Talle Suid-Afrikaners onder leiding van die ANC-regering het gister Vryheidsdag gevier. In Nederland is Koningsdag gister herdenk. Koning Willem-Alexander se verjaardag word gevier deur groot feeste en opemarkte in byna elke Nederlandse dorp en stad. Hoewel die Nederlanders nie juis as nasionalisties beskou kan word nie sien jy op Koningsdag in die strate van Amsterdam jongmense met Nederlandse vlae. Die kleur oranje verteenwoordig die volksgevoel in Nederland. Nederlanders gebruik oranje sedert Prins Willem van Oranje meer as 400 jaar gelede in die Tagtigjarige Oorlog die Prinsevlag met sy oranje, wit en blou bane gebruik het.
Westerse volkere leef vandag in ‘n tyd van snelle globalisering wat in baie gevalle vervreemding en selfs ‘n gevoel van ontworteling tot gevolg het. Daarom sien ons toenemend ‘n soeke na identiteit en daardie gevoel van volkstrots. Indien ons na die Nederlanders en hul herdenking op Koningsdag kyk is die fokus juis op die positiewe wat hulle saam as volk bereik het. Kultuur, tradisies en die goeie wat as volk vermag is word gevier.
Hierdie soort volksfeeste vind ook deesdae toenemend in ander Westerse lande plaas. In die Verenigde State is 4 Julie elke jaar so ‘n nasionale volksfees waartydens hul onafhanklikheid van Brittanje en dus die geboorte van ‘n nuwe nasie herdenk word. In Duitsland waar daar nog ‘n sterk afkeur in nasionalisme is, vind daar nie noodwendig een Duitse volksfees plaas nie, maar vind daar verskillende feeste en geleenthede in streke plaas waar die kultuur, geskiedenis, kos en tradisies van daardie streek herdenk word. Beiere met sy ryk ou kultuur het talle kultuurfeeste waar mense tradisionele klere dra en waar die Beierse kultuur en tradisies herdenk word.
Terwyl die Nederlanders gister Koningsdag gevier het en talle Suid-Afrikaners Vryheidsdag herdenk het, ontstaan die vraag oor wanneer en hoe die Afrikaner nog sy kultuur herdenk. Die afgelope paar maande was die Afrikanerkultuur en geskiedenis weer onder die vergrootglas weens ‘n aanslag op monumente en weens politieke veldtogte teen enigiets met ‘n volkskarakter, insluitende die sing van Die Stem.
Uit beide Koningsdag in Nederland en Vryheidsdag in Suid-Afrika kan Afrikaners ‘n paar lesse oor die herdenking van ons eie kultuur en tradisies neem. Eerstens moet ons besef dat ons ‘n reg het tot die herdenking van ons kultuur en dat ons nie skaam hoef te wees vir wie ons is en wat ons reeds vermag het nie. Belangriker egter is dat ons beheer moet neem oor die inhoud wat aan ons kultuur gegee word. Soos wat die ANC en sy vryheidsbeweging inhoud aan hul oorwinnings gegee het, moet die Afrikaner weer die vertolking van sy eie wese oorneem. Verder moet ons soos die Nederlanders positiewe simbole en volkshelde op wie ons maar trots mag wees omhels en dit as samebindende faktore aanwend. Die herdenking van volksdae soos Majubadag, Bittereinderdag, Taaldag, Heldedag en Geloftedag moet ook weer navore tree, terwyl een jaarlikse volksfees soos die Nederlanders se Koningsdag nou nodiger as ooit is.
‘positiewe simbole en volkshelde waarop ons maar trots mag wees omhels en dit as saambindende faktore aanwend’
Voorbeelde?
Volksvlae soos die vierkleur en groot helde soos De la Rey, Kruger en De Wet. Die gebruik van ‘n kleur (dalk ook oranje?) wat ‘n gevoel van volkspatriotisme aanwakker sal ook goed wees.
Volksvlae maar ook volksdae – 6 April, 10 Oktober, 16 Desember en wat nog…
En as ek kan byvoeg: Afrikaner tradisionele kleredrag. Ons kan gerus op feesdae weer ons Voortrekkerrokke en Boereklere met trots vertoon. Daar is niks “agterlik” daaraan nie. Ander volke dra dit met trots by spesiale geleenthede.
Vra met rede, het al in verlede erge kritiek moes verduur van juis onregse, konserwatiewes vir die gebruik van ons volksvlae. Kringe wat beweer waaruit mens dit nie sou verwag. As jy nou as n vermeende ekstremis uitgekryt wil word, vertoon n vierkleur in die openbaar. Gou sal vele hulself van jou wil distansieer! Maar as Orania se dit is reg dan is dit reg!