat die bewind ooit kan verander word as hoogverraad gesien. Gelukkig is Suid-Afrika geen totalitêre land nie en is toegang tot inligting nog vrylik beskikbaar. Die onkritiese ophemeling van hulle eie helde en die gelyktydige verdoeming van almal wat nie deel van die struggle was nie deur die ANC verteenwoordig egter die soort geskiedenisbeskouing wat ook in totalitêre bewinde aangetref word. ‘n Nugtere blik op die geskiedenis is nodig, ongeag of jy jou eie geskiedenis of ‘n ander volk se geskiedenis bestudeer. Jy mag helde hê en hulle vereer, maar jy moet hulle nie verafgod nie. Net so kan jy ook nie ‘n geskiedkundige persoon net op grond van een daad of een uitspraak beoordeel nie. Swart intellektuele en politici, wat so graag die teerkwas swaai na wit mense en hulle “kolonialisme”, moet hulle eie geskiedenis ook krities ontleed en wegkom van die idee dat alle swart mense wat teen wit oorheersing geveg het helde was en dat die doel van swart bevryding die middele soos brutale moorde op witmense en swartmense wat nie wou meedoen aan die “struggle” nie, heilig. Ook figure uit die vroeëre verlede, soos Shaka Zulu moet krities ontleed word.
Om terug te kom tot Rhodes: of ons as Afrikaners van hom hou of nie, hy was een van die persone wat Suid-Afrika en selfs die buurstate gevorm het. Sonder Rhodes sou daar geen moderne staat Zimbabwe, Zambië, Malawi en Botswana wees nie en Suid-Afrika sou heel waarskynlik anders gelyk het. ‘n Standbeeld van Rhodes, soos enige monument, behoort mense in die eerste plek aan te moedig om meer oor die persoon en sy tyd te lees en begrip van hulle eie tyd te ontwikkel. Natuurlik is daar persone wat so veel ellende en dood veroorsaak het dat volke liefs van hulle wil vergeet en hulle spore wil doodvee, soos Hitler, Pol Pot of Stalin. Van geeneen van Suid-Afrika se geskiedkundige figure kan dit egter gesê word nie.
In Orania word ons dikwels gekonfronteer met die kamstige verering van “apartheid-leiers” in die vorm van die Monumentkoppie en die Verwoerdmuseum. Ons staan by ons geskiedenis en erken die rol wat die persone gespeel het wat uit ‘n Afrikaner-perspektief grootliks positief was, sonder om egter hulle foute te ontken en hulle te verafgod. Dat ‘n spesifieke Afrikaner-dorp soos Orania Afrikaner-persoonlikhede vereer wat vir die Afrikaner se bemagtiging gestaan het en nie Engelse of swart mense nie, is vanselfsprekend. Dat ons nie Afrikanerleiers vereer wat aanhangers van die Britse Ryk was, of wat Afrikaner-selfbeskikking weggeteken het, is ook vanselfsprekend. Dat ons tans veral beelde van politici uit die meer onlangse verlede het en nog nie van Boeregeneraals of Afrikaanse skrywers of sakemanne nie hang ook maar saam met die beskikbaarheid van beelde. Hopelik sal ons in die toekoms ‘n wyer spektrum Afrikaners se beelde kan opsit. Deur die beelde wat so vêr soos in die tydperk van die Boererepublieke terugstrek erken ons ons geskiedenis en ons wortels, die goeie en die slegte en bou daarop die nuwe Afrikanertoekoms, wat deur nuwe simbole soos die “Klein Reus” ingelyks verteenwoordig word. Dit sou egter ongeloofwaardig wees en as’t’ ware ‘n poging om ‘n boom sonder wortels te kweek as ons maak asof niks voor die stigting van Orania bestaan het nie en die Afrikaner se geskiedenis niks met ons te make het nie. Dan was Orania nie ‘n Afrikanerdorp nie, maar net ‘n landelike nedersetting waar mense net veiligheid en natuurskoon soek, soos daar talle oor die wêreld heen is.
Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.
by Orania Beweging | Mar 31, 2015 | Nuus |

Carel Boshoff, President van die Orania Beweging, lewer die inleiding tydens vanjaar se Burgervergadering.
