Selfbeskikking – die vermoë van mense om self besluite oor sake te neem wat hulle ten nouste raak – het as begrip weer onlangs begin opduik in die media na die Krisisberaad wat deur Solidariteit byeengeroep is. Dit kom nadat die Krisisberaad onder andere ‘n mosie aanvaar het wat lui: “Die beraad is van mening dat ‘n omvattende en werkbare plan, gegrond op internasionale voorbeelde, daargestel moet word in terme waarvan Afrikaners inspraak kan kry oor sake wat hulle direk raak en dat hulle selfstandig kan beskik oor hulle eie toekoms.”
Hierdie artikel is die eerste van ‘n reeks wat die soeklig gaan werp op verskillende gedaantes van selfbeskikking wat in die wêreld te vinde is.
Verskeie meningsvormers het al opgemerk dat ‘n staat nie noodwendig oor ‘n groot gebied of ‘n groot bevolking hoef te beskik om onafhanklik te wees en internasionale erkenning te geniet nie. Voorbeelde van vooraanstaande mikrostate sluit in Monaco met 30 508 inwoners (waaronder vele internasionale sportsterre asook Prinses Charlene van Suid-Afrika) en ‘n gebied van 2 vierkante kilometer (vkm), Lichtenstein met 37 340 inwoners (en die 2de rykste land in die wêreld indien Bruto Binnelandse Produk per Kapita as maatstaf gebruik word) en ‘n gebied van 160 vkm en Singapoer met ‘n bevolking van 5.5 miljoen en ‘n gebied van 718 vkm.
Bogenoemde gebiedsgroottes kan in vergelyking met Orania gebring word deur te noem dat Orania se aaneenlopende grondgebied tans 35 vkm groot is. Dit sluit natuurlik grond uit wat deur ondersteuners van Orania besit en volgens die beginsels van Orania bestuur word, maar wat nie direk aan die Orania dorpsgebied grens nie.
Terwyl bogenoemde voorbeelde van mikrostate (en ander) weldra in opvolgartikels bespreek gaan word, handel hierdie artikel oor ‘n soewereine regering wat amptelike diplomatieke betrekkinge met 105 lande handhaaf, ‘n permanente waarnemende lid van die Verenigde Nasies is, sy eie paspoorte uitreik wat deur baie lande aanvaar word en selfs oor ‘n weermag beskik, maar wat geen grondgebied beheer nie.
Soos die titel van hierdie artikel aandui, is hierdie besonderse regering die uiters seldsame geval van die Soewereine Militere Orde van Sint Johannes van Jerusalem, van Malta en van Rhodos (die Orde).
Ten spyte daarvan dat die Orde nie oor enige grondgebied beskik nie, bestaan dit wel uit 3 burgers, ongeveer 13 000 lede en meer as 80 000 vrywilligers wat in talle lande diens doen, vandag hoofsaaklik deur die voorsiening van mediese sorg aan mense in nood.
Die hedendaagse hoofkwartier van die Orde is in Rome gevestig en bestaan uit ‘n voormalige ambassade van die Orde wat omskep is as hoofkwartier nadat die Orde sy laaste grondgebied verloor het. Die hoofkwartier is egter soos ander ambassades ‘ekstraterritoriaal’ en val nie onder die gesag van die Italiaanse regstelsel nie, maar geld die Orde se eie regstelsel.
Die Orde is een van die oudste instellings van die Westerse en Christelike beskawings en is reeds in die jaar 1048 gestig. Dit het sy ontstaan as kloostergemeenskap wat in Jerusalem ‘n kerk, klooster en hospitaal gebou het met toestemming van die Egiptiese Kalief wat op daardie stadium oor Israel regeer het. Aangesien die Orde versorging verskaf het aan pelgrims wat Jerusalem uit die hele Christendom besoek het, was dit belangrik dat die bestuur (of dan regering) van die Orde onafhanklik moes wees van die talle kompeterende Christen-heersers en van die tak van die Katolieke Kerk in die Midde-Ooste. Om hierdie rede het die Pous in 1113 ‘n Edik uitgevaardig waarvolgens die Orde soewerein verklaar is.
Na die suksesvolle verowering van Jerusalem deur Kruisvaarders in hul poging om die aanvalle van die Turkse Seljuks op Konstantinopel te verdryf, is die Koninkryk van Jerusalem in Israel geproklameer. Die nuwe koninkryk se grondwet het van die Orde vereis om ook die swaard op te neem om die siekes, pelgrims en die gebiede van die Koninkryk te verweer, en sou die Orde voortaan as die Hospitaalridders bekend staan.
