by Orania Beweging | Mei 6, 2015 | Nuus |
Die opeenvolgende krisisse waartussen Suid-Afrika soos ‘n dronkaard strompel is aan ons elkeen bekend: algemene misdaad, korrupsie, bemorsing van die omgewing en die samelewing, vermorsing van hulpbronne, hopelose opvoeding en opleiding, geen posdiens, beurtkrag, werkloosheid, Nkandla, Guptagate, Spoornet pensioenarisse, oilgate, die wapenskandaal, slaggate, plaasmoorde, tolpaaie, verengelsing van skole, universiteite en ons werksplekke, ekonomiese kreeftegang en die vandalisering van ons geskiedenis en ons monumente. So gaan die lys aan.
Soos Nero wat homself vermaak terwyl Rome besig is om af te brand, gee die regerende elite voor dat alles in orde is. Die media, daarteenoor, speel hul deuntjie van die afgelope twee dekades soos die fluitspeler van Hamelin net al hoe skriller: Suid-Afrika en sy grondwet is wonderlik.
Vir Afrikaners begin die prentjie egter al duideliker word: hierdie probleme gaan ons begrawe as ons nie oplossings skep nie.
Teen hierdie agtergrond het daar gister na kort kennisgewing meer as 1,500 Afrikaners by die Voortrekkermonument byeengekom vir ‘n krisisberaad.
Flip Buys, leier van 300,000 Afrikanerbroodwinners wat maandeliks hul steun op tasbare wyse aan die Solidariteit Beweging herbevestig, maak aanspraak op die verbeelding van elke afgevaardigde: “Die Afrikaner het sy toekoms nog altyd met daadkragtige waagstukke geskep, waarvan nie een se uitkoms aanvanklik seker was nie. Hierdie waagstukke het bestaan uit Die Groot Trek (en die stigting van die Boererepublieke), Die aandurf van die Britse Ryk, Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal en, laastens, Die onsuksesvolle poging om ons rasseprobleem deur afsonderlike ontwikkeling op te los. Die vraag is of die tyd nie nou aangebreek het vir ‘n volgende en vyfde waagstuk nie?”
Flip beskryf die vyfde waagstuk as Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme. Dit beteken dat ‘n derde weg gekies word tussen die huidiglik onpraktiese weë van staatsafhanklikheid en staatsonafhanklikheid: maksimale selfstandigheid van gemeenskappe sodat elke gemeenskap volle inspraak het in die besluite oor sake hom ten nouste raak (wil jy werk hê, wil jy veilig wees, wil jy jou taal kan gebruik, wil jy deel wees van jou kinders en kleinkinders se lewens, wil jy die vrugte van jou arbeid pluk, wil jy selfrespek hê en wil jy menswaardig behandel word?)
Ten einde hierdie waagstuk te verwesenlik laat Flip alle moontlikhede op die tafel: gebruik individuele regte tot hul volle potensiaal (beding byvoorbeeld vir die behoud van eiendomsreg en die afskaffing van rastellende aksie), gebruik ons bestaande groepsregte (byvoorbeeld om beheerraade van ons skole aan te wys en tot verantwoording te roep en gemeenskapsorganisasies te skep wat opleiding, welsyn, burgerregte en veiligheid prakties kan bevorder) en gebruik die ruimte wat die internasionale reg en Suid-Afrika se grondwet ons bied om groeiende selfstandigheid op ‘n gebiedsbasis te bewerkstellig.
Dit is duidelik dat hierdie waagstuk genoeg ruimte bied vir elkeen van ons om betrokke te wees in die areas waaroor ons sterk voel, sonder dat ons verskille ons sal verdeel. Daar is ruimte en instellings binne die Solidariteit Beweging waarbinne elke Afrikaner tuis kan voel, van die FAK en haar talle samewerkende-organisasies (insluitende die Orania Beweging), tot die vakbond, Afriforum, Helpende Hand, Sol-tech, Afrisake en Akademia.
Die geskatte 20% Afrikaners en ook ander Suid-Afrikaners wat nie deur hierdie waagstuk aangegryp word en tot aksie geïnspireer word nie, word egter nie hierdeur bedreig nie. As jy nie betrokke wil wees nie, hoef jy nie betrokke te raak nie, en jy sal steeds beter daaraan toe wees. Maar jy sal dalk daarmee verlief moet neem dat die verswakking en agteruitgang wat Suid-Afrika in sy huidige gedaante ervaar, jou beweegredes baie vinnig tot irrelevansie sal verban.