Soos die Orania Beweging se volk-staatbetoog nou vir die tweede keer aan die begin van hierdie jaar gepubliseer is, het die FAK pas vir die tweede keer die jaar afgeskop met ‘n Leiersgesprek in Pretoria. In ‘n sin moet hierdie inisiatiewe die plek inneem van vroeëre parlementsittings waar Afrikaners se belange met dié van Suid-Afrika saamgeval het en dit as’t ware die verhoog was waarop die Afrikaner-drama afgespeel het. Noudat ons mense tot verhaal begin kom, word betekenisvolle alternatiewe vir die noodsaaklike besinning oor ons lot en toekoms geskep.
Dit was my voorreg om die FAK se geleentheid in Januarie by te woon en ek was aangenaam verras met die profiel van die sowat 100 deelnemers. Verskeie organisasies van binne en buite die Solidariteit beweging was daar, heelwat jongmense en (tog van belang) beide vroue en mans. Die drie inleiers was Frans Cronjé van die SAIRR, Dirk Hermann van Solidariteit en Danie Goosen van die FAK.
Frans Cronjé het ‘n kort opsomming van sy ondersoek na moontlike scenario’s vir Suid-Afrika gegee. Hy het dit ook al op Orania aangebied en intussen in boekvorm uitgegee. Dit dit bly egter boeiende dinkgoed omdat dit die werklikhede waarmee ons te kampe het, so deeglik verreken. Om die waarheid te sê, nie sy beste scenario vir Suid-Afrika voorspel veel goeds vir Afrikaners nie en hy het herhaal waarvoor hy vroeër in die media gekritiseer is, naamlik dat Plan B toenemend belangrik word. Dit behels iets anderkant die Suid-Afrika wat ons ken en nie net emigrasie nie. Hy het immers na Orania verwys en gesê “Julle is immers Plan B op steroïde ;-)”
Dirk Hermann het ‘n uiteensetting gegee van Solidariteit se klag teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies oor die diskriminerende toepassing van regstellende aksie. Sonder om te verwag dat dit ‘n kitsoplossing sal oplewer, het Solidariteit besluit om die ANC se bykans onaantasbare posisie in die buiteland te begin uitdaag – en is hulle besig om heelwat sukses daarmee te behaal. Dit is belangrik omdat state geneig is om by mekaar te staan en nie selfbeskikkingbewegings te ondersteun as dit nie “nodig” lyk nie. Aksies soos hierdie toon duidelik aan dat dit nie die hemele is wat in 1994 op Suid-Afrika neergedaal het nie en dat Afrikaners se wens om oor hulle eie toekoms te besluit, nie uit die lug gegryp word nie.
Danie Goosen het die program afgesluit met verwysing na sy boek, “Oor gemeenskap en plek. Anderkant die onbehae”, wat pas by die NP van Wyk Louw Sentrum verskyn het. Dié merkwaardige werk word ook tydens ons Burgervergadering op Orania bekendgestel en lewer ‘n wesenlike bydrae tot hoe ons onsself in die toekoms gaan verstaan en handhaaf. Hy het na vier sleutevrae waarvoor die Afrikaner van ons tyd te staan kom, gestel. Dit is:
- Die vraag na die verband tussen individu en gemeenskap. Anders as wat liberale denkers graag te kenne gee, is dit nie ‘n kwessie van óf die gemeenskap, óf die vrye individu nie, maar ‘n vraag van hóé die altyd alreeds gegewe gemeenskappe waaruit individue voortkom, die erkenning kry wat hulle verdien. Die gemeenskapsdenke wat ons beoefen, kan dus nie op ‘n neerdrukkende en totalitêre siening van die gemeenskap neerkom nie omdat dit die individu ten gronde sou laat gaan, maar dit kan ook nie terugdeins van die feit dat ons gemeenskappe aansprake op ons maak en eise aan ons stel nie. Eers wanneer ons op ‘n volwasse en verantwoordelike wyse daarmee omgaan, kry ons individuele vryheid diepere betekenis en kan ons ons gemeenskappe na waarde skat en koester.
- Die vraag na grense. Anders as wat die heersende liberale idioom vandag te kenne gee, is grense nie iets om te verswyg of te verwerp nie, want daarsonder kan geen groep, gemeenskap of volk van homself bewus wees nie. Grense is nie net ‘n voorwaarde vir ‘n gemeenskap se selfbewussyn nie, dit is ook ‘n voorwaarde vir verhoudings met ander gemeenskappe, diegene wat buite daardie grense lê. Nou is dit waar dat Afrikaners in die verlede al die grense te eng rondom hulleself probeer trek het, maar die onlangse pogings om voor te gee dat daar in werklikheid nie iets soos grense is nie, het ons ook nie beter toegerus vir die eise wat die nuwe magsorde aan ons stel nie. Ook hieroor moet ons verder besin op’n wyse wat die skeppende energie (en dus mense) in ons geledere nie uitsluit nie, maar nader trek.
