fbpx

Pope Francis delivers his speech during a special audience with members of the confederation of Italian cooperatives in Paul VI hall at the VaticanPous Francis van die Katolieke Kerk het Saterdag tydens ‘n toespraak in Italië ‘n striemende aanval op wat hy beskryf as die weggooi-kultuur van moderne globalisme geloods. Volgens die pous word mense gereduseer tot eenvoudige gebruiksmiddelle in ‘n globale ekonomie waar ‘n klein groepie rolspelers toenemend alle ekonomiese instrumente beheer.

Die pous het ‘n sterk pleidooi gelewer dat die ekonomie in diens van mense moet staan en dat mense nie eenvoudig net as vervangbare items beskou moet word nie. Volgens die pous word geld toenemend verafgod en lei dit daartoe dat mense keuses maak aan die hand van hoeveel geld hulle uit elke aksie kan maak. Mense word daardeur slawe van ‘n gejaag na geld.

Die pous het ‘n konferensie van koöperatiewe verenigings in Italië toegespreek. Die koöperatiewe beweging in Italië bestaan reeds sedert die negentiende eeu en speel steeds ‘n belangrike rol in finansiële dienste, landbou en die boubedryf in dié land.

Net soos die Mondragon koöperatiewe beweging in die Baskiese deel van Spanje is koöperatiewe instellings in Italië toenemend onder druk. Weens globalisering is daar in Eerste Wêreldlande soos Spanje en Italië ‘n groot invloei van goedkoper produkte en dienste uit Derde Wêreldlande. Selfs net ongelyke mededinging met lande soos Duitsland veroorsaak dat plaaslike produsente nadelig geraak word.

Talle Europese lande ervaar tans hoë werkloosheid en daarmee saam maatskaplike probleme. Gewone mense voel magteloos en beskou hulself toenemend as toeskouers van ‘n globale ekonomiese spel waartoe hulle nie toegang kry nie. Die pous se vurige toespraak moet dus nie as ‘n verrassing beskou word nie.

Die vraagstuk wat hier aangeraak word is nie meer die ou kapitalisme teen sosialisme debat nie. Sosialisme het lank reeds misluk en goeie mededinging het homself lank reeds bewys. Ons weet almal wat die voordele daarvan is, wanneer ‘n tweede supermark, apteek of restaurant in ‘n dorp oopmaak. Mededinging bring gewoonlik beter dienslewering en selfs laer pryse.

Mededinging is egter net sinvol wanneer alle partye by dieselfde punt wegspring. Sou ‘n dorp sy een supermark subsidieer terwyl die tweede supermark geen subsidie ontvang nie, sal die mededinging tussen die twee ondernemings sinneloos wees. Globale mededinging vind vandag toenemend op hierdie basis plaas. Subsidies, meganismes om geldeenhede te verswak en selfs uitbuiting van mense en die natuur veroorsaak dat sommige ekonomiese rolspelers eenvoudig nie meer kan meeding nie. Die rol van groterwordende multi-nasionale maatskappye wat pryse effens afdwing, maar daarmee saam baie skade veroorsaak, word toenemend duidelik.

Die antwoord vir werkloosheid en armoede in Italië en elke ander plek is nie vir die sentrale regering om meer belasting te hef sodat meer regeringsprogramme ingestel kan word nie. Nee die antwoord lê juis in die koöperatiewe model waar gemeenskappe verantwoordelikheid vir hul eie lot neem. Gemeenskappe wat saamwerk teen negatiewe invloede van globalisme kan hul eie probleme oplos. Koop dus eerder tapmelk van die plaaslike boer as supermarkmelk wat oor honderde kilometers vervoer is. Raak betrokke by plaaslike ondernemings en laat jou koopkrag ‘n skans teen globalisme wees.