by Orania Beweging | Jun 5, 2015 | Nuus |
Die emigrasie van Boere na Patagonië (‘n streek van Argentinië) na die Tweede Vryheidsoorlog is goed bekend, maar min van ons weet van die Walliese gemeenskap wat sowat 40 jaar vroeër as die Boere, in 1865, van Wallis na Patagonië geëmigreer het. Walliesers was deel van die groot menigte Europeërs wat veral in die tweede helfte van die 19de eeu na Amerika (Noord en Suid) geëmigreer het op soek na ‘n beter lewe en geleenthede in die “Nuwe Wêreld”. Verreweg die meeste het gekies om na die multikulturele en ontwikkelde VSA toe te gaan. ‘n Klein groep Walliesers, gelei deur die charismatiese predikant Michael Jones (wat egter net die trek gereël het en self in Wallis aangebly het) het egter doelbewus in die yl bevolkte en geharde Patagonië gevestig, juis om hulle taal en kultuur in isolasie lewendig te hou, terwyl hulle volksgenoot in die VSA vinnig ingesmelt is in die “melting pot”.
Die Walliesers het hulle land verlaat as gevolg van die Industriële Revolusie, wat die Walliese tuisproduksie verdring het, deur massaproduksie en daarmee saam ook Engelse invloed en kultuur in Wallis ingedra het. ’n Hele oeroue leefwyse en kultuur is bedreig en talle wou eerder in Amerika nuut begin as om deur Engeland geassimileer en verarm te word. Alhoewel in die VSA ook Walliese kolonies gestig is, was die druk van Engels as taal (wat die Walliesers natuurlik ook kon praat) en die assimilasie te sterk. In Argentinië met sy vreemde kultuur en onbekende Spaans was dit makliker om geïsoleerd en kultureelhomogeen te bly.
Die Argentynse regering was dankbaar vir setlaars in sy ylbevolkte gebied en kon daardeur effektiewe beheer toepas. Onbevolkte gedeeltes kon maklik deur die buurland Chili, in ‘n tyd van “sagte grense”, beset en opgeëis word (soos wat dit met die voormalige kusstrook van Bolivië gebeur het).
Die eerste groep van sowat 200 Walliesers het in Mei 1865 met die skip “Mimosa” vanaf Liverpool na Patagonië vertrek. Die nuwe land was egter ‘n teleurstelling en het min met die groen, boomryke en waterryke Wallis in gemeen gehad. Dit was ’n land van uiterstes: koud, winderig, en droogtes en oorstromings het mekaar afgewissel. Aanvanklik is hulle deur skepe versorg, maar dan kon hulle hulle benarde situasie beredder deur besproeiing aan te lê om kos te verbou. Na sowat 10 jaar van moeilike pioniersbestaan was die kolonie gevestig en het hulle selfs ’n mate van voorspoed beleef en nuwe intrekkers het van Wallis gearriveer. Skole en administratiewe instellings is geskep en die amptelike taal in die outonome kolonie was Wallies. Teen die eeuwisseling was die kolonie so voorspoedig, dat nuwe nedersettings in die provinsie aangelê is.
Die aankoms van ander, nie-Walliese setlaars as gevolg van die ontwikkeling in Patagonië en die ontdekking van olie het die Walliesers en hulle outonomie bedreig. Dit was ook in daardie tyd wat die Boere in min of meer dieselfde streek as die Walliesers gearriveer het en ook kolonies gestig het. Die Walliesers was darem meer gewoond aan koue as die Boere en het die beter lande vir hulle gevat. Beide groepe was vreemdelinge in Argentinië en het kultureel en godsdienstig van die Spaanssprekende Argentyne verskil. Hulle was en is ook Protestante en in sekere dele het die Walliesers en die Boere kerkgeboue gedeel.
Soos wat die provinsie ontwikkel het, het die Argentynse regering sy houvas versterk en Spaans as enigste amptelike taal afgedwing. Die Walliesers (en die Boere) is aan sterk assimilasiedruk onderworpe en teen 1950 was daar min wat nog Wallies gepraat het.