- Die vraag na tussenliggende instellings. Die moderne staat word gekenmerk deur ‘n diepe ongeduld met enigiets wat tussen homself en sy individuele burgers probeer staan – daarom ook dat die liberale ideologie hom soos ‘n handskoen pas. Elke gemeenskapsinstelling wat die staat se poging om totale beheer uit te oefen, aan bande lê, moet uit die weg geruim of ten minste tot die private domein beperk word. Dit geld vir kerke, gemeenskapskole, stamowerhede, selfs kultuurorganisasies, universiteite en wat meer. As Afrikaners die bevoegdheid wat hulle verdien om oor hulle eie toekoms te besluit, wil verkry, sal die weg daarheen loop deur die vestiging en versterking van sulke tussenliggende instellings wat die staat se beheer oor ons lewens, loopbane, finansiële vermoëns, selfs tydsbesteding en vermaak opsy kan skuif.
- Die vraag na vryheid. Al gebruik talle Afrikaners nog die woord met ‘n mate van huiwering en ‘n skuldige gewete, staan die oeroue strewe na vryheid in die middelpunt van Afrikaners se dilemma vandag. Omdat ons in die verlede ander se vryheid beperk het, voel baie van ons mense vandag nog dat ons nie met vrymoedigheid daaroor kan praat nie. Tegelyk word dit toenemend duidelik dat vryheid presies is wat ons wil hê – en ontsê word. Maar wat word daarby bedoel? Die heersende liberale siening daarvan konsentreer op vryheid as vrye keuse vir die individu en verloor in die proses ‘n belangriker betekenis daarvan uit die oog. Hier word verwys na meer as om vryheid met verantwoordelikheid te balanseer, hier word verwys na ‘n dieper en ouer betekenis van vryheid. Dit is vryheid as selfverwerkliking. Hierdie vryheid staan nie afsydig van of teenoor iets soos reëls (waarvan die vryswewende individu probeer wegkom) nie, maar sluit ten nouste daarby aan. Juis deur die reëls van byvoorbeeld klavierspel en musiek te bemeester en te gehoorsaam, kan die pianis hom- of haarself ten beste verwerklik en nuwe hoogtes van voortreflikheid bereik. Deur by die tradisie aansluiting te vind, kan ons gemeenskap anderkant ons eie beperkings tree, kan ons Afrikanervolk nuwe hoogtes bereik. Daarenteen, as ons ons toekoms net op vrye keuse en willekeur wil bou, moet ons meer van die ondergang verwag wat die liberale denke die afgelope dekades vir ons ingehou het.Die diepgaande vrae wat by die FAK se Leiersgesprek aan die orde gestel is en wat die Orania Beweging in praktyk probeer beantwoord, gee opnuut betekenis aan die FAK se rol in ons volkslewe en ons eie deelname oor jare heen daaraan.
Carel Boshoff is die President van die Orania Beweging.
by Orania Beweging | Mar 31, 2015 | Nuus |
Singapoer: Stigter-president Lee Kwan Yew sterf. Die befaamde stigter-president van Singapoer, Lee Kwan Yew is in die ouderdom van 91 jaar oorlede. Lee verteenwoordig die suksesverhaal van Singapoer soos niemand anders nie en is verantwoordelik vir die transformasie van ‘n arm, vuil en kriminele Oosterse hawestad in ‘n uiters moderne en geglobaliseerde stadstaat.
Mnr. Lee was die kind van Sjinese immigrante in die tweede generasie, maar het Engelse opvoeding in Londen en Cambridge gekry. In sy jeug was hy, soos meeste polities aktiewe nie-Westerlinge wat met die Weste in aanraking gekom het, ‘n sosialis en aktief in die vakbondbeweging. Hy was die stigter van de Peoples Action Party (PAP) en het vir selfbestuur gewerk en ook aanvanklik aansluiting van Singapoer by Maleisië bewerkstellig. Dit het egter nie gewerk nie: Maleisië, met sy meerderheid etniese Maleiers, het bedreig gevoel deur die ekonomies meer bedrewe Sjinese wat die meerderheid in Singapoer is en het die stad effektiewelik uit die nuwe staat uitgeskop. Mnr. Lee het mettertyd ‘n oortuigde anti-kommunis geword en sterk gesteun op Westerse beleggings om sy land te handhaaf teenoor oorwegend linksgesinde radikale buurstate.