Diegene wat egter die wekroep vir selfstandigheid hoor en hul moue daarvoor oprol kan daarna uitsien om weer die soet sensasie van toekomshoop te smaak.
@EbertTerblanche
by Orania Beweging | Mei 5, 2015 | Nuus |
Een van die grootste verliese wat die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur die afgelope paar jaar gelei het, is die verlies aan taal – en kultuurspesifieke tersiêre onderrig.
Onlangse verwikkelinge by die Noordwes-Universiteit, sowel as die uitsprake van die nuwe rektor van die Universiteit van Stellenbosch oor transformasie, dui daarop dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans en tot ‘n mindere mate die Afrikanerkultuur nog ‘n houvas het, ook nou sal moet transformeer.
Terwyl die oordrag van kennis in ‘n spesifieke taal en vanuit ‘n spesifieke kultuuragtergrond belangrik is, is daar ook baie ander redes waarom ‘n kultuurgemeenskap ‘n eie universiteit moet hê.
Die eerste is op die terrein van navorsing. ‘n Kultuurgemeenskap wat aktief navorsing in sy eie taal en vanuit sy eie kultuurperspektief doen, slaag suksesvol daarin om voortdurend relevant te bly.
Die ontwikkeling van leierskap is nog ‘n rede waarom dit belangrik is dat ‘n kultuurgemeenskap sy eie universiteit moet hê. Ware leiers kom gereeld tydens tersiêre onderrig na vore en leiers wat hierdie vaardighede binne hul eie taal- en kultuuromgewing ontwikkel sal meer geneig wees om uiteindelik hul vaardighede binne die gemeenskap aan te wend.
Regoor die wêreld is daar taal- en kultuurgemeenskappe wat stadig maar seker besig is om te verdwyn. Een van die hoofredes hiervoor, is dat hierdie gemeenskappe glad nie oor hoër funksies, wat veral op universiteite ontwikkel word, beskik nie. Verskeie Eskimo-gemeenskappe in Alaska en Kanada organiseer tans gemeenskapskolleges in die hoop om hul kwynende tale en kultuurfunksies daar in stand te hou.
Die rol wat die teenwoordigheid van ‘n universiteit op ‘n gemeenskap het, moet ook nie onderskat word nie. Neem byvoorbeeld ‘n universiteit met ‘n mediese skool. Dit is welbekend dat Bloemfontein van die beste mediese dienste in Suid-Afrika het. Top dokters en mediese spesialiste word daar opgelei en bly baie keer na hul studies aan om by plaaslike klinieke en hospitale te praktiseer omdat hulle tuisvoel binne die gemeenskap. Dieselfde kan nie van Potchefstroom gesê word nie, omdat daar nooit ‘n mediese skool tot stand gekom het nie.
Navorsing in die VSA toon dat die top universiteite daar meestal in uiters suksesvolle gemeenskappe geleë is. Universiteitsdorpe en –stede in die VSA het gewoonlik ‘n hoë gemiddelde inkomste en lae werkloosheid. Selfs belangriker egter is dat sulke dorpe en stede gewoonlik meer geneig is om ‘n kultuur van innovasie te hê.
‘n Goeie voorbeeld hiervan in Suid-Afrika is Stellenbosch. Stellenbosch is een van die welvarendste dorpe in Suid-Afrika en nuwe, innoverende ondernemings word gereeld in Stellenbosch gestig. Die top entrepreneurs wat hul studies by die Universiteit van Stellenbosch voltooi verlaat nie altyd die gemeenskap nie, maar word eerder aangemoedig om binne ‘n gemeenskap waar hulle tuisvoel te innoveer.
Hierdie soort van gemeenskapsuniversiteit is wat die Afrikaner in die toekoms nodig sal hê ten einde ons kultuur en taal te bly onderhou. Die voordeel wat ons het, is dat ons ‘n goeie vertrekpunt het. Afrikaans is ‘n hoogsontwikkelde taal en ons kultuurfunksies is ook goed ontwikkel. Dat ons besig is om dit te verloor is egter ‘n feit waarby ons nie verby kan kyk nie.
by Orania Beweging | Apr 29, 2015 | Nuus |
Die Pew Navorsingsentrum uit die VSA het ‘n verslag getiteld Die toekoms van Wêreldgodsdienste bekend gemaak wat handel oor die toekomstige ontwikkeling van veral die getalle van wêreldgodsdienste tot en met 2050. Die verwagte bevolkingsgroei tot 2050 is 35%. Daar is bevindinge waarvan ons moet kennis neem.