Die honderdjarige herdenking in 1965 het egter weer herlewing gebring en so ook die huidige 150jarige herdenking van die nedersetting. Alhoewel min mense nog werklik suiwer Wallies is, is daar heelwat in die provinsie Chubut wat hulle herkoms vier en die bewustheid van die Walliese afkoms en kultuur en die bewusmaking daarvan is sterker as onder die nakomelinge van die Boere. Die unieke Walliese taal, wat geen ooreenkoms met Engels het nie, word blykbaar (anders as Engels) nog heelwat in die provinsie gepraat en kulturele byeenkomste soos die Eisteddfod word gehou ter herdenking aan die Walliese erfenis. Sowat 50 000 mense in die provinsie het iewers Walliese voorsate, maar slegs sowat 1500 praat nog Wallies.
by Orania Beweging | Jun 3, 2015 | Nuus |
Selfbeskikking – die vermoë van mense om self besluite oor sake te neem wat hulle ten nouste raak – het as begrip weer onlangs begin opduik in die media na die Krisisberaad wat deur Solidariteit byeengeroep is. Dit kom nadat die Krisisberaad onder andere ‘n mosie aanvaar het wat lui: “Die beraad is van mening dat ‘n omvattende en werkbare plan, gegrond op internasionale voorbeelde, daargestel moet word in terme waarvan Afrikaners inspraak kan kry oor sake wat hulle direk raak en dat hulle selfstandig kan beskik oor hulle eie toekoms.”
Hierdie artikel is die eerste van ‘n reeks wat die soeklig gaan werp op verskillende gedaantes van selfbeskikking wat in die wêreld te vinde is.
Verskeie meningsvormers het al opgemerk dat ‘n staat nie noodwendig oor ‘n groot gebied of ‘n groot bevolking hoef te beskik om onafhanklik te wees en internasionale erkenning te geniet nie. Voorbeelde van vooraanstaande mikrostate sluit in Monaco met 30 508 inwoners (waaronder vele internasionale sportsterre asook Prinses Charlene van Suid-Afrika) en ‘n gebied van 2 vierkante kilometer (vkm), Lichtenstein met 37 340 inwoners (en die 2de rykste land in die wêreld indien Bruto Binnelandse Produk per Kapita as maatstaf gebruik word) en ‘n gebied van 160 vkm en Singapoer met ‘n bevolking van 5.5 miljoen en ‘n gebied van 718 vkm.
Bogenoemde gebiedsgroottes kan in vergelyking met Orania gebring word deur te noem dat Orania se aaneenlopende grondgebied tans 35 vkm groot is. Dit sluit natuurlik grond uit wat deur ondersteuners van Orania besit en volgens die beginsels van Orania bestuur word, maar wat nie direk aan die Orania dorpsgebied grens nie.
Terwyl bogenoemde voorbeelde van mikrostate (en ander) weldra in opvolgartikels bespreek gaan word, handel hierdie artikel oor ‘n soewereine regering wat amptelike diplomatieke betrekkinge met 105 lande handhaaf, ‘n permanente waarnemende lid van die Verenigde Nasies is, sy eie paspoorte uitreik wat deur baie lande aanvaar word en selfs oor ‘n weermag beskik, maar wat geen grondgebied beheer nie.

Die vlag van die Soewereine Orde van Sint Johannes van Malta
Soos die titel van hierdie artikel aandui, is hierdie besonderse regering die uiters seldsame geval van die Soewereine Militere Orde van Sint Johannes van Jerusalem, van Malta en van Rhodos (die Orde).
Ten spyte daarvan dat die Orde nie oor enige grondgebied beskik nie, bestaan dit wel uit 3 burgers, ongeveer 13 000 lede en meer as 80 000 vrywilligers wat in talle lande diens doen, vandag hoofsaaklik deur die voorsiening van mediese sorg aan mense in nood.
Die hedendaagse hoofkwartier van die Orde is in Rome gevestig en bestaan uit ‘n voormalige ambassade van die Orde wat omskep is as hoofkwartier nadat die Orde sy laaste grondgebied verloor het. Die hoofkwartier is egter soos ander ambassades ‘ekstraterritoriaal’ en val nie onder die gesag van die Italiaanse regstelsel nie, maar geld die Orde se eie regstelsel.