Gedurede die volgende 470 jaar het die Orde ‘n bitter militêre stryd teen opeenvolgende Moslemweermagte uit Egipte, Turkye en Sirië gevoer. Na die val van Jerusalem teen die magte van Saladin, die Sultan van Egipte, in 1187 het die Orde hul hoofkwartier verskuif na Akko, ‘n hawestad aan die Middelandse see in Israel wat as setel van die Christenmagte in Israel gedien het. Na die val van Akko in 1291 het die Orde hul hoofkwartier na die Griekse eiland Rhodos verskuif waar hulle ‘n sterk militêre vloot op die been gebring het wat tot met die sestiede eeu die uitbreiding van die Ottomaanse Ryk na Europa aan bande sou lê.
Teen die vyftiende eeu het die Orde lede getrek vanuit talle Europese lande en is die Orde polities gestruktureer volgens die tale wat elke groep gepraat het. Aanvaklik is 7 kommanderye opgerig, wat later 8 sou word met die toevoeging van Duits.
Na ‘n beleg van 6 maande waartydens die Orde die eiland Rhodos met lof verdedig het teen die weermag van Süleyman die Manjifieke van Turkye, is die Orde tot oorgawe gedwing. Volgens die voorwaardes van hul oorgawe het Süleyman die Orde toegelaat om Rhodos te ontruim en is hul setel weereens verskuif, hierdie keer na die eiland Malta. Op Malta kon die Orde die Groot Beleg van 1565 weerstaan en is hul Turkse vyande nie net verdryf nie, maar is die Turkse vloot in 1571 vernietig.
Die Orde het hierna Malta regeer tot die koms van Napoleon Bonaparte, wat hulle van die eiland af gedwing het en sedertdien sonder ‘n grondgebied gelaat het.
Vanaf 1798 het die Orde grootliks sy militêre bedrywighede beperk tot die voorsiening van ambulanse in konflikareas. Die Orde het aansien gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorloë verwerf vir die talle hospitaaltreine wat dit gedurende die konflik beman het om verwondes aan beide kante van die oorlog te versorg. Vandag doen die Orde se militêre korps diens as vrywillige mediese korps van die Italiaanse weermag.
Die woelinge van die Protestantse Hervorming sou die Orde ook nie onaangeraak laat nie. Ten spyte daarvan dat die Orde gepoog het om sy Protestantse ridders te akkomodeer, is die Kommanderye van die Orde in Engeland deur die staat ontbind en het ‘n skeuring met die Duitse Kommandery plaasgevind. Later sou vooraanstaande persone Keiser Wilhelm en Bondskanselier Otto von Bismark as beskermhere van die Duitse Kommandery optree.
Vandag is die Internasionale afdeling van die Duitse kommandery ook in Suid-Afrika werksaam en staan dit hier bekend as die St Johns ambulansdiens.
Artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet erken die reg op selfbeskikking binne ‘n territoriale entitiet in die Republiek of op “enige ander wyse”, van gemeenskappe wat ‘n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel. Die seldsame geval van die Soewereine Militere Orde van Sint Johannes van Jerusalem, van Malta en van Rhodos dui in praktyk aan hoe die hoogste vorm van selfbeskikking beslag kan kry op ‘n wyse anders as binne ‘n territoriale entiteit. Terwyl hierdie praktyk die Orde afhanklik stel van vrywilligers en goedgesinde donateurs in ander lande om hul werksaamhede te befonds, en hul daarmee oor beperkte bevoegdheid beskik, bly dit ‘n interessante gevallestudie oor een van die verskillende vorms wat selfbeskikking kan aanneem. Dit wys verder dat Afrikaners in diaspora ook op kreatiewe wyses betrek kan word by Afrikanerselfbeskking en ook daardeur bevoordeel kan word.
@EbertTerblanche
Ek dink dat wanneer n volk se grondgebied groot genoeg is om selfvoorsienende energie, voedsel en opleiding te kan verskaf, dan is dit groot genoeg om n soewereine stad/staat te kan vorm.
Ons is byna daar!
Inderdaad ‘n interessante gevallestudie, maar nie iets wat vir ons van toepassing is nie. Hoogstens in die geval van die Afrikaner diaspora. Ek stem saam met Christo se stelling.
Dankie Sebastiaan. Ek wil uitwys dat daar ook belangrike lesse te leer is oor die belangrikheid van volharding, aanpasbaarheid en medemenslikheid. Hierdie lesse is uiters toepaslik.
Dag Sebastiaan.
Ek kan nie anders as om met jou denkwyse saam te stem nie.Jou skrywes van die verlede het my nog altyd inspireer. Dat jy werklik Afrikaner/Boere Selfbeskikking nastreef is wonderlik.
Ongelukkig het ‘n paar skrywes op ander Web-Werwe my erg geskok die afgelope week. Ek het baie kortliks daarna verwys elders hier, en sou graag jou opinie hieroor wou hoor.