Die Christendom is tans die grootste godsdiens in die wêreld met 2.17 miljard aanhangers en sowat 31% van die wêreld se bevolking. Die getalle van Christene sal teen 2050 toeneem tot 2.9 miljard, maar die persentasie sal feitlik dieselfde bly. Die Christendom se groei hang veral saam met die groei in lande wat meer onlangs Christelik geword het in Afrika suid van die Sahara en ander derde wêreld lande, maar dit word wel negatief geraak deur bevolkingsafname in die tradisioneel Christelike lande in Europa en Noord-Amerika. Behalwe die bevolkingsafname in die Westerse lande gaan die toenemende sekularisering ook ‘n invloed hê en talle kinders wat as Christene grootword besluit later om agnosties te raak.
Die Islam is die tweede grootste geloof met 1.6 miljard aanhangers of 23 %, maar dit is die vinnigste groeiende geloof en teen 2050 sal dit groei toe 2.7 miljard of 29% van die bevolking. Dus amper gelyk met die Christendom. Die Islam is sterk in die gebiede met die grootste bevolkingsgroei, soos Noord- en Wes-Afrika, dele van Oos-Afrika, Arabië, Suid- en Suid-Oos-Asië. Dit is as ’t ware ‘n “derde wêreld godsdiens” en die effek wat die Weste op die Christendom het soos sekularisasie, het geen effek op die Islam nie. Trouens, die Islam wen selfs veld in Europa en die VSA, alhoewel vanaf ‘n lae vlak. Behalwe natuurlike aanwas wen die Islam ook deur hulle sendingwerk, wat met groot bedrae geld deur Islam-state en organisasies ondersteun word.
Die derde grootste groep is die nie-godsdienstiges. Hulle getalle styg effens van 1.13 miljard na 1.23 miljard in 2050, maar hulle persentasie gaan agteruit, van 16.4 % tot 13.2 %. Die nie-godsdienstige mense is veral in kommunistiese lande soos Sjina, Viëtnam of Kuba, wat ‘n lae bevolkingsgroei het, of in Westerse lande (Europa, VSA) of in Japan. Die effense toename in hulle getalle weens die voortgesette ontkerstening van die Weste word egter deur bevolkingsafname in Westerse lande en in Japan gerelativeer. Hindoes, wat feitlik tot Indië en sy onmiddellike streek beperk is, se getalle styg weens bevolkingsgroei van 1 miljard tot 1.3 miljard, maar hulle persentasie bly met 15% feitlik gelyk.
Hindoes doen nie sendingwerk nie maar word as Hindoes gebore. Die groei is dus suiwer demografies van aard en in lyn met die wêreld se bevolkingsgroei.
Boeddhiste se getalle bly basis dieselfde met 500 miljoen, maar hulle persentasie gaan agteruit, van 7% na 5%. Boeddhisme is veral sterk in Oosterse lande wat ’n lae bevolkingsgroei het, soos Sjina en Thailand. Die mode-verskyning van Boeddhisme in die Weste het blykbaar geen noemenswaardige uitwerking op getalle nie. Tradisionele en natuurgodsdienste, wat veral in Afrika en Oos-Asië aangetref word, se getalle styg net effens van 400 na 450 miljoen en die persentasie neem af van 6% na 5%. Bogenoemde word ook bevestig deur die vrugbaarheidsyfers per godsdiens, met 2.5 kinders per vrou as die wêreld gemiddeld (en 2.1 as die vervangingskoers): Moslems s’n is 3.1, Christene s’n 2.7, Hindoes 2.4, Jode s’n 2.3, nie-godsdienstieg mense s’n 1.7 en Boeddhiste s’n 1.6.
Hierdie projeksie is egter nie in beton gegiet nie en hoogstens ‘n aanduiding. Bevolkingsgroei kan nog met ‘n mate van akkuraatheid voorspel word, maar faktore soos politieke veranderinge en godsdienstige herlewing maak dit baie moeilik. Die verslag werk met harde data, maar talle ontwikkelinge is aan die gang wat nog nie in data vasgevat kan word nie omdat mense in vele gevalle hulle godsdiens geheim hou en amptelik iets anders is as in hulle hart. Indien Sjina en ander kommunistiese lande hulle druk op godsdienste verder verslap kan skielik miljoene ondergrondse Christene na vore kom. Ook in Moslem-lande kan die getal Christene net geskat word en ‘n hele paar is amptelik Moslems maar in hulle hart Christene.
