Een van die grootste verliese wat die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur die afgelope paar jaar gelei het, is die verlies aan taal – en kultuurspesifieke tersiêre onderrig.
Onlangse verwikkelinge by die Noordwes-Universiteit, sowel as die uitsprake van die nuwe rektor van die Universiteit van Stellenbosch oor transformasie, dui daarop dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans en tot ‘n mindere mate die Afrikanerkultuur nog ‘n houvas het, ook nou sal moet transformeer.
Terwyl die oordrag van kennis in ‘n spesifieke taal en vanuit ‘n spesifieke kultuuragtergrond belangrik is, is daar ook baie ander redes waarom ‘n kultuurgemeenskap ‘n eie universiteit moet hê.
Die eerste is op die terrein van navorsing. ‘n Kultuurgemeenskap wat aktief navorsing in sy eie taal en vanuit sy eie kultuurperspektief doen, slaag suksesvol daarin om voortdurend relevant te bly.
Die ontwikkeling van leierskap is nog ‘n rede waarom dit belangrik is dat ‘n kultuurgemeenskap sy eie universiteit moet hê. Ware leiers kom gereeld tydens tersiêre onderrig na vore en leiers wat hierdie vaardighede binne hul eie taal- en kultuuromgewing ontwikkel sal meer geneig wees om uiteindelik hul vaardighede binne die gemeenskap aan te wend.
Regoor die wêreld is daar taal- en kultuurgemeenskappe wat stadig maar seker besig is om te verdwyn. Een van die hoofredes hiervoor, is dat hierdie gemeenskappe glad nie oor hoër funksies, wat veral op universiteite ontwikkel word, beskik nie. Verskeie Eskimo-gemeenskappe in Alaska en Kanada organiseer tans gemeenskapskolleges in die hoop om hul kwynende tale en kultuurfunksies daar in stand te hou.
Die rol wat die teenwoordigheid van ‘n universiteit op ‘n gemeenskap het, moet ook nie onderskat word nie. Neem byvoorbeeld ‘n universiteit met ‘n mediese skool. Dit is welbekend dat Bloemfontein van die beste mediese dienste in Suid-Afrika het. Top dokters en mediese spesialiste word daar opgelei en bly baie keer na hul studies aan om by plaaslike klinieke en hospitale te praktiseer omdat hulle tuisvoel binne die gemeenskap. Dieselfde kan nie van Potchefstroom gesê word nie, omdat daar nooit ‘n mediese skool tot stand gekom het nie.
Navorsing in die VSA toon dat die top universiteite daar meestal in uiters suksesvolle gemeenskappe geleë is. Universiteitsdorpe en –stede in die VSA het gewoonlik ‘n hoë gemiddelde inkomste en lae werkloosheid. Selfs belangriker egter is dat sulke dorpe en stede gewoonlik meer geneig is om ‘n kultuur van innovasie te hê.
‘n Goeie voorbeeld hiervan in Suid-Afrika is Stellenbosch. Stellenbosch is een van die welvarendste dorpe in Suid-Afrika en nuwe, innoverende ondernemings word gereeld in Stellenbosch gestig. Die top entrepreneurs wat hul studies by die Universiteit van Stellenbosch voltooi verlaat nie altyd die gemeenskap nie, maar word eerder aangemoedig om binne ‘n gemeenskap waar hulle tuisvoel te innoveer.
Hierdie soort van gemeenskapsuniversiteit is wat die Afrikaner in die toekoms nodig sal hê ten einde ons kultuur en taal te bly onderhou. Die voordeel wat ons het, is dat ons ‘n goeie vertrekpunt het. Afrikaans is ‘n hoogsontwikkelde taal en ons kultuurfunksies is ook goed ontwikkel. Dat ons besig is om dit te verloor is egter ‘n feit waarby ons nie verby kan kyk nie.
Belangrike punt. Geen volk en geen taal kan op lang termyn sonder sy hoë funksies voortbestaan nie. Dit irriteer my sommer dat sekere sangers en joernaliste sê dis genoeg as Afrikaans net aangehou praat word (soos op kunstefeeste). Geen volk met selfrespek kan sy taal afskaal tot slegs ‘n “kuiertaal” nie en in ‘n vreemde taal studeer, skryf en lees nie.
Dankie vir hierdie bydrae. Daarby kom ook die feit dat ‘n mens vriende maak binne jou taal-en kultuurgemaanskap. In later jare is hulle dikwels die mense met wie jy saam dinge aanpak.
Daarom moet ons fokus om n satelietkampus van AKADEMIA op Orania te he asook tegniese opleiding en n Landbou kollege.
Dit sal Orania in n nuwe fase inlei.
Dosente en student gee nuwe energie en innovasie aan n dorp.
Waar is die groot skenkers hiervoor?
Anders sal ons die rande en sente van ons ondersteuners moet insamel.
? Reddingsdaad aksie weer n keer?