fbpx

LikeDeesdae hoor ‘n mens gereeld van die groot ondersteuning wat ‘n persoon of organisasie geniet omdat hy baie volgers op Facebook of Twitter het. Politici regoor die wêreld spog in media-onderhoude oor die honderde duisende mense deur wie hulle op Facebook gevolg word. Sommige aktiviste wat na vore tree baseer al hul aktiwiteite op hul vermoë om deur sosiale media ‘n ondersteuningsbasis op te bou en dan daardie ondersteuningsbasis aan te wend om sekere doelwitte te bereik.

Daar bestaan egter min navorsing wat bewys dat ‘n persoon of instelling se steun op sosiale media met werklike steun korreleer. Die belangrikste argument teen die oordrewe klem op steun op sosiale media, is juis die feit dat dit uiters min moeite en inspanning verg om iemand of iets op sosiale media te volg. Nog ‘n belangrike argument is dat mense nie noodwendig ‘n ondersteuner van ‘n persoon of instelling word wanneer hulle so ‘n persoon of instelling op Facebook of Twitter volg nie. Baie persone en instellings word op sosiale gevolg vanuit nuuskierigheid of blote belangstelling in die werk wat hulle doen. Dit beteken juis nie dat elke persoon wat ‘n organisasie op sosiale media volg as ‘n ondersteuner van daardie organisasie beskou kan word nie.

Neem ‘n politieke party as voorbeeld. Die suksesvolle bedryf van ‘n politieke party behels dat steun vir ‘n sekere stel politieke denke gewerf moet word. Die politieke party se sukses word bepaal deur ‘n verkiesing waar mense wat die party se beginsels ondersteun vir hom gaan stem. Hoewel sosiale media deur politieke partye gebruik word om steun te werf, het ‘n politieke party ook ‘n sterk organisasiestruktuur, deurlopende kommunikasie en heelwat werk op grondvlak nodig om mense te oortuig om vir hom te stem.

Om iemand op Facebook of Twitter te volg is een van die maklikste dinge wat daar vandag is om te doen. In ‘n tyd van kitspolitiek moet ons nie die mag van politieke organisasie op sosiale media onderskat nie. Ons moet egter ook nie die fout maak om dit te oorskat nie. Om voor jou rekenaar te gaan sit en vinnig op die “Hou Van” of “Like” skakel te klik, is maklik en vinnig. Om werklik ‘n organisasie te ondersteun deur lid te word en ‘n volgehoue finansiële bydrae te lewer en selfs by die organisasie se aktiwiteite betrokke te raak, is veel meer ingewikkeld en moeisaam.

Afrikaners is die afgelope tyd geneig om te vinnig tot gevolgtrekkings oor ons eie mense te kom weens die opkoms van groepe en persone op sosiale media. Mense maak opmerkings soos dat jong Afrikaners skielik weer ‘n volkstrots het suiwer gebaseer op die feit dat ‘n paar duisend jong Afrikaners ‘n sekere sanger wat patriotiese liedjies sing op Facebook volg.

Politieke sentiment kan nie aan die sukses van persone of organisasies op sosiale media alleen gemeet word nie. Werklike deelname deur lidmaatskap van ‘n organisasie en deelname aan aktiwiteite is steeds ‘n veel beter maatskaf om die koring van die kaf te onderskei.