by Orania Beweging | Apr 28, 2015 | Nuus |
Talle Suid-Afrikaners onder leiding van die ANC-regering het gister Vryheidsdag gevier. In Nederland is Koningsdag gister herdenk. Koning Willem-Alexander se verjaardag word gevier deur groot feeste en opemarkte in byna elke Nederlandse dorp en stad. Hoewel die Nederlanders nie juis as nasionalisties beskou kan word nie sien jy op Koningsdag in die strate van Amsterdam jongmense met Nederlandse vlae. Die kleur oranje verteenwoordig die volksgevoel in Nederland. Nederlanders gebruik oranje sedert Prins Willem van Oranje meer as 400 jaar gelede in die Tagtigjarige Oorlog die Prinsevlag met sy oranje, wit en blou bane gebruik het.
Westerse volkere leef vandag in ‘n tyd van snelle globalisering wat in baie gevalle vervreemding en selfs ‘n gevoel van ontworteling tot gevolg het. Daarom sien ons toenemend ‘n soeke na identiteit en daardie gevoel van volkstrots. Indien ons na die Nederlanders en hul herdenking op Koningsdag kyk is die fokus juis op die positiewe wat hulle saam as volk bereik het. Kultuur, tradisies en die goeie wat as volk vermag is word gevier.
Hierdie soort volksfeeste vind ook deesdae toenemend in ander Westerse lande plaas. In die Verenigde State is 4 Julie elke jaar so ‘n nasionale volksfees waartydens hul onafhanklikheid van Brittanje en dus die geboorte van ‘n nuwe nasie herdenk word. In Duitsland waar daar nog ‘n sterk afkeur in nasionalisme is, vind daar nie noodwendig een Duitse volksfees plaas nie, maar vind daar verskillende feeste en geleenthede in streke plaas waar die kultuur, geskiedenis, kos en tradisies van daardie streek herdenk word. Beiere met sy ryk ou kultuur het talle kultuurfeeste waar mense tradisionele klere dra en waar die Beierse kultuur en tradisies herdenk word.
Terwyl die Nederlanders gister Koningsdag gevier het en talle Suid-Afrikaners Vryheidsdag herdenk het, ontstaan die vraag oor wanneer en hoe die Afrikaner nog sy kultuur herdenk. Die afgelope paar maande was die Afrikanerkultuur en geskiedenis weer onder die vergrootglas weens ‘n aanslag op monumente en weens politieke veldtogte teen enigiets met ‘n volkskarakter, insluitende die sing van Die Stem.
Uit beide Koningsdag in Nederland en Vryheidsdag in Suid-Afrika kan Afrikaners ‘n paar lesse oor die herdenking van ons eie kultuur en tradisies neem. Eerstens moet ons besef dat ons ‘n reg het tot die herdenking van ons kultuur en dat ons nie skaam hoef te wees vir wie ons is en wat ons reeds vermag het nie. Belangriker egter is dat ons beheer moet neem oor die inhoud wat aan ons kultuur gegee word. Soos wat die ANC en sy vryheidsbeweging inhoud aan hul oorwinnings gegee het, moet die Afrikaner weer die vertolking van sy eie wese oorneem. Verder moet ons soos die Nederlanders positiewe simbole en volkshelde op wie ons maar trots mag wees omhels en dit as samebindende faktore aanwend. Die herdenking van volksdae soos Majubadag, Bittereinderdag, Taaldag, Heldedag en Geloftedag moet ook weer navore tree, terwyl een jaarlikse volksfees soos die Nederlanders se Koningsdag nou nodiger as ooit is.
by Orania Beweging | Apr 22, 2015 | Nuus |
Die Orania Beweging sê mnr Nathi Mthethwa, Minister van Kuns en Kultuur, het die huidige openbare konsultasieproses misbruik om aan die hand van die onlangse wydverspreide aantal voorvalle waar standbeelde gevandaliseer is, transformasie van die erfenislandskap deur te stoomroller.
Op Vrydag, 17 April was die Orania Beweging verteenwoordig by die Minister van Kuns en Kultuur se publieke konsultasieproses. Die Orania Beweging het spesifiek beswaar gemaak teen drie resolusies:
- Dat daar in beginsel aanvaar moet word dat daar ‘n spesifieke groep historiese figure is wat erge aanstoot gee en daarom meer aggressief uit die erfenislandskap getransformeer moet word.
