fbpx

oor-gemeenskap-en-plek1Ons hoor gereeld dat die Afrikaner rigtingloos en leierloos is. Ons mense het ‘n diepe onsekerheid oor die toekoms en gryp graag na strooihalms in hul soeke na vastigheid. Terwyl Afrikaners oor die afgelope 21 jaar hul aanpasbaarheid ten toon gestel het, is dit ‘n feit dat die toekoms van die Afrikaner onseker is.

Die oproer oor standbeelde wat onlangs begin het met die eise van studente dat die beeld van Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad verwyder moet word, is ‘n goeie aanduiding van die toenemende kulturele onverdraagsaamheid in ons land. Uitsprake oor grondbesit, Afrikaanse onderrig en transformasie in die algemeen stem baie Afrikaners tot diepe kommer. Mediaberigte oor duisende wittes wat by Eskom uitgewerk gaan word en die toenemende aandrang op rasseverteenwoordiging in elke segment van die openbare lewe stem ons mense verder tot kommer.

Die vraag wat in die lug bly hang is, hoe gaan Afrikaners vir hulself ‘n volhoubare toekoms in Suid-Afrika skep? Rondom braaivleisvure en wanneer tee en koffie na kerk saamgedrink word, praat mense hoofsaaklik oor emigrasie, integrasie en ‘n soort geprivatiseerde roete as opsies tot oorlewing. Selfbeskikking in sy verskillende dimensies word soms bespreek, maar steeds as te ver beskou.

Wat egter in ‘n groot mate by Afrikaners ontbreek, is ‘n diepe intellektuele gesprek oor ‘n nuwe toekoms. Geen volk kan daarin slaag om uit ‘n revolusie te kom en homself nuut te posisioneer sonder ‘n diep intellektuele gesprek nie. Op hierdie terrein is daar die afgelope paar maande groot vordering gemaak en dit verdien erkenning.

Gedurende die laat 1990’s en die eerste jare van die nuwe eeu het verskeie pogings tot ‘n intellektuele gesprek en die ontwikkeling van nuwe idees vir die Afrikaner misluk. Die afgelope tyd word daar egter met nuwe energie oor toekomsopsies gepraat. Gespreksgeleenthede word dikwels deur soveel mense bygewoon dat daar stoele ingedra moet word. Op forums soos Maroela Media en verskeie blogs en ander nuwe media word briljante idees daagliks gepubliseer en bespreek.

Ons weet egter dat ‘n volk wat nie meer oor die vermoë beskik om sy idees in boeke te publiseer nie, totaal gedoem is. Daarom is die publikasie van verskeie belangrike boeke die afgelope tyd uiters belangrik. Prof Koos Malan se Politokrasie, Carel Boshoff se NP van Wyk Louw en die Derde Afrikaner en nou Prof Danie Goosen se boek, Oor Gemeenskap en Plek, is van groot belang in ons stryd om sinvolle idees.

Prof Danie Goosen is vandag een van dié grootste Afrikanerintellektuele. Daarom behoort elke Afrikaner wat ernstig dink oor ons toekoms sy boek wat onlangs deur die FAK uitgegee is, te lees. Oor Gemeenskap en Plek, vra die vraag hoe Afrikaners as kultuurgemeenskap vandag tot hul reg kan kom. Met ‘n diepe beskouing op die Westerse gemeenskapstrasidie bied Goosen belangrike en rigtinggewende antwoorde wat moontlik in die komende jare tot ‘n nuwe Afrikanerbeweging aanleiding kan gee. Hierdie boek kan en behoort die katalisator tot ‘n nuwe toekomsbeeld vir die Afrikaner te wees en kan ‘n groot bydrae lewer in Orania se strewe om meer Afrikaners anders oor hul toekoms te laat dink.