Die Orde is een van die oudste instellings van die Westerse en Christelike beskawings en is reeds in die jaar 1048 gestig. Dit het sy ontstaan as kloostergemeenskap wat in Jerusalem ‘n kerk, klooster en hospitaal gebou het met toestemming van die Egiptiese Kalief wat op daardie stadium oor Israel regeer het. Aangesien die Orde versorging verskaf het aan pelgrims wat Jerusalem uit die hele Christendom besoek het, was dit belangrik dat die bestuur (of dan regering) van die Orde onafhanklik moes wees van die talle kompeterende Christen-heersers en van die tak van die Katolieke Kerk in die Midde-Ooste. Om hierdie rede het die Pous in 1113 ‘n Edik uitgevaardig waarvolgens die Orde soewerein verklaar is.
Na die suksesvolle verowering van Jerusalem deur Kruisvaarders in hul poging om die aanvalle van die Turkse Seljuks op Konstantinopel te verdryf, is die Koninkryk van Jerusalem in Israel geproklameer. Die nuwe koninkryk se grondwet het van die Orde vereis om ook die swaard op te neem om die siekes, pelgrims en die gebiede van die Koninkryk te verweer, en sou die Orde voortaan as die Hospitaalridders bekend staan.
Gedurede die volgende 470 jaar het die Orde ‘n bitter militêre stryd teen opeenvolgende Moslemweermagte uit Egipte, Turkye en Sirië gevoer. Na die val van Jerusalem teen die magte van Saladin, die Sultan van Egipte, in 1187 het die Orde hul hoofkwartier verskuif na Akko, ‘n hawestad aan die Middelandse see in Israel wat as setel van die Christenmagte in Israel gedien het. Na die val van Akko in 1291 het die Orde hul hoofkwartier na die Griekse eiland Rhodos verskuif waar hulle ‘n sterk militêre vloot op die been gebring het wat tot met die sestiede eeu die uitbreiding van die Ottomaanse Ryk na Europa aan bande sou lê.
Teen die vyftiende eeu het die Orde lede getrek vanuit talle Europese lande en is die Orde polities gestruktureer volgens die tale wat elke groep gepraat het. Aanvaklik is 7 kommanderye opgerig, wat later 8 sou word met die toevoeging van Duits.
Na ‘n beleg van 6 maande waartydens die Orde die eiland Rhodos met lof verdedig het teen die weermag van Süleyman die Manjifieke van Turkye, is die Orde tot oorgawe gedwing. Volgens die voorwaardes van hul oorgawe het Süleyman die Orde toegelaat om Rhodos te ontruim en is hul setel weereens verskuif, hierdie keer na die eiland Malta. Op Malta kon die Orde die Groot Beleg van 1565 weerstaan en is hul Turkse vyande nie net verdryf nie, maar is die Turkse vloot in 1571 vernietig.
Die Orde het hierna Malta regeer tot die koms van Napoleon Bonaparte, wat hulle van die eiland af gedwing het en sedertdien sonder ‘n grondgebied gelaat het.
Vanaf 1798 het die Orde grootliks sy militêre bedrywighede beperk tot die voorsiening van ambulanse in konflikareas. Die Orde het aansien gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorloë verwerf vir die talle hospitaaltreine wat dit gedurende die konflik beman het om verwondes aan beide kante van die oorlog te versorg. Vandag doen die Orde se militêre korps diens as vrywillige mediese korps van die Italiaanse weermag.
Die woelinge van die Protestantse Hervorming sou die Orde ook nie onaangeraak laat nie. Ten spyte daarvan dat die Orde gepoog het om sy Protestantse ridders te akkomodeer, is die Kommanderye van die Orde in Engeland deur die staat ontbind en het ‘n skeuring met die Duitse Kommandery plaasgevind. Later sou vooraanstaande persone Keiser Wilhelm en Bondskanselier Otto von Bismark as beskermhere van die Duitse Kommandery optree.
Vandag is die Internasionale afdeling van die Duitse kommandery ook in Suid-Afrika werksaam en staan dit hier bekend as die St Johns ambulansdiens.
Artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet erken die reg op selfbeskikking binne ‘n territoriale entitiet in die Republiek of op “enige ander wyse”, van gemeenskappe wat ‘n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel. Die seldsame geval van die Soewereine Militere Orde van Sint Johannes van Jerusalem, van Malta en van Rhodos dui in praktyk aan hoe die hoogste vorm van selfbeskikking beslag kan kry op ‘n wyse anders as binne ‘n territoriale entiteit. Terwyl hierdie praktyk die Orde afhanklik stel van vrywilligers en goedgesinde donateurs in ander lande om hul werksaamhede te befonds, en hul daarmee oor beperkte bevoegdheid beskik, bly dit ‘n interessante gevallestudie oor een van die verskillende vorms wat selfbeskikking kan aanneem. Dit wys verder dat Afrikaners in diaspora ook op kreatiewe wyses betrek kan word by Afrikanerselfbeskking en ook daardeur bevoordeel kan word.
@EbertTerblanche
by Orania Beweging | Mei 27, 2015 | Nuus |
Tydens Sondag se Afrikadag-vieringe sê president Jacob Zuma dat Afrikane in vrede met mekaar saamgeleef en pret gehad het, maar toe kom die “ander” wat hy liewer nie by die naam gaan noem nie. Dit volg na sy uitsprake vroeër vanjaar dat Afrika se probleme begin het toe Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het. Op laasgenoemde uitspraak het die vandalisering van verskeie standbeelde gevolg. Standbeelde wat na die vandaliste se mening nie “inheems” genoeg was nie.
Selfs `n standbeeld van Saartjie Baardman het deurgeloop. Kort na die standbeelddebakel het `n vlaag xenofobie opgevlam. Ook hierdie onderwerp is tydens die Afrikadag-vieringe aangeraak. President Zuma se woorde was “ons is mooi net so donker soos wat ons is.” Hy het verder die mediaberigte oor xenofobie as oordrewe en negatief afgemaak en die gehoor herinner dat ander Afrikalande `n reuse bydrae gelewer in die stryd teen apartheid.
Vir die soveelste maal vanjaar is president Zuma se manier om Suid-Afrika se uitdagings te hanteer `n ons en hulle-benadering. Hy probeer swartmense oortuig dat die oorsprong van hulle probleme by Suid-Afrika se blanke bevolking lê. In plaas daarvan om probleme soos xenofobie en kulturele vandalisme eerlik en kaalvuis te pak is sy toesprake gevul met blaamverskuiwing en leë populistiese uitsprake. Om te insinieer dat alles in Afrika goed gegaan het tot blankes voet aan wal gesit het is uiters onverantwoordelik gegewe die brose verhouding wat reeds tussen die verskillende bevolkingsgroepe bestaan.
Ons moet ook nie uit die oog verloor dat daar oor `n minder as `n jaar `n munisipale verkiesing is nie. Vir die ANC is dit belangrik dat die skuld vir swak dienslewering en ander probleme op die minderheid geplaas word – dieselfde minderheid op wie se steun hy in elk geval nie by die stembus kan reken nie.
Daar word dikwels geroem op Suid-Afrika se diverse samelewing, die reënboognasie, wat as `n voorbeeld vir ander lande moet dien. Die waarheid is egter dat die diversiteit van ons land bepaalde uitdagings bied wat slegs deur verantwoordelike leierskap bestuur kan word. Onverantwoordelike uitsprake, blaamverskuiwing en populisme sal lei tot verdere spanning en konfrontasie. Goeie leierskap beteken eerder dat die diversiteit van Suid-Afrika erken en elke gemeenskap se uniekheid gevier word.
Verder moet elke gemeenskap binne hierdie diverse samelewing erkenning kry vir die bydrae wat hulle gelewer het in die opbou van die land. President Zuma het ongelukkig daardie geleentheid vir die soveelste keer deur sy vingers laat glip. En die prys sal weer deur minderhede betaal word.