Van Singapoer se onafhanklikheid in 1965, na die afskeiding van Maleisië, tot in 1990 en ook nog daarna, het mnr. Lee sy stadstaat geleidelik tot een van die voorspoedigste state op aarde uitgebou. In drie dekades het hy onverpoosd daaraan gewerk om struikelblokke uit die weg te ruim en sake so te bestuur dat die drie etniese groepe, Sjinese, Maleiers en Indiërs, saam in een juk trek en ‘n gesamentlike patriotisme opbou. Dit is ook gedoen deur middel van Engels as voertaal. Netheid, goeie opvoeding, die bestryding van korrupsie en nepotisme, veiligheid, effektiwiteit, goeie infrastruktuur en ‘n ontwikkelingstaatmodel is alles boublokke van die sukses van Singapoer. Anders as die lande in die omgewing wat kolonialisme se spore wou doodvee, het mnr. Lee die koloniale Britse erfenis en die taal Engels omarm as samebindende faktore en etniese nasionalisme, wat die ander bevolkingsgroepe sou vervreem (en wat in Maleisië gereeld tot konflik lei), verwerp.
Lee was ook ‘n geslepe diplomaat. Singapoer kon vreedsame verhoudinge in ‘n uiters onstuimige omgewing, gekenmerk deur digbevolkte lande vol etniese konflik, soos Indonesië en Maleisië, handhaaf. In die Koue Oorlog era was Singapoer ‘n baken van Westerse kapitalisme en kon uit die greep van kommunistiese insurgensie, wat orals in die streek teenwoordig was, uitbly. Verhoudinge met kommunistiese Viëtnam het egter moeilik gebly en in Singapoer is kommuniste kortgevat.
Kritiek teen mnr. Lee is dat sy suksesvolle transformasie van Singapoer net moontlik was met ‘n groot mate van outoritêre bestuur, ten koste van demokrasie. Mnr. Lee was wel geen diktator nie maar Singapoer was in praktyk ‘n eenparty-staat en word sedert sy onafhanklikheid deur dieselfde party, die Peoples Action Party (PAP) regeer. Persvryheid word ingeperk en swaar strawwe vir selfs klein oortredings word opgelê. Mnr. Lee se houding was egter altyd dat die doel die middel heilig en die doel was die totstandkoming van ‘n werkende en vreedsame stadstaat.
Alhoewel Singapoer en Orania ooglopend wêrelde van mekaar verwyder is, is daar wel ‘n paar lesse van Singapoer te leer en word dit in die kleine deur die dorpsbestuur toegepas. Die eerste een is om daarmee te werk wat jy het en om die beste daarvan te maak. Singapoer het geen grondstowwe nie en is omring deur lande wat heel anders funksioneer en soms nydig na die suksesvolle en moderne stadstaat kyk. Ook Orania is in ‘n sekere sin vreemd in sy omgewing: dis ‘n Afrikanerdorp in ‘n oorweldigend swart land. Orania glo aan die vryemark en kulturele kohesie, terwyl Suid-Afrika multi-kultureel en toenemend sosialisties is. Singapoer verskil ideologies van sy omgewing, maar fokus op sy eie belange en glo aan nie-inmenging, goeie verhoudinge en handel dryf. Mettertyd het die buurlande self besef dat sosialistiese eksperimente nie werk nie en het by Singapoer se besigheidsmodel geleer en self sukses behaal. Ook Orania tree pragmaties op en glo aan ‘n benadering van leef en laat leef en stel sy suksesverhaal graag aan ander gemeenskappe bekend wat lesse daaruit wil leer, sonder daarom op enige iemand af te dwing.
Wat stadsbestuur betref doen Orania op ‘n veel kleiner skaal ook dit wat Singapoer as grondslag van sy sukses gedoen het: sorg vir goeie en doeltreffende dienste; verbeter die stad se voorkoms en estetika; maak dit ‘n plek waar mense graag wil woon en werk deur ‘n skoon omgewing en genoeg ontspanningsgeriewe te skep; bevorder goeie gesinswaardes en ‘n gevoel van samehorigheid en doelgerigtheid; ruim krotbuurte op en verskaf billike en netjiese behuising vir almal; beveg misdaad reeds voorkomend deur onaanvaarbare gedrag soos vandalisme en rommel strooi vas te vat en ‘n algemeen aanvaarde gedragskode te vestig wat later nie meer afgedwing hoef te word nie omdat almal daarvolgens lewe.
Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.
Nuutste Opmerkings