Arnold de Beer.
Hallo Arnold, na watter skrywes verwys jy?
Jy het al baie skrywes hier geplaas. Ek kan nie een onthou waarvan ek nie gehou het nie. Hier en daar miskien ‘n verskil van opinie, maar niks ernstigs nie.
SoliForum se Mnr. Buys het uitdruklik gesê dat Selfbeskikking nie op hulle agenda is nie, maar Selfstandigheid. Wat dit ookal mag beteken.
Ek het my gewig by Orania ingegooi omdat hulle Selfbeskikking voorop stel.
Dit het uitgelek dat die Buyse en VF+ en ander anti-Selfbeskikkers ‘n groot seggenskap in die Orania opset het.
JH du Toit het ‘n skrywe hieroor geplaas waarin die rolle van hierdie Organisasies mooi uiteengesit word.
Speel Orania ‘n dubbele rol?
Afriforum en Solidariteit is nie teen selfbeskikking nie. Dit wat Praag skryf is ongelukkig dikwels geskryf met ‘n anti-Solidariteit agenda wat afbrekend is. Op hulle krisisberaad is selfbeskikking juis as antwoord gebied. Dit wil voorkom asof hulle intussen, wens die kwaai kritiek wat hulle vir hulle stap van die media kry, hulle nou groter klem op selfstandigheid lê, aangesien meeste Afrikaners nie kans sien vir selfbeskikking in praktyk nie (wat biae jammer is).
Flip Buys het ‘n goeie stuk geskryf oor selfbeskikking en daarop gewys dat dit nie iets is wat sommer net opgeeis kan word nie. Om nugter en realisties oor die opdraende stryd te wees beteken nie om daarteen te wees nie.
http://praag.co.za/?p=32216
Arnold, hier is ‘n uitspraak van Flip Buys oor selfbeskikking. Dit stel sy siening duidelik.
Flip Buys
“As al die Selfbeskikking praters Selfbeskikking doeners word- is dit binne 6 maande ‘n groeiende werklikheid. Maar as die dekadelange gepraat daaroor nie omgesit word in praktiese dade nie, sal dit ‘n “alles is FW se skuld’ heimweëklub bly. Met ‘doeners’ bedoel ek trek Orania toe of help dit opbou, want dis tasbare vordering. Onthou net dat hulle ook nie rassiste daar wil hê nie. Maar hou op om (magteloos) te ‘eis’ dat die ANC ‘n Volkstaat vir julle moet gee. Dit gaan nie gebeur nie- want daar ís nie een om te ‘gee’ nie. Dit help ook nie om aan te hou om Solidariteit en AfriForum met saamsweer teorieë te belaster omdat ons nie saam wil praat nie, want ons het ongelukkig ook nie ‘n volkstaat om te gee nie.
Niemand het nog ooit sukses behaal deur homself afhanklik te stel van iemand anders (bv die regering) se instemming en optrede nie. Sukses kom deur te fokus op dit wat jyself kan doen en nie deur jou werk en verantwoordelikheid op jou teenstanders af te skuif nie. Hulle gaan jou nie help nie. Daarom is ons Doenorganisasies, ons praat nie eindeloos oor iets wat ons wil hê, of verwyt ander dat ons dit nog nie het nie, of eis dit vrugteloos by die regering wat nie daarin glo nie. Ons doen dit self- met duisende lede se steun wat besef dat jy net kry wat jy self skep. Kom ons vat die voorbeeld van Afrikaans. Die Taalwet gaan nie Afrikaans red nie, en ‘n gepraat daaroor met mekaar of die ANC ook nie. Daarom doén ons Afrikaaans, en praat dit nie net nie. Ons ‘doen’ Maroelamedia, ‘doen’ deur Radio Pretoria te help uitbou tot ‘n groot professionele stasie, en doén jaarliks meer as 50 ander groot Afrikaanse projekte. Maar as jy nie saam wil doen en bou nie, moet asb nie verwag dat ons ook die werk gaan los en net saam gaan praat nie. Dis van al die regering se gepraat oor elektrisiteit ipv Kragstasies bou dat ek hier moerig in die donker moet sit en tik. Kom laat ons nie oor ‘hulle’ treurigheid kla, en dan self net treurig rondsit en slimpraatjies maak nie. Laat ons assebliéf tog nie pateties raak nie.”
Hier is Flip Buys se skrywe oor selfbeskikking wat dalk vertolk kan word as afstand doen van selfbeskikking. Dit is egter nie, net ‘n nugtere ontleding.
http://maroelamedia.co.za/blog/debat/meningsvormers/die-stand-van-selfbeskikking-in-suid-afrika/