James Kemp is die Bemarkings- en Kommunikasiebestuurder by die Orania Beweging.
by Orania Beweging | Mei 15, 2015 | Nuus |
Die Konserwatiewe Party met Eerste Minister David Cameron het die verkiesing in Groot-Brittanje gewen en kan na 4 jaar van ‘n koalisieregering met die Liberale Demokrate weer met ‘n volstrekte, alhoewel baie skraal meerderheid regeer. Die uitslag het die meningspeilings verkeerd bewys, wat ‘n moeilike koalisieregering of selfs ‘n “hung parliament” met ‘n minderheidsregering voorspel het.
Die Konserwatiewe Party het 331 setels van 650 verower en daarmee net 6 meer as wat nodig was vir ‘n meerderheid. Hulle het 37% van die stemme gekry. Teenoor 2010 wen hulle 24 setels. Die Arbeidersparty met sy leier Ed Milliband het steun verloor en kry 232 setels, 26 minder as laas en 30% van die kiesersteun. Volgende, wat setels betref, is die Skotse Nasionale Party (SNP) met 56 setels, ‘n allemintige 50 setels meer. Omdat hulle egter net in Skotland staan, het hulle net 5% van populêre steun in die hele Groot-Brittanje, maar wel 50% in Skotland. Die Liberaal-Demokratiese Party (LDP), wat in ‘n koalisie met die Konserwatiewes was, is die groot verloorder van die verkiesing. Hulle hou slegs 8 setels en verloor 48, ’n historiese slagting. Die groot wenner wat groei in populêre steun betref is die United Kingdom Independence Party (UKIP), wat 13% kry (van 3% verlede keer), maar wat weens die kiesafdelingstelsel slegs 1 setel kon verower. Dié kiesstelsel beloon konsentrasie en bevoordeel streekspartye, maar benadeel partye wat wye, maar verspreide steun het. Die Noord-Ierse streeksparty Democratic Unionist Party (DUP) het 8 setels, maar is net ‘n faktor in Noord-Ierland. Nog ‘n streeksparty, die Walliese nasionaliste van Plaid Cymru het 3 setels en ander kleiner partye soos Sinn Fein, ’n Noord-Ierse streeksparty of die Groenes enigiets tussen 1 en 4 setels.
Mnr. Cameron is die gelukkige wenner en ook Nicola Sturgeon van die SNP is uiters tevrede, terwyl 3 partyleiers hulle bedanking aangekondig het, naamlik Ed Milliband van die Arbeidersparty, Nick Clegg van die LDP en, ietwat verbasend, Nigel Farrage van UKIP, wat ten spyte van sy party se groot groei self geen setel kon verower nie. Die Arbeidersparty het steun van die LDP gewen, wie se meesal linkse ondersteuners die koalisie met die Konserwatiewes verkwalik het, maar hulle het sterk in Skotland, hulle eertydse bastion, teen die SNP verloor wat ideologies selfs nog meer links is. UKIP se kiesers het in talle gevalle besluit om eerder vir die Konserwatiewes te stem om verdeling van die regse stem te verhoed en nie aan die Arbeiders ‘n oorwinning te besorg nie. Die vrees vir die moontlikheid dat ‘n Arbeider-SNP koalisie tot stand kom en die uitmekaarbreek van Brittanje (wat verlede jaar met die nee-vir onafhanklikheid in Skotland afgewend is) weer op die agenda is, het ook talle Engelse vir die Konserwatiewes laat stem.
Mnr. Cameron het nodige hervormings deurgevoer om die ekonomie weer op spoed te kry, maar dit het natuurlik ongewilde maatreëls soos besparings meegebring. Die vrugte begin egter al wys in die vorm van ekonomiese groei en minder werkloosheid. Die Arbeidersparty kon nie die ontevredenes agter hulle verenig nie en het talle van hulle in Skotland aan die SNP afgestaan. Groot vraagstukke in mnr. Cameron se volgende termyn is Brittanje se verhouding met die EU. Anders as die Arbeidersparty wil mnr. Cameron ’n referendum oor voortgesette lidmaatskap van Brittanje in die EU uitroep.