- Dat daardie beelde wat steeds vertoon word na ‘n tema-park sal verskuif om dan binne die regte konteks vertoon te word. Ook dat die onderskeie kultuurgemeenskappe afgeraai moet word om enige beelde op te eis.
- Dat alle skole deur wetgewing en regulering verplig moet word om die landsvlag en landslied in amptelike seremonies te vertoon.
Desnieteenstaande die Orania Beweging se beswaar teen bogenoemde resolusies en ‘n spesifieke versoek dat die besware genotuleer moet word, het die Minister in sy verslag van 22 April geen melding gemaak of erkenning verleen aan enige van die besware wat deur die Orania Beweging geopper is nie.
Die Orania Beweging het sy bedenkinge oor die opregtheid van die konsultasieproses en dit is duidelik dat die regering alreeds toegegee het onder die populistiese druk van die vandale. Die huidige proses, wat voorgee om ‘n openbare konsultasieproses te wees, is niks anders as ‘n siniese oefening om die afgelope vandalisme binne ‘n georganiseerde, wettige raamwerk van kulturele imperialisme te orden nie.
by Orania Beweging | Apr 22, 2015 | Nuus |
Deesdae hoor ‘n mens gereeld van die groot ondersteuning wat ‘n persoon of organisasie geniet omdat hy baie volgers op Facebook of Twitter het. Politici regoor die wêreld spog in media-onderhoude oor die honderde duisende mense deur wie hulle op Facebook gevolg word. Sommige aktiviste wat na vore tree baseer al hul aktiwiteite op hul vermoë om deur sosiale media ‘n ondersteuningsbasis op te bou en dan daardie ondersteuningsbasis aan te wend om sekere doelwitte te bereik.
Daar bestaan egter min navorsing wat bewys dat ‘n persoon of instelling se steun op sosiale media met werklike steun korreleer. Die belangrikste argument teen die oordrewe klem op steun op sosiale media, is juis die feit dat dit uiters min moeite en inspanning verg om iemand of iets op sosiale media te volg. Nog ‘n belangrike argument is dat mense nie noodwendig ‘n ondersteuner van ‘n persoon of instelling word wanneer hulle so ‘n persoon of instelling op Facebook of Twitter volg nie. Baie persone en instellings word op sosiale gevolg vanuit nuuskierigheid of blote belangstelling in die werk wat hulle doen. Dit beteken juis nie dat elke persoon wat ‘n organisasie op sosiale media volg as ‘n ondersteuner van daardie organisasie beskou kan word nie.
Neem ‘n politieke party as voorbeeld. Die suksesvolle bedryf van ‘n politieke party behels dat steun vir ‘n sekere stel politieke denke gewerf moet word. Die politieke party se sukses word bepaal deur ‘n verkiesing waar mense wat die party se beginsels ondersteun vir hom gaan stem. Hoewel sosiale media deur politieke partye gebruik word om steun te werf, het ‘n politieke party ook ‘n sterk organisasiestruktuur, deurlopende kommunikasie en heelwat werk op grondvlak nodig om mense te oortuig om vir hom te stem.
Om iemand op Facebook of Twitter te volg is een van die maklikste dinge wat daar vandag is om te doen. In ‘n tyd van kitspolitiek moet ons nie die mag van politieke organisasie op sosiale media onderskat nie. Ons moet egter ook nie die fout maak om dit te oorskat nie. Om voor jou rekenaar te gaan sit en vinnig op die “Hou Van” of “Like” skakel te klik, is maklik en vinnig. Om werklik ‘n organisasie te ondersteun deur lid te word en ‘n volgehoue finansiële bydrae te lewer en selfs by die organisasie se aktiwiteite betrokke te raak, is veel meer ingewikkeld en moeisaam.
Afrikaners is die afgelope tyd geneig om te vinnig tot gevolgtrekkings oor ons eie mense te kom weens die opkoms van groepe en persone op sosiale media. Mense maak opmerkings soos dat jong Afrikaners skielik weer ‘n volkstrots het suiwer gebaseer op die feit dat ‘n paar duisend jong Afrikaners ‘n sekere sanger wat patriotiese liedjies sing op Facebook volg.
Politieke sentiment kan nie aan die sukses van persone of organisasies op sosiale media alleen gemeet word nie. Werklike deelname deur lidmaatskap van ‘n organisasie en deelname aan aktiwiteite is steeds ‘n veel beter maatskaf om die koring van die kaf te onderskei.
Nuutste Opmerkings