fbpx

Die opeenvolgende krisisse waartussen Suid-Afrika soos ‘n dronkaard strompel is aan ons elkeen bekend: algemene misdaad, korrupsie, bemorsing van die omgewing en die samelewing, vermorsing van hulpbronne, hopelose opvoeding en opleiding, geen posdiens, beurtkrag, werkloosheid, Nkandla, Guptagate, Spoornet pensioenarisse, oilgate, die wapenskandaal, slaggate, plaasmoorde, tolpaaie, verengelsing van skole, universiteite en ons werksplekke, ekonomiese kreeftegang en die vandalisering van ons geskiedenis en ons monumente. So gaan die lys aan.

Soos Nero wat homself vermaak terwyl Rome besig is om af te brand, gee die regerende elite voor dat alles in orde is. Die media, daarteenoor, speel hul deuntjie van die afgelope twee dekades soos die fluitspeler van Hamelin net al hoe skriller: Suid-Afrika en sy grondwet is wonderlik.

Vir Afrikaners begin die prentjie egter al duideliker word: hierdie probleme gaan ons begrawe as ons nie oplossings skep nie.

Teen hierdie agtergrond het daar gister na kort kennisgewing meer as 1,500 Afrikaners by die Voortrekkermonument byeengekom vir ‘n krisisberaad.

Flip Buys, leier van 300,000 Afrikanerbroodwinners wat maandeliks hul steun op tasbare wyse aan die Solidariteit Beweging herbevestig, maak aanspraak op die verbeelding van elke afgevaardigde: “Die Afrikaner het sy toekoms nog altyd met daadkragtige waagstukke geskep, waarvan nie een se uitkoms aanvanklik seker was nie. Hierdie waagstukke het bestaan uit Die Groot Trek (en die stigting van die Boererepublieke), Die aandurf van die Britse Ryk, Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal en, laastens, Die onsuksesvolle poging om ons rasseprobleem deur afsonderlike ontwikkeling op te los. Die vraag is of die tyd nie nou aangebreek het vir ‘n volgende en vyfde waagstuk nie?”

Flip beskryf die vyfde waagstuk as Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme. Dit beteken dat ‘n derde weg gekies word tussen die huidiglik onpraktiese weë van staatsafhanklikheid en staatsonafhanklikheid: maksimale selfstandigheid van gemeenskappe sodat elke gemeenskap volle inspraak het in die besluite oor sake hom ten nouste raak (wil jy werk hê, wil jy veilig wees, wil jy jou taal kan gebruik, wil jy deel wees van jou kinders en kleinkinders se lewens, wil jy die vrugte van jou arbeid pluk, wil jy selfrespek hê en wil jy menswaardig behandel word?)

Ten einde hierdie waagstuk te verwesenlik laat Flip alle moontlikhede op die tafel: gebruik individuele regte tot hul volle potensiaal (beding byvoorbeeld vir die behoud van eiendomsreg en die afskaffing van rastellende aksie), gebruik ons bestaande groepsregte (byvoorbeeld om beheerraade van ons skole aan te wys en tot verantwoording te roep en gemeenskapsorganisasies te skep wat opleiding, welsyn, burgerregte en veiligheid prakties kan bevorder) en gebruik die ruimte wat die internasionale reg en Suid-Afrika se grondwet ons bied om groeiende selfstandigheid op ‘n gebiedsbasis te bewerkstellig.

Dit is duidelik dat hierdie waagstuk genoeg ruimte bied vir elkeen van ons om betrokke te wees in die areas waaroor ons sterk voel, sonder dat ons verskille ons sal verdeel. Daar is ruimte en instellings binne die Solidariteit Beweging waarbinne elke Afrikaner tuis kan voel, van die FAK en haar talle samewerkende-organisasies (insluitende die Orania Beweging), tot die vakbond, Afriforum, Helpende Hand, Sol-tech, Afrisake en Akademia.

Die geskatte 20% Afrikaners en ook ander Suid-Afrikaners wat nie deur hierdie waagstuk aangegryp word en tot aksie geïnspireer word nie, word egter nie hierdeur bedreig nie. As jy nie betrokke wil wees nie, hoef jy nie betrokke te raak nie, en jy sal steeds beter daaraan toe wees. Maar jy sal dalk daarmee verlief moet neem dat die verswakking en agteruitgang wat Suid-Afrika in sy huidige gedaante ervaar, jou beweegredes baie vinnig tot irrelevansie sal verban.

Diegene wat egter die wekroep vir selfstandigheid hoor en hul moue daarvoor oprol kan daarna uitsien om weer die soet sensasie van toekomshoop te smaak.

@EbertTerblanche