Die Britse kiesstelsel is die kiesafdelingstelsel, wat ook Suid-Afrika voor 1994 gehad het. Daarvolgens word die kandidaat wat die meeste stemme in ‘n kiesafdeling kry, tot die parlement verkies. Dit kan, afhangende van die verdeling tussen die ander kandidate, so min soos 25% wees. Al die ander stemme word nie in berekening gebring nie. Dit lei daartoe dat gekonsentreerde streekspartye soos die SNP, wat landswyd slegs 5% gekry het, 56 setels kon verower en UKIP, die derde grootste party met 13% steun landswyd, slegs 1 setel kon verower. Vir kleiner partye is dit ‘n nagmerrie en dit is nie volle demokrasie as ‘n party met 36% steun die hele land regeer. Dit lei ook tot ‘n tweepartystelsel waar belange van kleiner groepe (behalwe as hulle gekonsentreerd is) verontagsaam word.
Die voordeel van die stelsel is wel dat daar vir elke kiesafdeling een verteenwoordiger is wat die belange van sy gebied kan verteenwoordig. Daar word ook beweer dat dit politieke stabiliteit verseker. Koalisieregerings breek dikwels uitmekaar omdat die partye watd eel daarvan is oor sekere sake vassit en die koalisie beëindig. Italië is ‘n voorbeeld daarvan, terwyl in Groot-Brittanje nog geen regering voortydig beëindig is nie.
by Orania Beweging | Mei 13, 2015 | Nuus |
Orania se nuwe publikasiereeks, wat volg na ‘n lang stilte sedert die Vryheidsreeks wat in die geboortejare van Orania en die volkstaatideaal in die laat 1980’s en vroeë 1990’s verskyn het, het verlede jaar afgeskop met Frans de Klerk se Orania – van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie. Dit is nou opgevolg met ‘n besonder omvattende werk uit die pen van Carel Boshoff getiteld Verder as vryheid. Die boek kan nie in een sin opgesom word nie. Dit is ‘n samevatting van Carel Boshoff se politieke en filosofiese denke, asook ‘n geskiedenis van die volkstaatstrewe en ‘n hedendaagse motivering daarvan. Ten spyte van die erns van die saak, naamlik die toekoms van die Afrikanervolk, maak die humorsin en die persoonlike staaltjies wat in die boek ingeweef is dit maklik leesbaar, ook vir iemand wat nie, soos Carel Boshoff, die volkstaatstrewe en Afrikanerskap met die moedersmelk ingekry het nie.
Die eerste deel van die boek vertel waar die skrywer, sy familie en die volk waarvan hy deel is vandaan kom en hoe dit ontwikkel het in die afgelope breedweg honderd jaar. Die ontwikkeling van die Afrikaner word bespreek, wat volgens Boshoff in drie duidelik onderskeibare fases plaasgevind het, van die eerste, oftewel landelike en familiegebonde Afrikaner van die 19de en vroeë 20ste eeu na die tweede, stedelike en individualistiese Afrikaner van die Republiek van Suid-Afrika tot en met die huidige derde, nog ontluikende derde Afrikaner in die swart beheerde Suid-Afrika na 1994. Daarmee saam word ook beslissende terme soos volk, staat en volkstaat filosofies en histories verduidelik, maar op ‘n hoogs leesbare en kontekstuele wyse. Deel een gaan breedweg oor die tyd van Afrikanerbeheer oor Suid-Afrika.
Die tweede deel gaan oor die oorgang na en voltrekking van die “nuwe” Suid-Afrika en die volkstaatstrewe wat in die tyd momentum gekry het. Boshoff gee binne-insig in organisasies en instansies waarby hy betrokke was in daardie tyd, soos die Afrikaner-Volkswag, Afrikaner-Vryheidstigting, Vryheidsfront en Volkstaatraad en die wisselwerking en onderhandelinge met die regering en belangrike rolspelers. Dit was ook in daardie tyd wat Orania deur Boshoff se pa gestig is. Kragte soos demografiese verandering, globalisering en die individualisering en liberalisering van die Afrikaner staan teenoor die ontwikkeling van Orania as alternatief.
Die derde deel gaan spesifiek oor die toekoms, vergestalt deur Orania en die Orania Beweging, wat nuwe antwoorde op nuwe vraagstukke moes vind en ‘n nuwe strategie om vryheid en volhoubaarhied vir die Afrikanervolk te bereik, moes bedink. Die paradigamskyf van “kits-vryheid” binne ‘n territoriale staat na groeiende vryheid binne ‘n gemeenskap word ook bepleit. Die boeiende vraag wat vryheid nou eintlik is en hoekom almal daarna smag en strewe, ten spyte van die erg verskillende interpretasies daarvan, word laaste behandel. Die boek gee ook ’n volledige antwoord op die vraag hoekom Orania en sy mense doen wat hulle doen en waar Orania in die breë konteks, sowel van die Afrikaner asook Suid-Afrika, inpas.
Die boek is uiters leesbaar deur sy afwisseling van outobiografiese grepe, ligtelike staaltjies, politieke filosofie, Griekse mitologie en onlangse geskiedenis vanuit ‘n Afrikaner-perspektief. Die outeur is ten nouste betrokke en die liefde vir sy volk is sigbaar, maar dit maak hom nie blind vir talle foute wat begaan is en wat deels die oorsaak is vir Afrikaners se huidige magtelose toestand. Die boek bied egter hoop en wys ‘n uitweg vir Afrikaners wat vry wil wees en self hulle lot wil bepaal.
Lede van die Orania Beweging kan `n gratis kopie kry. Posgeld is wel betaalbaar. Stuur gerus `n e-pos aan ontvangs@orania.co.za. Boeke is ook te koop teen R150 (posgeld uitgesluit).
by Orania Beweging | Mei 6, 2015 | Nuus |
Elke volk was in sy geskiedenis slagoffer sowel as onderdrukker. Die grade van die een of die ander een verskil. Dit hang ook af van ‘n volk se omstandighede en geleenthede tot onderdrukking. Volke wat groot is, is uit die aard van die saak meer in staat om die boelie te wees as klein en swak volke. Die indeling van die wêreld en die geskiedenis in onderdrukkers (wat gewoonlik wit, manlik en Westers is) en onderdruktes, wat al die ander is, is onsinnig en histories ongegrond. Dat Europeërs Afrika en dele van Asië gekoloniseer het en nie andersom nie het te doen met die Weste se destydse tegnologiese moontlikhede en hulle uitwaartse kyk en hulle goeie skepe, nie met hulle wese van aggressie en brutaliteit nie. Afrika en die Ooste het in die grootste deel van hulle geskiedenis ‘n inwaartse kyk gehad. Ontdekkingstogte het kolonisasie vooruitgeloop.
Dat Afrika en Asië nie soos die Weste gekoloniseer het nie, beteken egter nie dat hulle vreedsaam was nie. Hulle slagoffers was net volke naby hulle wat dieselfde velkleur gehad het. Daar was egter ook verwoestende aanvalle vanuit Asië of Afrika na ander vastelande. Dink maar aan die aanvalle van die Mongole uit die Asiatiese steppe tot diep binne-in Europa, waar niemand ontsien is nie, of die Moslems van Noord-Afrika. Daar was die strooptogte wat sterk Afrika-stamme teen swakker stamme gevoer het. Dat dit tot Afrika beperk gebly het, het meer met die nie-bestaan van skepe in die Afrika-kultuur te doen as met Afrikane se minder aggressiewe aard. Die enkele klein volke wat ewig aan die ontvangkant was, soos die Boesmans, bestaan om die rede nie meer nie. Geen volk kan oorleef as dit net ‘n slagoffer is, en die redenasie van Afrika as die ewige onderdrukte is gewoon nie waar nie. So grusaam soos swartmense tydens die era van Slawerny behandel is, so grusaam was hulle teenoor mekaar. Dat sterker swart stamme meegedoen het aan slawerny deur ander stamme te oorval en aan die slawehandelaars te verkoop is ‘n bekende feit, wat egter dikwels verswyg word omdat dit nie inpas in die beeld van die “edele wilde” (met erkenning aan Jean-Jaques Rousseau) en die gees van ubuntu nie. Die grootste oorloë vind in elke geval tussen dieselfde ras plaas. Europa se vergrype in Afrika word deur die gruwels binne in Europa tydens die talle oorloë in die skaduwee gestel.
Om die geskiedenis te verkort tot die Europese ontdekkings- en veroweringstogte, is om geskiedenis in te span vir ‘n ideologie. Dié ideologie is die van die ewige slagoffer wat geregtig is op ewigdurende medelye en kompensasie. Die Afrikaner se geskiedenis is ‘n toonbeeld van veral onderdrukking deur ander, groter volke, by name die Britte, maar ook onderdrukking van ander. Laasgenoemde was egter tot ’n relatiewe kort tydperk beperk, eintlik maar die hoogtyd van die sogenaamde apartheid en selfs daar was die vergrype nie naastenby so erg soos wat dit nou gemaak word nie. Die vereenvoudiging dat alle onderdrukking met Jan van Riebeek begin het is natuurlik histories uiters aanvegbaar, om die minste te sê. Ongeag die vraag watter volk meesal onderdrukkers en watter meesal verdruktes is, is die mentaliteit wat saamgaan met diegene wat hulle, te reg of te onreg, as ewige verdruktes sien, teenproduktief. Die Afrikaner het na die Tweede Vryheidsoorlog met al sy gruwels wat deur die Britte teenoor hulle gepleeg is, uit die stof opgestaan en nuwe hoogtes bereik. Ten spyte van afgebrande plase en verskeurde families het hulle weer opgebou en vorentoe gekyk. Nie om te vergeet nie, maar om nie deur bitterheid en haat verlam te word nie. Dit was juis die opstaan wat respek afgedwing het, en latere Britse regerings het besef dat hulle voorgangers die Boere onreg aangedoen het en die Unie van Suid-Afrika van 1910 het spoedig aan die verloorders mede-seggenskap gegee, wat selfs later op volle beheer uitgeloop het. Dit was nie ‘n maklike proses nie, maar die alternatief, om die Britte vir elke mislukking, elke misoes en elke epidemie te blameer sou die Afrikanervolk verbitterd, versukkeld en sonder selfrespek gelos het.
Ook die Jode het na al die gruwels van die Tweede Wêreldoorlog nie in sak en as gesit en net gekla oor hulle lot nie (dit natuurlik ook, te reg), maar ‘n nuwe begin in Israel gemaak en dit juis as reaksie op die voortdurende haat en onderdrukking wat hulle moes ervaar, uitgebou tot ‘n moderne en welvarende land wat hulle sou beskerm teen toekomstige onderdrukking. Ongelukkig het talle volke in Afrika nie dieselfde gedoen nie. Meer as 50 jaar na kolonialisme en breedweg 150 jaar na die einde van slawerny word dit nog steeds vir elke euwel en mislukking geblameer. Sonder om die negatiewe impak van die twee faktore te wil ontken, moet vasgestel word dat die kultuur en mentaliteit van slagofferskap jou juis afhanklik en onderdruk hou. Alle geld ter kompensasie en alle verskonings van die nakomelinge van die onderdrukkers kan nie die agterstand uitwis as volke wat onderdruk was nie besef dat hulle nou die verlede moet agterlaat en juis hulle geskiedenis van onderdrukking deur ‘n hede en toekoms van prestasie ongedaan moet maak. ‘n Slagoffer kry simpatie en medelye, maar nie respek en waardering nie. Alle volke smag egter na respek en waardering. Nadat wedersydse oortredings bely is en waar moontlik vergoeding betaal is, moet egter vorentoe gekyk word en gewerk word vir ‘n beter toekoms. Afrikaners mag nie die onreg wat tans teen ons gepleeg word verswyg nie, maar juis die onreg, soos moorde, diskriminasie en miskenning van ons taal en kultuur behoort ons as volk kollektief te laat opstaan om saam vir ons ‘n toekoms te bou waar ons nie meer slagoffers sal wees nie. Elke Afrikanergemeenskap behoort wit kruise ter bewusmaking van plaasmoorde te plant, of ander bakens ter herinnering aan ons onderdrukking, in die verlede en tans, op te rig, maar dit moet nooit as verskoning gebruik word om niks te doen nie, altyd ander te blameer en as’t ware in ‘n gemaksone van slagoffermentaliteit te verval.
Sebastiaan Biehls is `n navorser by die Orania Beweging
Nuutste Opmerkings